Wilna Adriaanse-omnibus 2. Wilna Adriaanse
en haar pa het heeltyd gesels nie. Sy weet nie of al sy sienings haar pa se goedkeuring sal wegdra nie, en gewoonlik is hy nie skaam om sy mening te lug nie.
Sy vind haar pa egter alleen in die koelte van die sitkamer waar hy rustig sit en koerant lees.
“Dit lyk darem baie rustig. Het Pa nie ’n dogter wat vandag trou nie?”
“Waarom dink jy kruip ek bietjie hier weg? Wanneer die bruid en die bruid se ma terugkom, sal daar nie weer vandag rus vir enige van ons siele op hierdie plaas wees nie.”
Die glimlag lê warm in sy oë en Nicolene moet skielik sluk aan die knop in haar keel. Hulle sê alle dogtertjies wil in ’n stadium met ’n man soos hulle pa trou, en sy dink nie sy het al daardie stadium ontgroei nie. Hy is soos ’n anker wat die hele gesin vashou. Hy het waardes wat onwrikbaar deur die jare gebly het, maar dit is sy waardes – hulle het daarmee grootgeword, maar hy laat hulle toe om hulle eie waardesisteme te ontwikkel.
“Waar is Andrew?” Sy kyk om haar rond asof hy dalk êrens in die skemer vertrek skuil.
“Jacques het hom al vroeg kom haal; gesê hy sal hom bietjie die omgewing wys.”
Nicolene sak op die stoel agter haar neer. Sy is seker sy verstaan haar pa verkeerd.
“Waarom wil Jacques hom die omgewing wys? Moet hy nie vir Gerrit help met iets nie?”
Wilhelm trek sy skouers op en beduie na die tafel in die voorportaal waar ’n reuse-ruiker wit rose staan.
“Jacques het dit vir Karen gebring, en toe het hy vir Andrew gevra of hy nie lus is om saam met hom te gaan ry nie. Ek het gedink dis baie gaaf van Jacques, en Andrew het heel verlig gelyk. Ek dink hy was doodbang hy moet my die hele dag geselskap hou.”
Nicolene kan net stil na haar pa luister, want hy sal haar tog nie glo as sy vir hom sê dat daar niks gaafs aan Jacques se uitnodiging was nie.
Sy staan haastig op en stap kombuis toe. Daar haal sy ’n oop bottel wyn uit die yskas en skink vir haar ’n glas vol. Met die glas in die een hand en haar skouersak oor haar arm, stap sy stadig kamer toe. As sy hierdie dag gaan oorleef, sal dit net genade wees.
Sy stoot haar kamerdeur met haar voet oop en gooi die skouersak op die stoel voor die venster. Dis eers toe sy omdraai en op die bed wil gaan sit, dat sy die blomme op haar kussing gewaar. Drie donkerrooi langsteelrooskoppe, met ’n swart fluweellint vasgebind. Tussen die roosknoppe lê ’n piepklein wit koevertjie en sy maak dit versigtig oop.
Sien jou voor die kansel. Liefde J.
Nicolene gooi die hele glas wyn in haar keel af en val agteroor op die bed. Sy gaan hom vermorsel! Liefde … Hy het in sy lewe nog nooit geweet wat daardie woord beteken nie. Rooi rose met ’n swart fluweellint op haar bed … terwyl haar kêrel in die huis is. Hy moet van sy sinne af wees. Maar ’n meisie se kêrel het hom nog nooit gestuit as hy besluit het dat hy haar beter wil leer ken nie.
Sy moet net die troue agter die rug kry, dan gaan sy Maandagoggend weer die lugdiens skakel. Sy is seker daar sal ’n kansellasie wees. Sy moet hier wegkom. Sy weet nie met watse speletjie hy besig is nie, maar sy gaan beslis nie daaraan deelneem nie. Sy is sewe en twintig jaar oud en sy ken vir Jacques Roux beter as enige ander meisie. Sy kan nie sê sy het nie van beter geweet nie.
Die klop aan die deur laat haar die blomme haastig onder die bed ingooi, en toe sit sy skuldig regop. Andrew loer om die deur en aan die uitdrukking op sy gesig kan sy sien hy het ’n lekker dag agter die rug. Hy is nie iemand wat vreeslik glimlag nie, maar nou kom hy die kamer met ’n wit glimlag binne.
“Jis, maar ons het ’n lekker dag gehad. Jacques het vir my die dorp gaan wys en toe het ons by ’n paar kelders gaan wyn proe, en daarna het ons Jacques se meisie gaan oplaai en gaan eet. Baie mooi meisie – en baie vriendelik.” Hy kom sit langs haar op die bed. “Waarom lyk jy so kwaad?”
