Vergeet my nie. François Bloemhof
kan jy dit laat ophou.
Kennelik was dit nie ’n droom nie.
“Vat dit terug kombuis toe,” het Hennie vir haar gesê, maar met begrip. “Meneer, mevrou, ek laat kom vir julle elkeen ’n Wille Dingo op die huis.”
Dis immers ’n tradisie om dié broodjie met sy dubbeldik stapel hoender-mayonnaise en kaas by Die Akker te gaan eet. Dit smelt in die mond en versag die verbitterde hart.
Die eerste kans wat Mardaleen gekry het, nadat sy voor beide die man en die vrou ’n Wille Dingo neergesit het, is sy badkamer toe.
Om op ’n toilet te gaan sit en tjank.
Dis wat gebeur as die woede verdamp en ander emosies na vore tree.
Dis hoekom sy na die koerantkantoor gekom het toe haar skof verby was, al bly hier niks werk oor nie. Sy wil nie in haar koshuiskamer haarself gaan sit en bejammer nie. Wil nie wéér op Lara se skouer huil nie.
Maar …
Daar is ’n klop aan die deur. Iemand draai die knop, maar dis gesluit.
“Wie’s daar?” roep sy. Die gebou kry nie baie voete hierdie tyd van die aand nie. Tog net nie inbrekers wat eers wil uitvind of hier iemand is nie.
As iemand wel inbreek en sy word in die proses vermoor, behoort sy darem haar eie koerant se voorblad te haal. Dan is al haar probleme verby en moet ’n nuwe redakteur maar inspring.
“Dis ek!”
Al wou sy Lara nie met haar treurigheid opsaal nie, is dit goed om die stem te hoor. Sy gaan maak oop.
“Bemoediging!” sê Lara en hou ’n bottel wyn en inkopiesak in die lug op. Toe sy eers in die kantoor is, haal sy ’n halfliter vanielje-roomys, bakkies en plastiekteelepels uit. Sy het selfs polistireenkoppies gebring, waarin sy dadelik wyn begin skink. “Tjorts!”
“Dankie …”
“Jy moet tjorts sê.”
Mardaleen kan nie anders as om te glimlag nie. “Tjorts, dan.” Sy vat ’n sluk. Het nie na die etiket gekyk nie, maar kan proe dis nie duur wyn nie. Maar dis die gedagte wat tel. Die feit dát iemand ’n gedagte vir haar gespaar het.
“En dié?” knik Lara na ’n aantekeningboek wat in vier stukke geskeur op die groot lessenaar lê.
“Onthou jy nie my droomboek nie?”
“O.” Die meisie vat ’n groot sluk wyn. “Oooooo.”
“Daar is te veel van Braam daarin.” Dit herinner Mardaleen dat die lessenaar nie die regte plek daarvoor is nie, en sy skiet dit in die rigting van die snippermandjie, waar dit mooi netjies land. So mooi netjies soos die doel wat sy vandag in professor Botha se lesinglokaal geskiet het.
“Nie meer lank nie, dan is jy in Londen.”
Al weet sy Lara sê dit om haar op te beur, en al is dit net woorde, béúr dit haar op. Of dalk is dit die wyn; die koppie is reeds leeg.
“When a man is tired of London, he’s tired of life,” mymer Mardaleen. “Dis Samuel Johnson wat dit gesê het.”
“En wie is hy as hy by die huis is?”
“Hy was ’n belangrike Brit en sy huis was in Londen.” En uit die bloute skiet die idee haar te binne: “Kom saam met my!”
“Kom ons drink eers klaar.” Lara is weer aan die skink.
“Nee, ek bedoel kom saam met my Londen toe!”
“Wat?” Lara lag verbouereerd. Sy is dan die een met die gek idees. “Ek … sonder ’n visa?”
Mardaleen dink na, maar net vir ’n sekonde. “Jy gaan met vakansie en doen daar aansoek vir ’n werkspermit.”
“Jong … waar gaan ons bly?”
“Ek het nog die lys wat die NG Kerk in Londen aanvanklik vir my gestuur het.”
“Marda,” en haar vriendin kyk haar in die oë, “ek dink jy is ’n bietjie deurmekaar, wat heeltemal te verstane is, maar …”
“Nee, ek is nie. En niks het verander nie. Die plan is nog dieselfde wat myself betref: Londen, ponde verdien, studielening terugbetaal, dan ’n plekkie in Kaapstad, werk by ’n uitgewery, word die beste redakteur in die land!”
Lara lag. “Jy’s ernstig hieroor?”
“Ja! Jy weet mos, as ek eers oor iets besluit het, hou ek daarby. En nou is ek vry. Nou besef ek dit eers. Ek moet Katryn Barnard eintlik dankbaar wees! En arme,” en sy gee haar stem ’n sarkastiese klankie, “afgeskeepte, ongelukkige Braam Hercules Malherbe – ek behoort hom ook te bedank omdat hy gevoel het hy het geen ander keuse as om die kat in die donker te knyp nie!”
“Hmm.” Lara wys na die opnuut leë koppie in Mardaleen se hand. “Ons praat weer môre.”
“Ek gaan nie môre anders voel nie.” Weer ernstig: “Geen verneukende poephol gaan ooit in die pad van my drome staan nie. Nooit nie! Al wat anders gaan wees, is dat jy saamgaan. Jy sal sien, dit gaan heerlik wees!”
Lara tuur fronsend in haar koppie: “Ek het nog nie ja gesê nie …”
1998
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.