Wilna Adriaanse-omnibus 2. Wilna Adriaanse
mooie man wou verlei het, sou sy seker ook liewer in die koelte gesit het as om met nat hare en ’n skoongewaste gesig soos ’n kind in die swembad te baljaar.
Sy voel hoe ’n hand haar kop onder die water indruk en sy moet spartel om nie ’n mond vol water te sluk nie. Toe sy uiteindelik proesend bo die oppervlak uitkom, lag Jacques vir haar terwyl hy wegswem. Soos toe sy ses jaar oud was, steek sy vir hom tong uit en swem dan na die ander kant toe.
Uiteindelik begin die gaste aanstaltes maak om te vertrek en toe die stilte oor hulle neerdaal, sug Lisa hoorbaar. “Dit was nou ’n lekker dag. Of wat sê julle?”
Wilhelm en die twee meisies knik gelyktydig, verbaas dat sy ná al die jare nog steeds effe onseker klink.
“Nicci … wat dink jy van Mariaan?” Karen lê uitgestrek op een van die stoele langs die swembad en kyk hoe haar suster weer in die koel water induik en stadig heen en weer swem.
“Dis moeilik om te sê … ek het nie regtig tyd gehad om met haar te gesels nie.”
“Dink jy dis die een wat vir Jacques voor die kansel gaan kry?”
“Kan wees … Wie sal ooit weet? Hy was mos maar altyd ’n dark horse.”
Toe dit skemer word, klim Nicolene uit die koel water en nadat sy haar in ’n groot handdoek toegevou het, gaan lê sy langs Karen op een van die sonstoele. Sy weet nie waarom daar vanaand ’n vae hartseer in haar lê nie. Dis amper asof sy na iets verlang … maar dis nie ’n verlange na iemand nie; sy verlang meer na ’n gevoel. Miskien is dit maar net die gewone Sondagaand-melancholie wat mense dikwels ervaar, troos sy haarself.
“Ek sal dit mis om soggens hier wakker te word,” onderbreek Karen se stem haar gedagtes.
Nicolene draai haar kop. “Jy kan ten minste elke dag kom kuier as jy verlang.” Nicolene se stem raak stil en albei staar na die toppe van die hoë ou akkerbome wat nog die laaste bietjie lig in hulle heldergroen blare opvang.
“En waarom lyk julle twee so morbied?” Jacques het geruisloos langs hulle verskyn en trek nou vir hom ’n stoel nader.
Nicolene lig haar kop verskrik en toe laat sak sy dit weer teen die rugleuning. “Weet jy nie ’n mens bekruip nie ander mense nie! Jy kan goed hoor wat jy nie wil nie.”
“Ja, en so skerp soos jou tong geword het, kan dit pynlik wees.”
“Jacques, wat kom soek jy? Ek is nie lus vir baklei nie.” Nicolene se stem klink ergerlik.
Hy draai na Karen wat hulle geamuseerd sit en bekyk. “Wie het eerste baklei? Hier kom ek, soos dit ’n goeie buurman betaam, dankie sê vir ’n lekker dag, en al wat ek kry, is so ’n suur gesig.” Toe kyk hy weer na Nicolene. “Miskien moet jou kêrel maar vroeër kom. Dit lyk my nie jy kan sonder hom wees nie – dit maak jou uiters beneuk.”
“Ek is nie beneuk nie. Ek het rustig hier gesit voordat jy weer kom moeilikheid soek het.”
Karen staan laggend op en gooi haar handdoek oor haar skouer. “Nou ja, ek kan sien hierdie gaan ’n baie interessante gesprek word, maar ek gaan liewer nou bad.”
By die deur na die sonstoep draai sy egter om. “Jacques … Nicci wil jou graag iets vra.”
En dan klap die deur agter haar en Jacques draai met ’n vraende blik na Nicolene. “Wat wil jy vir my vra?”
“Niks … ek weet nie waarvan sy praat nie.”
“Het jy hulp nodig?” Sy donker oë rus nou vraend in hare.
“Dis niks … ek weet nie waarom Karen so iets gesê het nie.” Die ergerlikheid lê vlak in haar stem.
Hy kyk bekommerd na haar en toe hy praat, is sy stem ernstig. “Wat’s fout? Jy lyk al die hele dag nie vir my gelukkig nie. Verlang jy?”
Nicolene wikkel die groot handdoek stywer om haar lyf voordat sy sag antwoord: “Ek is seker maar net moeg. Ek het so hard gewerk dat ek nie eintlik besef het hoe moeg ek is nie.”
