Die dekonstruksie van Retta Blom. Zelda Bezuidenhout
kontrak was. Die ding is, Retta het soos ’n dom muurblommetjie gevoel. Sy het amper niemand daar geken nie en het beslis nie genoeg van kuns af geweet om intelligent daaroor te gesels nie. Dis toe dat Leigh asof uit die niet tot haar redding gekom het.
“Weet jy, ek dink hierdie mense gee nie ’n hel om oor kuns nie en nog minder oor arm kindertjies, hulle is net hier om hulle labels af te show en shine te vang. Wat dink jy?”
Retta was so geskok dat sy aan haar sjampanje verstik het. Die borreltjies wat by die verkeerde keelgat af is, het ’n proesende lagbui ontketen. Leigh het haar spontaan op die rug begin klop en kliphard saam gelag. Die res van die aand het sy Retta beter laat voel oor haar karige kunskennis.
“Ek hoor netnou iemand sê die herhaling van hierdie rooi smeersels in my werk simboliseer my eie sterflikheid. Regtig? As ek reg onthou, het ek ’n helse voorraad Crimson Red op uitverkoping gekry voordat ek met die projek begin het!”
Dis hierdie fieterjasielose eerlikheid van Leigh waarop sy nou weer reken. Retta neem ’n sluk van haar drankie, sit haar glas effens te hard op die tafel neer en haal diep asem voordat sy praat.
“Oukei, Leigh. Verduidelik dan vir my waarom iemand wat alleen lughawe toe ry, sy tassie so netjies héél agter en héél links in die kar se kattebak sal sit. Jy moes dit gesien het. Hy het dit nie net ingegooi nie. Hy het dit hiperversigtig teen die agterste rand van die boot gestoot en toe saggies na heel links geskuif, asof hy plek hou vir ’n ander, veel groter tas.”
“Jy bedoel ’n vrou se tas,” sê Leigh aspris.
“Ek kan sien jy dink ek is paranoïes. Jy dink Retta, die arme ou huisvroutjie, se verbeelding hol met haar weg. Dat ek te veel Netflix kyk of iets.”
Sy kyk na die glas voor haar. Die vrolike oranje roerstokkie wat Leigh gebruik het om die drankie met mening te klits, woer nog in die rondte in die helder vloeistof. Vir ’n paar oomblikke hipnotiseer dit haar. Dan kyk sy op haar polshorlosie.
“Dis heeltemal te vroeg om te drink.”
Leigh sug oordrewe en steek nog ’n sigaret aan.
“My goeie bliksem, Retta. Wie het besluit wanneer dit ’n goeie tyd is om te drink? Die drinkpolisie? As mens nie mag drink wanneer jy dink jou man laai ’n skelmpie se bagasie in sy boot nie, wanneer mág jy drink?”
“Ek het nie gesê …” Retta knip haarself kort. “Man, los dit net. Jy’s reg. Ek is simpel. En ek is laat. Ek moet Charlie by die hondesalon gaan haal.”
Sy skud haar hare reg, gryp haar motorsleutels van die toonbank af en begin doelgerig aanstryk voordeur se kant toe. Dan draai sy om, neem haastig ’n sluk van haar G&T en gee vir Leigh ’n drukkie sommerso skuins uit die heup.
“Jammer ek het jou kreatiewe vloei …”
“Opgefok?” stel Leigh voor.
“Jip. Dit.”
“Sê dit, Retta Blom!” tart Leigh. “Wat het jy met my creative juices gedoen?”
“Ek het dit opgefok.”
“Daar’s hy. Onthou, iemand wat nie lekker kan vloek of eet nie, kan gewoonlik ook nie lekker …”
“Ja, ja! Ek’s freaking laat, Leigh,” roep Retta terwyl sy na haar motor trippel. Leigh kan tog so aanhou met ’n ding.
“Jy bedoel fokken laat, Retta Blom!” gil Leigh agterna.
Sy kan haarself skop. Hoe kon sy oor iets so simpel soos die posisie van ’n tas in ’n kattebak op hol gaan? Boonop het sy haar onsekerheid nie net aan een nie, maar aan twéé van haar vriendinne erken. Veral Berdine se reaksie toe hulle vanoggend gedraf het, het vir haar soos ’n belediging gevoel. Haar geproes het binne oomblikke oorgegaan in ’n hulpelose skaterlag. Asof sy nie dink die vervelige Tobias Blom sal ooit die opwinding van ’n affair najaag nie. Leigh se reaksie was nie veel anders nie. En hulle is reg, dink Retta. Haar man het sy foute soos enige ander mens, maar ontrouheid is nie een daarvan nie.
