Vergeet my nie. François Bloemhof
is egter nog nie verby nie. Dis kwart voor tien.
“Ontspan,” sê Lara, “ons kan kortpad vat.”
En so gebeur dit dat nie net hierdie dag nie, maar haar hele toekoms anders sal uitdraai as wat die immer beplannende Mardaleen Coetzer beplan het. Op die oomblik dink sy egter slegs aan daardie skripsie, die vrug van soveel harde werk, wat sy betyds moet inhandig.
Sonder ’n idee van wat haar op pad soontoe inwag.
6
Kortpad vat, soos Lara voorgestel het, beteken hulle moet weer verby Huis Onderlyf loop. ’n Opsie wat Mardaleen vermy wanneer sy kan. Wat byna altyd is.
Die ouens is … nou ja, seker nie heeltemal barbare nie. Of seker nie almal nie. Maar waar manlike koshuisbewoners soms – hoe sal ’n mens sê – aan die minder ordentlike kant kan wees, smaak dit haar ouens in studentehuise onthou nie meer die woord ordentlik nie. Dit hinder haar gewoonlik nie; mense moet doen wat hulle wil doen en leef soos hulle wil leef. Die enigste tye dát dit haar hinder, is wanneer sy voor die leeu se hok moet verby.
Doelgerig stap die twee meisies oor die straat, na Huis Onderlyf se sypaadjie.
“Vinniger,” stel Lara voor.
“Reg.”
“Nie só vinnig nie!”
“Hierdie is suicidal.” Mardaleen klou met een hand haar skripsie vas, en met die ander sorg sy dat haar VMN-hoedjie op haar kop bly. ’n Windjie het begin opstoot, die soort wat in ’n gruwelfilm gewoonlik dui op ’n naderende boosheid.
“Wil jy Antjie ingee of nie?” dwing Lara haar voort toe sy wil-wil vassteek.
Hulle voetstappe weerklink op die sypaadjie.
Verder is dit stil.
Nêrens is ’n Onderlyfer te bespeur nie. Die leeus slaap skynbaar – wat sin maak, daarom dat hulle saans en inderdaad alle ure van die nag kan kattemaai.
Hulle is amper verby die huis.
Maar dan kom dit: ’n fluit wat klink soos ’n sirene.
Hoe die vier ouens so vinnig hier kon uitkom, weet Mardaleen nie. Net dat hulle soos weerlig by haar en Lara is. Sy skrik. Keer, want die een wil die skripsie gryp. Met albei hande druk sy dit teen haar bolyf vas.
Sy kan dus nie keer dat die wind haar geel hoedjie skep nie. Sy gryp daarna, maar gryp mis.
Faps! land dit op die sypaadjie.
Lara kan haar nie help nie, want sy het haar hande vol: letterlik, met die wasgoedmandjie. Waaruit die ouens klere begin trek, wat hulle laat val sodra hulle dit het. Hoe meer sy ’n hand weggeklap kry, hoe meer nuwe hande is daar. Verbouereerd wil sy opsy dans, maar daar is ’n sterk manslyf agter haar om te keer.
En Mardaleen struikel. Sy keer dat die skripsie tog net nie iets oorkom nie. En land – eina, hel – op haar sitvlak.
“Cool it, ouens!” hoor sy.
Die volgende oomblik verskyn hy. Nie ’n greintjie vet aan daardie kaal bolyf van hom nie, en sy weet sommer dis die soort spiere wat ure en ure in ’n gimnasium ’n man nie sal gee nie. Jy kry dit net deur ’n kombinasie van die regte gene en baie aktief wees.
Maar dis slegs wat sy liggaamsbou betref. Hy het ’n gawe, oop gesig. Mooi oë. Dit word alles tot die tiende mag verhoog deur sy besorgde uitdrukking en die feit dat sy na hom opkyk. Toe hy oorleun, is dit kompleet asof die een of ander Griekse god – moet Apollo wees – uit die wolke neerdaal.
’n Hand word vir haar uitgehou. Groot, sterk hand.
Sy hoor ’n geluid en besef dis sy wat na haar asem gesnak het.
Kom reg, Mardaleen! Sy kan voel hoe haar wange begin gloei van verleentheid. Plat op haar jis op die sypaadjie, voor Huis Onderlyf van alle plekke. Sy vriendelike glimlag en die grys oë wat in hare kyk, maak die ervaring erger, nie beter nie.
