Helena Hugo Derde Keur. Helena Hugo
storie ken. “Vra haar. Arabiese vroue dans almal, in die harem om mekaar te vermaak.”
Sy kan nie glo dat sy dit waag nie, of is hy so dom dat hy nie die katterige klankie in haar stem hoor nie?
“Ek weet darem nie. Irmina is te prim en proper.”
“Hoe weet jy wat alles agter daai paleismure aangaan?”
Die pasiënt het intussen aan die slaap geraak. Alinda maak seker dat sy drupkraantjie werk. Sy kom agter dat haar hande bewe. Wat gaan met haar aan? Is dit omdat Danie haar dophou? Sy was altyd so op haar gemak by hom, selfs gisteraand nog … en oornag het alles verander.
“Ek gaan binnekort uitvind.”
“Wat?”
“Of hulle dans.”
“O.”
“Ek’s na ’n baie deftige majil uitgenooi.”
Alinda draai haar na hom toe. Hoekom kyk hy haar so uitdagend aan?
“Ag siestog, Danie, is dit die eerste keer dat jy ’n majil bywoon?”
Hy kyk haar mos altyd só as hulle begin stry – nes haar broer van kleins af met haar gemaak het. Dié keer laat dit haar hart te vinnig klop.
“Nee, maar dis die eerste keer dat ek na een by die Al Sa’uds genooi word,” sê hy leedvermakerig.
Alinda se maag draai; sy voel ’n krieweling teen haar ruggraat af. Iets waarsku haar dat die gevaarligte flikker en dat sy nou moet toneel speel soos nog nooit tevore nie. “Dis nie ’n prestasie nie, Danie. Daar is meer Al Sa’uds in Saoedi as Van der Merwes, Bothas en Swanepoels saam in Suid-Afrika,” hoor sy haarself sê.
“Veral noudat die diaspora so ver gevorder het,” voeg hy sinies by.
“Nog voor die diaspora begin het,” las sy aan, haar stem lig.
“Wel, al die Al Sa’uds is nie ewe belangrik nie …”
“Jy reken so.”
Dit moet klink of sy nie omgee watter vertakking van die Al Sa’uds hom genooi het om by hulle te gaan kuier nie. Sy weet dis Irmina, dit kan nie anders nie. Maar sy sal hom om die dood nie wys hoe seer dit maak nie.
Hy kyk haar stip aan en sy goue oë dans. Wil hy haar nou sowaar verder uitdaag?
“Oukei, jy gaan prins Abdulla self ontmoet,” sê sy gewoonweg en skuif die waterkraffie op die bedtafeltjie reg.
“Hokaai, darem nie so drasties nie.”
Drasties genoeg vir my, dink Alinda, want ek begin agterkom wat aan die gang is. Hoe gaan ek dit keer? Wie kan met ’n prinses kompeteer? Dan nog een soos Irmina.
“Sy’s in elk geval naby genoeg familie om Eid-ul-Fitr-geskenke paleis toe te neem en Nuwejaarsdag saam in te wag.”
“Oukei, wie’s dit?” Alinda hou haar dom. “Is dit daai ou dame in saal drie?”
“Ek kan vergeet.” Danie glimlag en maak sy lêers en stetoskope bymekaar. “Sy hou nie van my nie.” Hy kom orent en kyk reguit na haar. “Dis ons nuwe saalbestuurder. Irmina.”
Die klank van haar naam is genoeg om Alinda in ’n vaal veldmuis te verander. Die uitdrukking in Danie se oë sit die seël op haar vernedering: hy lyk asof hy die Nobelprys vir minnaars gewen het.
“Ek … ek kan myself skop,” snik Alinda ure later in Regina se arms.
Regina streel haar rug, hou haar vas. “Dit werk nie. Vra my, ek het al probeer.”
Alinda kyk deur ’n tranegordyn na haar vriendin. “Dan kap ek my kop teen die muur,” sê sy wanhopig.
