Helena Hugo Derde Keur. Helena Hugo
Hy kyk nie na Regina toe hy praat nie, hy kyk reguit na Alinda. Sy oë blink soos amber glas. Sy weet nie of dit oor die vooruitsig is om Irmina in die versoeking te lei of omdat hy met haar spot nie.
Sy gee hom ’n giftige kyk. “Enjoy your coffee and conversation,” sê sy en tel haar handsak op die stoel langs hare op.
“You don’t want to join us?” Dis Irmina wat sout in haar wonde vryf en dit seker nie eens agterkom nie.
“No, we’re late. Kom, Regina!”
Alinda stamp amper haar stoel om in haar haas om weg te kom.
“In a hurry … mother’s birthday … shopping,” hoor sy hoe Regina olie op die waters gooi, maar sy staan reeds in die gang voor die winkel. Die reuk van koffie het haar skielik so mislik gemaak, sy kon nie ’n oomblik langer vertoef nie. Sy vat sommer koers en loop.
Regina haal haar in. “Alinda, loop stadiger!”
“Ek wil by die huis kom.”
“Wat van jou ma se verjaardaggeskenk?”
“Ek sal môre.”
Hulle loop ’n rukkie in stilte. Alinda kan Regina se simpatie aanvoel. Sy voel deurmekaar, want sy weet nie hoekom sy so reageer nie, totaal en al onredelik.
Danny … Irmina noem hom Danny.
“Oh, Danny boy, the pipes … the pipes are calling …”
Vir die res van die dag maal die deuntjie in Alinda se kop en gun haar geen rus of duurte nie.
Sy drink later ’n slaappil en slaap tot die volgende oggend laat. Dis negeuur toe sy wakker word en die woonstel is stil. Almal is weg, dankie daarvoor. Maar die deuntjie is terug.
“Oh, Danny boy, the pipes … the pipes are calling …”
Die melodie betrap haar onverhoeds en soos ’n rot op ’n trapwieletjie ry dit haar tot sy naderhand die televisie aansit – saggies, want Sandy-hulle se kamerdeur is toe. Patience slaap seker.
Alinda kyk die nuus. Dit konsentreer op die nuutste oorlogsgeweld in Bagdad en Somalië. Daar is party dinge wat nooit end kry nie. Oorlog is een.
Die ketel kook in die kombuis en toe sy haar rug op die televisie draai om koffie te maak, is “Danny boy” weer terug – met mening. Sy gooi koffie in die perkoleerder, gooi water op en gee haar daaraan oor. “Oh, Danny boy, the pipes … the pipes are calling … from glen tot glen and from the mountain tops …”
Haar oë is op die almanak met die sonsondergang oor Jedda, maar sy sien dit nie meer raak nie. Sy sien Irmina en Danie, koppe bymekaar by die ontvangstoonbank van die hartafdeling waar hulle werk.
Irmina noem hom Danny. Danny boy …
Alinda knyp haar oë toe en kners op haar tande, maar die beelde bly. Danie en Irmina kom die koffiekroeg ingestap, hand aan hand. Hulle kom die onthaalsaal van die koninklike paleis ingesweef in wit trouklere. Hulle stap so stadig, dit lyk of hulle nooit by die podium gaan uitkom nie.
Dis nie meer lekker hier in Riaad nie, dink Alinda. Regina gaan huis toe en Danie het sy prinses gekry. Herman het haar gewaarsku, laas keer toe sy by die huis was. Hy’t gesê sy moet huis toe kom terwyl dit nog goed gaan, nie nadat daar iets slegs met haar gebeur het nie. Die kanse daarvoor is goed in ’n land soos Saoedi-Arabië.
Alinda kyk hoe die koffie deur die perkoleerder se tregter in die kan drup.
Drup, drup, drup …
Sy dink na, diep na.
Wie luister na jou broer, wat vandat jy die dag jou verstand gekry het, jou lewe wil regeer en jou selde iets gun? Wat nou met haar gebeur, is nie so erg sleg nie. Regina het van die begin af gesê miskien bly sy net ’n jaar, en Danie – wie gee om vir Danie?
Erger dinge het haar aan die begin van haar verblyf getref. Sy het die wet twee keer oortree. Die eerste keer deur kar te bestuur in ’n land waar geen vrou eens agter ’n stuurwiel mag sit nie, maar sy’t nooit gedink hulle sal haar op die lang pad Jedda toe voorlê nie. Sy én die arme Mahmoud wat haar toegelaat het, is elkeen swaar beboet. Sy sal dit natuurlik nooit weer waag nie. Mahmoud ook nie.
