Helena Hugo Derde Keur. Helena Hugo
aura.
Sensuele! Ja, ten spyte van haar ingetoënheid, haar onopgesmukte vroulikheid straal sy – onwetend miskien, maar heel waarskynlik doelbewus – ’n sterk sensualiteit uit. Op hierdie oomblik besef Alinda wat die oorsaak, wié die oorsaak van haar ongelukkigheid is.
Niemand anders nie as prinses Irmina.
Genade, sy is jaloers!
Dan is sy mos …?
Nee, dit kan nie wees nie. Sy en Danie Hartogh is soos broer en suster, en soos broer en suster sal hulle mekaar tot die uiterste toe beproef, al gee hulle dalk vir mekaar om, juis omdat hulle omgee. Goed, sy gee dit toe. Sy is jaloers, maar dit het niks te doen met ’n … ’n liggaamlike aantrekkingskrag tussen man en vrou nie. Dit het te make met die liefde tussen ’n broer en ’n suster. Innige, opregte, beskermende liefde tussen twee mense van die teenoorgestelde geslag wat ten spyte van verskille by mekaar sal staan – nie so styf teen mekaar soos Danie en Irmina nie.
Dit kan nie werk nie, dit sal nooit werk nie, nie tussen Danie Hartogh van Clarens in die Vrystaat en hierdie Oosterse prinses nie.
Maar daar is hulle, en hy is verlief.
Openlik, vir almal om te sien.
“Alinda, wat gaan aan met jou?”
Die stem klink deur die gedruis wat haar ore laat sing en haar kop laat draai.
“Voel jy sleg?”
Dis Regina wat haar arm om haar skouer slaan.
Alinda skud haar kop.
“Jy staan asof jy geplant is.”
Hoe lank staan sy al so – asof sy geplant is?
“Wat is dit?”
“Ek het …”
Wat sê sy? Hoe steek sy haar verleentheid weg?
“Ek’t onthou dat my … my ma verjaar en ek’t nog niks vir haar gekoop nie.”
“Jou ma?”
“My ma. Sy sal my nooit vergewe as ek haar verjaardag vergeet nie.”
“Verjaar jou ma nie in September nie?”
“16 September.”
“Dis Junie, Alinda. Jy het nog Julie en Augustus.”
“Ja, maar laas het die pakkie weggeraak en hierdie keer wil ek seker maak.”
“Oukei, jy het iets beet. My ma s’n is in Augustus. Ons werk al twee môre sewe tot drie. Dan gaan ons stad toe en begin soek.”
“Ek wil dié keer iets baie besonders koop.”
“Ek ook.”
Hulle stap aan in die rigting van die verpleegsters se ruskamer. Hulle moet by Irmina en Danie verby. Dit voel vir Alinda of sy op eiers loop. Sy hou die gesprek aan die gang, maar weet skaars wat sy sê.
Irmina het nog goeie ore ook. Sy is bewus van alles wat om haar gebeur, hulle kan nie eens verbysluip nie. Sy kyk op van haar rekenaar en glimlag haar soet, onskuldige glimlag. “Alsalaam alaikum, Alinda, Regina,” groet sy klokhelder.
“Wa’alaikum, alsalaam, Irmina,” antwoord Alinda en sy klink vir haarself soos ’n hees sonbesie. Danie kyk oormekaar. Sy een oog bly soos ’n trapsuutjies s’n op Irmina. Alinda wonder hoe hy dit regkry.
“Wa’alaikum, alsalaam, Irmina,” val Regina in en voeg by: “Môre, Danie. Dankie vir die ete van gisteraand, ons het dit vreeslik geniet.”
Alinda loop verby sonder om hom te groet.
“Solank ek weer in Alinda se goeie boekies is. Alinda …?”
Sy maak of sy nie hoor nie. Sy wag tot Regina in die ruskamer is en trek die deur agter hulle toe. Dis op die punt van haar tong om vir Regina te vra of sy gesien het hoe swymel Danie oor Irmina, toe Regina haar voorspring.
“Ek wil nou nie lelik wees nie,” sê sy. “Maar het jy ook iets opgemerk?”
