Wilna Adriaanse-omnibus 2. Wilna Adriaanse
en wanneer sy tyd het om te kuier, is dit met nuwe vriende. Daar is niemand wat weet waar sy vandaan kom, of Afrikaans met haar praat nie. Selfs al is daar Suid-Afrikaners in die geselskap, praat almal altyd Engels.
Dit ontstel haar dat sy meteens soveel heimwee het. Toe sy twee jaar gelede kom kuier het, was die kuier baie lekker, maar sy was gereed om weer terug te gaan. Maar nou is daar ’n loodswaar gevoel in haar as sy aan haar terugkeer dink. Dis asof haar hele wese daarteen rebelleer. Sy voel hoe die spiere in haar lyf onwillekeurig saamtrek. Dis goed Andrew arriveer Vrydag. Sy teenwoordigheid behoort haar te help. En sy sien daarna uit om vir hom allerlei plekke te wys. En aan almal bekend te stel … Dit sal ook al makliker wees as hy weet hoe die mense lyk wanneer sy van hulle praat.
Sy het nie groot verwagtinge rondom hom en Jacques nie. Jacques sal seker weer iets te sê hê, maar hy kan nie namens haar kies nie. Net so min as wat sy namens hom kan kies – al sou sy eintlik graag wou. Maar aan die ander kant weet sy ook nie of daar al iemand was wat sy gedink het die regte vrou vir hom sal wees nie.
Waarom kon sy nie maar sestien gebly het nie? wonder sy skielik vol heimwee. Alles het so eenvoudig gelyk. Geen groot besluite nie. Op sestien kan ’n mens maklik dink die lewe gaan altyd so ongekompliseerd wees. En nou krap Jacques net haar kop nog verder om met sy praatjies van ’n eetplek op die plaas. Sy kyk op haar horlosie en wonder of hy alleen is. Maar as hy haar enige tyd van die dag of nag kan bel, kan sy seker dieselfde doen. En in elk geval kan die mooie Mariaan ook maar ’n bietjie wakker lê.
Sy luister hoe die telefoon aan die ander kant lui en sy oorweeg dit ná ’n rukkie om die oproep te kanselleer, maar toe hoor sy die diep stem.
“Goeienaand, dit is u gelukkige aand. U is die wenner van ’n romantiese ete vir twee, in u eie huis, berei deur een van die wêreld se voorste sjefs.” Sy praat Engels en haar stem draal hees in die geslote ruimte van die motor.
Daar is ’n oomblik stilte. Toe hoor sy hoe die herkenning in sy stem kom lê toe hy in foutlose Engels antwoord: “Baie dankie. Ek neem aan ek mag ’n metgesel vir die aand kies.”
“Nee, die sjef sal die metgesel kies.” Sy kan voel hoe die glimlag aan haar mondhoeke trek.
“H’m … ek weet darem nie … Hoe sal die sjef weet wat my smaak is?”
“Glo my, sy wéét!”
“Ek is nie so seker sy weet nie. Ek het ’n vermoede sy het nog nóóit geweet nie.”
“Is jy alleen?” laat sy laggend hoor. “Want as jy nie is nie, gaan jy ná dese baie hê om te verduidelik!”
Hy ignoreer die vraag. “Waar is jy?”
“Op pad huis toe. Ek het saam met Frans en Hendrine gekuier. Hulle sê groete en wil weet hoekom jy my nie wil hê nie. Hulle vermoed daar is ernstig fout met jou.”
“Wat was jou kommentaar?” Sy kan hoor hy glimlag.
“Ek het maar gesê ek weet nie. Wat moet ek ook nou sê? Ék weet nie waarom jy sulke swak oordeel aan die dag lê nie.”
“Hoeveel het jy gedrink?” wil hy skielik bekommerd weet.
“Wat het dít nou met die onderwerp te doen?” Sy verskuif die foon na haar ander oor en skakel die flikkerlig aan om van die hoofpad af te draai.
“Want jy is besonder uitgesproke. Waarom kom jy nie hierheen dat ek vir jou die antwoord op daardie vraag kan gee nie.”
Nicolene snak verontwaardig na haar asem. “Weet jy nie hulle sê three is a crowd nie!”
“Ek het nie geweet jy het iemand by jou in die motor nie.”
“Ék veroorsaak nóóit crowds nie. Ek weet hoe om my dinge te reël. En dis meer as wat ek van sommige ander mense kan sê …”
“En wát bedoel jy daarmee?”
Nicolene wag totdat die aankomende voertuig by haar verby is voordat sy antwoord. “Ek onthou ’n paar aande in my lewe wat ek soos ’n derde wiel aan die wa saamgesleep is fliek toe of na die een of ander partytjie toe.”
