Vergeet my nie. François Bloemhof
Dis nie gewens om laat by ’n lesinglokaal op te daag nie.
Des te meer as jy nie eens daardie kursus loop nie.
Maar hier moet Mardaleen wees, want dis waar Braam hom tans bevind. Sy ken dan sy rooster so goed, omdat beplanning en roetine haar veilig laat voel, sien, en omdat sy so goed is daarmee om ’n skedule op te stel, sien.
Van Omgewingsreg weet sy so min as Madonna van subtiliteit. Sy weet die dosent is ’n professor Botha en dis hoe ver haar kennis strek.
Sy maak die deur oop. Stóót dit oop. Huiwer nie, want sy het genoeg ergernis en ontsteltenis in haar vir ’n hele oorlogslinie.
Professor Botha was aan die praat, maar raak stil en sy kop swaai in haar rigting nes almal anders s’n. Dis een van daardie kleinerige lesinglokale met twee rye banke agtermekaar aan drie kante.
Een van die studente wat haar aangaap, is Katryn Malherbe – inwoner van Huis Wanda – wat ten nouste met Mardaleen se ergernis en ontsteltenis gemoeid is.
En sy sit netjies langs Braam in die middel in die voorste bank. Dié saamsittery sal nie van gister af wees nie.
“Professor, ek is jammer om te onderbreek.” Mardaleen is daarvan bewus dat die deur nie heeltemal agter haar toegeswaai het nie; Lara hou dit op ’n skrefie oop sodat sy kan loer.
“E …” maak die professor.
“Maar dit was ’n noodgeval.” Dis vir haar interessant hoe kalm sy klink, ondanks die kolking in haar gemoed, die vermeende noodgeval ten spyt.
Professor Botha knik inskiklik.
“U sien, ek het ’n dringende boodskap vir meneer Malherbe.” En net ingeval daar ’n misverstand kan wees, voeg sy by: “Braam Hercules Malherbe!”
Hy hét mos so ’n ding oor daardie tweede naam.
“Dis ’n special delivery.”
Sy sien Braam Hercules Malherbe se mond oopgaan, en toegaan. Sy hou immers die wasgoedmandjie met sy klere vas. Sy lippe mag nou wel nie beweeg nie, maar sy oë rig baie vrae, waarvan een definitief is hoekom sy so vasberade lyk. Dat Mardaleen Coetzer gekom het om ’n baie spesiale special delivery te maak, moet vir die slaperigste siel in die klas duidelik wees.
Sy klem die mandjie onder haar linkerarm vas, want haar regterhand is die een waarmee sy gooi. Die eerste T-hemp trek in sy rigting.
“Mardaleen?” vra Braam gedemp, maar hy kon dit geskree het ook, so hard is dit in die buiteruimtelike stilte.
’n Paar jeans tref hom teen die bors toe hy opstaan.
Hy wil agter die ou langs hom verbyskuif om uit te kom, maar moet koes vir ’n onderbroek.
Wat deur een van die ander ouens gevang word, voor hy ’n oordrewe gilletjie van walging gee.
Katryn Barnard is een van die lot wat dit baie amusant vind.
“En,” laat hoor Mardaleen, “dit sluit jóú panty in.”
Sy laat trek die gewraakte kledingstukkie deur die lug – vir ’n kolskoot in sy eienares se gesig. Katryn snak na haar asem en toe die ding hoorbaar op die skryfoppervlak voor haar land, is haar gesig so rooi as wat die panty geel is.
Daar word luidkeels gelag. Tyd vir Mardaleen om haar vertrek te neem. Sy knik vir die professor, wat van stryk gebring lyk, maar met ’n besliste plukkie by die een mondhoek.
Uit by die swaaideur.
“Kom,” sê sy vir Lara.
Hulle loop vinnig. In stilte. Lara ken haar goed genoeg om te weet dis nie ’n goeie tyd vir praat nie. Mardaleen het gedoen wat sy moes, maar as sy dit wat pas gebeur het nou begin dissekteer, gaan sy aan die tjank raak. Gramskap is beter. En tevredenheid dat jy dit gekanaliseer het.