Hy steek sy hand uit en vryf oor haar hare en die gebaar laat Nicolene pynlik sluk aan die knop in haar keel. Sy weet nie wat met haar fout is nie. Miskien moet sy net ’n paar dae voor die troue êrens gaan rus. Almal wil gedurig gesels. Hulle vra vrae en sy het nie die antwoorde nie … en Andrew kom Vrydag … en sy weet skielik nie eers meer hoe sy oor hom voel nie. Dis asof sy hom nie in haar wêreld kan sien nie. Asof sy twee persone is … en hy nie deel van hierdie een se lewe is nie. ’n Skielike rilling laat die hoendervleis in knoppies op haar arms uitslaan en sy staan haastig op.
“Ek gaan gou iets warmer aantrek. Is jy haastig of gaan jy wag?”
Hy staan stadig op en skud sy kop. “Ek dink ek sal ook maar huis toe gaan. Miskien moet jy vanaand vroeg in die bed klim.”
Sy knik ingedagte en dan wonder sy vlietend of die meisie vir hom wag.
Sy lippe vee lig oor haar voorkop. Toe staan en kyk sy hoe hy verby die swembad stap en tussen die groot bome en struike aan die onderpunt van die tuin verdwyn, en sy sug onwillekeurig.
Wilhelm en Lisa sit in die gesinskamer, elkeen met ’n koppie koffie, en toe hulle haar in die gang gewaar, roep Lisa na Nicolene.
“Waar is Jacques? Wou hy nie iets gedrink het nie?”
Nicolene skud haar kop en maak verskoning om te gaan stort. Maar in haar kamer lê sy eers ’n wyle op haar bed, terwyl sy nikssiende na die dak staar. Sy sal haar moet regruk. Dis Karen se troue en sy wat Nicolene is, het maande na hierdie vakansie uitgesien. Sy kan nie nou toelaat dat allerhande onsinnige emosies haar tyd by die huis bederf nie. Sy het ’n goeie lewe in Engeland. Andrew is daar. Hulle het ook lekker tye saam. Sy druk haar hande oor haar oë. Maar daar is nie hierdie stilte nie. Daar is nie tarentale wat skemeraand al kwetterend opvlieg om die nag in die bome te skuil nie. Daar is nie berge wat saans die laaste lig in hulle pieke vasvang nie. Of soggens goudrooi geboorte gee aan ’n nuwe dag nie. En … haar mense is nie daar nie … familie, vriende … Sy het nie besef hoe sy hulle gemis het nie.
Sy skud haar kop en toe probeer sy haarself troos met die gedagte dat dit maar net ’n oorreaksie is omdat sy lanklaas hier was. Ná ’n maand sal sy weer gereed wees om terug te gaan.
’n Halfuur later staan sy onder die stort en laat die strome koel water oor haar loop. Sy maak haar oë toe en draai haar gesig opwaarts. Miskien spoel die strale al die spinnerakke weg. Sy voel hoe haar lyf begin ontspan en sy rustiger word.
En toe Andrew later die aand bel, voel sy aansienlik beter en kan sy ontspanne gesels. Dis net toe hy haar probeer oortuig om twee dae voor Kersfees saam met hom terug te vlieg vir ’n week se skivakansie in die Alpe, dat sy vir ’n oomblik voel hoe haar keel toetrek.
“Ek kan nie, Andrew, ek weet nie wanneer ek weer tyd gaan kry om te kom kuier nie, en ek sal graag Kersfees saam met my ouers wil wees … aangesien Karen ook nie hierdie jaar hier gaan wees nie.”
“Jy weet ons het die plekke reeds ’n paar maande gelede bespreek en almal het hulle verlof so gereël.”
Die swaar Engelse aksent draal in haar ore.
“Maar ek het van die begin af gesê ek kan nie saamgaan nie.” Wat sy nie byvoeg nie, is dat sy eintlik gehoop het hy sal Kersfees saam met haar by die huis deurbring, maar toe sy dit ’n paar weke gelede vir hom genoem het, kon sy sien dat hy dit nie eers oorweeg nie. Die jaarlikse skivakansie saam met ’n groep vriende is beslis ’n groter aantrekkingskrag.
Miskien kan sy hom ook nie kwalik neem nie. Hy het nie dieselfde verknogtheid aan sy wortels nie. En hy het beslis ook nie begrip daarvoor dat ’n mens na die son kan verlang nie. As ’n mens in die grys Engelse koue grootgeword het, is die son seker nie vir jou baie belangrik nie.
“Het dit al gesneeu?” verander sy die onderwerp en luister dankbaar hoe sy stem die ergste skerpheid verloor toe hy weer praat,
Ná ’n paar minute groet hulle en toe sit sy ingedagte met die klein selfoon in haar hand. Sy wonder waarom hulle meningsverskille