Satyn Omnibus 8. Ettie Bierman
seker. Hoekom nie? Foksie is skaars twee jaar oud.”
“Dit sê niks. Sy kan wegraak, ’n kar kan haar trap, enigiets kan …”
Nikka kyk ondersoekend na hom. Wat gaan met Ruan aan? Is hy sommer net dwars omdat hy ’n moeilike dag op kantoor gehad het?
“Ons is miskien nie meer hier teen die tyd dat daar eendag weer kleintjies is nie,” las hy by, asof hy haar gedagtes kan lees en dit ’n troefkaart is waarmee hy haar wil vermaak.
Omdat hy teen daardie tyd dalk al die plot verkoop het? Sy het nie gedink Ruan sal so kleinlik wees nie. Maar sy het hom net in die goeie tye geken; mense verander wanneer die liefde by die agterdeur uit verdwyn.
Hy het dalk die hondjie vir sy aanstaande belowe. Daardie goedkoop flerrie is belangriker as sy boesemvriend! Nou goed, dink sy, as hy vermakerig wil wees, sy kan ook. Hy het immers eerste begin.
“O ja, ek het vergeet,” antwoord sy sarkasties. “Jy wil van die plot ontslae raak, want jy het mos nuwe trouplanne. Jy bly net voorlopig hier, net tot jy by jou volgende vrou intrek.”
Hy is ordentlik genoeg om skaam te kry. “Dis nie hoe ek dit bedoel het nie.”
“Hoe het jy dit bedoel, Ruan?” dring sy aan. “Hoe lank is ‘voorlopig’? Hoe lank gaan jy bly?”
Hy lyk moedeloos. “Ek het mos vir jou gesê ek weet nie. Dis al antwoord wat ek het om vir jou te gee: Ek weet nie. My kop voel of hy deur ’n sif gedruk is. Ek besef dis onbillik teenoor jou en ek is jammer daaroor, maar hierdie ding het my onkant betrap en ek weet eerlikwaar nie.”
“Het jy haar gevra om te trou?”
“Dink jy só min van my? Dat ek agter jou rug sal konkel terwyl ons nog getroud is?”
“Ek het gedink ek ken jou, maar jy verstom my keer op keer. Aanvaar Stefni dit so? Dat jy nie beskikbaar is nie?”
“Sy het nie ’n keuse nie. Sy het van die begin af geweet ek is ’n getroude man.”
“’n Mens sal dit nooit raai nie,” kap Nikka sarkasties terug. “Of is sy ook ’n getroude vrou en gewoond daaraan om huweliksbeloftes te verbreek?”
“Nee.”
“Hoekom nie?” Nikka se oë vernou en sy klink agterdogtig. “Het sy vir jóú gewag? Gewag dat jy uiteindelik jou moed bymekaarskraap om jou vrou uit te skop?”
Ruan is verdedigend. “Ek het haar nooit aanleiding gegee nie. Jy was nog altyd die enigste vrou in my lewe.”
“Hoe edel van jou! Totdat jy uiteindelik kleivoete gekry het en voor die versoeking geswig het? Hoe het jy dit reggekry om haar so lank aan ’n lyntjie te hou? Deur verwagtings te skep: beloftes te maak van ’n idilliese lewe vol heuning en stroop saam met haar sodra jy ’n vry man is?”
Hy kyk af, skud sy kop.
Nikka gee ’n kortaf laggie. “Klink of jy maar ’n louwarm vryer is … Het jy darem al sover gekom om haar van jou ewige liefde te verseker? Of hou jy haar ook in die duister soos jy met my doen?”
Ruan loop ’n draai deur die studeerkamer. Steek ’n sigaret aan en trek die rook diep in, asof dit ’n lafenis is. “Ons het ’n … ’n soort verstandhouding, sonder dat dit in woorde uitgespel is.”
“Ek is net ’n dom onnie, nie so slim soos ’n fisioterapeut nie. Watse soort verstandhouding? Kan jy dit vir mý in woorde uitspel?”
Ruan was nog nooit besonder lankmoedig van geaardheid nie. Nikka wonder hoe lank sy lont nog gaan hou, maar hy antwoord geredelik en geduldig.
“Hierdie is ’n groot besluit wat nie net vir my raak nie, dit raak ons al drie se lewens. Ek het belowe om my verpligtinge teenoor haar na te kom. Maar ek het ook begrip gevra vir my situasie, en tyd om deeglik na te dink en oor die pad vorentoe te besin.”
“Soos vir my?”
“Soos vir jou,” beaam hy.
