Wit terroriste. Albert Blake
van moderne terrorisme heeltemal verskil van dié van die groep Afrikaanse saboteurs in die tyd van die Tweede Wêreldoorlog, is daar tog algemene psigiese faktore wat individue beweeg om by ondermynende bedrywighede betrokke te raak. Prof. Peter Bergen van die Universiteit van Arizona het in ’n studie ’n behoefte by sekere individue gevind om hulle te vereenselwig met ’n radikale ideologie of militante organisasies. Sulke optrede gee ’n gevoel van lewensbetekenis wat andersins nie daar sou wees nie. Dit stel sulke persone in staat om helde van hul eie storie te word. ’n Behoefte om deel te wees van ’n besondere samehorigheidsgevoel is ook ’n sterk bydraende faktor.15
Die Vrystaatse Stormjaerleier, Chris de Jager, kon nieteenstaande groot hoogtes in sy loopbaan nooit weer dieselfde euforie as tydens sy Stormjaerjare ervaar nie: “Ek het nog nooit daarna in al die dinge, in my latere studies, in my latere leeftyd waar ek met universiteits- en akademiese aangeleenthede te doen gehad het, waar ek tien jaar lank dekaan was van ’n fakulteit, ’n Afrikaanse fakulteit help opbou het … [weer] daardie belewenis gehad nie.”16 Greta Wolf was bedags ’n toegewyde onderwyseres by ’n skool in Pretoria en snags as Terreurgroeplid doenig met gevaarlike sabotasiewerk. Sy het ’n soort selftevredenheid oor die geheimsinnigheid ervaar: “Dit was natuurlik ’n avontuur om te voel dat jy nou hier is om ’n diens te doen en niemand weet daarvan nie.”17
Daar is diegene wat floreer in die opwinding wat adrenalien-gedrewe dade bied, terwyl dit eenvoudig nie met ander akkordeer nie. Niemand kan dr. D.F. Malan se patriotisme en toewyding aan Afrikaner-nasionalisme in twyfel trek nie, maar tydens die Anglo-Boereoorlog het hy in Nederland gaan studeer, terwyl baie van sy Stellenbosse studentemaats hul lewe op die slagveld gewaag het. Daar is gespot dat Malan nie geweet het wat is die voorkant en wat is die agterkant van ’n geweer nie.18 Nie net Malan se oortuigings het hom van terreur weerhou nie; soos baie ander Afrikaners was hy net nie vir dié soort optrede gemaak nie.
Dis nie moontlik om ’n profiel van ’n prototipe Afrikaner-saboteur van die tydperk saam te stel nie. Verskillende faktore het swaarder by individue geweeg. Die Stormjaerbeweging het op sy hoogtepunt na raming tussen 8 000 en 9 000 lede gehad, wat alle lae van die Afrikaner verteenwoordig het. Aan die Witwatersrand, byvoorbeeld, was hulle grotendeels myners, in Pretoria staatsamptenare en op die platteland meestal boere. Terwyl ’n kleiner aktiewe kerngroep as taai en ruwe manne voorkom, was die res om verskillende redes sporadies of selfs glad nie by sabotasiedade betrokke nie.
Onder die belangrikste rolspelers in die terreurveldtog is daar tog insiggewende ooreenstemmings. Hulle was meestal jong, ambisieuse Afrikaners uit die intellektuele klas. Party het universiteitsgrade gehad in ’n tyd toe sulke kwalifikasies nog skaars was, terwyl verskeie gegradueer het nadat hulle uit die gevangenis of interneringskampe vrygelaat is. Die meeste van die leiers sou later belangrike posisies in die samelewing beklee, onder meer as regters, dekane van fakulteite, belangrike politici, hoofde van staatsdepartemente, skrywers en suksesvolle sakelui. ’n Verdere opvallende aspek is dat baie leiers voorheen aan die Suid-Afrikaanse weermag verbonde was, wat deels verduidelik waarom die Stormjaers aan streng dissipline onderwerp kon word, veral wanneer die gewone lede gedreig het om met ongemagtigde sabotasiedade handuit te ruk.
Terreurbewegings is ideale broeiplekke vir ekstreme fanatici, ook vir diegene met sluimerende afwykende gedrag. Die ondermynende beweging onder Afrikaners was geen uitsondering nie. Dit is veral nodig om in dié mense se koppe te klim om te verstaan wat hulle ontvanklik gemaak het vir hul radikale optrede.
Historiese figure word toenemend vanuit die sielkunde geanaliseer om insig te kry in die ware mens agter die persona. Daardeur word gepoog om ook die moeilik verstaanbare en omstrede aspekte van ’n persoonlikheid te verklaar. Dit kan help om die ingewikkelder psigiese dryfmotiewe van veral fanatici beter te verstaan as nie net algemene faktore soos nasionalistiese en republikeinse strewes, godsdienstige oortuigings en armoede bekyk word nie.
