Helena Hugo Derde Keur. Helena Hugo
Sy is nie seker of hy nou ruksha betaal nie – ruksha is nie net vir motorongelukke nie, enige leed wat jy iemand aandoen, kan met ruksha reggestel word. Maar of Danie ruksha betaal of nie, is sekerlik nie haar verantwoordelikheid nie. Hy is slim genoeg om self te besluit, die koppige mansmens.
Gamal is so spraaksaam soos gewoonlik. Sy seun studeer aan die Universiteit van Kaïro. Hy doen navorsing oor die standhoudendheid van die Nylrivier.
“My son say, too many dams.” Gamal trek sy asem in om uit te brei. “My son –”
Alinda sien nie kans vir nog ’n verhaal van ekologiese rampspoed nie. “How are your daughters?” val sy hom in die rede.
“My youngest, she study to be nurse, like you.”
“Is she coming to work in Saudi?”
“No, no more family work in Saudi. She go to London. Me also, end of year.”
Genade, gaan almal haar nou verlaat?
“So, you are going to be a famous London cabby?”
“What you say?”
“You want to be a taxi-driver in London?”
“No, want to take my car to Egypt. My son say, is no good. I must stay with him and wife. Stop working. Rest. Play with grandchildren.”
Wel, dis niks minder as reg nie – hy het sy seun se studie met sy taxi-geld help betaal.
Gamal laai haar voor die ingang van die Koninkryk-inkoopsentrum af. Sy spreek af om hom oor drie uur op die taxi-staanplek te ontmoet. Waar kry sy weer ’n ordentlike en betroubare bestuurder? Hulle is nie almal so vaderlik en beskermend soos Gamal nie. Haar eerste taxi-rit in Riaad was een van haar minder aangename Arabiese avonture. Noudat sy daaraan dink, die tweede een ook. Maar nommer drie was toe Gamal, goeie ou Gamal.
Wat gaan van haar word noudat almal haar wil verlaat – selfs haar getroue huurmotorbestuurder?
7
Dis warm en Alinda loop flink onder die boë van die enorme gebou deur tot in die koelte van die lugreëling. Wat het hierdie woestynmense met hulleself aangevang voor hulle die voordele van die nuutste tegnologie ontdek het?
Ja, maar onder die naghemel word die woestyn tog heerlik koel.
Sy wou nog graag weer gaan uitkamp het, in ’n regte Bedoeïenetent onder die sterre slaap.
Danie het belowe.
Danie, Danie, Danie.
Sy wil sy naam in die teëls intrap, sy wil vergeet dat sy hom ooit geken het. Maar dis onmoontlik, want môre loop sy haar weer teen hom vas, staan sy langs die bed van ’n sieke en kyk hoe hy vol respek en deernis met sy pasiënt werk. Dan bewonder sy hom.
Hy het haar al dikwels verras met kante aan sy persoonlikheid wat sy nie verwag het nie.
Sy hou so van verrassings … miskien verras die inkoopsentrum haar vandag.
Sy gaan staan langs ’n reusebeeld van ’n perd, asem diep in en fokus op die omgewing, die mense, die winkels. Sy soek iets nuuts, iets wat sy nog nie voorheen raakgesien het nie. Sy maak haar oë toe, tel tot tien in Afrikaans en dan weer tot tien in Arabies. Toe maak sy haar oë oop, kyk en voilà, daar is dit: ’n uithangbord in die vorm van ’n Arabiese lampie. Met Arabiese letters daarop.
Alinda stap nader.
Op Engels in kleiner letters staan daar (wat anders?): Lamps & Things.
Dis ’n geskenkwinkeltjie en dis nuut, maar ook oud, volgepak met allerlei ornamente en snuisterye: blikkies en houertjies, kissies en kassies, koffiepotte met bypassende koppies op ronde skinkborde, honderde kersblakers, en natuurlik lampe in alle vorms en groottes – almal ryklik versier.
Alinda weet nie wat om te kies nie. Sy loop stadig langs die rakke af, tel hier en daar iets op en bekyk dit. Party van die goed lyk soos namaaksels, ander so antiek asof dit iewers onder ’n ou fort of ’n sandduin uitgegrawe is.
