Die dekonstruksie van Retta Blom. Zelda Bezuidenhout
Wou sommer bietjie klets.”
Iets in Koba se stem het Retta alles net so laat los. Haar volle aandag was nou by die oproep.
“Hoe gaan dinge in die Kaap? Als reg by A-list Events?”
“Als goed, ja. Was Tobias ook in die Kaap hierdie week?”
“Jip, jy weet mos. Elke week tot Saterdagmiddag. Hy sal seker binnekort op die vliegtuig klim. Hy stuur gewoonlik ’n check-in-boodskap op Facebook. Maar dit sal ’n paar uur wees voordat hy by die huis is. Jy klink vreemd, Koobs. Wat’s fout?”
“Niks fout nie, dolla. Ek het gedink ek het hom gesien, maar was nie seker nie.”
Retta kan die lieg hóór. En dit laat iets vreemds met haar gebeur. ’n Reaksie wat sy aan haar lyf kan voel. Kleiner as skok, maar groter as blote verbasing. Koba kan amper alles baie goed doen. Leuens vertel is skynbaar nie een van daai dinge nie.
“En dis waarom jy my bel? Om seker te maak jy’t gesien wie jy dink jy’t gesien?” As mens soveel aandag aan detail gee soos sy wat Retta is, is jy ook ’n kundige op die gebied van klein tekens wat groot stories vertel. “Is daar iets wat jy my nie vertel nie, Koba?”
Maar daar was net stilte, met die vae geluid van ’n eentonige lughawe-aankondiging in die agtergrond.
“Flippit, Koba, spoeg dit uit. Wat gaan aan? Wat het jy gesien?”
“Niks weirds nie, man. Hy is deur vriende by die lughawe afgelaai, en dis waarom ek nie seker was dit is hy nie. Jy ruk nou weer die hol uit die hoender. Ek wou maar net bietjie gesels terwyl ek vir my vlug wag. Jy weet mos jy’s my go-to girl wanneer ek hierdie dooie tyd op lughawens en in kliënte se voorportale het. Ek sien anyway nie vir Tobias hier in die VIP lounge nie. Hy sit seker saam met die plebs in die vertreksaal.”
“Vriende?” Die hartlike woord het koue doringdraad omgehad toe Retta dit sê.
Haar vriendin se poging om die gesprek in ’n ligter rigting te stuur, het haar nie vir een oomblik ontspoor nie.
Koba het oordrewe gesug aan die ander kant van die selfoon.
“’n Vrou en kind. Dit het gelyk asof hy hulle goed ken. Hy het die kind op die voorkop gesoen. Anyway, girl, ek moet gaan. Hulle gaan ons binnekort roep en ek is twee roltrappe van my instaphek af.”
Retta was meteens yskoud. Soos blits het sy deur die lêers in haar kop geblaai vir moontlike verduidelikings. Tobias se personeel in die Kaap. Vriende. Familie. Hy sou in die firma se woonstel bly, waar hy altyd tuisgaan wanneer hy in die Kaap is. Hy gebruik tog altyd Uber-motors vir sy vervoer in die Kaap? Miskien het hy hierdie keer daarteen besluit? Hy deel immers nie elke klein detail van sy werk met haar nie. Hy is nogal streng daaroor. Werk is werk, gesin is gesin. Dalk het hy ’n rygeleentheid gedeel met iemand wat ook lughawe toe moes gaan? Dalk het die vrou eers haar man by die internasionale vertreksaal afgelaai, en toe vir Tobias? Maar hoekom sou hy die kind op die voorkop soen?
Voordat Koba kon aflui, het Retta vinnig gesê: “Dis seker sy Kaapse sekretaresse. Sy’t ’n kind.”
Sy weet nie waar die spontane leuen vandaan gekom het nie. Sy weet net dat sy woedend was vir Koba. Hoe durf sy haar so bemoei met goed wat niks met haar uit te waai het nie?
Tobias het al vir jare nie meer ’n sekretaresse in die Kaap nie. Hulle ken niemand in die Kaap met ’n jong kind nie. Om die waarheid te sê, hulle ken glad nie meer mense met jong kinders nie. Dis wat gebeur as mens op hulle ouderdom nog nie kleinkinders het nie.
“Well, that explains it!” het Koba ’n bietjie té lighartig gesê. “Anyway, daar roep hulle ons nou om aan boord te gaan. Jammer ek het jou op hol gejaag. Ek dink ek is net moeg na vanoggend se vergadering met die Queen.”
“Die Queen?”
“Dis ’n lang storie. Ek vertel jou Maandag. Gotta go. Geniet date night met jou man.”
Toe Koba aflui, het ’n naarheid in Retta opgestoot. So erg dat sy nie tyd gehad het om badkamer toe te hardloop nie. Sy het dit net-net tot by die asdrom gemaak. Lighoofdig oor die blink silinder van die ontwerpersblik gehang lank nadat sy opgehou braak het. Sweet het op haar voorhoof uitgeslaan. Toe sy op haar horlosie kyk, het sy gesien dat dit tien oor vier op 11 Augustus 2018 was. Die oomblik toe alles verander het.
