Die dekonstruksie van Retta Blom. Zelda Bezuidenhout
die ding doen. Die revolusionêre nuwe instrumentasie is van titanium gemaak, en Sia se treffer “Titanium” gaan die amptelike musiek wees vir die geleentheid. ’n Silwerdoek sal gespan word om die promosiefliek op te vertoon. Met Leeukop en Seinheuwel in die agtergrond en bitter min kans op reën daardie tyd van die jaar, gaan dit ’n aand wees wat niemand gou sal vergeet nie. Suria voel verlig en dankbaar. Sy het nodig dat iets in haar lewe nou reg loop. Sy het die regte keuse gemaak met A-list.
“Hoe lyk dit nóú met iets te drinke?” vra sy. Die tyd het regtig gevlieg, en sy besef nou eers dat sy dors is.
“Nee dankie, ek loop ’n bietjie laat. Maar ek sal graag jou badkamer gebruik? Ek moet my gesig fix voor my volgende afspraak,” sê Koba en pak haar notaboek en pen in haar sak.
“Sure. Gebruik sommer die een in my slaapkamer. Anders moet jy met die trappe op boontoe. Dis nou een ding van hierdie ‘charming Victorians’: Hulle kom met charming tekortkominge.”
Koba bly besonder lank weg. Lank genoeg vir Suria om haar te begin bekommer oor die toestand van haar en Jas se slaapkamer en die en suite-badkamer. Sy wonder wat alles op die vloer lê.
Toe Koba klaar is in die badkamer, haar lippe vars geverf met die posbusrooi wat sy klaarblyklik verkies, staan Suria al by die voordeur.
Sy wil vir Koba sê haar huis lyk nie altyd so nie. Dat sy hierdie week van die huis af werk omdat haar kind met epilepsie gediagnoseer is en op chroniese medisyne is. Dat dit in ’n eksperimentele fase is en dat die dokter nie seker is of die dosering presies reg is nie. Dat sy nooit regtig ontspan nie, omdat sy die hele tyd met een oor luister vir iets oor die pienk babamonitor. Rukgeluide, valgeluide, hiperventilerende asemhaling. Dat hoe hard sy ook al probeer, sy nie die rillerfliek in haar kop kan pause of uitvee nie. Die een waar sy haar kind op die vloer sien lê en konvulseer. Oor en oor en oor. Sy wil ook noem dat sy gewoonlik beter lyk as vandag. Héélwat beter. Maar sy doen niks van die aard nie. Sy sê bloot: “Jy was reg, ons gáán lekker saamwerk.” Dan draai sy die koperknop van die ou deur.
“Ons gaan Medstruments op die map sit, ek en jy,” voeg Koba by en steek weer haar koel, gemanikuurde hand uit vir ’n professionele handdruk.
Nadat die Mercedes SLK geruisloos weggetrek het, loop Suria haastig terug na haar studeerkamer. Haar kop krioel van idees na die dinkskrum. Koba Retief is nou wel nie haar cup of tea nie, maar die vroumens is ongetwyfeld een van die bestes in die bedryf. Terug agter haar lessenaar maak sy dadelik die leeromhulsel van haar tablet oop. Sy wil notas daarop maak terwyl haar breinkinders nog babatjies is.
Haar oog vang die babamonitor en sy besef meteens hoe stil dit was terwyl sy en Koba besig was met hul vergadering. Gewoonlik kom daar ’n konstante, krakerige wit geraas uit die pienk boepensie. Toe sy die toestelletjie optel om seker te maak dit is aangeskakel, sien sy dat die koord by die elektrisiteitsok uitgetrek het. Dit moes gebeur het toe Koba die monitor van die stoel na die lessenaar geskuif het. Net vir ’n oomblik sit sy versteen. Dan storm sy by haar studeerkamer se deur uit, hardloop die gang af en vat die trappe twee-twee na die boonste verdieping waar Klara se slaapkamer is.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.