Die dekonstruksie van Retta Blom. Zelda Bezuidenhout
nie, my kind.” Tobias kyk bekommerd na sy oudste seun.
“Ek het nie ’n probleem met Christenskap nie, Pa. My pyn is met die actual Christene. Christenskap is soos Frankryk. Dis ’n cool plek, maar party van die mense wat daar woon, kan regte poepholle wees. Let’s go, Amy.”
Met dié gryp die twee jongmense hul mandjies en groet.
Leigh is koorsagtig aan’t ateljee skoonmaak toe Retta skuins na middagete daar aankom.
“A. Presies die neat freak wat ek nou nodig het,” sê sy en stop vir Retta ’n sponsie en emmer vol seepwater in die hand. “Ek maak net een keer per jaar my pozzie skoon en jou timing is impeccable. Ek het reeds Handy Andy in die water gesit.”
Tom Petty and the Heartbreakers sing “Free Falling” op Leigh se foon, wat via Bluetooth aan die klein luidspreker in die ateljee gekoppel is.
“Hoe was Dawid-hulle se ete toe?”
“Interessant.”
“Hmm. Dáár’s nou ’n woordjie wat baie sondes dek. Was die kos oneetbaar? Was daar weird stuff? Is sy girlfriend ’n psycho freak?” Leigh hou nie ’n oomblik op skrop terwyl sy praat nie.
“Die kos was hemels. Regtig besonders. Amy is dierbaar. Die atmosfeer was … gelaai.”
“Spill it!”
“Spill wat?”
“Die beans. Die boontjies. Die skinner. Dis after all waarom jy hier is, Retta Blom!”
Retta sit haar sponsie neer. “Wel, jy’s verkeerd. Ek het nie kom skinder nie, Leigh. Ek het aan jou voete kom sit sodat jy jou pêrels van wysheid voor my kan strooi. Ek voel asof ek besig is om mal te word. Asof ek skielik nie meer my wêreld verstaan nie. Het jy al ooit so gevoel?”
Leigh hou vir ’n oomblik op skrop.
“Mmmm, nee. Miskien een of twee keer toe ek te veel en te vinnig gedrink het. Maar dan moet ek byvoeg dat die wêreld die meeste van die tyd nie vir my sin maak nie. Ek is dus nie die regte persoon om te vra nie.”
Retta sug. “Leigh, die aand was ’n ramp.”
“Jy bedoel, ’n totale fokop?”
“Net so.”
“Het ons gin nodig?”
“Ek dink so.”
Die twee vroue gaan sit in die klein binnehoffie by die agterdeur van Leigh se tuinwoonstel. Die bottel Bombay Sapphire staan tussen hulle en die son op die blou glas laat Retta dink aan ’n seevakansie lank gelede.
“Ek moes nooit vir Paul en Christa genooi het nie. Paul kan so blerrie ongepoets wees. En jy weet hoe passievol hulle oor hul geloof is. Toe moet ek gisteraand agterkom Dawid is nié.”
“Wat bedoel jy?” Leigh knibbel aan die stukkie suurlemoen wat sy uit haar glas gevis het.
“Wel, Dawid dink skielik Christene is die skuim van die aarde. Ek bedoel, wanneer het dit gebeur? ’n Paar jaar gelede het hy voor die hele gemeente sy geloof bely. Nou reken hy dit was niks anders as groepsdruk nie.”
“En wat dink jy? Dink jy dit was groepsdruk?”
“Wel, nee. Ek weet nie. Miskien? Flippit, Leigh. Is ek dan so uit voeling met my eie kind?”
Leigh skeur ’n pakkie pistasieneute oop en gooi ’n paar in haar handpalm uit. “Ek het nog nooit gedink Dawid is gelowig nie.”
“Hoekom nie? Wat het hy vir jou gesê?” wil Retta ietwat geskok weet.
“Dis nie wat hy sê nie. Dis wat hy nié sê nie.” Leigh kyk na haar vriendin soos iemand wat vir ’n spesifieke reaksie wag.
“Ek verstaan nie.”
“Retta, is jy vertroud met die konsep van negatiewe ruimte in kuns?”
Retta skud haar kop stadig van links na regs.
“Wel, om proporsies en skaal reg te kry, werk kunstenaars dikwels met die negatiewe ruimte rondom die eintlike onderwerp wat hulle wil skets. Hulle teken dus dit wat nié daar is nie, eerder as dit wat wel daar is. Wanneer al hierdie negatiewe detail ingeteken is, kom die objek vanself lewensgetrou na vore.”