“Dis nie die moeite werd om jouself te beseer nie.”
“Wat dan?”
Regina pluk nog ’n snesie uit die doos en gee dit vir haar aan. “Doen liewer iets positiefs.”
Alinda snuit haar neus, bondel die gebruikte snesies op. “Soos wat?”
“Soos om nie meer met hom te stry nie.”
“Hy sal dink ek’s siek of iets. Ons stry altyd.”
“Verras hom, wees ’n slag die minste.”
’n Nuwe huilbui oorval Alinda. “Te laat, ek moes gister al. Buitendien, ek kan nie die minste wees nie, dis onmoontlik, ek’s te sterk daarvoor.” Sy val op die bed neer en druk haar kop in die kussing.
“Jy lyk nie op die oomblik baie sterk nie,” hoor sy Regina iewers op die agtergrond.
Alinda tel haar kop op en loer na Regina. Dié het opgestaan en haar kaste begin deurgaan. As dít die soort simpatie is wat sy by haar beste vriendin kry, wil sy nie weet wat haar ander woonstelmaats te sê gaan hê nie. Sy moes nooit gekla het nie.
Sy sit regop. “Weet jy wat?” sê sy uitdagend. “Ek gaan niks doen nie.”
Regina gooi die klere wat sy bymekaarmaak op ’n hopie. “Het jy wasgoed?” vra sy.
“Het jy gehoor wat ek sê?” antwoord Alinda.
Regina beskou ’n T-hemp krities. “Ja, maar ek weet nie meer wat om vir jou te sê nie.”
“Hoekom nie?”
“Omdat jy op die oomblik te verward is om besluite te maak en na goeie raad te luister.”
“Jy wil hê ek moet voor hom kruip.”
Regina sug, sy gooi die hemp op die wasgoedhoop. “Nie kruip nie, Alinda, ek weet mos jy sal nie voor ’n man wil kruip nie. Wees net ’n slag redelik met die arme ou.”
“Daai arme ou is nooit redelik met my nie.”
“Wag nou! Kyk wat het hy gister gedoen.”
“Ja, kyk wat hét hy gister gedoen – my hele middag opgemors. Dink jy hy sal van prinses Irmina verwag om een enkele uur van haar oggend op te offer ná ’n lang nagskof?”
“Dis nie hy wat jou genader het nie, en jy was nie op ’n lang nagskof nie.”
“Hy het my naam opgegee.”
“Jy kon geweier het.”
“En? Hoe lyk ek dan?”
“Moeg gewerk, dis al.” Regina kom sit weer op die bed langs haar. “Toe maar, ek weet hoe jy voel,” paai sy.
“Jy kan nie weet nie.”
“Goed dan, min of meer.”
“Het jy al ooit gevoel dat jy nie die man wil verloor met wie jy van die môre tot die aand rusie maak nie?”
“Ek het al besef dat ek hom liefhet,” sê Regina met erns. “Dis dié dat ek vir Karel ja gesê het en teruggaan Louis Trichardt toe en vir die res van my lewe daar gaan bly.”
Alinda se kop draai. Sy skrik toe sy agterkom watter rigting die gesprek ingeslaan het. Dis nie wat sy bedoel het nie. Sy hou haar hande op, handpalms na vore. “Stop die bus net hier.”
“Ek luister,” sê Regina geduldig.
“Ek is lief vir Danie, maar nie in dáárdie sin van die woord nie …”
“O, in watter sin dan?”
“Ek’s nie verlief nie, ek is net … Ek’s jaloers op hom, hy’s my vriend en ek het hom nodig soos ek ’n broer nodig het. Irmina kan kies tussen duisende Arabiese prinse en ek het net een Afrikaanse prins … vriend, ek meen vriend, en hy’s … hy’s myne, net myne.”
“Jou substituut-broer?”
“Ja, my noodsaaklike euwel.”
“Nie jou droomprins nie?”
Alinda lag, en haar lag klink vir haarself taamlik