Satyn Omnibus 8. Ettie Bierman
sy vlampunt is laag. Net ’n skalkse kyk, ’n swaai van ’n wulpse heup … en die pot kook oor.
“Deesdae kom ek al meer agter hoe min ek hom ken. Ek het nie hierdie ding voorsien nie, Thys, en ek weet nie hoe om daardeur te werk sonder om van my kop af te raak nie.”
“Tawwe tye hou nie, tawwe mense wel. Jy is sterker as wat jy dink. Jy sal hierdeur kom, mooiste.”
“Hoe?”
“Werk. Deur besig te bly.” Hy sit ’n sny brood met grondboontjiebotter daarop voor haar neer. “En kry kos in jou maag, voor jy omval.”
“Ek hou nie van grondboontjiebotter nie,” mor sy.
“Hoekom het jy dan ’n bottel vol daarvan gekoop?”
“Ruan het dit gekoop.”
“’n Mens kan nie altyd doen net waarvan jy hou nie. Eet daardie stuk brood; dit sal jou nie doodmaak nie.”
Nikka trek ’n gesig, maar neem gehoorsaam ’n hap. “Ja, dokter Vorster. Sekerlik, dokter Vorster.”
Hy skink die koffie en kom oorkant haar by die ontbyttoonbank sit. “Ek het vir jou ’n spookasemmasjien gebring.”
Die grondboontjiebotter sit aan haar verhemelte vas. Sy kou langtand aan nog ’n hap. “Om wat mee te maak?”
“Spookasem. Vir Saterdag se partytjie.”
“Daar gaan nie ’n partytjie wees nie, ek gaan nie voort met Piekepiekniek nie.”
“Natuurlik gaan jy. Jy het die ma en klein Tessa belowe, jy kan hulle nie teleurstel nie. Jy het die geld nodig, die afleiding en die reklame. Het jy al daardie werk met die lapa, die perdekarretjie, die pad en die kapokkies, die webwerf en ek weet nie wat nog nie, puur verniet gedoen? Ek dog jy het murg in jou pype, meis. Maar lyk my dis slap jellie.”
Nikka sluk die laaste stuk brood met ’n sluk koffie af. “Ek hou nie van jou as jy ’n boelie is en jou gewig rondgooi nie.”
Thys is min gepla. “Ek gee nie om nie. Hierdie is nie ’n gewildheidskompetisie nie.”
Sy gluur hom aan. “Hannah is nie so ’n gelukkige meisie as wat ek gedink het nie. Loop jy met jou paar groot voete dwars bo-oor haar gevoelens ook?”
“Nee.”
Dit maak haar kwater. “Hoekom nie? Hoekom op mý pik?”
“Omdat Hannah sag en inskiklik is,” antwoord Thys onverstoord. “Nie so stroomop en hardkoppig soos jy nie. Ek hou ook nie van jóú as jy so nukkerig en moerig is nie.”
Nikka wip haar. “Dis jy wat my so maak!”
Thys lag, leun oor die toonbank en vryf haar kuif deurmekaar sodat dit regop staan. “Daarso, nou pas jy in die rol van ’n kapokhaantjie.”
Nikka se hand skiet uit om dieselfde met sy hare te doen, maar sy reflekse is vinniger. Hy vang haar hand, dop dit om en druk ’n soentjie in haar palm. “’n Wipstert- fraaie kapokhennetjie …”
Sy gluur hom nog ’n paar oomblikke aan. “Jy geniet dit om my kwaad te maak!”
“Ja,” erken hy met ’n lag. “Jy sou in elk geval niks reggekry het met my borselkop nie.”
Sy gee oor en lag saam. “Skies vir die moerigheid, maar daar was sterk provokasie.”
“Ek moes hard praat. Mooi woordjies sal nie die kar deur die drif trek nie.”
“Kar? Ek dag dis ’n wá.”
“Dis Ouperd se blou karretjie. Jy sal moet aangaan, want jy kan hom nie sy belonings ontneem of vir Andries die kans om met sy sweep en kruisbande te spog nie. Ek het mos netnou vir jou gesê môre skyn die son en dan bak ons koekies. Dis jou domkrag. Wat sê jy, wipstert? Gaan ons die pap wiele omruil?”
Nikka se oë is skielik mistig. “Dankie vir die spookasemmasjien. En dankie dat jy hier is, dat jy so geduldig is en my nie maan toe stuur soos ek verdien nie.”
“Dis ’n plesier,” antwoord hy. “Jy weet ek gee vir jou om, kapokkie.”