Sy is besig om die granaatbos in haar tuin te snoei toe haar foon piep. Tennisklub 17:00. Be there or be square. Dis Hermien de Wet. Sy het die manier om ’n paar pelle op die ingewing van die oomblik bymekaar te kry, gewoonlik om van die stilte van haar huis te ontsnap, ’n sappige brokkie nuus te deel of bloot om haarself te vermaak. Christa sal seker ook daar wees. Moontlik Berdine. Dalk selfs Mark, hul “vriendin-met-balle”, soos hy graag na homself verwys. Koba sal nie daar wees nie. As Retta reg onthou, is sy by die Kaapse tak van haar besigheid, A-list Events. Sy kyk na die tyd op haar slimfoon. Sy het nog ’n uur. Waarom nie? Dis nie asof sy aandete hoef te kook nie.
Hermien en Mark sit al om een van die ronde tafeltjies op die klubhuis se stoep, elkeen met ’n drankie voor hulle, toe Retta daar aankom.
“Life is betta with Lauretta!” gil Mark sy gebruiklike groet toe hy haar sien. “Long time no see, girl. Jy lyk amazeballs.”
“Jou balls lyk ook amazing,” sê Retta droogweg.
Haar onverwagte pittigheid laat hulle lê soos hulle lag.
“Om die woord ‘balls’ uit jou mond te hoor, Retta, is soos om ’n muis te hoor brul of ’n non te hoor poep. Dis net nie reg nie,” sê Hermien terwyl sy lagtrane afvee.
“Hei, ek is nie ’n muis nie.” Sy raak soms ’n bietjie geïrriteerd met haar vriende se alewige gespottery. Net omdat haar lewe uitgesorteer is en sy nie elke week ’n vars, selfgemaakte krisis beleef nie, hang hulle graag ’n vaal etiket om haar.
“Toemaar, ou Retta, jy’s my favourite koek. En almal weet ek hou nie eens van koek nie.” Mark staan op en slaan sy lang, maer arms om haar in ’n speelse druk.
“Chips, hier kom pastoor Biddulph,” fluister Hermien aspris hard genoeg vir Christa Biddulph om te hoor.
“Ek sal julle klomp Filistyne nog uitsort, moenie worry nie,” kondig Christa aan en gooi haar handsak op die klein tafeltjie neer. Sy val dramaties op een van die stoele neer en strek haar kort bene voor haar uit.
“Wat ’n dag! Soos Oprah altyd sê: ‘No more lessons today, God.’ ” Christa is ’n groot aanhanger van Amerikaanse geselsprogramme, en praat altyd asof sy en Oprah Winfrey hand op die blaas is.
“Is jy beproef vandag, girlfriend?” Mark wys vir die kelner dat hy Christa se gewone bestelling, wit druiwesap in ’n wynglas, kan bring.
“Kyk, ek glo dat God nie goed voor my deur sal lê wat ek en Hy nie saam kan handle nie. Maar op dae soos vandag kyk ek boontoe en vra: ‘Rêrig?’ Kan Hy nie vir ’n slag iemand anders se file trek nie?”
Retta kyk besorg na haar petite vriendin. Die koddige bont rompie wat Christa vandag aanhet, laat haar nog korter lyk as wat sy is.
“Wil jy daaroor praat?” vra sy.
“Nee, ’seblief nie. Ek het ’n break nodig.” Christa neem die glas druiwesap by die kelner en vat dadelik ’n groot sluk.
“As dit help, ek glo dit ook. ’n Mens kry nie méér as wat jy kan dra nie.” Retta sit haar hand op haar vriendin se arm en gee haar ’n ondersteunende druk.
Mark rol sy oë teatraal. “Vandat jy in ’n religious drol getrap het, is jy net nie meer soveel fun nie, Chris.”
“Los haar uit. Jy maak haar dag nog slegter,” raas Retta en klap hom speels teen sy kop.
“Asseblief!” gil Hermien. “Los nou die ongevraagde berading. Ek het ’n belangrike aankondiging om te maak.” Toe almal uiteindelik bedaar, tik sy met haar rooi kunsnaels op die tafelblad. Selfs nadat almal tjoepstil is, hou sy nog ’n rukkie daarmee aan, asof sy spanning wil opbou.
Die vriende kyk na mekaar en dan na Hermien. Retta kyk op haar horlosie. Dit lyk nie asof Berdine gaan kom nie. Dankie tog. Sy wil haar eers vra om liefs niks te sê oor hul gesprek van vanoggend nie.
“Jy’s swanger!” raai Mark kamma met oordrewe skok.