Retta lyk steeds totaal verward.
“Kom, laat ek jou wys.”
Leigh gaan haal ’n vel papier en potlood in haar ateljee en sprei die papier op die tuintafeltjie oop.
“Sê nou maar ek wil daai bottel gin teken sodat die skaal en proporsie eenhonderd persent reg is in verhouding met alles wat om die bottel staan …”
Retta skuif reg om beter te kan sien wat haar vriendin op die skoon vel papier teken.
“… dan teken ek die agtergrond in plaas van die eintlike bottel Bombay. So … sien jy?”
Leigh teken die ruimte om die bottel. Die plante, die tafeldoek, die stuk stoel wat bo die tafel uitsteek. Toe sy klaar is, is die vorm van die ginbottel die enigste stukkie wit wat oor is op die papier. En dis perfek.
“Wow. Amazing.” Retta is verstom.
“Nè? En dis ’n metafoor vir die lewe, glo my. As jy wil weet wat regtig in iemand se kop aangaan, luister na dit wat hy of sy nié sê nie. Kyk na dit wat hulle nié doen nie.”
“Ek verstaan nog steeds nie.”
“Laat ek vir jou ’n storie vertel, dan sal jy beter verstaan.”
Leigh skink vir hulle vars glasies, steek ’n sigaret aan en leun terug in haar stoel.
“Toe ek in my twintigs was, het ek smoorverlief geraak op ’n ou. Brandon was lank en stil en ’n bietjie moerig, nes ek van my mans hou. Slim ook. Met die mees sensuele mond wat kon soen soos niemand voor of na hom nie. Ons het vir wéke gesoen voordat ons op enige ander manier gevry het. Dit was hemels. En soos dinge maar verloop in romantiese verhoudings, het die soen uiteindelik oorgegaan in full-on, witwarm seks. Die man was ongelooflik in die bed. Dit het hoeveel keer gebeur dat ons planne maak om uit te gaan vir ete en eenvoudig nooit daarby uitkom nie, omdat ons mekaar gryp en dan nie kan end kry nie. Ek dink nie ek was ooit weer so maer soos toe nie. Of so jags nie.”
Leigh maak ’n weemoedige geluidjie. “Dit het vir meer as ’n jaar so aangehou. Die koorsagtige middae in die bed, gesteelde oomblikke hier, daar en oral. Ons het alles probeer, mekaar oral bygekom. Op elke meubelstuk en in elke hoekie van my tuin. Eenkeer selfs in ’n aantrekhokkie by Woolworths. Maar die vryery het altyd dieselfde begin: met daai hemelse mond van hom op myne. Toe, eendag, verander dit.”
“Verander? Hoe?” Retta is vasgevang soos ’n klein dogtertjie wat na ’n slaaptydstorie luister.
“Een middag val hy by my in en begin my klere van my lyf afskeur. Ons het wilde, superhot seks. Maar iets is anders. Hy soen my nie. Glad nie. Nie as deel van die voorspel nie, maar ook nie tydens of na die daad nie. Net dit. Ek het dadelik geweet dis verby. Nie oor iets wat hy gedoen het nie, maar oor die een ding wat hy nié gedoen het nie. Verstaan jy? Die heel belangrikste tekens is die onsigbares, verskuil tussen ander shit. Twee dae het verbygegaan sonder dat ek van hom gehoor het. Hy het nie sy foon geantwoord nie. En op die derde dag het hy ’n boodskap gestuur. Net ’n paar woorde: Sal jou altyd onthou. That was it.”
Retta dink aan al die verskuilde tekens wat sy moontlik gemis het. Dawid wat nooit reageer as sy vir hom sê “Ek bid vir jou” nie. Nie eens met ’n dankie nie. Sy stilte wanneer sy vertel hoe God haar met dit of dat geseën het. Hoe hy nooit meer sy oë vlugtig toemaak voor ete nie. Dis inderdaad die dinge wat nié gedoen en gesê word nie, wat die meeste gewig dra.
Sy is meteens terug by die tas in die kattebak. Dis nie die tas nie, besef sy nou. Dis die ruimte óm die tas wat die storie vertel. Voor haar geestesoog sien sy hoe Leigh die asimmetriese ruimte in die kattebak teken sodat net die buitelyne van Tobie se leer-naweektas oorbly. Netjies heel links, heel agter. Om plek te