Alinda knoop haar kopdoek los. Sy het nog haar mooi lang hare om Danie mee te verlei as sy wil – een voorsprong bo Irmina, wat dalk lelike dowwe hare het. Maar die kanse is skraal. Die meeste Arabiese meisies het vagte swartbruin krulle wat tot op hulle heupe afstroom.
“Wat?” vra sy ’n aks te skerp na haar smaak.
Regina het iets in haar stemtoon gehoor. “Nee, sommer. Los dit liewer,” paai sy.
“Sê, Regina. Jy moenie met iets begin en nie klaarmaak nie.”
Regina wil agter die skerm in die hoek inglip om haar hospitaaluniform aan te trek, maar Alinda keer haar. “Oukei, ek sal jou sê wat, Regina. Jy het gesien hoe kwyl Danie oor Irmina – ek ook, en dis nie die eerste keer nie. Maar dis nie my besigheid nie. As hy met ’n Arabiese prinses deurmekaar wil raak en sy mense in Suid-Afrika in die steek wil laat om vir die res van sy lewe in Riaad te bly, so be it. Dis sy lewe, nie myne nie.”
“Dis min of meer wat ek ook wou sê,” sê Regina en sorg dat sy agter die skerm verdwyn. “Maar dit was die eerste keer dat ek dit sien.”
Alinda se wange vlam. Sy knyp haar oë toe en tel tot tien in Afrikaans en dan weer in Arabies. Sy het te skerp gereageer en nou weet Regina. Maar haar kamermaat het seker lankal gesien hoe die wind tussen haar en Danie waai. Die broer-en-suster-ding is ’n rookskerm, was ’n rookskerm … wat nou nie meer nodig is nie, of miskien is dit nou nodiger as ooit tevore wat haar, Alinda, betref.
Daar is ’n pynlike knop in haar keel. Elke woord wat sy sê, elke gedagte wat sy uitspreek, bring haar nader aan die waarheid: sy het gevoelens vir Danie Hartogh. Maar hy dink sy is sy kleinsussie.
5
Alinda was nog nooit so dankbaar vir moeilike pasiënte en hul moeiliker besoekers nie. Sy werk omtrent sonder om op te kyk.
Prins Hashim, wat oud en deurmekaar is, moet drie keer gewas en skoon aangetrek word. Omdat hy twee dae gelede ’n hartomleiding gehad het, kan hy hom nie reinig en soos die ander op sy knieë gaan vir die vereiste gebede nie. Hy kry, soos al die bedlêende pasiënte, ’n bakkie sand om sy vingers in te doop, maar vergeet dan blykbaar dat dit sand is en nie water nie en bestrooi homself lustig daarmee.
Soms kry Alinda trane in haar oë as sy sien hoe getrou al die voorskrifte nagekom word. Sy kan nie anders nie: sy bewonder hul toewyding.
Elke keer as Danie Hartogh in die omgewing is, maak sy haar uit die voete en vermaan sy haarself weer eens dat sy hier is om te verpleeg – nie om man te soek nie. Sy kan egter nie help dat hulle soms by mekaar moet verbyskuur nie, en selfs op ’n keer die behoeftes van een van sy pasiënte moet bespreek. Daar is ’n rekenaar langs elke bed en die dokters is veronderstel om hul dagverslae daarop aan te vul, maar hy roep Alinda en wys haar persoonlik daarop dat hy drastiese veranderinge aangebring het en dat sy moet seker maak dat die apteek die regte medikasie aflewer.
“Jy’s mos my sonskyn.” Hy maak ’n vuis en gee haar ’n speelse stampie teen die boarm.
Alinda asem diep in, gluur hom aan en sê uit die hoogte: “Ek doen my werk, dis al.”
Hy is nie van stryk gebring nie. “En jy kry altyd honderd persent. Goeie verpleegster, jy.”
“Dankie,” sê sy styf en trek die lakens op oor die ou man se benerige borskas. Hy kyk na hulle met wantrouige ogies.
“In verband met gister …” Danie maak keel skoon.
Alinda weet wat kom en sy sien nie daarvoor kans nie. “Ons ontstel ons pasiënt as ons Afrikaans praat,” keer sy hom.
“Engels val nie veel beter op sy oor nie. Selfs Irmina sukkel met die dialek.”
Alinda reageer sonder om te dink: “Ek dag dan sy praat sewe tale, dans ook sommer die dans van die sewe sluiers.”
Danie