“Jy bedoel seker ’n vyfde wiel … en waarom het jy nooit gesê jy wil alléén saam met my gaan nie?”
Hy klink geamuseerd en Nicolene laat ergerlik hoor: “Ek wou nie alléén saam met jou wees nie. Hulle het my altyd behandel asof die kat my ongenooid in julle geselskap ingesleep het.” Sy merk die horlosie teen die paneelbord op en voordat hy kan antwoord, laat sy haastig hoor: “Ek gaan nou neersit, voordat jy môre nie meer ’n aanstaande het nie, want teen hierdie tyd moet sy al soos ’n pot kokende lawa wees. Ek weet ék sou as my kêrel in die middel van die nag telefoongesprekke met ander meisies gehad het.” Sy bly uitasem stil.
“Ek is alleen, en jy gaan met my praat totdat jy veilig by die huis is … of nog beter, hier by my is. Jy het swart koffie nodig. Ek het ’n vermoede jy het té lekker gekuier.” Sy stem is streng en Nicolene begin onwillekeurig haar kop skud, asof hy haar kan sien.
“Ek makeer niks, maar as jy so graag koffie wil maak, aanvaar ek die uitnodiging.” Sy wil die telefoon afskakel, maar sy stem keer haar.
“Dis nie ’n uitnodiging nie, dis ’n opdrag, en moenie die foon afskakel nie. Praat met my. Jy ry dalk in ’n sloot in.”
Nicolene gooi die instrument kopskuddend op die sitplek langs haar neer.
Sy glimlag toe sy hom ’n paar minute later voor die agterdeur gewaar. Hy het net ’n kortbroek aan en sy sit en kyk ’n oomblik na die mooi, atletiese lyf. Die motordeur gaan oop en hy trek haar aan haar arm uit.
“Waarom luister jy nie as ek praat nie?”
“Ek was al by die afdraai, en in elk geval kan jy nie meer vir my opdragte gee nie – ek is nou mooi groot.” Sy kyk onderlangs na sy kaal lyf. “Sal jou meisie nie omgee as jy hierdie tyd van die nag ander vrouens in jou huis onthaal nie … en dit nog half kaal …”
“Kom.” Hy stap met haar huis toe.
“Pla my kaal lyf jou?” wil hy weet toe sy by die kombuistafel neersak en hom weer bekyk.
“Nee, dis mos darem nie die eerste keer dat ek jou kaalbolyf sien nie, maar …” Haar wange word skielik rooi en sy skud haar kop.
Hy skakel die ketel aan en haal twee koffiebekers uit die kas. “Jy wou sê …”
Sy rug is na haar gedraai en sy skud weer haar kop, en toe sy praat, is haar stem effens ergerlik. “Niks …” Sy kyk op haar horlosie. “Ek moet huis toe gaan. Hulle gaan bekommerd oor my raak.”
“Nog ’n halfuur gaan nie ’n verskil maak nie.” Hy kom neem oorkant haar plaas. “Hoe gaan dit met Frans en Hendrine?”
Nicolene knik afgetrokke, haar oë afgewend, terwyl sy met ’n teelepel speel. “Goed …”
Hy knik en staan op toe die ketel met ’n klik afskakel.
Nicolene drink ingedagte haar koffie en antwoord net as hy ’n vraag vra. En toe die beker leeg is, staan sy haastig op. “Ek wil nou net in my bed kom en slaap. Ek is moeg. Lekker slaap … en dankie vir die koffie.”
Hy stap saam met haar buitentoe en bied aan om haar te gaan wegbring, maar sy skud haar kop en belowe om hom te bel sodra sy by die huis kom.
’n Paar minute later draai sy tussen die twee wit hekke deur en ry stadig met die smal teerpaadjie na waar sy die opstal se ligte voor haar sien. Dis ’n prentjie wat onlosmaaklik deel van haar geheue vorm.
En toe sy ’n uur later ná ’n koel stort in haar bed lê, kan sy nie help om haar kop te skud nie. Sy weet nie wat met haar aan die gang is nie. Dis asof sy besig is om die noodlot te tart. Hulle is nie meer kinders nie en hy staan op trou. Sy behoort hom nie in die middel van die nag te bel óf daar te gaan koffie drink nie. Maar sy en Jacques verval so maklik in hulle ou patrone, ongeag die tydsverloop of die nuwe paaie wat hul onderskeie lewens ingeslaan het. Hulle is soos twee siele wat ewig aan mekaar verbind sal wees.