“Uit plig meer as plesier, ter wille van jou en Ruan se vriendskap. Maar ek wil hê jy moet weet ek waardeer jou hulp en bemoediging. Daarsonder sou ek wielloos onder in die drif bly sit het.”
Thys gee haar ’n langsame kyk. “Wie sê dis slegs ter wille van my en Ruan se vriendskap?”
Nikka is ’n oomblik van stryk terwyl sy blik hare vasvang. Daar is ’n ander soort uitdrukking in sy oë wat sy nie ken nie. Nie kan peil nie.
Sy maak haar mond oop om te antwoord, sonder om te weet wat sy wil sê. Vra wat hy daarmee bedoel? Of voorgee dat sy nie die subtiele nuanse in sy stem herken het nie? Die gelaaide stilte tussen hulle rek uit, terwyl sy en Thys na mekaar staar met ’n nuwe soort bewuswording wat soos ’n elektriese stroombaan tussen hulle strek.
Sy sien ’n flikkering in Thys se oë, sien hoe sy ooglede halfmas sak toe hy na haar mond kyk. Haar vingers kramp om die leë, louwarm koffiebeker. Sy ken daardie dralende, broeiende manier van kyk wat mans kry. Weet wat dit beteken … Haar vroulike instink herken die vonk, die magnetisme, die smeulende elektrisiteit wat onverwags tussen hulle twee ontspring het.
Wat maak sy as hy vooroor leun en haar soen? Want hy gaan, sy weet dit. Weet dit kom … Maar weet nie hoe sy gaan reageer nie. Dis of sy nie ’n wil van haar eie het nie, asof die oeroue Eva-instink haar logiese denke oorheers.
Die uitdrukking in Thys se oë hipnotiseer haar en Nikka kan met die beste wil ter wêreld nie haar blik van syne wegskeur nie. Daardie slap jellie waarmee hy netnou gespot het, lê haar hele lyf vol sodat sy werwelloos en willoos voel …
Dis Kattebol wat tot haar redding kom. Dié kom ingetrippel, stert in die lug soos ’n antenne, spring op die ontbyttoonbank en vly haar met ’n luide miaau teen Nikka aan.
“Sy’s honger.” Nikka is verlig dat haar stem normaal klink, asof haar binneste nie ’n maalkolk is nie, vol bruisende stormwater soos ’n rivier wat afkom. “Ek beter haar kosgee.”
“Ja, gee jou kat kos.” Thys se stem is niksseggend en dit lyk of hortjies oor sy oë gesak het. Hy draai weg, neem die bekers en gaan spoel hulle in die wasbak uit.
Nikka soek in die kas ’n blikkie tuna, dankbaar dat haar bene weer normaal funksioneer. Natuurlik sou sy Thys weggestoot het as hy enigsins probeer het om haar te soen, hom ferm vertel het dis verbode. Daar is nie sprake dat sy sou stilgesit het en hom toegelaat het nie. Natuurlik nie!
Hy is haar ou-ou, jare lange skoolvriend, soos ’n broer vir haar. En mens soen nie jou broer nie. Thys se gevoelens vir haar is ook soos dié vir ’n jonger sussie. Dit was sommer haar verbeelding. Wensdenkery, omdat sy so bitterlik na ’n aanraking van Ruan verlang.
Thys leun teen die opwasbak, hande in sy broeksakke, terwyl hy ’n toonlose deuntjie fluit. Nikka loop verby om die bliksnyer uit die laai te haal, maar hulle praat nie en sy kyk nie na hom nie. Toe sy buk om die kat se bakkie op te tel, merk sy daar is kos in – ’n paar lepels tuna waaraan nie geraak is nie. Sy kyk in die yskas. Die res van die blikkie is netjies toegemaak en gebêre.
En buite by die agterdeur is mielies gestrooi vir Haandrik. Ruan? Sy onthou sy het hom met Andries hoor praat voor hy gery het, seker in verband met die geute of nog vrugtebome wat gesnoei moet word. Is dit wat hy bedoel het met sy huishoudelike pligte wat hy sal nakom? Van Maandae tot Vrydae. Naweke gaan hy na Stefni toe … Om sy manlike pligte dáár na te kom? Seker aangenamer as geute skoonmaak en bome snoei. Sy dwing haar gedagtes weg.
“Die kat het kos,” merk sy op.
“Ek sien so.” Thys se stem is net so niksseggend soos hare. Hy sit die bliksnyer terug in die laai.
“Sy was nie honger nie, sy wou net aandag hê.”
“Blykbaar.”
Soos twee beleefde vreemdelinge