Helena Hugo Derde Keur. Helena Hugo
raad vir elke kwaal. Haar ma is ’n bekende homeopaat van Wellington, en haar ouma en grootouma het in hul leeftyd al die babas van die destydse Distrik Ses in die lewe gehelp. Ook hul kwale die res van hul dae gesond gedokter en menige bejaarde sagkens oorkant toe gehelp. Patience kom uit ’n familie met genesende hande en ’n aanleg vir verpleging. Nie een van hulle het ooit soveel geld gemaak soos Patience in die volgende paar jaar sal kry nie.
Patience wil graag ’n dokter word, ’n spesialis met die regte sertifikate teen haar spreekkamer se mure en ’n glashuis teen Tafelberg se hang. “Dis die enigste rede waarom ek hier is, anders kan ek my mediese drome in my uniformsak steek en vergeet,” het sy kort na haar aankoms vertel.
Waar kry ek genoeg vars pomelo- en suurlemoensap om te meng in hierdie kombuis? wil Alinda vra, maar bedink haar. Haar geveg is nie met Patience nie, dis Danie Hartogh wat haar vandag weer verkeerd opgevryf het.
Patience hou haar hand uit vir Alinda se glas. Sy asem diep in, oorhandig haar glas met ’n dankie en die belofte om so gou as moontlik ’n sak pomelo’s en ’n sak suurlemoene te koop.
“Ek kan ook,” sê Patience, en voeg by: “Met my eerste salaris.”
“Dis nog sewe dae ver.”
“Ek het nie geweet jy tel nie?”
“Almal tel, en ons word almal op dieselfde dag betaal.”
Patience gooi die skitterblink glas vol yskaswater. “Nog vir jou?” vra sy net voor sy dit na haar lippe toe bring.
Alinda tel die ander glas op. “Dankie, ja.”
Hulle deel die suurlemoen en die res van die ys en gaan sit by die kombuistafel.
“Ek kan nie glo wat Jackie my vertel het nie,” sê Patience.
“Wat?”
Skinder is een manier om die tyd om te kry as die lewe te vervelig raak. Goed, daar is miskien dinge te doen daar buite, maar as vrou mag jy nie uitgaan nie. Nie sonder ’n manlike metgesel nie, al is dit jou huurmotorbestuurder – en vir hom moet jy ook maar lig loop.
“Monique trou vir geld.”
“Ons werk vir geld,” sê Alinda sinies.
Patience dink nie dis snaaks nie. “Jackie oorweeg dit ook,” sê sy. “Ek kan dit nie glo van my eie beste vriendin nie. Ek bedoel, geld is goed, maar om all out vir geld te gaan!”
Jackie is Patience se kollege-vriendin; sy het Patience oortuig om Saoedi toe te kom. Monique trou in die herfs met ’n skatryk sjeik en hul hele woonstel is vol trouklere en geskenke, daarom dat Jackie gevra het of Patience eers by Alinda-hulle kan bly.
“Ek wil nog daai troue sien,” sê Alinda.
“Jackie s’n?”
“Oor wie skinder ons – oor Monique of oor Jackie?”
“Vat eers vir Monique.”
Alinda voel ’n bietjie skuldig, want sy het ook al ’n ryk sjeik oorweeg, maar sy het haar gou vasgeloop teen die onoorbrugbare kultuurverskille.
“Monique het darem die geloof aan haar kant,” sê Patience, wat ook ’n Moslem is. “Maar ons Moslem-meisies word partykeers afgeskuif op ’n ou man.”
“Sy is nie afgeskuif nie, sy het self gekies.”
“Dis presies wat my pla. Sy het nou wel reg gekies met die geld, maar die man … Het jy hom gesien?”
“Hy lyk soos haar pa … nee, soos haar oupa.”
“Ek sou darem nog ’n bietjie rondgeshop het – siende dat haar mense haar ’n vry hand gee.”
“Enigiets kan in vier maande verkeerd loop,” sê Alinda wys.
“Soos wat?”
“Monique se oë kan oopgaan. Die sjeik kan besluit sy hart is te swak vir ’n sesde vrou, veral een wat dertig jaar jonger as hy is.”
“Monique is ’n verpleegster,” wys Patience uit.
“Miskien dié dat hy met haar wil trou – sodat sy hom die res van sy lewe kan verpleeg.”
“Dalk is sy regtig jammer vir hom.”
“Sy! Toe ons haar vra wat sy in die ou man sien, het sy koel op Frans gesê: “Assurance-vie!”
“Assurance wat?”
“Dis lewensversekering in Frans.”
“Haai, Alinda, weet Jackie?”
“Seker.”
“Sy’t my niks gesê nie.”
“Wel, ons het Monique reguit gevra: wat van die liefde?”
“Toe, wat sê sy?”
“Non, non mariage d’amour!”
“Watse ding?”
“Ek trou nie vir liefde nie … nie dié keer nie.”
Patience giggel. “Hoop vir haar onthalwe die ou leef nie tot hy honderd jaar oud is nie.”
“Hy sal nie, sy weet in watter toestand sy hart is.”
“Haai, Alinda! Nou skinder ons darem te vreeslik.”
“Maar dis waar. Monique was skaars ses maande hier, toe hét sy haar man, sy sê self dis waarvoor sy gekom het. Sy sou dit nooit aan haar pa en haar broers oorlaat om vir haar ’n man te soek nie.”
Patience antwoord nie, sy kyk Alinda stip aan. “En jy?”
“Hoe bedoel jy nou?”
“Hoekom het jý gekom?”
“Nie om man te soek nie!” roep Alinda uit, maar sy kan voel hoe sy bloos.
Patience maak of sy dit nie sien nie.
“Ek ook nie,” sê sy vroom. “Maar ek sal nie omgee as ’n ryk sjeik in my skoot val nie, ’n mooi jonge. Anders wag daar anyway vir my ’n ge-organizede man in die Kaap. My mense kan dit nie vat dat ek so oud en ongetroud is nie.”
Alinda wil Patience vra hoe oud sy dan is, maar sy los dit. Patience is ’n blote kind teen haar, en sy is self nog ver van getroud.
“Jy het darem ’n kêrel,” sê Patience asof sy Alinda se gedagtes kan lees.
“Waar hoor jy dit?”
Patience se oë rek en dit lyk of sy haar tong wil afbyt.
“Wie sê ek het ’n kêrel?”
Alinda voel hoe die bloed in haar slape klop. Skinder is soos ’n swaard met twee snykante – dit sny alkante toe.
“Jy hoef nie so kwaad te word nie,” keer Patience.
“Maar ek het nie ’n kêrel nie.”
“Wat dan van dokter Danie?”
“Danie Hartogh!”
Patience knik en giggel. “Hmm, Danie Hartstog. Die ander sê –”
“Patience, jy sal moet leer om nie alles te glo wat die ander sê nie!”
Patience lyk of sy wil vlug. Sy vat hul waterglase en staan op. “Ek’t nie bedoel om jou te ontstel nie.”
“Ek’s nie ontsteld nie, ek word net vreeslik die vieste in. Ek en Danie is soos broer en suster en almal wil alewig romanse by ons soek. Glo my – daar is niks.”
“Oukei, oukei.”
Gelukkig het Patience betyds omgedraai en sien sy nie die rooi vlamme op Alinda se wange nie. Alinda knyp haar oë toe. Sy oorreageer nou oor Danie, en sy is jaloers op Monique Viret. Monique het in minder as ses maande reggekry wat sy seker nie in sestig maande sal regkry nie. Die enigste verhouding wat sy hier aangeknoop het, is die een