Wilna Adriaanse-omnibus 2. Wilna Adriaanse

Wilna Adriaanse-omnibus 2 - Wilna Adriaanse


Скачать книгу
hy nog nie getroud is nie.”

      Nicolene druk haar suster laggend op die bed neer en sit ’n kussing oor haar kop. “Ek moes jou nooit vertel het nie. Nou sal jou romantiese siel nooit rus nie. En nee, niemand gaan hom iets vra nie, ook nie jy nie, al is die versoeking ook hóé groot. Belowe my.”

      Daar is ’n oomblik net onverstaanbare geluide van onder die kussing, maar dan knik Karen en Nicolene lig die kussing. “As … wanneer … julle albei eendag gelukkig getroud is en ’n klomp kinders het, sal jy hom dan vra?”

      Karen snak na haar asem en Nicolene knik. “Ja, wanneer ons eendag oud en grys is.”

      ’n Klop aan die deur laat albei opkyk en toe loer Lisa se bekommerde gesig om die deur. “Karen! Wat op aarde … Ons moet oor ’n uur by die spysenier wees en julle is nog nie eers aangetrek nie.”

      Albei meisies spring op en met een laaste blik na mekaar spat hulle uitmekaar om vinnig te stort en aan te trek.

      “Nicci, ek sal net meer gerus wees as jy die spyskaart met die mannetjie deurwerk en hom presies laat verstaan wat ons wil hê,” laat Lisa hoor toe die drie vrouens voor die mooi, gerestoureerde hotel stilhou.

      “Ma, ek gaan beslis nie vir hom vertel hoe om dit te doen nie. Hy is ’n uiters bekwame sjef en heeltemal in staat om die spyseniering te doen.”

      Voordat Lisa kan antwoord, is hulle egter in die ontvangsportaal en die jong ontvangsdame groet hulle vriendelik. Sy beduie na die luukse sitkamer en oomblikke later sluit ’n aantreklike blondekopman met ’n wit oorbaadjie by hulle aan. Hy steek sy hand glimlaggend na Lisa en Karen uit en toe draai hy na Nicolene.

      “Hallo, ek is André. Ek is bly om jou uiteindelik te ontmoet.”

      Hy neem haar hand in syne en sy wonder wat haar ma hom alles vertel het.

      “Hallo, ek is Nicci,” laat sy gesellig hoor en sy sien hoe hy verlig begin glimlag.

      Vir die volgende uur word daar kos en versierings gepraat en as hy aanvanklik onseker van homself was, oorwin hy dit gou toe hy sien Nicolene is tevrede met sy voorstelle. Sy vra ook net die nodigste vrae, al kan sy sien haar ma wil baie meer inligting hê.

      Toe hulle eindelik groet, lyk Lisa aansienlik meer verlig en Nicolene kan nie help om te glimlag nie. Haar ma is besig om soos ’n geoefende generaal ’n veldslag te beplan. Niks word oorgesien nie; alles word tot in die fynste besonderhede uitgewerk.

      Nicolene is dankbaar toe hulle net voor middagete tuiskom. Karen moet ’n vriendin vir middagete ontmoet en Lisa moet ná ete haar rok gaan aanpas. In haar kamer trek Nicolene ’n kortbroek en loopskoene aan en dan kies sy koers deur die populierbos na die huis aan die oorkant van die riviertjie. Dis nou middagete; miskien is hy by die huis.

      Sy stoot die kombuisdeur oop en dit neem ’n oomblik vir haar oë om aan die skemerte gewoond te raak. Die volgende oomblik skrik sy toe ’n figuur uit die spens kom.

      “Kan ek help?” Die vrou steek verbaas vas en staar grootoog na Nicolene. Toe breek ’n groot wit glimlag oor die bekende gesig. “Hygend, Nicci! Hoe laat jy my nou skrik. Waar kom jy vandaan?” Met ’n paar treë is hulle by mekaar en dan vou haar arms om Nicolene.

      “Middag, Drika. Ek kom soek stilte en lekker kos. Hoe gaan dit met jou?”

      Sonder om te antwoord, bekyk die ouer vrou haar onbeskaamd van kop tot tone voordat sy kopskuddend antwoord: “Beter as met jou. Kyk hoe bleek en maer is jy. Is jy siek?”

      “Nee, ek makeer niks,” lag Nicolene.

      “Ek het al gewonder of jy gaan kom groet … het gedink jy is dalk nou te grênd om ons te ken.”

      “Hoe kan jy dit sê? Jy is dan deel van die familie. Ek kon net nie vroeër kom nie, want daar oorkant is dit vreeslik besig. Ek weet nie eintlik wat almal doen nie, maar ons moet gedurig êrens heen gaan. As dit nie vir ’n rok is nie, is dit vir ’n haarbestelling of vir kos.”

