Die dekonstruksie van Retta Blom. Zelda Bezuidenhout
Zelda Bezuidenhout
KWELA BOEKE
PROLOOG
“Vliegkaartjie, charger … sakdoeke?”
Lauretta Blom se afskeidsrympie het oor die jare presies dieselfde gebly, al reis haar man lankal nie meer met sy vlugbesonderhede op papier gedruk nie.
“Check, check en … check,” sê Tobias met ’n sweem van ’n glimlag. Sy weet dat die reëlmaat waarmee hierdie toneeltjie week na week afspeel, hom geborge laat voel. Asof alles presies is soos dit moet wees. En eintlik is dit. Want dis Donderdagoggend en elke Donderdagoggend neem Tobias ’n vroeë vlug Kaapstad toe. Laat elke Saterdagmiddag vlieg hy terug.
Hy druk ’n stapel dokumente met sy een arm teen sy lyf vas en gebruik die ander arm om haar nader te trek vir ’n soen. Die subtiele dagoue geur van haar parfuum talm tussen hulle. Retta het dit die vorige oggend na haar stort aangespuit, heeldag gedra en met die oorblyfsels daarvan aan haar lyf gaan slaap. Wat oor was van die duur vermenging van sitrus en kamille, is deur die snoesigheid van ’n nag onder die duvet gedemp en ruik nou gerusstellend en intiem. Sy het haar oefenklere aan en sal eers saam met die buurvrou gaan draf voordat sy stort.
Soos elke Donderdag die afgelope twaalf jaar, kyk Retta haar man agterna terwyl hy na sy motor in die lang oprit stap.
Noudat al twee hulle seuns uit die huis is, is hulle verby die familiêre fase van mekaar se sinne voltooi. Hulle het ’n veel dieper gemaksone betree waar hulle sonder woorde kommunikeer.
Retta weet byvoorbeeld dat Tobias elke oggend presies dieselfde ding vir ontbyt wil hê (All-Bran en sy gunstelingmuesli gemeng in die verhouding 2:1, met een koppie louwarm laevetmelk daaroor). Tobias het na al die jare geleer dat Retta ’n geskenkbewys van @Home bo enige ander verjaarsdagbederf verkies, maar dat troudagherdenking-geskenke ’n stelling moet maak.
Retta leun teen die deurkosyn, haar oë steeds op Tobias, wat nou amper by sy kar is. Sy reguit rug en breë skouers lyk vir haar verbasend goed vir ’n man van byna vyftig. Sy sal wag dat hy sy tas in die kattebak laai en sy lang lyf agter die stuur inskuif. Dan sal hy opkyk na haar en sy sal vir hom ’n soen waai. Sy sug behaaglik en wag dat die ritueel waaraan hulle al soveel jare deelneem homself kan uitspeel.
Dis toe dat sy dit raaksien: iets wat die volmaakte tafereel versteur. Soos ’n dowwe kol op ’n blinkskoon wynglas of ’n blertsie vliegmis op ’n pragtige skildery. In sy haas het Tobias een van sy lêers op die pynlik netjies gemanikuurde grasperk laat val. Sy trippel op haar Salomon cross trainers uit om dit op te tel en stap dan na hom toe met die dun lêer. Toe sy by hom aansluit, is hy besig om die kattebak met sy afstandbeheer oop te sluit. Dit gaap luierig oop en bly so staan asof dit op instruksies wag.
“Jy’t hierdie laat val, bok,” sê sy.
Hy wip effens toe sy so skielik langs hom praat.
“Thanks, engel,” sê hy en piksoen haar weer. “Ek sou in groot moeilikheid gewees het sonder hierdie lêer.” Dan sit hy dit by die ander papierwerk in sy aktetas.
Toe hy sy koedoeleer-naweektas in die Mercedes SUV se ruim kattebak laai, doen hy dit met onnatuurlike berekendheid. Hy plaas dit nie doodluiters iewers in die middel van die laairuimte nie. Hy posisioneer dit met groot presisie heel agter teen die linkerhoek van die bagasieruim. Kompleet asof hy plek hou vir iets anders.
1
“Jy sal nie glo hoe die ma’s by Luka se skool met mekaar wedywer nie. Oor flipping alles. Van dit wat hulle in die kinders se kosblikke sit tot hoeveel tafels hulle vir die Lentebal borg. Dis crazy.”
Berdine Serfontein praat hortend en uitasem terwyl sy en Retta vir die hoeveelste keer die tweekilometer-sirkelroete in die sekuriteitslandgoed draf.
“Jy hoef seker nie deel te neem aan die kompetisie nie?” waag Retta.
Haar jongste kind is al amper ’n jaar uit die skool. Dis waarskynlik die rede waarom sy nou die nieamptelike biegsuster vir ma’s van tieners in haar vriendekring geword het.
