Helena Hugo Derde Keur. Helena Hugo
nie.”
“Ja, maar dis jou kos hierdie.”
“Eet soveel as wat julle wil. Eet alles op.”
“Wel, hier gaan kaas oorbly.”
“Nie ricotta nie, ek’s mal oor gesmelte ricotta op my groente.”
“Pecorini vir my!”
“Net jammer hier’s nie vino in ons glase nie.”
“Eet druiwe!”
Almal lag. Alinda ook, van verligting omdat hulle opgehou het om haar en Danie se verhouding te ontleed. Wat haar betref – as sy kon, sou sy haar sorge verdrink het, al was dit met vrugtesap of water. Wyn en sterk drank is so onwettig hier, jy waag dit nie eens om ’n ou klein botteltjie KWV van die huis af te smokkel nie.
“Ja, eet en word vrolik,” sê Sue Ellen en voeg die daad by die woord.
Ons is mos in die land van uiterstes waar die Bedoeïene op kameelmelk, dadels en bokvleis leef en die rykes en gaswerkers al die voordele van die internasionale kosmark geniet, dink Alinda wrang. Sy self skep min. Sy sal haar nie oorgee aan sulke versoekings nie. Klaar besluit, weke gelede al, en mag Danie Hartogh nie weer vanaand in die geselskap opgerakel word nie.
Maar dis te veel gevra – die assosiasie tussen hom en hul aandete is genoeg om haar woonstelmaats van voor af aan die gang te sit.
“Dis nou vir jou lekker, dankie, Danie,” sê Sue Ellen en rek oor om nog pitabrood te vat.
“Sou lekkerder gewees het as hy ook vir ete gebly het.” Sandy balanseer ’n olyf op ’n skerfie pecorini.
“Alinda wil hom nie hier hê nie,” vermaan Regina.
Sandy het soos die meeste ander verpleegsters ook ’n oog op die lang, skraal chirurg. Sy verskil in een opsig: sy is eerlik en openlik daaroor.
“Kan ek hom by jou oorneem?” vra sy en bloos tot haar soel vel roesrooi word.
“As jy vir hom kans sien – met plesier.”
“Ek kan nie verstaan hoekom julle altyd vassit nie.”
“Gaan ons al weer …?” probeer Regina keer.
Sandy het nog nie die skrif aan die muur gesien nie. “Hy’s ewe gaaf met almal, maar op sy gaafste met jou, Alinda.”
“Gans te aantreklik.”
“Sulke spesiale bruin oë met so ’n goue skynsel.”
“Pragtige hande.”
“Goeie lengte, effens aan die skraal kant.”
“Weet julle soos wie lyk hy vir my?” Patience, ewe onskuldig.
“Nee.”
“Daai … wat’s sy naam nou weer? … die nuwe James Bond.”
“Daniel Craig?”
“Ja!”
“Selfde klein mondjie, dis vir my so cute.”
“Wag nou, Daniel Craig is ’n spierpaleis. Danie Hartstog is maer.”
“Al wat Danie moet doen, is oefen.”
“Hy kan oefen tot hy pers is.”
“My neef Willem het ook so gelyk, dun soos ’n wurm, tot hy met gewigte begin het,” sê Sue Ellen. “Miskien is dit wat ek ook moet doen om my lyf weer in shape te kry – oefen.”
“En minder pap en vleis eet,” striem Sandy.
“Eet ek miskien op die oomblik pap en vleis?”
“Daar’s te veel brood op jou bord.”
Sandy en Sue Ellen is alewig saam op dieet, maar terwyl Sandy nogal selfdissipline kan toepas, is Sue Ellen nie gebore in staat daartoe nie. Daarom vat Sandy die pita, breek dit middeldeur en sit die een helfte in die broodmandjie terug.
Alinda eet stadig, sy kou haar kos behoorlik voor sy dit afsluk. Dis deel van haar eie geheime dieet. Die ander weet nie daarvan nie, net sy en die badkamerskaal. Sy doen dit vir haarself en vir die man wat sy binnekort gaan vang.
En dis nie Danie Hartogh nie.
“Hoekom so stil?” Regina pomp haar met die elmboog in haar sy.
“Seker oor ons Danie uitmekaarskeur.” Sue Ellen sprinkel olyfolie oor haar brood.
“Ons skeur hom nie uitmekaar nie, ons …”
“Bestudeer hom.”
“Beoordeel hom.”
“Beveel hom aan.”
“By wie?”
“Die een wat hom eerste kan vang!” Sandy bloos weer baksteenrooi.
“Sandy, jy beter jou nou begin inhou!” roep almal behalwe Alinda.
“Jammer, Alinda,” giggel sy.
“Vat hom en kry klaar.” Alinda se stem klink onnodig skerp. “As ek kon, sou ek hom vir jou in geskenkpapier toedraai en ’n strik ombind.”
“Oe, so praat die vrou wat besig is om haar kanse te verbrou.”
“Ek stel nie belang in Danie Hartstog … Hartogh nie!” skree Alinda onnodig hard.
Almal sit tjoepstil, maar Alinda kan sien hulle is dik van die lag.
Ná ’n rukkie trek Regina die doos sjokolade nader. “Maak oop,” sê sy vir Alinda.
“Doen jy dit.”
“Dis jou sjokolade.”
“Jou liefdesgeskenk.”
Alinda bekyk die doos duur Belgiese sjokolade.
“Regina, praat sy in haar slaap?” vra Sue Ellen.
Regina knik. “Ja, maar ek praat nie uit die kamer nie.”
“Dankie, Regina,” sê Alinda en skeur die sellofaan om die doos af.
“Maak sy haar liefdesoffer oop.”
“Sjokolade, ’n temptasie vir die tong.”
Alinda besluit sy gaan nie aan die versoeking toegee om ’n enkele een van hierdie sjokolades in haar mond te steek nie. Hulle hoef niks van haar dieet te weet nie, maar hulle moet nou deeglik kennis neem daarvan dat Danie Hartogh nie op haar lysie is nie – nie meer nie.
Voor die reuk van sjokolade haar sensitiewe neus prikkel, gee sy die doos vir Sue Ellen aan. “Deel jy, niks vir my nie.” Sandy kan raas soos sy wil, maar Sue Ellen het lankal opgegee en leef net vir lekker eet.
“Haai, Alinda, maar die man is dan so verskriklik verlief op jou!” snak Patience.
Die ander drie kyk na haar. ’n Nuweling het altyd ’n eerlike, vars siening. “Dink jy so?”
“Beslis. Ek kon dit sien vandag.”
“O ja, het hulle weer gestoei?”
“Stoei hulle?”
“Kort-kort, in die openbaar.”
“Dis hulle manier om vatterig te raak sonder om te erken dat hulle vryerig is.”
Nou vererg Alinda haar finaal. “Kry end! Kan julle nooit end kry nie!”
Toe raak alles so stil dat al geluid die geritsel van sjokoladepapiertjies is.
“Net omdat hy sjokolade aandra en my pes soos my broer my van kleins af gepes het, sê nog nie hy’s verlief nie,” sê Alinda nou ysig kalm en beheers. “Buitendien: as hy op my verlief was, sou hy blomme gebring het – nie sjokolade nie.”
“Bring vir my enige tyd sulke sjokolade.” Dis Sue Ellen wat haar derde een middeldeur byt en met waardering