Wilna Adriaanse-omnibus 2. Wilna Adriaanse
sy veronderstel om vir Karen by Frans se restaurant te besorg, waar haar vriendinne sal wag. Dan gaan hulle die res van die aand almal saam daar kuier. Karen en Gerrit is egter onbewus van die reëlings.
Tot Karen se groot verbasing is haar kombuistee toe nie ’n outydse gedoente waar sy onsinnige rympies moet ontsyfer, terwyl sy die verskil tussen ’n sif en ’n koekspaan moet raai nie. Sy kry pragtige mandjies met kruie vir haar kombuis, ’n mooi houtskinkbord, bakke met heerlike bevrore kosse, en ’n velerlei ander nuttige geskenke. En toe die gaste net ná nege vertrek, sit sy haar arm om haar ma se skouers en laat haar kop vir ’n oomblik teen die ouer vrou se kop rus.
“Dit was heerlik gesellig. Baie dankie … en ek is jammer ek was vandag so ondankbaar.”
Lisa druk die jong lyf teen haar vas en druk ’n soentjie teen die donker hare.
“Karen, ek het my handsak by Frans vergeet en wil dit gou gaan haal. Kom ry saam met my,” nooi Nicolene toe hulle al die glase en koppies terug kombuis toe gedra het.
Karen huiwer net ’n oomblik voordat sy haar skouersak gaan haal en toe saam met Nicolene in Lisa se motor klim.
Die straat voor die restaurant is propvol motors toe hulle daar aankom, maar daar is gelukkig nog ’n oop parkeerplek en Nicolene parkeer haastig. Toe hulle uitklim, kan hulle die mengelmoes van stemme deur die oop vensters hoor, maar die oomblik toe hulle die deur oopstoot, sak ’n doodse stilte oor die groep neer.
Karen kyk vraend na Nicolene, nie seker waarom die hele restaurant stil word toe hulle instap nie. Toe gewaar sy die bekende rooi kop en sy begin stadig glimlag. Toe hy voor haar tot stilstand kom, sit sy haar arms om sy nek en vir ’n lang oomblik lag hulle in mekaar se oë terwyl daar rondom hulle hande geklap en gefluit word.
Nicolene gewaar vir Jacques waar hy eenkant by ’n groep mans staan en gesels, en sy baan vir haar ’n pad tot langs hom. Die ander aand se onsinnige gedagtes het gelukkig die wyk geneem en sy glimlag onbevange.
Sonder om na haar te kyk, sit hy sy arm om haar skouers en trek haar tot teen hom. Toe stel hy haar aan die groep voor en beduie vir een van die kelners om vir haar ’n glas te bring.
Nicolene bly staan so in die holte van sy arms en kan nie help om te wonder waar Mariaan is nie, maar sy gaan hom ook nie vra nie.
Die res van die aand word daar baie gelag en gesels, en dis nie lank nie of ’n paar van die gaste begin tussen die tafels dans.
Die geskenke by hierdie partytjie verskil heelwat van die vorige een. Daar is gewaagde slaapklere, handleidings vir die getroude paartjie om die huweliksbootjie op koers te hou en nog allerlei prettige pakkies wat onder groot gejuig oopgemaak word.
Tussen die musiek en die stemme deur kan niemand mekaar behoorlik hoor nie en toe Nicolene in ’n stadium ’n paar hande op haar heupe voel, kan sy net saam met die vreemde lyf begin beweeg. Sy ken al Karen en Gerrit se ou vriende, maar daar is ook ’n paar nuwe gesigte en hoewel sy aan almal bekendgestel is, kan sy later nie meer die gesigte en name bymekaar sit nie.
Nicolene weet nie hoe laat dit is toe die meeste mense begin aanstaltes maak om te ry nie. Gerrit bied aan om Karen met Lisa se motor huis toe te neem, en Jacques sê hy sal Nicolene huis toe neem.
Hy draai egter nie by die plaashek in nie en toe Nicolene hom vraend aankyk, laat hy lui hoor: “Ons gaan eers by my koffie drink.”
“Ek wil nie nou koffie drink nie, ek wil gaan slaap.” Nicolene gee ’n lang gaap, maar die motor het reeds voor die ou dubbelverdiepinghuis tot stilstand gekom en toe hy die deur vir haar oopmaak, is sy genoodsaak om uit te klim.
Toe sy hom eindelik oortuig dat sy nie koffie wil drink nie, haal hy twee kelkies uit die kas en in die sitkamer skink hy vir albei likeur. Hy hou die fyn langsteelglasie na haar uit.
“Waarop sal ons drink?”
