Vergeet my nie. François Bloemhof
het skaars tyd om vir hom te glimlag voor sy wegdraf.
4
Die volgende paar weke is so ’n snelle opeenvolging van indrukke dat dit soms vir Mardaleen voel daar is nie eens tyd vir iets om ten volle by haar te registreer nie, dan is sy reeds met die volgende ding besig.
Heelparty van daardie oomblikke speel in Die Akker Koffiehuis af, waar sy die kelnerin is wat al die langste deeltyds daar werk. Jy kan dit skaars nog deeltyds noem. Net die bestuurder is meer van ’n instelling as sy. Hy verdien vir seker vragte meer as sy, maar dan weer, sy twyfel of hy so pligsgetrou soos sy geld opsy sit.
Sy dra vir die soveelste keer koek en cappuccino’s op ’n skinkbord aan. Sy was nooit goed met balanseer voor sy begin waitress het nie. Dit voel na net die volgende oomblik dat iets haar aandag trek: die geluid van ’n teelepel in ’n koppie.
Die aand luister sy na die gegirts van potlood op papier. Sy sal iets omtrent haar handskrif moet doen, haar aantekeninge is nie naastenby so netjies soos in haar eerste jaar nie. Te haastig!
Nog ’n oomblik: hoe sy Lara omhels toe sy by dié haar vorige blok-laptop kry. Met Gateway 2000 Solo so ewe.
Haar vingers wat toep-toep-toep oor die toetse dans.
Take wat al hoe vinniger ingehandig word, nie meer met die hand geskryf nie. Uitgedruk skep dit ’n soveel meer professionele indruk.
Sy wag nogmaals dat die kroegman glasies halfvol pepermentlikeur moet skink sodat sy dit kan aandra.
Dae wat met haar getroue rooi koki op die kalender teen haar koshuiskamer se muur doodgetrek kan word.
Werkspermit in haar paspoort wat gestempel word. Die strak gesig van die beampte, terwyl haar eie oopbreek in ’n glimlag.
Vordering!
Geselsies met Lara in dié se kamer twee deure in die gang af, met die geur van Ricoffy oral om hulle. Lara se kopkussing is die ene blou en rooi, want sy het weer in die bed geklim met al haar grimering nog aan. Teen die muur is twee reeds gehawende posters: een van Francois Pienaar wat 1995 se Wêreldbeker-trofee vashou, en Mark Wahlberg in sy onderbroek, daardie Calvin Klein-advertensie.
’n Minuskule fooitjie nadat sy ’n veeleisende groepie bedien het. Party mense dink hulle is geweldig oophand as hulle jou vyf persent van die rekening gee.
Nietemin, daardie fooitjie maak ook ’n geluid wanneer dit in die spaarbussie val.
“Veels geluk, liewe Braaa-haam, omdat jy verjaar …” sing sy saam met die ander terwyl sy die appeltert indra. Almal dra partytjiehoedens. En na die tyd drink hulle Springbokkies, hoe dan anders?
Op haar boekrak: The Art of War, Gedigte 1989-1995, Eklips en Yk.
Sy wat “Nee, nee, nee!” kerm toe haar horlosie biep, sodat sy vervaard die hefboompie aan die kant van die rekenaar druk, die stiffy gryp, dit in haar rugsak druk en deur toe skarrel.
Wasgoed. Daar’s altyd ’n nuwe klomp wasgoed wat gedoen moet word.
Haar kamerdeur wat oopvlieg en Lara wat dramaties verkondig: “Ek hoop vir ’n her!”
5
“Ek hoop vir ’n her!” sê Lara dramaties in die oop kamerdeur.
“Jy moes harder geleer het,” lig Mardaleen haar in.
Lara wil met die nodige sarkasme daarop reageer, maar vra: “En nou?” toe sy die uitdrukking op haar vriendin se gesig sien.
Mardaleen beduie na ’n nota teen haar muur. Groot rooi letters.
Skripsie in: 10:00
Dis oor ’n rapsie meer as ’n halfuur.
“Jy’s dan altyd so betyds, ek bedoel vroeg.”
“Ek het ’n ekstra skof gewerk.” Mardaleen blaas asem uit, kom orent. “Die ding moet nog gedruk en gebind word!”
