Vergeet my nie. François Bloemhof
François Bloemhof
na die ware liefdesverhaal van
Mardaleen en Hugo Derks
en ’n draaiboek deur Tarryn-Tanille Prinsloo
JASMYN
VOORWOORD
Daar is net een manier om ’n roman op ’n draaiboek te baseer.
Gryp die bal en hardloop daarmee.
Soos met Vir die Voëls, was dit vir my ’n baie interessante proses. Die wenner van Huisgenoot en kykNET se tweede fliekkompetisie was Mardaleen Derks, wat in haar kortverhaal “Op ’n fiets deur die sneeu” vertel het hoe sy en haar man, Hugo, se liefdespaadjie geloop het.
Die volgende fase in die proses was dat Tarryn-Tanille Prinsloo ’n baie knap draaiboek op die kortverhaal gebaseer het. En toe word dit verfilm met Danie Bester van The Film Factory as die vervaardiger.
Intussen het ek die draaiboek as vertrekpunt vir hierdie roman geneem. Omdat boeke en flieks se benadering so kwaai verskil, het ek groot vryheid gehad om dinge by te voeg, uit te haal en rond te skuif. Terwyl ’n regisseur ’n draaiboek op visuele wyse gestalte gee, kon ek weer alles “innerlik herverbeel”, veral ten opsigte van die hoofkarakter se gedagtes en gevoelens.
Enersyds het ek sommige gebeure nader gebring aan hoe die paartjie dit werklik ervaar het; andersyds het ek hulle beslis soms laat dink en optree soos die ware Mardaleen en Hugo nie destyds het nie.
Die boek word eerste uitgereik en sonder dat ek die rolprent al kon sien, twyfel ek nie dat dit twee wyd uiteenlopende (maar wedersyds aanvullende) ervarings bied nie. Ek het baie lekker hieraan geskryf en hoop dis vir jou net so lekker om dit te lees!
1997
1
Die drukker skree. ’n Bladsy se bokant beur stadig daarby uit.
Sy tik-tik met haar vingers op die lessenaar se blad. Dis al amper nege-uur in die aand, maar dit help nie jy raak ongeduldig nie.
Nietemin, sy raak!
Dis die ding van tegnologie; dis nooit vinnig genoeg nie. O, sy weet hierdie drukker is vinniger as die vorige – twee, drie keer, dalk nog meer – maar hoekom kan ’n mens tog nie net jou vingers klap en dan is die koerant gereed, reg om versprei te word nie?
Dalk gebeur sulke dinge eendag vinniger. Sy kan egter nie wag tot eendag nie, sy soek dit nóú en sy soek dit reg, en maggies, dis darem al diep in die negentigs.
Maar vertel dit nou vir hierdie drukker. Die bladsy het intussen net nog ’n paar sentimeter gevorder en dit voel vir haar soos om by te staan met ’n geboorte.
Nie ’n maklike geboorte nie.
DIE WAPAD
Amptelike studentekoerant van die P.U. vir C.H.O.
7 September 1997
Kom nou!
Mardaleen Coetzer dwing haarself tot kalmte, lei as ’t ware haar gemoed koud, en wag die minuut of wat, al voel dit vyf keer so lank, tot die drukker uiteindelik sy taak afhandel. Dan loop steek sy die bladsy aan die bokant van die vertoonbord vas.
Sy keer terug na die Apple Mac, waarop die koerant in Pagemaker uitgelê is. Dis die finale fase; nou nog net sorg dat alles netjies is. As iemand met ’n aanleg en voorliefde vir dié taak, het sy alleen agtergebly in die taamlik donker kantoortjie. Die res van die redaksie behoort almal nou besig te wees met die dringender sake wat studente se tyd in beslag neem.
Studies waarskynlik nie een daarvan nie.
Groen oë fynkam die bladsye noukeurig. Dit kan nie kwaad doen om seker te maak elke berig en foto sit op die regte plek nie. Hoe meer elkeen sy eie kop volg, hoe meer glipse tree in. Al die redaksielede bedoel dit goed, maar dis nou maar een ding: niemand neem dit so ernstig op soos sy nie.