Die tweede keer was dit die sluier en die abaja …
Nadat sy toeriste in gewone klere gesien het, het sy besluit dis nie nodig om haar so te versmoor nie, wie sal in elk geval weet sy werk hier? Skaars drie dae, toe agtervolg die matawwa haar tot voor die opehartafdeling se ICU. Sowat van ’n gedoente – ’n mens sou sweer sy was poedelkaal op straat. Dis die einde, het sy gedink, hulle sluit my in ’n kerker onder die Masmak-vesting op en ek sien nooit weer die daglig nie.
Hulle was toe genadig. Die hospitaal se hoofbestuurder het namens haar gepleit en haar daarna goed die leviete voorgelees. Sy het losgekom met ’n paar lelike sweephale oor haar bene, ’n boete en ’n ernstige waarskuwing. Twee keer mag onkunde wees, maar drie keer is opstand teen die orde. Sy kan gelukkig wees dis 2007 – op die plein voor die hof het hulle in die ou dae koppe afgekap.
Van toe af het sy seker gemaak dat sy nie weer met die gereg bots nie. In Rome moet jy maak soos die Romeine, in Riaad soos die Arabiere. Dit beteken fyntrap. As jy ’n vrou is, is jy minder werd as ’n bokooi, minder as ’n sak meel, minder as die moer wat in die koffieketel agterbly.
Alinda skink vir haar koffie in en trek ’n gesig. Ja, minder as die moer …
Selfs al is jy die koning se oudste dogter, is jy niks meer as ’n spesiale prys wat uitgeloof word aan die wenner van een of ander toernooi of wedstryd nie. Raai-raai-riepa, en die man wat reg raai, trou met … Irmina.
Toe glimlag Alinda. Haar lewe is deesdae dalk ’n bietjie vervelig en teleurstellend, maar dis oor die algemeen sekerlik makliker as Irmina s’n.
Sy drink haar koffie sonder melk en suiker klaar en gaan vat ’n koue stort. Hoe gaan daai deuntjie nou weer? Danny … Nee, sy het haarself genoeg gestraf. “I’m gonna wash that man right out of my hair!” sing sy en was dat die skuim so staan.
Ná die stort voel sy vars en vrolik en lus vir die dag. Inkopies! Hierdie keer gaan sy vir haar ma iets so besonders kry dat dit finaal sal opmaak vir al die kere dat sy ongehoorsaam, opstandig en dwars was. Vir al die bekommernis ook. Sy weet haar ma is bekommerd. Haar ouers glo vas hul dogter se voorland is die harem van ’n wrede sultan, of anders om in die woestyn te verdwaal en nooit weer gesien te word nie.
Dalk moet sy dit tog oorweeg om ook die einde van die jaar terug te gaan na Suid-Afrika. Sy het mos nou geld in die bank, minder ná al die boetes, maar genoeg. Niemand dwing haar om hier te bly nie. Sy hoef nie – beslis nie vir Danie en Irmina se troue nie.
Alinda kyk in die spieël, grimeer lig, ignoreer die uitdrukking in haar oë.
Wat wil sy vir haarself sê?
Jy is jaloers, Alinda, en dis doodnormaal.
Hoekom?
Moenie te veel dink nie, Alinda. Jy ontdek dalk goed oor jouself wat jy nie wil weet nie. En moenie ’n oomblik langer vertoef nie. Jou gunsteling-inkoopsentrum wag vir jou.
Alinda bel haar taxi-man. Gamal is ’n Egiptenaar. Hy is ’n bekwame bestuurder, beter as die meeste in hierdie land wat bekend staan as ’n gebied met die swakste motorbestuurders denkbaar. Dit spreek vanself met ongeveer 800 000 motorongelukke jaarliks, en dit in so ’n ylbevolkte wêrelddeel. Toegegee, dis dikwels nie die motorbestuurder se skuld nie. Desperate armes spring voor bewegende voertuie in en lê hul lewe af sodat hul familie bloedgeld van die bestuurder kan eis.
“I pay ruksha.” Gamal sorg dat hy verseker is teen sulke en soortgelyke ongelukke.
“Watse ruksha?” het Danie aan die begin gesê. “Ek sal kyk waar ek ry.”
“Dis soos derdeparty-versekering in Suid-Afrika. Betaal. Dis nie so hoog nie!” het Alinda uitgeroep. “Skaars ’n duisend rand per jaar.”
Hy