“Wel, mens kry baie gou die reputasie van iemand wat lyf wegsteek of net nie omgee nie, Retta. Dalk kan jy nie meer onthou hoe dit in die laer grade was nie.”
Eina. Dis ’n lae hou. Retta is minstens vyf jaar ouer as enigiemand anders in die groep, maar dis nooit lekker om daaraan herinner te word nie.
Berdine praat sonder ophou terwyl die twee vroue draf. Soos gewoonlik dek sy ’n groot verskeidenheid onderwerpe: die bure se tuine, die Duitse herdershond wat gedurig ontsnap, die onooglike kleur van die Kotzes se tuinmuur. Kotze-groen, soos die hele buurt dit noem wanneer hulle onder mekaar skinder.
Vandag sukkel Retta om saam te klets. Sy kan eenvoudig nie die prentjie van Tobias se piepklein tassie in die Mercedes se enorme kattebak uit haar kop kry nie. Hoekom pla dit haar so? Dis tog dieselfde tas wat hy elke Donderdag in sy kar laai? Met dié dat hy sy tyd tussen sy firma se Johannesburg-kantoor en die Kaapse tak naby Kuilsrivier verdeel, het hulle jare gelede by ’n praktiese roetine ingeskakel: Sondag tot Donderdagoggend is Tobias in Johannesburg, Donderdagmiddag tot Saterdagaand in die Kaap.
Dan gaan staan Retta skielik botstil.
“Berdine?”
Berdine is al ’n hele paar treë vooruit voordat sy agterkom haar drafmaat is nie meer langs haar nie.
“Het jy ’n kramp?” raai sy.
Dit voel inderdaad asof Retta ’n kramp het. ’n Kramp wat haar hart vasgryp en soos ’n nat handdoek uitdraai om die lewe uit haar te wring. Sy sukkel om asem te kry. Toe Berdine na haar stap en besorg voor haar gaan staan, vra Retta: “Dink jy Tobie sal my verneuk?”
“Dis sy tas,” verduidelik sy later dieselfde dag aan Leigh.
Haar vriendin trek ’n laaste paar hale op die skilderdoek waaraan sy werk, sit haar kwas en palet neer en draai dan na Retta.
“Wat van sy tas?” Sy vee haar hande aan haar oorjas af en kyk Retta ’n bietjie skepties aan. Toe haal sy ’n pakkie sigarette en ’n aansteker uit haar verfbesmeerde oorjas se sak, tik ’n sigaret uit en steek dit aan.
“Dis hóé hy sy tas in die kar gesit het, Leigh.”
Leigh teug diep aan haar sigaret en rek haar oë. Retta weet dat Leigh al gewoond is aan haar paranoia en dit aan haar “obsessiewe geaardheid en skreiende gebrek aan opwinding” toeskryf. Eintlik is sy en die vrygeestige Leigh baie onwaarskynlike vriende. Tog werk dit. Veral op dae soos vandag, wanneer die landgoedkliek eenvoudig nie die regte klankbord sou wees nie.
“You must be kidding. Jy dink jou man cheat op jou oor die manier waarop hy sy tas in die kar gesit het?” Leigh bars uit van die lag en dit lei tot ’n growwe, slymerige rokershoesie wat heeltemal te lank aanhou. “Fok, Retta. Nou het ek alles gehoor.”
Leigh maak met een hand die band los wat haar hare uit haar gesig gehou het, skud die ontploffing rooi krulle los en sê: “Ek dink jy’t ’n dop nodig.”
Die twee vroue stap deur die chaotiese ateljee na die klein kombuisie, waar Leigh onmiddellik rek om ’n bottel jenewer en twee glase van die rak af te haal.
Retta maak haar tuis by die smal kombuistoonbank. Hierdie hoek van Leigh se tuinwoonstel werk altyd vir haar soos ’n sielkundige se sofa. Nadat hulle jare gelede by ’n kunsuitstalling vir liefdadigheid ontmoet het, het Leigh ’n baie belangrike rol in Retta se lewe begin vervul. Die uitstalling was in die indrukwekkende voorportaal van die ikoniese Mutual Heights-gebou in die Kaapse middestad. Die hemelhoë plafon, groen marmer van die art deco-muurpanele en sierlike vlekvryestaal-detail was die volmaakte agtergrond vir Leigh se kleurvolle abstrakte werk. Maar Retta was daardie aand beslis uit haar gemaksone. Hoewel Tobias saam met haar daar was, het hy onmiddellik met een van sy welgestelde Kaapse verbintenisse begin gesels en haar alleen by die sjampanjetafel gelos. Dis nie iets wat hy normaalweg sou doen nie. Hulle was nog altyd ’n pakket, sy en Tobias. ’n Formidabele span wat