Sy het nog sowat twee uur voordat hy terugkom. Sy weet nie regtig waar om te begin nie. Kruideniersware wegpak of kosmaak is nie meer op haar lysie nie.
Vroeg in hul huwelik het sy en Tobias besluit dat hulle mekaar eenhonderd persent sal vertrou. Hulle sal nié die paartjie wees wat skelm na mekaar se dagboeke loer of in snippermandjies rondkrap vir koopstrokies nie. Hulle verdien tog elkeen hul eie privaatheid en dit sluit leefruimte in wat die ander een nie mag betree nie.
Toe hulle jonk was en die seuns nog klein, was daar nie soveel geld nie. Die huis was heelwat kleiner en die privaat ruimtes ook. Tobias het sy garage gehad en Retta ’n klein buitekamer, waar sy kon naaldwerk doen en musiek luister. Soms het sy haar daar gaan toesluit as hulle baklei het. In die beginjare het hulle nogal dikwels baklei. Toe die verhouding nog eg was, dink sy. Maar wag, oorreageer sy nie nou nie? Die mansmense in haar huis beskuldig haar nogal dikwels daarvan. Daar is tog seker ’n doodnormale verduideliking vir wat Koba by die lughawe gesien het? Moet sy nie eers uitvind voordat sy op loop gaan met ’n idee nie?
Deesdae is Tobias se studeerkamer sy heiligdom. Sy weet dat sy nie daar mag skoonmaak sonder om hom minstens ’n paar dae voor die tyd te waarsku nie. Hy pak dan sy vlieghengelgoed en belangrike dokumente weg en gee vir haar die groen lig om met haar arsenaal skoonmaakgoed, lappe en stoffers daar in te vlieg. Dit gebeur miskien drie keer per jaar. Sy het haar eie werkskamer aan die sonnige kant van die huis. “Sewe skakerings van wit,” soos Dawid dit beskryf. En selfs netjieser as die res van die huis, as dit enigsins moontlik is.
Die studeerkamer voel vir haar soos die logiese plek om te begin. Sy weet immers wat in elke hoekie en kas van die res van die huis is. Indien Tobias iets het wat hy vir haar wegsteek, sal sy die leidrade in sy privaat ruimte vind. Haar verstommende oplettendheid is ’n byproduk van haar fanatiese netheid, en hy is deeglik bewus daarvan.
Verstommende oplettendheid. Dis iets wat Tobias en die seuns dikwels van haar sê. Dat sy ’n forensiese speurder soos ’n amateur laat lyk. Hierdie soort aanmerkings is veral in die seuns se tienerjare gemaak nadat sy ontdekkings in die twee jong mans se kamers gemaak het. ’n Paar lang, blonde hare op Dawid se kopkussing. ’n Halfgerookte daggazol binne-in ’n vulpen. En eenkeer ’n kondoom, nog in die pakkie verseël, tussen die blaaie van Popular Mechanics. Ben was maar dertien. Nou laat die frase “verstommende oplettendheid” haar minagtend vir haarself snork. As haar man haar verneuk, sê dit baie oor haar sogenaamde skerp sesde sintuig. Die enigste verstommende aspek van haar oplettendheid, is dat dit haar moontlik liederlik in die steek gelaat het.
Sy draai die knop van Tobias se studeerkamerdeur. Dis koud in die vertrek en ’n bietjie donker. Sy skakel die lig aan. Daar staan bokse en lêers op die mat langs die lessenaar. Iets wat sy glad nie in die res van haar huis sou duld nie. Sy dink weer aan die manier waarop hy sy naweektas so versigtig teen die agterwand van die kattebak geskuif het, en net daarna tot teen die linkerwand. Hier in sy studeerkamer is hy duidelik homself. Sy vlieghengelboksie met kunsvlieë staan met die deksel oop op sy lessenaar en ’n paar kleurvolle vere en wolletjies lê die hele wêreld vol. Daar’s twee leë bierbottels in die snippermandjie. Olyfpitte. Fotopapierknipsels. Sy haal dit uit om dit van nader te bekyk. Dit lyk asof hy ’n foto kleiner geknip het om in ’n spesifieke raam te pas. Ongelukkig is daar geen oorblyfsels van die foto self nie, net die wit fotopapier wat ’n raam om die foto gevorm het. Nie een van hulle het meer fotoalbums nie. Dis tog iets wat in die laat negentigs al uitgesterf het. Wat sou hy geraam het? Die foto was nie baie groot nie. Haar oë draai outomaties na die twee geraamde foto’s op sy lessenaar. Een van haar as jong vrou, haar donkerblonde hare wild geperm. Die ander een van Dawid en Ben langs ’n dam naby Dullstroom. Die twee boeties glimlag breed in ’n ongekende oomblik van kameraadskap, elk met ’n blink, pangrootte forel as trofee. Hy het nie die foto vir enige van hierdie rame uitgeknip nie – dié staan al lank