Helena Hugo Derde Keur. Helena Hugo

Helena Hugo Derde Keur - Helena Hugo


Скачать книгу

      “Nee! Dankie!”

      Hy neem ’n lang sluk. “Goed verkil, goeie jaar.” Hy glimlag breed en vee sy mond met die agterkant van sy hand af.

      “Dis nie snaaks nie,” sê Alinda.

      “Oukei, ek sal jou nie weer in die verleentheid bring nie – ek meen nou in die hospitaal. Feit is, ek kon aan geen ander naam as Alinda Norval dink nie. Dalk dink ek te veel aan jou, Alinda Norval. Alinda …”

      “Ja, aan maniere om my te tempteer.” Alinda se hand rus op die kombuisdeur se handvatsel.

      “Waarheen gaan jy nou?” vra hy.

      “My beursie haal.”

      “Ek’t gesê dis nie nodig om te betaal nie.”

      “Dink jy ek sal toelaat dat jy twee sakke kruideniersware hier indra, sodat jy vir almal kan vertel jy koop my groceries? Sodat jy dit later teen my kop kan gooi?”

      “Genade, vroumens, jy’s vandag weer so moeilik soos al vier my susters saam nie kan wees nie.”

      “Jy wil mos maak of jy my broer is.”

      “Ek kry jou broer jammer.”

      “Jy ken hom nie eens nie.”

      “Maar ek ken van susters.”

      “Gu! Net omdat jy vier susters het, sê dit nie jy weet alles van meisies nie.”

      “Het jy vergeet ek is besig om ’n handboek te skryf?”

      “Jy skryf daai boek al vandat jy hier aangeland het – een en ’n halwe jaar.”

      “Dis nie ’n ontspanningsromannetjie wat jy in die bad kan lees nie, dis ’n ingewikkelde meesterstuk. Ek moet navorsing doen en ek loop my vas in teenstrydighede, veral die Alinda Norval-hoofstuk. Sodra ek dink ek’s op die regte spoor, duik daar weer iets op.”

      Soos wat? wil Alinda vra. Maar dan wil hy weet wat pla haar en hy kan so aanhou. Sy gaan hom nie sê nie, sy kán nie. Miskien omdat sy self nie haar vinger daarop kan lê nie. Sy skuld hom in elk geval niks en sy wil hom ook nie skuld nie.

      “Gee die strokie dat ek kan sien wat ek jou skuld.”

      Hy haal sy skouers op en steek sy hande in sy broeksakke.

      “Die strokie, Danie.”

      “Weggegooi.”

      “Kan jy onthou wat jy betaal het? Min of meer?”

      “Eintlik wou ek jou kom uitvra het vir ete.”

      “Nee.”

      “Hoekom nie?”

      “Ek’s te moeg om vanaand uit te gaan. En al was ek nie moeg nie, sou ek beslis nie saam met jou gegaan het nie.”

      “Dis nou stank vir dank.”

      “Ek wil met geld betaal! Vir jou moeite ook én vir jou petrol. Wat kos dit?”

      Danie haal sy hande uit sy broeksakke. “Dis ’n vriendskapsgebaar, Alinda. Dit kos niks. Maar ek loop liewer as jy nie lus is vir geselskap nie. Anders het ek aangebied om te kook.”

      Danie kook soos ’n opgeleide kok, maar Alinda is seker sy sal vanaand sooibrand kry van sy kos. Sy sluk hard aan haar woede en vernedering. Sy is in ’n slegte bui en hy is besig om vurige kole op haar kop te gooi.

      Hy kom staan by haar – te naby. Sy een hand gaan op. Dit lyk of hy aan haar wil vat, maar sy gee ’n tree agteruit. Hy laat sak sy hand.

      “Ek’s jammer oor vandag, ek bedoel dit.”

      Nogal! Dis die vinnigste wat hy al om verskoning gevra het. Gewoonlik hou hul rusies vir weke aan. Maar natuurlik – selfs hy kan sien dat hy dié keer te ver gegaan het.