      Die ouer vrou lag diep. “Tja … Elsa sê mevrou Lisa se senuwees is soos ’n mat se rafels en dan kom jou kêrel ook nog kuier … daaroor is haar senuwees nog meer op hol.”

      Nicolene sak langs die kombuistafel neer. “Daar is niks om senuweeagtig oor te wees nie; alles sal goed gaan.”

      “Gaan jy met die vreemde kêrel trou, Nicci?” Die donker oë kyk ernstig na haar.

      “Nie nou al nie, Drika. Miskien eendag … Maar vertel my liewer hoe gaan dit met jou kinders. Hulle is seker almal al klaar met die skool,” verander Nicolene die onderwerp en Drika begin trots vertel van haar drie kinders se prestasies en die goeie werke wat almal gekry het.

      Toe hulle al die nuus uitgeruil het, kyk Drika na die muurhorlosie. “Ek wonder waar bly die kind weer vanmiddag. Hy weet ek moet nog na sy ma toe ook gaan.”

      “Werk jy nou vir hom ook?” Nicolene kyk nuuskierig na die paar veranderinge wat sy in die kombuis kan sien. Daar is ’n moderne, nuwe stoof en oond ingebou en die mure is ’n mooi oker kleur geverf. Die lang houttafel staan egter nog die hele lengte van die ruim vertrek vol.

      “Ek kom drie keer ’n week skoonmaak en kosmaak en die ander twee dae gaan ek na Mevrou-hulle toe. En Saterdae en Sondae kom help ek net as hier mense is.”

      “As jy haastig is, sal ek vir hom wag. Het jy kos gemaak?”

      “Dis in die oond. Kyk net dat dit nou nie uitdroog nie … en sê vir hom die honde se kos is op.” Drika kyk na die enkelplek wat by die lang tafel gedek is. “Daar is genoeg kos vir jou ook.”

      “Dankie … ek sal vir hom sê hy moet vir my ook gee.”

      Die twee vrouens groet en toe die agterdeur toeklap, stap Nicolene nuuskierig deur die res van die groot ou huis. Om die een of ander rede het sy nog altyd gedink hierdie huis is mooier as hulle s’n, hoewel albei huise min of meer uit dieselfde tydperk dateer. Sy het nog altyd meer van die ou Kaapse boustyl gehou. Die groot, antieke houtkaste en die meeste meubels is nog in die sitkamer, maar daar is ook twee nuwe donkerbruin leerbanke wat verbasend treffend met die ander meubels saamsmelt. Op die glimmende houtvloere lê ’n verskeidenheid dik Oosterse matte asook twee zebravelle, en Lisa wonder verbaas wie vir hom die vertrek so help inrig het. Vir ’n oomblik voel sy ’n vreemde krapperigheid toe sy aan die meisie met die glansende blonde hare dink.

      Sy stap verder en sien dankbaar dat die ou sestiensitplektafel steeds in die eetkamer staan. Sy het wonderlike herinneringe van etes rondom daardie tafel. Sy loer by die ruim studeerkamer in en kan sien dat daar ook ’n paar veranderinge aangebring is.

      Toe sy deur al die onderste vertrekke gestap het, klim sy die breë trap op en loer by al die slaapkamers in. Almal het nuwe gordyne en nuwe beddens, behalwe die hoofslaapkamer waar die reuse-houthemelbed nog in die middel van die vertrek troon. Die nuwe gordyne is tabakkleur wat afgewissel word met swart en roomkleur. Hierdie kleure word ook in die beddeken herhaal. Daar lê ’n boek op een van die antieke bedkassies en sy tel dit ingedagte op en lees die titel, dan sit sy dit neer en gaan staan voor die venster. Dis vreemd om te dink hy woon nou alleen hier … en een van die dae gaan daar dalk ’n vreemde vrou in hierdie bekende vertrekke woon.

      “Ek het gehoop jy is soos Gouelokkies – binne-in my bed!”

      Die stem agter haar laat haar verskrik omswaai en haar hand gaan onwillekeurig na haar mond om die gil te keer.

      “Kan jy nie klop nie?” hyg sy uitasem.

      “Aan my eie slaapkamerdeur?” Sy wenkbroue lig geamuseerd terwyl hy nader stap en haar op die wang soen. “Jy het ook maar jou tyd gevat om te kom kuier,” laat hy dan beskuldigend hoor.

      “As ek reg onthou, is ek nooit genóói om te kom kuier nie.”

      “En van wanneer as wag jy vir uitnodigings?” Hy kyk op haar af.

      “Vandat hier vreemde vrouens woon. Ek kan nie sulke kanse waag nie; netnou kry jy moeilikheid.” Haar stem is lig.

      “Hier woon nie


Скачать книгу