Absoluut Einstein. Christien Neser
kennis, Dylicia Mentoor. Jy is Pretzel.”
Sy probeer haar hand uit syne trek, maar sy greep is te sterk. Met sy linkerhand druk hy ’n kleurkaart teen die binnekant van haar arm vas. Hy glimlag breed. “Perfek,” sê hy, prop die kaart weer in sy bosak. “Beslis Pretzel.”
Dan druk hy sy neus toe en gee ’n tree agteruit, asof sy na vispens ruik.
“Wat presies het jy nou net gedoen?” Dylicia kry haar stem terug. Watter soort mens is hy? Wat sy neus toedruk vir haar ma se vrek duur parfuum? En wie loop nou met ’n klomp kleurkaarte van muurverf in sy sak rond? En druk dit dan ongevraag teen ’n vreemdeling se binnearm om sy kleur te bepaal?
Wil hy doodgedonner word?
“Jou velkleur geïdentifiseer. Ek is Baked Coconut.” Micha praat op een egalige stemtoon. Hy haal deur sy mond asem, asof hy steeds bang is om ’n walmpie van haar ma se White Linen te kry. Dit klink soos ’n afkondiging by ’n lughawe, sonder emosie.
Hy ruk ’n ander kaartjie uit sy sak. “Doktor Papenfus is Warm Bread. Plascon, 07.” Hy lyk heeltemal in sy skik met homself. “Ek het al sestien Warm Breads op my databasis.”
“Is dit iets wat jy vir ’n skooltaak doen? Hierdie ding met die kleure?” Sy vee haar hand agter haar rug af. Syne was sweterig.
“Dis my eie studie.” Hy lyk gefokus. “Ek wil weet watter kleur mense is. Die presiese skakering. Ek gaan bewys dat daar nie iets soos wit mense of bruin mense of swart mense bestaan nie. Almal in my studie is tot dusver skakerings tussen Cream Parfait en Cocoa Bean.”
Hy gaap. “Hoeveel kinders is hier in die skool? Ek moet hulle almal kodeer.”
“Kodeer?” vra sy verbyster.
“Kodeer volgens kleur.” Hy hou die pakkie kleurkaarte omhoog. “Ek werk die statistiek uit vir elkeen van die sestig skakerings wat ek gekies het. My databasis trek al oor ’n honderd.”
“Jy’s mal, man.” Dis uit voordat sy kan keer. Nee! Mens mag nie sê iemand is mal nie. Dis nou die een skelwoord wat nie in hulle huis toegelaat word nie.
“Ek’s nie mal nie. Ek is op die spektrum.” Hy draai sy oë weg. “Outisties. Hoogs funksionerend.” Hy staan daar met ’n glimlag, ewe trots. “Soos Einstein.” Hy vryf met ’n plat hand teen sy oor. “Die data kan vir identifikasie gebruik word. Soos by lughawens, vir sekuriteit. Ek is van plan om dit wêreldwyd te patenteer. Ek werk aan ’n skandeerder wat jou presiese velkleur sal kan lees.”
Hy wapper sy linkerhand langs sy oor, die woorde stort oor sy lippe, al vinniger en vinniger: “Mens kan jou hare kleur, plastiese snykunde laat doen, gekleurde kontaklense dra, ’n baard kweek. Maar jy kan jou velkleur nie so maklik verander nie. Jy sal sien, die polisie sal mense nét so kan vang!” Hy klik sy vingers en gee ’n opgewonde sprongetjie.
Dylicia se hart mis ’n slag. Haar ore begin suis. Sy voel die bloed in haar wange opstoot. Sy ken van mense met gebreke. Haar ma verpleeg sulke mense. Soos wat sy nou vir Edward Nel verpleeg. Maar al is Edward ’n kwadrupleeg, makeer sy kop niks nie.
Nee. Eintlik is Ed haar held. Maar dié ou?
“Dis interessant,” prewel sy. “Maar as ek jy is, bêre ek daardie kaartjies. Die ouens in ons klas gaan niks daarvan hou nie.” En dis saggies gestel.
Micha gaan geslaan word, of erger. Bees het nou die dag gedreig dat hy Kalla se oogballe sal indruk tot waar niemand dit weer sal uitkry nie. Micha beter nie hierdie triek van hom met een van die Vuilhonde uithaal nie.
“Uhm, verskoon my, ek gaan dok Papenfus soek …”
Sy sien nie meer kans vir die projek nie. Paap kan haar enige ander vuil werk gee. Toilette skrop, as dit moet. Maar hierdie ou laat haar maag draai. En nee, nie van skoenlappers nie. Sy oë laat haar ongemaklik voel. Die een oomblik dwaal daardie donker oë droomverlore oor haar skouer en die volgende oomblik pen hulle haar vas soos ’n gogga onder ’n mikroskoop.