Wat sal haar ma wil hê? Sy het reeds ’n koffiestelletjie op ’n bypassende skinkbord.
’n Marokkaanse silwerteepot? ’n Handvol Arabiese krale? ’n Lampie?
Hier is van hulle te kus en te keur.
Een trek Alinda soos ’n magneet.
Dis seker iets werd, want dit staan in ’n glaskas. Dit lyk soos antieke brons versier met silwer inlegwerk, ’n klein skippie, ronder in die middel en afgeplat, só ryklik versier, selfs die tuitjie is vol krulle en draaie. Die handvatsel is ’n swierig gebuigde silwer slang, enersyds so ingewikkeld en tog ongekunsteld, asof die silwersmid baie tyd gehad het om te werk, maar nog nie al die fyner hedendaagse tegnieke onder die knie gehad het nie.
As hierdie kunswerkie nie ’n namaaksel is nie, is dit baie, baie oud.
Alinda wil dit van nader bekyk en staan lank en staar. Dan loop sy weer om na die ander lampies op die rak. Daar is geen vergelyking nie. Sy het lanklaas iets so besonders gesien en sy kom telkens weer terug.
Aladdin se lampie – die een wat hy in die grot vol edelstene gekry het.
Alinda kyk op. Die winkeleienaar – hy lyk soos die eienaar – sit in ’n hoekie en hou haar dop. Hy is ’n beplooide ou mannetjie met ’n donker vel en ’n verflenterde wit bokbaardjie, ’n ronde tulband-tipe hooftooisel op sy kop.
Hy is van Oman, besluit sy, nie van Saoedi nie.
Sy assistent is swaar gesluier, ’n klein vroutjie met versigtige beweginkies. Sy bedien die klante met ’n tandlose glimlag en praat so sag dat sy alles wat sy sê, moet herhaal.
Alinda bekyk die lampie van bo af. Die opening is nie groot nie, maar sy kan die kerfwerk aan die binnekant sien – ’n herhaling van die blomryke patrone aan die buitekant, miskien eenvoudiger, nogtans net so mooi.
“You want?” vra iemand skielik agter haar.
Dis die ou mannetjie wat met sy benerige vinger – grillerig is sy lang, krom naels – na die lampie in die glaskas wys.
Sy knik en hy soek een van die sleutels in die bos wat met ’n ketting aan sy gordel vas is, uit. Hy sluit die kas oop. Met gepaardgaande steune en kreune buk hy en haal die lampie uit. Sit dit versigtig in Alinda se bak hande.
Sy beskou dit asof dit ’n eksotiese voël is wat enige oomblik sy vlerke kan klap en wegvlieg. Dis swaar, weeg seker ’n goeie halwe kilogram. ’n Teken dat dit eg is, nie sommer blik en draad nie.
Maar die mooiste is die versierings: ingewikkelde patrone van mitiese diere, sierlike bokke met gekromde horings en vlerke, voëls wat soos eende lyk, op ’n agtergrond van kunstig gekrulde blaarontwerpe en blomme.
“Beautiful, very beautiful,” sug sy en bekyk dit van alle kante. “How much?”
Hy noem ’n buitensporige prys – tweeduisend rial – en laat die woorde in die lug hang. Nou begin die gekibbel. Hy verwag dit van haar. Sy stry hom af na eenduisend tweehonderd rial – steeds meer as tweeduisend rand.
Teen dié tyd weet sy sy koop dit nie meer vir haar ma nie. Dis haar verjaardaggeskenk aan haarself en dit maak haar skuldig. As sy tweeduisend rand op haarself spandeer, dan behoort sy dieselfde bedrag ook op haar ma uit te gee. Altesaam maak dit dus vierduisend rand – baie vir twee verjaardaggeskenke. Veral aangesien die lampie ’n blote ornament is.
Nee, sy het reeds te veel sulke Arabiese ornamente.
Sy skud haar kop. Too much.
Hy slaan nog tweehonderd rial af.
“No, I am very sorry.”
Sy oorhandig die lampie. Die mannetjie se gesig is ’n masker.
“Something else?”
Hy sê dit soos ’n bevel, nie soos ’n vraag nie. Sy sal iets moet