Hulle trek al ’n goeie ent verder op kampus, in Lovers’ Lane soos die duiwel dit wil hê, toe Braam se haastige tred agter hulle opklink. Enigeen sou weet hoekom dit hom ’n rukkie gevat het om hulle in te haal: hy klou die mandjie vas waarin hy skynbaar die meeste van sy klere versamel kon kry.
“Mardaleen!” roep hy uit asof sy nie kan sien hy’s hier nie, of asof hy wil seker maak sy dink nie dalk dis met Lara wat hy wil praat nie.
Sy antwoord nie, kom net tot stilstand.
Hy skep asem. “Jy’s die heeltyd besig … Wanneer jy nie waitress nie, sit jy jou aande om by die koerant.”
“So dis my skuld?”
“Marda …” Die mandjie gly. Hy klou dit vaster. “Ek was eensaam.”
“Jou arme ding. Ek waitress nie omdat ek dit geniet nie – ek moet self vir my studies betaal, Braam!”
“En die koerant?” Toe sy net sug, kla hy: “Daar’s altyd iets. Iets belangriker as ek.”
“Dis nie waar nie! Ek wil net … Ek werk hard, want ek wil nie soos my …”
Sy knip die sin net daar af. Sy skuld hom geen verduideliking nie. Om die waarheid te sê, sy skuld hom niks meer nie.
Lara staan nader. “Jy moet dalk nou gaan, Braam.”
“Jy weet,” sê hy vir Mardaleen, “ek is niks soos jou pa nie.”
As sy haarself nie keer nie, gaan sy hom slaan. Beginnende by daardie vol, soenbare lippe waarmee hy ’n ander meisie gesoen het.
Op ’n manier kry sy dit reg om nie die mandjie uit sy hande te gryp en hom daarmee by te kom nie. Op ’n manier haal sy met ’n hand wat glad nie bewe nie die pakkie Camels en aansteker uit haar sak.
“Ek hoop jy versmoor.”
Hy bly daar staan.
Toe sy en Lara die punt van Lovers’ Lane bereik, is Mardaleen se gemoed nog vrek ver van rustig af. Maar dis beter. Sy ken tog daardie gevoel – dis ’n baie spesifieke soort woede.
Wat sy mos al geleer het om te hanteer.
9
In die koerantkantoortjie is dit net sy. Die werkesel is op haar pos. Het mos nie ’n rede om vroeg spore te maak nie. Daar is geen ou wat vir haar wag nie.
Of indien Braam wag, hoop sy hy het baie kos en water byderhand.
Sy hoef nie hier te wees nie. Die jongste uitgawe is reg om gedruk te word en sy is reeds met haar skerpste oog daardeur. Nuwe nuus is gereed om die wêreld ingestuur te word, of in elk geval Potch toe, of ten minste kampuswyd.
Nuus soos dat “Nkosi Sikelel’ iAfrika” en “Die Stem van Suid-Afrika” gesamentlik die nuwe volkslied word.
Dat die fliek Titanic besig is om ’n opskudding te veroorsaak. Vergeefse liefde, rampspoed en opoffering in ysige waters was nog nooit so ’n warm kombinasie nie.
Een opskrif vra: Waarheid-en-versoeningskommissie: Waar begin vergifnis?
Goeie uitgawe, al sê sy dit self. As jy haar lewe moet beoordeel na aanleiding van die produk wat sy die lig laat sien, is sy ’n geweldige sukses. ’n Ster.
Maar dié ster is nie net vandag haar kêrel kwyt nie – en sy verag die deeltjie van haarself wat wonder hoeveel sy daartoe bygedra het – maar het haar vlekkelose rekord by Die Akker Koffiehuis skade berokken.
Die een oomblik was sy nog die bekwame kelnerin van ouds, wat moeilike klante met gemak hanteer. Moeilikes soos dié wat sy reg voor haar gehad het. En toe …
Daar was ’n geweldige gesuis. Sy het die moeilike man en vrou se monde sien oopgaan, maar geen woord het haar ore bereik nie. Hulle was in elk geval nie besig om haar lof te besing nie. Sy het ’n bord kos vasgehou, maar kon nie onthou hoe dit in haar hande beland het of hoe lank sy dit al vashou nie. Sy was so duiselig, sy kon skaars uitmaak dis ’n hamburger en tjips.
Toe