Sy steek haar hand uit sodat hy haar kan ophelp. En dis toe dat sy die ou se voete sien.
Vuil tot om die enkels. Sy wil nie dink hoe lyk dit aan die onderkant nie.
Sy pluk haar hand terug. Wil nie ongeskik wees nie, maar staan self op. Hy wou help. Hy’s maar net ’n ou, boonop ’n Onderlyfer, en dink klaarblyklik dis oukei om met sulke voete in die openbaar te verskyn.
“Baie dankie,” en sy reik na die hoed wat hy opgetel het.
Dalk verstaan hy verkeerd. Of dalk het sy dit so bedoel, sy weet nie. Hy is besig om haar hand te skud. So ’n spontane, goedhartige ding om te doen dat dit haar hart wil laat smelt. Wat gaan aan met haar?
“Hugo Derks,” sê hy. “Bly te kenne.”
Sy knik asof sy dit nie geweet het nie. Sy weet ook maar eintlik net ván hom; het hom al met Intervarsity vir die Ibbies sien uitdraf. Dis die eerste keer dat sy hom van so naby aanskou.
Sy loer na die hoed wat hy nou weer met albei hande vashou. Kan dit tog nie by hom gryp nie.
“Mag ek jóú naam weet?” verneem hy.
Sy voel haarself glimlag. Maar dan is nog ’n blik na daardie gruwelike voete van hom genoeg dat sy haar regruk. Sy behoort in elk geval glad nie eens op te gelet het dat hy aantreklik is nie. Sy hét ’n ou!
“Kaalvoetmans is nie my tipe nie.”
Sy tree nader. Kyk hom in die oë. Sy weet haar oë is van die beste wapens in haar arsenaal en sy maak daarop staat om hom te boei. Dit hoef nog net ’n sekonde of twee te wees, want sy is naby genoeg om die hoed uit sy hande te neem.
Dis beslis langer as een of twee sekondes, hoe lank kan sy nie raai nie. Hulle gesigte so na aan mekaar. Sy besef indien hy geboei is, is sy ook.
Sy hoor een van die ouens fluit, maar dit hoort nie in hierdie klein ewigheid nie.
Sy is bewus daarvan dat die hoed agter sy rug verdwyn.
En sy nuwe soort glimlag, wat sy as trots interpreteer.
Dan kom die bekende gepiep. Daar is presies vyf minute oor voor sy die skripsie moet inhandig. Die geluid is die laaste iets wat haar oorspanne senuwees nodig gehad het voordat dit heeltemal die gees gee.
“Los dit!” roep sy uit, stamp verby hom en begin hardloop.
Sy wil byna dink hy sit haar agterna, maar dis Lara langs haar.
“Mardaleen Coetzer!” hoor sy hom roep.
Sy het reeds instinktief vasgesteek en omgedraai, toe hy na die binnekant van die hoed wys en sy onthou haar naam staan in koki daar geskryf.
Geen tyd om dit by hom te gaan haal nie. Sy sal ook nie later nie, laat hy dit dan maar hou. Sy sou moes onderhandel; hy bly ’n Onderlyfer, nes die hansworse wat hom staan en toejuig – veral toe hy haar arme hoed soos ’n trofee in die lug hou.
Sy begin weer hardloop, uit sy lewe uit.
7
Stilte heers in die wasgoedlokaal. Die donderende gemaal sal eers kom wanneer sy klaar Braam se klere in die masjien gelaai het.
Lara gee haar ’n semiverwytende kyk. Sy het Mardaleen al ’n paar keer gevra hoekom sy dit doen: ’n ou se klere was! Sy is dan omtrent die mees feministiese wese in Vergeet-My-Nie.
Maar dit voel vir haar reg. Mense moet vir mekaar wys hulle gee om, en dis haar manier, of een daarvan. Braam gee immers meer sulke blyke as sy, as sy nou heeltemal eerlik moet wees daaromtrent. Wanneer daar byvoorbeeld hande vasgehou word, is dit gewoonlik omdat hy hare geneem het.
Skielik, die herinnering aan hoe daardie hand vir haar uitgehou is.
Hugo Derks. Bly te kenne.
Sy wonder hoe dit sou gevoel het as sy …
Nee. Hy is ’n hoededief!
Verbete