“Ek moet gaan. Sorrie. Sien jou.” Sy draai op haar hak om. Hier moet sy wegkom.
Maar sy draai haar reg teen die yslike lyf van doktor Papenfus vas. “Ekskuus, meneer, ek bedoel, doktor.” Sy mik om regs om hom te glip.
Maar met een vinnige tree maak hy seker dat daar geen wegkomkans is nie. Soos ’n reusepikkewyn staan hy die deuropening toe. “Dankie, Dylicia. Ek sien jy het vir Micha ontmoet.”
“Dylicia is Pretzel,” kondig Micha aan. “Ek kan nou die nuwe data byvoeg.” Hy tik op sy selfoon. “Dis ’n toepassing wat ek self ontwerp het. Ek noem dit Sestig Skakerings.”
Net toe begin die klok oorverdowend lui. Dylicia druk haar ore toe. Sy was nog nooit so naby die klok wanneer die ding lui nie.
Die groot luidspreker buite Paap se kantoorvenster skel elke oggend vir ’n volle minuut lank om laatkommers deur die hekke te jaag. Dit gee skelm rokers soos Dewald kans om van doer agter die sportsaal tot in die vierkant te kom.
Dankie tog, sug Dylicia. Al loei hierdie klok soos ’n tronksirene, klink dit vandag na musiek.
Kwart voor agt! Sy kan nou klas toe vlug.
Maar voor sy ’n enkele tree kan gee, het Micha haar van agter af vasgegryp. Sy arms is soos ysterkabels. “Laat dit ophou! Stop dit, stop dit,” kerm hy en klem haar stywer vas.
Micha se een arm glip om haar keel.
Dis asof ’n stuk staal teen haar lugpyp druk. Sy begin wurg, hyg na asem. “Hggg.” Paniekerig roggel sy. Sy grawe met haar naels in sy voorarm in, maar sy baadjie is te dik. Dok Papenfus se oë rek agter sy brillense. Swart kolle voor haar oë …
Haar knieë swik.
En saam met haar stort Micha in sy volle lengte op die lelike kantoormat neer.
Iemand skree om hulp. Sý?
Skielik is daar voete reg rondom haar. Hakskoene van die sekretaresses, grasgroen tekkies van meneer Barnard, swart puntskoene van Paap.
Plat op die vloer lê sy toe die paar groen tekkies by haar hurk en haar regop help. “So ja, ounooi. Jy’s weer reg vir nog ’n ronde in die kryt. Vanmiddag bou ons daardie robot klaar.” Meneer Barnard klop haar op die rug en wals by die kantoor uit.
Dierbare meneer Barnard, hulle verstrooide Robotika-onderwyser is beter met robotte as met mense.
Sy vat aan haar keel. Séér. Haar hand bewe. Sy hoes. Doktor Papenfus gee vir haar ’n glas water van sy lessenaar af aan.
“Is jy reg, Dylicia?” vra hy met ’n snaakse stem. Hy het geskrik, nes sy. Hy druk haar op ’n stoel neer. “Dit was die klok. Die geraas, verstaan? Mense soos Micha kan geraas nie hanteer nie.”
Sy knik. Haar stem is nog nie terug nie.
Toe sien sy vir Micha. Hy sit opgekrul onder die lessenaar, soos ’n gogga wat iemand met gif gespuit het.
Oorfone op, wieg hy heen en weer.
“Ek’s jammer, ek’s jammer, ek’s jammer,” prewel hy. Sy oë is toe. Die lang wimpers lê nat teen sy wange vasgeplak.
Haar hart wil breek. Hy lyk dan nou nes ’n klein seuntjie, een wat kan huil wanneer hy ’n fout gemaak het.
Hoe sê sy nee vir hierdie projek?
⋅ 5 ⋅
Bees: “Ek hoor daar was drama in Paap se kantoor. Nuwe laaitie het uitgehaak.”
Dewald: “Ek hoor hy’t Delicious aan die keel gegryp. Ek donner daai psycho dood.”
“Micha lê in die siekekamer. Hy is uitgeput. Ek het hom met sy spesiale kombers toegegooi.”
Dylicia staan in die gang buite die kantoor. Sy luister onbeskaamd af. Die skool se kopdokter is nou by dok Papenfus. Sy hoor mevrou Celia Koen se effense lispel, wat al haar s’e laat fluit. Dylicia ken haar. Die gryskopvrou