Wit terroriste. Albert Blake
‘at war with the enemies for the volk.’ ”2 Die aanhouding van politieke aktiviste sonder verhoor was vroeg in die swart-bevrydingstryd reeds ’n hewige politieke geskilpunt. Harry Lawrence, Smuts se minister van binnelandse sake ten tyde van die Tweede Wêreldoorlog, was teen 1960 as lid van die Progressiewe Party ’n ernstige kampvegter vir die regte van swart politieke aktiviste wat in aanhouding was. Ná Lawrence se aantygings dat die aangehoudenes swak behandel word, het Vorster hom op 16 Mei 1960 behoorlik in die parlement afgeransel. Vorster het groot gewag daarvan gemaak dat Lawrence in die oorlogsjare aandadig was aan onmenslike behandeling van Afrikaner- politieke gevangenes met wie se omstandighede hy toe nie simpatie gehad het nie. Vorster het veral na sy eie behandeling as aangehoudene sonder verhoor en eensame opsluiting verwys.3
Die historikus Christoph Marx is skepties oor Vorster se standpunte:
John Vorster later used parliament as a platform to legitimise the state measures of repression that he introduced as minister of justice with his own suffering in the camp. The logic behind such justification of unjust measures based on his own memories as a victim is difficult enough to follow, but the comparison itself is absurd. Not a single report mentions torture in the internment camps. The petty and generally harmless harassment that the inhabitants of Koffiefontein were exposed to from the guards can certainly not be equated with the ‘interrogations’ that were routine in the police headquarters named after John Vorster in Johannesburg.4
Die latere stryd tussen die apartheidsbewind en die swart bevrydingsbeweging was ongetwyfeld ’n veel gewelddadiger konflik en moet in daardie konteks beoordeel word. Vorster het wel aanhouding sonder verhoor en die trauma van afsonderlike opsluiting in onaangename omstandighede ervaar, wat deur Marx onderspeel word. ’n Belangriker vraag is watter invloed Vorster se ervaring in die selle op sy latere optrede as minister van justisie en eerste minister gehad het. Was dit ’n geval van ’n mishandelde kind wat ’n mishandelende ouer word? Die gebeure rondom die internerings en aanhoudings van Afrikaners sonder verhoor tydens die Tweede Wêreldoorlog moes ’n bepaalde nalatenskap op die Afrikaner se politieke psige gelaat het.
Smuts moes goed geweet het die meeste Afrikaners was teen oorlogsdeelname gekant. Die Rebellie van 1914 het getoon hulle wou nie in ’n oorlog van Brittanje gedompel word nie en party sou dit selfs met geweld beveg. Daarom het Smuts onmiddellik stappe gedoen om ’n soortgelyke gebeurtenis te vermy.
Smuts het tien dae ná die oorlogsdebat sonder enige parlementêre sanksie die sogenaamde noodtoestandregulasies afgekondig, wat buitengewone arbitrêre magte aan die regering verleen het. Dit het onder meer gehandel oor ’n noodtoestand en die vestiging van interneringskampe.5 Die regering is voorts gemagtig om enige persoon ’n onbepaalde tyd lank sonder verhoor aan te hou of te interneer, en geen hof kon daarby inmeng nie. Dit was ’n ernstige afwyking van die “rule of law”.
Nog dieselfde maand het twee geïnterneerdes, Danie du Toit en dr. G.P.J. Trümpelmann, ’n aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om vrygelaat te word, maar ’n volslae bloutjie geloop toe bevestig is dat die howe nie die bevoegdheid het om in te meng nie. Die parlement het die geldigheid van die regulasies op 7 Februarie 1940 terugwerkend bevestig en die uitvaardiging van verdere noodregulasies goedgekeur. Daarna het ’n stroom oorlogsmaatreëls met verreikende gevolge gevolg wat regdeur die oorlog van krag sou bly.6 Terwyl sekere noodregulasies geregverdig was in die lig van die algemene oorlogstoestand, het ander drakoniese afmetings aangeneem en diep ongelukkigheid veroorsaak. Alles het bygedra tot ’n algemene klimaat van verset.
’n Spesiale hooggeregshof is in Maart 1941 ingevolge die noodregulasies ingestel, bestaande uit regter Oliver Deneys Schreiner en twee assessore wat van tyd tot tyd aangewys is om spesiale politieke misdade te verhoor.7 Schreiner was die voorsittende beampte in die meeste van die belangrikste politieke verhore tydens die oorlog, waaronder dié van Robey Leibbrandt.
Schreiner was die seun van die Kaapse eerste minister, W.P. Schreiner (broer van die skrywer Olive Schreiner), en Frances, ’n suster van die Vrystaatse president F.W. Reitz.