Enkele fanatici wat deel uitgemaak het van die terreur, soos Robey Leibbrandt en Barnie Basson, het genoeg geskrifte nagelaat wat op een of ander afwykende gedrag dui en ’n psigohistoriese ontleding regverdig. Basson, ’n berugte Stormjaerleier en die meesterbrein agter opspraakwekkende sabotasiedade, het al sy dagboeke, plakboeke en ander dokumente aan die OB-argief geskenk. Hy was een van 11 kinders en het arm grootgeword. As kind is hy aangeneem. Sy biologiese pa was ’n Rooms-Katoliek en die priesters se pogings om hom in sy jeugjare tot Katolisisme te oortuig het sy gevoel daarteen net versterk. Sy geskrifte openbaar ’n kwellende gemoed met ’n gevaarlik fanatiese politieke ingesteldheid. Daar is elemente van godsdienstige dweping met ’n soort godgegewe roeping. Hy beskou homself as ’n soort uitverkore redder van die Afrikaner.19 Oor Leibbrandt bestaan daar ’n magdom primêre bronne waaruit onder meer sy grootheidswaan blyk.20
Terwyl die meeste Stormjaer- en Terreurgroeplede ná die oorlog klaarblyklik met ’n normale lewe aangegaan en by veranderde omstandighede probeer aanpas het, het fanatici soos Leibbrandt en Basson nooit van hul radikale oortuigings afstand gedoen nie. Selfs so laat as 1976 het Basson probeer om ’n geheime naoorlogse Stormjaerbeweging te laat herleef, maar in ’n veranderde wêreld was dit doodgebore.21 As bejaarde het hy in 1982 tydelik as hoofleier van die Afrikaner Weerstand Beweging (AWB) waargeneem nadat Eugène Terre’Blanche in Desember daardie jaar ’n tyd lank op aanklag van onwettige wapenbesit aangehou is.22
Weens ’n gebrek aan bronne kan daar nie altyd lig gewerp word op die denke van sekere fanatiese saboteurs soos die omstrede onderleier van die Terreurgroep Ernst von Elling nie. Von Elling word by ongemagtigde sluipmoorde en ander ekstreme optredes betrek.23 Mens sou graag wou verstaan wat sy en ander soortgelyke militante se psigiese beweegredes was.
Terwyl dit nie moontlik is om hier reg te laat geskied aan ’n psigobiografiese ondersoek van al die belangrikste rolspelers nie, is dit nodig om kennis te neem dat daar psigiese verduidelikings is vir fanatiese terreuroptredes. Die gevaarlikste van die Afrikaner-saboteurs was juis ’n klein groepie fanatici wat Suid-Afrika op die rand van ’n bloedbad gebring het, terwyl dit nie soseer die doel van die breër ondermynende beweging was nie.
2
__________
Die Ossewabrandwag – ’n kultuurorganisasie?
Die blote noem van die Ossewabrandwag (OB) se naam het nog altyd uiteenlopende menings uitgelok. Daar is vele wanpersepsies oor die beweging, wat meestal uit onkunde of vooroordeel spruit.
Die omstredenheid van die OB is kompleks. Benewens al die vooroordele was daar die realiteit dat ’n terreurbeweging soos die Stormjaers vanuit die OB ontstaan het. Hoewel die Stormjaers afsonderlik gefunksioneer het, word hul terreurveldtog dikwels verkeerdelik aan die OB toegeskryf. Teenstrydighede binne die beweging oor ideologie asook uiteenlopende standpunte oor hoe die oorlogspoging teengestaan moes word, het tot die verwarring bygedra.
Hierdie is nie ’n volledige geskiedskrif oor die OB nie – verskeie sulke werke het al verskyn. Die doel is om die OB in konteks te plaas ten einde die terreurveldtog tydens die Tweede Wêreldoorlog te verklaar en te kyk na die uiteenlopende standpunte oor terreur binne die OB. Ook word antwoorde gesoek op die vraag of ideologiese oorwegings ’n beduidende rol in dié veldtog gespeel het.
Die OB is op 4 Februarie 1939, enkele maande voor die Tweede Wêreldoorlog, in Bloemfontein gestig. Dit was ’n direkte gevolg van die geweldige opbloei van Afrikaner-nasionalisme wat uit die 100-jarige herdenking van die Groot Trek in 1938 ontstaan het.
Die beweging het ontwikkel tot die grootste in sy soort in die geskiedenis van die Afrikaner met ’n ongekende en tot nog toe ongeëwenaarde geesdrif. Prof. H.B. Thom, rektor van die Universiteit van Stellenbosch, het dit beskryf as “’n knetterende veldbrand in Suid-Afrika”.1 Na raming het die OB in sy bloeityd meer as 300 000 lede gehad.2 Takke het landwyd soos paddastoele opgeskiet.
Die doel van die OB was om die Afrikaner se kultuur te bevorder, maar vanuit die staanspoor is ’n eiesoortige vertolking aan die uitleef van kultuur geheg. Reeds met sy stigting het die stigterslede ’n eed afgelê om nie te rus voordat die vryheid van die Afrikaner herwin is nie.3 Gevolglik was die beweging vanaf sy ontstaan aktivisties met sterk elemente van versetpolitiek. Die OB het ’n soort dualisme tussen kultuur en politiek geopenbaar wat ná die uitbreek van die Tweede