“Op vriendskap!” Sy skop haar skoene uit en sak op die groot leerrusbank neer. “Die enigste streslose verhouding!”
Jacques lig haar uitgestrekte bene op, sak langs haar op die bank neer en laat haar bene oor sy skoot lê.
“Waar is jou vriendin?” vra sy tog die vraag wat haar die hele aand bygebly het.
“Watter een? Jy weet mos ek het baie …”
“Jou aanstaande vrou. Of het jy van hulle ook baie?”
“Nee, ek het om die waarheid te sê nie een van hulle nie, maar as jy van Mariaan praat, sy is die week na haar ouers toe.”
“H’m … geen wonder jy het vanaand so geniet nie.” Nicolene skuif dieper teen die rugleuning af terwyl sy klein slukkies van die taai wit vloeistof neem.
“Vir ’n meisie wie se kêrel Vrydag hier arriveer, het jy ook nie juis soos die verlangende grasweduwee gelyk nie.” Hy buk vorentoe en skink hulle kelkies weer vol.
“Jacques … dink jy ons sal nog so kan kuier wanneer ons getroud is?” Haar stem is peinsend terwyl sy nikssiende na die dak staar.
“As ons met mekaar trou, sien ek geen rede waarom ons nie kan saamkuier nie.”
Sy gluur hom aan. “Dink jy daar is plek in ’n huwelik vir so ’n vriendskap, of sal ons ook maar geleidelik van mekaar af wegbeweeg, totdat ons mekaar vriendelik sal groet wanneer ons mekaar elke paar jaar raakloop?”
“Sal jy jou man toelaat om so ’n vriendskap met ’n ander vrou te hê?”
Haar blik rus ’n lang oomblik op sy gesig en toe skud sy stadig haar kop. “Seker nie … maar ek kan nie glo dat ons maar net eendag kennisse sal wees nie.”
“Dan sal ons mekáár seker maar moet vat. Dis al oplossing waaraan ek kan dink.” Hy strek sy bene en sit sy voete op die groot koffietafel.
“Nee dankie, die dag wanneer ek trou, wil ek nie elke dag wonder of ek nog die gunsteling van die dag is nie. Ek soek ewige liefde … as daar so iets is.”
“En jy dink nie ek sal vir een vrou kan lief wees nie?”
Sy skud haar kop stadig heen en weer. “Jy vergeet ek was van die begin af daar – ek weet hoe gou jy vir ’n meisie moeg raak. Ek ken jou, miskien beter as wat jy jouself ken.” Nicolene sit die leë glasie op die koffietafel neer en sak weer op die bank terug. “En ek ken al die slagoffers wat langs die pad gesneuwel het.”
“Het jy nog nooit gewonder waarom ek met soveel meisies uitgegaan het nie?” Sy vingers streel oor haar kaal bene.
“Jy hou van ’n verskeidenheid …”
Hy skud sy kop. “Jy ken my nie so goed as wat jy dink nie.”
“Ek ken jou … baie goed.” Sy sluit haar oë. “Ek weet jy het ’n klein merkie langs jou linkeroog waar ’n tak jou gekrap het. En weet dat jou mondhoeke effens opkrul wanneer jy glimlag. Ek weet jy slaap altyd op jou regtersy …” sy glimlag “… teen jou regterskouer …”
Die woorde stol in haar keel toe hy skielik oorleun en haar soen en dan sag teen haar mond fluister: “Maar het jy geweet dat ek jou nog altyd graag wou soen?”
Sy wil haar kop skud, maar hy soen haar weer en sy voel hoe haar oë onwillekeurig toegaan.
En meteens voel dit vir haar of sy in ’n vreemde huis ingestap het, maar binne is alles bekend. Sy mond is bekend; sy hande is bekend; sy reuk … die hitte van sy vel teen hare … En sy kan voel hoe haar lyf begin ontspan en sy haar aan die bekendheid oorgee. Haar arms vou om sy skouers … haar vingers krul om die hare in sy nek … streel oor sy gesig … Die spiere in sy arms lewe onder haar aanraking en toe hy haar met ’n kreun teen hom vastrek en sy mond oor haar gesig streel, kan sy nie meer dink nie. Tyd en plek vervaag … Hulle soen mekaar met ’n vreemde dringendheid, terwyl hy tussenin onverstaanbare woorde in haar hare fluister … Dis soos ’n veldbrand wat al hoër brand en dreig om hulle albei te verteer. Sy maak nie haar oë oop nie, vasgevang tussen ’n droom en die werklikheid. Sy stem is hees in haar ore, maar die woorde maak nie sin nie … kry