Die noodregulasies het voorsiening gemaak vir verpligte minimum strawwe (in die meeste gevalle vyf of sewe jaar) vir sekere gemeenregtelike misdade soos diefstal, aanranding met die opset om ernstig te beseer en opsetlike saakbeskadiging. Dié verhoogde minimum strawwe was, soos die doodstraf by sabotasie waarby plofstof betrokke was, verpligte strawwe wat regters met vonnisoplegging beperk het.
Die vernederende vonnis van lyfstraf wat sekere magistrate vir sabotasiedade en ontsnappingspogings opgelê het, het altyd woede ontlok. Vale Ferreira het van sy ondervinding vertel wat aan gebruike van die Middeleeue herinner. Hendrik van Blerk het dit oorvertel:
Wat gebeur is, dat hulle ’n ding wat regop staan – ’n soort van ’n stellasie; hulle noem dit die mêrrie – gehad het; dan word die persoon met sy voete op die onderste sport van die mêrrie vasgemaak; dan word ’n kussing – ’n breë strook; dit kan spons of iets van dié aard wees – bokant sy boude, oor sy niere vasgemaak en ’n soortgelyke een net hier onder, sê maar by die waai van die been. Dit is om te voorkom as die slaner miskien nou nie reg korrel nie, dat sekere van sy organe soos niere of so seerkry. Iemand het vir hom gesê hy moet ’n sakdoek dubbel vou en in sy mond druk en daarop byt. Hy, sowel as Rokebrand [wat ook tot lyfstraf gevonnis is], het hulle voorgeneem om nie enige teken van pyn voor die bewaarders te wys nie. “Vale” het aan my gesê hy het aan daardie ding gehang. Hulle maak jou arms so hoog vas dat jy byna slap is, jy kan jou spiere as’t ware nie span teen die komende houe nie. Hy sê hy het die eerste en tweede hou gevoel, van die res weet hy niks nie. Hy het so hard op sy tande gebyt dat hierdie langs sy oogtand bo en onder gekraak het.8
Nog voordat die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, het lt. Gabriel Diedericks van die polisie opdrag gekry om die sogenaamde spesiale politieke eenheid saam te stel om politieke misdade te ondersoek. Uiteindelik het die afdeling uit meer as 180 speurders bestaan wat sake landwyd ondersoek het.9
Vir baie was hulle ’n gehate groep. Selfs in die polisie, waar daar baie pro-OB-sentimente was, is die eenheid met afsku bejeën. Van die eenheid se lede is selfs in die straat ten aanskoue van die publiek as die “Gestapo” uitgekryt.10
Tog was dit ’n bekwame eenheid wat merkwaardige sukses onder moeilike omstandighede behaal het. Ná die bewindsoorname van die Nasionale Party het van die politieke speurders, soos Jan Taillard, gekla dat hulle geviktimiseer word. Jare later, in 1979, het Diedericks sy lot teenoor ’n verslaggewer van The Sunday Times bekla:
Diedericks says he was hounded out of the police force after the Nationalists swept to power in the 1948 election.
Life was made ‘unbearable’ by fellow policemen who ‘hated’ him because of his wartime victories against the OB saboteurs. ‘My wife’s life was threatened and for one period of three months my home was guarded day and night.’
‘In fact 15 men I had interned became officers above me.’11
Diedericks het die polisiemag ná 31 jaar verlaat en die sekuriteitshoof van Anglo American se myne in die Vrystaat geword.
Dit blyk egter nie al die politieke speurders het sulke negatiewe gevolge ervaar nie. Kapt. H.J. du Plooy, wat die bevelvoerder van die politieke eenheid in Pretoria was, het in 1960 die kommissaris van polisie met die rang luitenant-generaal geword. Miskien het Du Plooy bloot sy mantel na die wind gedraai. Frik Faurie, die onderleier van die Terreurgroep wat as politieke speurder onder Du Plooy gedien het totdat hy ontmasker is, het oor hom gesê: “Hy was ’n boerseun … toe die oorlog uitbreek, toe het hy amper nie meer ’n woord Afrikaans gepraat nie … Hy het elke more ingekom en dan koop hy ’n Rand Daily Mail op die hoek en dan kom hy met dié onder sy arm in … In 1948 was hy nog daar en toe die nuus deurkom dat die Nasionale Party die verkiesing gewen het toe koop hy die more Die Transvaler en kom [voortaan] met die koerant daar aan.”12
Du Plooy het in 1947 die eerste bevelvoerder van die pas gestigte veiligheidstak van die polisie geword. Hy het die ondervinding wat hy teen die Stormjaers opgedoen het, daar toegepas en die toekomstige grondslag vir die veiligheidstak gelê.13
Die Stormjaers, Terreurgroeplede en ander anti-oorlogsgesindes wat onder die politieke speurders se ondervraging en ander ondersoekmetodes