Ultrasatyn 3. Elsa Winckler
Ultrasatyn 3
Syne vir altyd – Lucille du Toit
Die drieweek-reëling – Elsa Winckler
Ultrasatyn
1
Bianca kyk na haar foon wat nou vir die derde keer lui: Dawid.
“Antwoord tog net,” brom Tess oorkant haar.
Bianca rol haar oë en beantwoord dié keer die oproep. So sal sy die gesprek tussen haar en Tess vir nog ’n minuut langer kan uitstel. Wat haar vriendin besig is om haar te vertel, wil sy regtig nie hoor nie.
“Dawid,” sê Bianca kamma vriendelik.
“Kan ek jou iewers ontmoet vir koffie?”
“Ek drink klaar koffie, Dawid.”
“Alleen?” vra hy nuuskierig.
“Nee, nie alleen nie. En nee, ek gaan jou nie sê saam met wie nie. Dit het niks met jou te doen nie.”
“Bianca, jy breek my hart.”
Sy lag en vorm die woord “siestog” met haar lippe sodat net Tess kan sien. “Later dan,” sê sy nou hardop en beëindig die oproep.
Tess se voorkop plooi toe sy die foon effens te hard op die tafel neersit.
“Wat?” vra Bianca.
“Jy kon hom ten minste gesê het jy is saam met my. Die arme ou.”
“Arme ou se voet. Ek stel nie meer in hom belang nie. Waar het jy gehoor iemand is so besitlik wanneer hy jou skaars twee weke ken? Nee wat. Dis nog ’n disaster wat wag om te gebeur.”
Tess druk Bianca se hand. “As jy so aangaan, sal jy nooit jou trouman kry nie.”
“Jy weet mos ek wil nooit trou nie.” Bianca lig haar wenkbroue. “Buitendien raak ek gou bored.”
“As jy so sê.” Tess druk haar blonde hare agter haar oor in. “So waar was ons …? O ja.” Sy maak keel skoon. “Wat dink jy van die idee?”
“Tess, nee.” Bianca skud haar kop soos ’n stout kleuter. Vir ’n oomblik oorweeg sy dit amper om haar arms sommer ook voor haar bors te vou. Sy trek haar groot groen oë op skrefies. “Is jy ernstig?” vra sy, benoud oor die nuus wat Tess haar meedeel.
As Tess en Dan op Gideon Vermeulen se plaas trou, beteken dit sy sal hom weer sien. En daarvoor sien sy nie kans nie.
Tess sit haar hand gerusstellend op haar vriendin se arm: “Komaan, Bianca. Dit sal perfek wees; jy sal sien. Klein en intiem. Buitendien beteken dit baie vir Dan dat hy op sy broer se plaas kan trou.”
Dan? Wie gee om oor Dan? wil sy vir Tess vra, maar sy byt haar onvanpaste woorde liewer terug. ’n Bruid se troudag moet mos spesiaal wees en wat is spesiaal aan ’n stowwerige bosveldplaas?
“En …” Tess byt haar onderlip.
Dit kan net meer slegte nuus beteken.
“Ek het gehoop jy sal alles vir my daar kan reël en organiseer.”
“Ek?” vra Bianca benoud. Hitte soos woorde wat warm teen haar vel gefluister word, kruip onverwags teen haar nek op. Alles te wyte aan die gedagte om weer vir Gideon te sien. Sy sien nie kans om die mense op sy plaas te gaan staan en hiet en gebied nie. Nie dat sy hom nie graag ’n paar instruksies sal wil gee nie, maar saam met hom sal sy nie kan werk nie.
Nie na wat die aand van Tess se verlowing gebeur het nie.
“Ja, jý. Bianca, jy weet hoe verstrooid ek is. Jy is die mees georganiseerde persoon wat ek ken. Jy reël altyd spogfunksies as jy nuwe ontwerpers se produkte in jou winkel bekendstel. Ek vertrou jou met my lewe.”
Bianca roer haar koffie terwyl sy ingedagte na haar foon kyk. Tienuur in die oggend is The Terrace nog stil. ’n Paar kelners is besig om die tafels af te vee. ’n Tuinier op ’n trekker sny die groot grasperk hier by Oliewenhuis.
Hoe gaan sy nou vir Tess verduidelik dat sy nie kans sien nie? Want die waarheid sal sy nooit vir haar vriendin kan vertel nie.