      Alinda sug. “Hou net volgende keer jou mond as hulle ’n hulpverpleegster vir ongevalle soek, want ek is nie beskikbaar nie – veral nie op my vry middag nie.”

      Danie kyk af en loer dan weer onder sy wenkbroue deur na haar. “Ek huil sommer.”

      “Danie, gaan huis toe.”

      “Jy lyk sexy in daai rokkie.”

      “Jy lieg.”

      “Hoekom sal ek lieg?”

      “Ek voel nie sexy nie, oukei?”

      Hy kyk haar aan, sy oë vernou. Die bandjie van haar sonrok het oor haar skouer afgeglip. Hy haak sy vingers onder die bandjie in en skuif dit op. Sy hand glip warm oor haar boarm. Die aanraking stuur ligte skokkies deur haar hele lyf.

      Sal jy ophou? wil sy vir hom sê. Maar sy weet hy gaan net maak soos Herman altyd maak – sy hand oplig en vra: hoe hoog? Buitendien, dis nie al nie …

      “Sexy rokkie,” sê hy.

      Sy wriemel haar los. “Los my rokkie.”

      “Kwaaikattie, dis wat jy is.”

      “Kry end, Danie. Los my nou uit!”

      “As jy my sal verseker dat jy my vergewe het.”

      “Wil jy daaroor ook begin stry?”

      “Ek wil nie met jou stry nie – nie vandag nie.”

      Alinda maak die voordeur oop en beduie gang toe. “Ek ook nie. Dankie vir die groceries, ek vergewe jou, ek sal nie weer oor die ongevalle-storie praat nie, dis verby.”

      “Ons kan skoon begin?”

      “Ja, Danie.”

      Hy staan in die gang voor die woonstel. Die hitte vou om hulle soos ’n nat wolkombers.

      “Julle klokkies het op die vloer gelê.”

      “Oukei.”

      “Toe hang ek dit op.”

      “Dankie, Danie. Sien jou môre.”

      Hy glimlag. Hy het sulke eienaardige goudbruin oë, dit maak haar altyd ongemaklik as hy reguit vir haar kyk. Waarom moet hy haar so kyk, met sulke goue oë vol tergliggies?

      “Sien jou,” sê hy net voor Alinda die deur in sy gesig toemaak.

      3

      “Jy weet nie wat jy het nie,” sê Sandy en sny vir haar ’n skyfie salami. “As Danie Hartstog so om my gedraai het, sou ek lankal vir hom geval het.”

      “Hy draai nie om my nie,” keer Alinda en sit ’n druiwekorrel in haar mond. Hartstog, dis ’n ou grap, maar dit begin haar nou irriteer. Hartstog. Asseblief! Sy het vrede gemaak met die groceries, maar waarom die oordaad? Skuldige gewete, as sy moet sê.

      “ ’n Mens waardeer nooit wat jy het nie.” Sue Ellen deel haar ricotta in blokkies op. “Tot jy dit verloor.”

      Alinda stik amper in haar druiwekorrel. “Waar kom julle daaraan dat ek hom het of dat hy my het?”

      Sandy, Sue Ellen en Regina sê niks.

      “Alinda, haai, ek weet nie, maar ek het ’n feeling hulle is reg,” blaker Patience dit uit.

      “Vergeet jou feeling, Patience. Daar is niks tussen my en Danie Hartogh nie.”

      “Daar was altyd – is nog,” waag Sue Ellen nou, steek dan ’n blokkie van die ricotta in haar mond en probeer haar uitlating wegpraat. “Mal oor Italiaanse kase en bokmelk-ricotta. Hierdie moet bokmelk wees. Hm-m-m … en ek dag die yskas is leeg.”

      “Ek sou gaan koop het, of het julle vergeet?” sê Alinda suur.

      “Jy sou nie so vryge- … ek meen, spandabelrig gewees het nie,” sê Sandy en hoop nog slaai op haar pastrami. “Kyk die yslike bottel olywe.”

      “Alles so vurig Italiaans.”


Скачать книгу