Waarheid-en-versoeningskommissie: ’n nuwe begin
Hulle probeer alles dek wat belangrik is – nie net vir studente nie, énigiets in landsbelang. Asook dinge wat anderkant ons grense gebeur.
Diana se begrafnis: ’n treur-gedie
Sekere temas geniet dikwels aandag:
Koshuise oor kos
En natuurlik sal sy, as redakteur, altyd seker maak dat die letterkunde nie afgeskeep word nie. Sy skryf self die meeste van daardie bydraes.
Die man met die groen trui is Breyten Breytenbach
Trouens, kultuur is haar passie:
Puk-koor gewildste by internasionale koorkompetisie
Tog jammer sy kan nie self sing nie. Maar as sy kon noot hou, weet sy nie waar sy die tyd daarvoor sou gekry het nie. Nie terwyl sy nog waitress ook om vir haar studies te kan betaal nie.
Sy blaas ’n paar lang ligbruin hare uit haar gesig en gee dan ’n snorkie van verontwaardiging. Sy het pas op iets steurends afgekom. Dit sal nie alle ander mense pla nie, en kennelik ook nie die persoon wat na hierdie bladsy se uitleg omgesien het nie. Maar jittetjie!
Brink se Jogger gepubliseer
En reg langsaan:
Jonker-toneel toer deur die land
“Verbeel jou!” sê sy, al is net sy daar om dit te hoor. Om André P. Brink langs Ingrid Jonker te wil sit! “Jammer, Ingrid.” Sy stel die saak summier reg deur Breyten Breytenbach met sy groen trui langs Brink in te skuif. Die Jonker-berig skuif boontoe.
Daar’s hy.
Die twee-en-twintigjarige Mardaleen Coetzer sit terug. Sy verstel een van die skoenlapper-knippies waarmee sy haar hare in toom hou. Stryk die swart slip-dress wat sy oor ’n wit T-hemp dra plat.
Piep. Piep.
Sy druk outomaties haar pienk Baby-G-horlosie se alarmpie dood. Kan dit wees? Jou waarlik, ja, dis halftien!
Sy gryp haar rugsak en geborduurde denimbaadjie en laat spaander.
2
Bourbon Street is een van Potch se lekkerste kuierplekke. Daarom is dit nie verbasend dat Mardaleen omtrent vir haar ’n pad deur ’n paar studente moet stootskraap om by haar vriende se gebruiklike tafeltjie uit te kom nie – al is dit net een van hulle wat tans daar sit.
“Jammer ek’s laat!” Sy val oorkant hom in ’n stoel.
“Uiteindelik,” merk Willem van Niekerk op en lig sy wenkbroue voordat hy sy curtains-hare agtertoe vee. Mardaleen sien hy dra weer sy plaid-langmou oor die swart Nirvana-T-hemp: sy mees geliefkoosde uitrusting. Dit sal dan ook beteken hy het daai sakkerige denim aan.
“Waar is …” begin sy vra toe hy ’n glas witwyn nader skuif.
“Met komplimente van ons vriendin.” Willem beduie na die dansvloer en Mardaleen herken Lara tussen die ander skuddende lywe.
Lara Hattingh dra weer die blink Lurex-top wat haar bra guitig laat deurloer. Die suède-miniromp sê baie duidelik dat sy nou nie juis ’n renons in pret het nie – en net ingeval die boodskap tog om die een of ander rede nie deurkom nie, skud sy haar donkerbruin bos hare en is daar ’n belofteryke glimlag op haar mooi gesig.
Woah, we’re halfway there, woah, livin’ on a prayer.
Take my hand, we’ll make it, I swear –
woah, livin’ on a prayer …
“Sy’s besig met haar courtship-dans!” lag Mardaleen, want vanselfsprekend het Lara ’n aantreklike ou wat saam dans – of eerder, wat probeer bybly. Want dis mos haar asblik-song.