Sy oë lyk gekneus, donkergroen en vasgekeer. ’n Oomblik lank kry Nikka hom jammer, kan sy haar in sy dilemma indink. Maar ’n vrou wat verwerp en versmaai is, loop ’n opdraande pad na vergifnis toe. Sy verhard haar hart.
“En intussen sit ons albei op hete kole, met maagsere en stompgekoude naels, wagtend dat jy moet kies watter een jy wil hê? Is sy net so onseker oor jou planne as ek? Of hou jy haar beter ingelig oor die jongste verwikkelinge ten opsigte van jou huwelik?”
“Sy weet jy en ek het probleme, dis al. Ek bespreek nie ons huwelik met Stefni nie, Nikka.”
Dis wat Thys ook gesê het – dat Ruan nie buitetoe praat nie, nie eens teenoor hom wat al van skooldae af deur dik en dun sy boesemvriend is nie. Maar Nikka vind dit moeilik om te glo. Hoe het die verhouding dan begin as dit nie die klassieke voorbeeld was van die arme veronregte man wat by sy minnares gekla het sy vrou “verstaan” hom nie?
“En is sy bereid om te wag?”
Hy knik kortaf.
“Vir hoe lank?”
“So lank as wat nodig is. Ek weet dis ’n ondraaglike situasie en ek sou jou dit graag wou spaar. Maar ek vra soortgelyke begrip van jou, Nikka. Asseblief?”
Hoewel beleefd gestel, is dit meer as net ’n versoek. Daar is ’n fermheid in Ruan se stem wat Nikka waarsku sy moenie aanhou krap nie. Hy erken hy is skuldig, hy het herhaaldelik verskoning en vergifnis gevra, hy het probeer verduidelik. Maar dis die situasie … Sy wou weer teen Stefni te velde trek, maar sy swyg. Wat baat dit, behalwe om Ruan net verder te vervreem?
Die babafoksterriërtjie is gewoond aan lawaai om haar: honde wat blaf, hoenders en ganse en hadidas wat raas … Die skielike stilte toe die stemme bokant haar kop ophou, laat haar wakker skrik. Die lug is koud en sy kom agter haar boeties en ma se bekende melkreuk is weg. Sy sukkel regop en begin bewe, val om en tjank skril.
Nikka het van die slapende bondeltjie op haar skoot vergeet en dis Ruan wat afbuk en haar versigtig optel. Hy druk die hondjie teen sy nek en skulp sy hande om die bibberende lyfie. Vryf oor haar rug en krap agter die oortjies terwyl hy met haar gesels. Hy het altyd ’n slag met diere gehad – een van die baie redes waarom sy verlief geraak het op hom …
Die kla-stemmetjie verstil onmiddellik. Die hondjie vroetel dieper onder Ruan se ken in, kry die punt van sy pinkie beet en begin entoesiasties daaraan suig. Die donkerte in sy grougroen oë versag. ’n Oomblik is dit asof die spanning van sy skouers afgly.
Hy lag. “Dís ’n paslike naam vir haar! Pinkie.”
“Thys het klaar ’n naam gekies: Fluffy.”
Hy trek sy neus op. “Watse simpel naam is dit? Fluffy pas by ’n poedel of ’n wollerige Persiese kat, nie by ’n foksterriër nie.”
“Dit staan vir Funny Little Ugly Fellow.”
“Dis onvleiend en pas nie by ’n meisiehondjie nie. Dis onsinnig dat Thys haar vat. Hy leef self van wegneemkos. Wat gaan hy haar voer: hot dogs en hamburgers? Sy sal diarree kry en doodgery word in daardie besige straat wat voor sy huis verbyloop.”
“Hy weet van gesonde hondekos en hy sal ’n nuwe heining opsit. Jy is sommer net stroomop. Gun die hond vir Thys, hy sal goed vir haar sorg.”
Ruan kry ’n steeks trek op sy gesig. “Nee, ons hou haar.”
“Ek het Foksie by ’n kind in my klas gekry, sy is mý hond,” herinner Nikka hom. “Ek kan oor haar kleintjies besluit.”
Ruan het haar gewaarsku genoeg is genoeg, sy moenie verder sukkel nie. Die steeks uitdrukking versprei deur sy hele lyf toe hy sy rug styf maak en sy skouers vierkantig stoot. “Kies jy Thys se kant teen my?”
Nikka lig haar ken en haar stem is net so aggressief soos syne. “Jy het Stefni se kant teen my gekies. Dit beteken ons is gelykop. Een ronde elk.”
“Dit gaan nie oor ’n kompetisie nie.