“Ek is nie kwaad nie. Ek is bly jy het so ’n lekker dag gehad. Maar ek sou ook volgende week vir jou die omgewing gaan wys het.” Nicolene vou haar arms voor haar bors en probeer haar bes om haar stem so neutraal as moontlik te hou, maar dis nie maklik nie. En sy is seker as sy nou vir Jacques in die hande kry, draai sy sy nek om.
Sy weet nie wat haar die kwaadste maak nie: dat Andrew die hele oggend in Jacques se geselskap was en sy nooit sal weet waaroor hulle gepraat het nie, of die feit dat hulle toe nog vir Mariaan ook gaan haal het. Sy kan voel hoe haar mond bitter raak.
“Mariaan het aangebied om my te kom oplaai,” sê Andrew, klaarblyklik onbewus van die storm wat in haar woed. “Jy en Jacques moet blykbaar by die familie sit.”
Hy klink so opgewonde met die reëlings dat Nicolene wens sy het die rose in haar hand gehad sodat sy hom daarmee oor die kop kon slaan.
“Dis vriendelik van haar.” Sy pers die woorde tussen haar lippe deur. “Waaroor het jy en Jacques die hele oggend gesels? Ek het nie gedink julle het eintlik iets gemeen nie.” Sy kan nie help om die vraag te vra nie.
“Ag, oor allerhande dinge: wyn, ski, Londen, beleggings … Hy het blykbaar ’n hele paar oorsese beleggings. Ek het hom gesê as hy wil, sal ek vir hom nog inligting stuur.”
Nicolene wonder of sy hom nie sommer net direk moet vra of hulle oor haar ook gepraat het nie, maar sy bedink haar.
“Waar is Jacques nou?”
“Hy het vir Mariaan huis toe geneem. Pragtige plek wat hy het …”
“Is Mariaan saam na sy huis toe?” Nicolene moet weer sluk om die bitter smaak uit haar mond te kry.
Andrew trek sy skouers op. “Ek weet nie.”
Nicolene voel hoe die kamer al hoe warmer word … en sy vee vervaard oor haar gesig. Agter haar oë begin ’n hoofpyn klop en sy wens sy kan net êrens gaan lê waar niemand haar sal kry nie. Sy wens die troue was al verby.
10
Nicolene swem stadig heen en weer in die koel swembad. Andrew het gaan slaap, gesê hy het ná die oggend se kuier ’n middagslapie nodig. Nicolene het hom nie gekeer nie, want op hierdie oomblik het sy nie lus vir enigiemand se geselskap nie. Die water is verfrissend teen haar oorverhitte vel en help dat die kloppende hoofpyn agter haar slape begin bedaar.
“Nicolene! In hemelsnaam, kind! Wat maak jy in die swembad? Jou hare!” Lisa se stem styg van skok. “Wat besiel jou om nou te swem? Ons moet oor ’n uur begin aantrek. Hoe gaan ons nou weer jou hare ordentlik kry? Daar gaan nie tyd wees dat Suzy jou hare weer doen nie!” Die woorde borrel soos ’n fontein uit haar ma se mond.
“My hare is nie nat nie. Ek wil net effens afkoel.” Nicolene kyk ergerlik na haar ma wat op die rand van die swembad staan. Waarom sukkel almal met haar? Kan hulle haar nie net uitlos nie?
“Dit lyk lekker ontspannend,” laat Karen hoor toe sy ook op die stoep uitkom.
“Jy klim beslis nie ook in die swembad nie!” Lisa swaai so vinnig om dat sy byna haar balans verloor en ook in die swembad beland. “Ek weet nie waarom ek so met julle sukkel nie! Julle is veronderstel om grootmense te wees!”
Karen skop haar skoene uit en gaan sit op die rand van die swembad. Sy laat haar bene in die koel water sak en skop liggies met haar voete heen en weer. “Het jy die pragtige ruiker rose gesien wat Jacques vir my gestuur het? En die kaartjie … Hy is darem dierbaar. Ek het nog altyd gedink die vrou wat hom kry, gaan baie gelukkig wees.”
Sonder om verder te dink, duik Nicolene kop eerste onder die water in, om ’n paar sekondes later met nat haarslierte oor haar gesig weer haar kop uit die water te lig. Sy vee met die agterkant van haar hand die water en hare uit haar oë en toe kyk sy vas in haar ma se gesig wat op daardie oomblik wasbleek geraak het. Selfs Karen se oë is groter as oomblikke tevore.
“Wat dink jy doen jy? Wil jy nou hierdie dag vir ons almal verongeluk!” Die kleur is stadig besig om na haar ma se wange terug te keer terwyl haar stem al hoe hoër styg.
Wilhelm moes die rumoer gehoor het, want hy