“Dis net … Gideon trek so Out of Africa aan. Ek wed jou die hele plek skreeu die groot vyf. En jy weet dat opgestopte diere my die horries gee. Daai oë. Boonop gaan ek seker die hele troue met ’n rooi neus van die hooikoors rondloop. Dis so warm en droog daar.”
Sy hoop Tess sal haar leuen glo, maar haar vriendin lag net.
Bianca se blik flits oor die groot grasperk voor hulle. “Trou eerder hier. Dié venue is perfek met dié dat dit ’n kunsmuseum en jy ’n kunstenaar is.”
“Ek het gedink jy sal dalk so voel … daarom het ek Gideon gevra om vir ons ’n video te maak.” Tess vat haar foon en begin iets daarop soek. “Dè,” sê sy en hou die foon na Bianca. “Gideon is ’n gawe ou. Ek verstaan nie hoekom hy jou so irriteer nie. Wat het sy smaak in klere in elk geval met enigiets te doen?”
Bianca vat die foon en lag effens verleë. Sy het nog nie een van haar vriendinne vertel wat daardie aand gebeur het nie. Vandat sy Dan se broer agt maande gelede ontmoet het, is hy ’n doring in haar vlees. Die laaste keer wat sy hom gesien het, was die oggend na Tess se verlowing.
Dié herinnering kom ongenooid by haar op. Langs haar op ’n vreemde bedkassie was ’n silwerblou lampskerm met vere en kristalle versier. Beslis nie hare nie. Toe sy regop sit, was daar niemand langs haar in die vreemde bed nie. Met afsku het sy die wit laken stadig opgelig. Sy was in haar onderklere van die vorige aand.
Toe onthou sy … Gideon Vermeulen! Sy het hom gevra om haar huis toe te vat, want sy het te veel sjampanje gedrink. Hulle het die hele aand onskuldig met mekaar geflirt.
Maar duidelik het hulle nie by haar huis uitgekom nie.
Beteken dit sy en Gideon het … of het hulle nie? Verdomp!
Stilletjies het sy uit die bed geklim en haar rok van die vorige aand weer aangetrek. Met haar hare deurmekaar en haar grimering gesmeer, het sy met haar skoene onder die arm deur toe gesluip. Sy het dit saggies oopgemaak en uitgeloer. Boheem Bed en Ontbyt het op die naambord aan die oorkantse muur gestaan. Hoe kon sy toegelaat het dat wat ook al gebeur het … gebeur het? Daarvoor kon sy net die sjampanje blameer, want Gideon Vermeulen is nie haar tipe man nie.
“Is jy oukei? Kry jy koud?” vra Tess skielik.
Bianca wip effens en probeer fokus op die foon in haar hand. Sy maak keel skoon: “Net ’n kat wat oor my graf loop.” Pas het die hitte eers oor haar lyf gebrand, en toe vryf Bianca oor haar arms wat nou weer die ene hoendervleis is. Sy het nagte wakker gelê en wonder wat hulle dalk gedoen het en sjoe, haar verbeelding was nogal kreatief!
Sy glimlag vir Tess. Sy weet sommer die glimlag kom nie naby haar oë nie.
Toe sy daardie oggend uiteindelik by die kamer uitsluip en die deur saggies agter haar toetrek, het ’n stem wat staal kon laat smelt, skielik agter haar gepraat: “Mooi oggend.”
Haar hele lyf het geruk van die skrik.
Met die omdraai het sy gesien dis Gideon wat agter haar staan, sy donker hare klam van die stort waaruit hy so pas gekom het. Met sy kort kakiebroek en rooi T-hemp met die prent van ’n Texas Longhorn daarop en sy veldskoene aan en ’n koppie koffie in die hand, het hy amper goed genoeg vir haar standaarde gelyk. Amper … as dit net nie vir die veldskoene was nie.
Wat het haar makeer?
“Hoe’s die walk of shame sover?” het hy agter haar aan geroep en gelag.
Met bene soos jellie het sy hom geïgnoreer en vinniger gestap. Sy het nie geweet waar om haar kop in te druk nie. Wat moet Dan se broer nou van haar dink? Sonder om om te draai het sy gemaak dat sy wegkom.
“Sê jy nie totsiens nie?” het die simpel vent geroep.
Vir die eerste maal in haar lewe het sy nie geweet wat om vir ’n man te sê nie. Hoe sal sy hom ooit weer in die oë kan kyk? Sy is seker daarna was almal in die gastehuis wakker. Sy het ’n taxi gebel om haar na die galery