Lara gooi haar boeksak op die deurmekaar bed. “Modus operandi?”
“Druk, bind, handig in. Doen Braam se wasgoed.”
En met dié stop sy die mandjie met klere in Lara se arms.
“Jig!”
“Kom!” is Mardaleen egter reeds halfpad by die oop deur uit. “Jy moet Gideon vra vir afslag!”
Lara sukkel om by te bly. Al het Mardaleen die mandjie by haar oorgeneem toe hulle by die trap kom, handhaaf hulle ’n stywe pas in die straat af.
“Ek stel my horlosie vir 09:55,” kondig sy aan. Rol haar oë toe sy sien hoe Lara vir ’n ou van Huis Onderlyf waai.
“Haai, Tom!” voeg sy by.
Mardaleen weet dis nie net Tom wat gegroet word nie; hy is bloot die naaste van die paar manne waarvan die meeste kaalbolyf op die gras voor die studentehuis staan en braai. PT-broekies, kaalvoet.
En die wit Citi Golf se oop kattebak is waar die harde sokkiemusiek vandaan kom.
“Ag nee, hulle is grillerig.” En toe Lara nog ’n wuif gee: “Ek het gehoor die spul los dieselfde pot olie weke lank op die stoof, dan foeter almal hulle tjips daarin.”
“ ’n Mens gaan nie Huis Onderlyf toe vir slaptjips nie, Marda!”
Sy lag saam. Daar is nog studentehuise in die straat, insluitend Huis Bolyf en Huis Loslyf – maar Onderlyf is die een waar jy moet ligloop. Dis intimiderende ouens, glad nie suinig met fluite en opmerkings vir al wat ’n verbyganger is nie.
Mardaleen kyk weer bekommerd op haar horlosie. Dit sal raadsaam wees om die pas te versnel.
Daarom storm sy omtrent by die studentesentrum in, waar Gideon haar laat weet: “Dit sal tweehonderd rand wees.”
Gideon Naudé, op die ouderdom van dertig aansienlik ouer as die gemiddelde student. En klaarblyklik die man wat haar oor die rand van bankrotskap gaan stoot. Sy het net ’n bietjie meer as tweehonderd rand in haar beursie en daarmee sou sy baie gate kon toestop.
Maar wag, sy het mos haar geheime wapen saamgebring. Dit was die laaste paar weke nie net vir haar nie, maar vir enigiemand met oë duidelik dat Gideon Naudé meer as net ’n terloopse belangstelling in ’n sekere jonge, mooie Lara Hattingh het.
Sy stamp Lara se arm met haar elmboog.
Dis nie verniet dat hulle al jare lank mekaar se gedagtes kan voltooi nie.
“Dis vreeslik baie, Gideon,” kom dit van die donkerkop.
“Dis maar wat dit kos, Lara.” Hy klink gepynig. Maar ferm.
En sy, op haar beurt, oorredend: “Jy kan glad nie ’n plan maak nie? Mardaleen is maar net, jy weet, ’n arm student … Dit sal vir haar so baie beteken.” Sy steek haar hand uit. Vat aan sy boarm. “En vir my.”
“Ek, e …” As Gideon aan asma gely het, sou dit nou ’n goeie tyd gewees het om sy pompie uit te haal. “Goed, julle kan dit halfprys kry, as jy vir my …”
“Dis nee vir ’n date.” Lara se soet glimlag wankel egter nie ’n aks nie.
“Ek wil net weer jou rekenaar leen.”
“Waarvoor?”
“Dis vir ’n, wel, vir ’n Japannese role-playing game.”
“Ag sies, man!”
Haastig verduidelik hy: “Dis ’n rekenaarspeletjie, Final Fantasy 7. En jy’s al een wat ek ken met ’n Pentium 2 processor.”
“Deal!” roep Mardaleen uit. Sy ignoreer haar vriendin se openlike verbasing dat dit haar duur rekenaar is wat die deurslag gegee het en nie soos gewoonlik haar meer persoonlike bates nie. “Toe, Gideon, ons is haastig!”
En so gebeur dit dat die skripsie oor die werk van Antjie