Absoluut Einstein. Christien Neser
agter die saal.
Netnou het sy vir Dylicia gewys hoe Micha se spesiale kombers lyk. Dis ’n sware ding, die ene loodballetjies. Om een of ander rede kalmeer dit hom. “Dis die gevoel van diep druk,” het Koekoes verduidelik. “As hy ’n uitbarsting kry, moet hy styf vasgehou word. Jy kan selfs bo-op hom gaan lê. Dan bedaar hy baie gou.”
In jou drome, Koekoes. Wat is die kans? Dis nie dat sy uit vrye wil in die siekekamer saam met Micha is nie, dit was ’n opdrag van die Paap. Sy moes gewag het dat die kantoortannie vir haar skokdruppels kom ingee het voordat die adjunkhoof haar self huis toe sou neem. Want ja, Paap en Koekoes het besluit dat sy en Micha uitgeteken moes word. Hulle skooldag is verby nog voordat dit eens begin het.
Nou wag sy dat dok Papenfus klaarkry sodat hulle kan ry. Maar as sy so na die stemme in die kantoor luister, klink dit asof dit ’n lang staan in die gang gaan wees. Dat sy en Micha die onderwerp van die gesprek is, is duidelik. Koekoes se s’e fluit steeds wanneer sy hul name noem.
Nou ja, Dylicia gee ’n tree nader aan die deur, as ek beskinder word, wil ek dit eerstehands hoor.
“Gaan hierdie ding werk, Celia?”
Dylicia skuif nog ’n babatree nader aan die halfoop deur van Paap se kantoor. Sy stem klink bekommerd. “Ek het nie besef hy kan so gewelddadig raak nie. Hy kan iemand beseer. Erger, selfs. Genugtig. Hy het die arme meisiekind amper verwurg.”
“Hy is geniaal, Herman. Ek het nog nooit so ’n IK getoets nie. Mens kom dalk een keer in jou lewe ’n IK bo 150 teë.” Sy sug. “Maar hy moet leer sosialiseer voordat hy kan gaan studeer. Hy kan beurse by Cambridge of Oxord of Yale kry. Enige universiteit in die wêreld sal hom wil hê, maar net as hy sosiaal kan funksioneer. Dink net wat hy vir die skool se beeld kan beteken. Sy matriekuitslae gaan voorblaaie haal. Hy het reeds twee matriekvakke afgeskryf, albei met onderskeiding. Wiskunde en Rekenaarwetenskap.”
Dylicia se mond val oop. Wat? Wie skryf in graad nege al matriekvakke af?
Maar Koekoes is nie klaar nie. “Hy gaan saam met die matrieks vanjaar Mandaryns skryf, Herman. En hy het tussendeur, op sy eie, twee van die Japannese alfabetsisteme baasgeraak, kanji en hiragana. Weet jy hoe ongelooflik moeilik hulle is? Hy is een van daardie wonderkinders wat die wêreld kan verander.”
“Of hy kan agter tralies beland. Wat op die oomblik meer waarskynlik lyk.”
In haar verbeelding kan Dylicia hoor hoe Paap se vingers op die tafel trommel. “As jou oggend soos myne begin het, met die streke van ’n vandalis en die drama van ’n outis, dan smag jy na ’n paar trekke sterk twak. Waar’s my pyp?”
Dylicia glimlag. Sy kan ook sommer sien hoe hy die dooie pyp tussen sy tande vasbyt. Die skool is ’n rookvrye sone, maar dit keer Paap nie om aan sy dooie pyp soos aan ’n fopspeen te suig nie.
“Ek moes Dylicia eers voorberei het, Herman. Maar jy wou nie.”
“Ek was bang jy skrik haar af.”
“En ek het gesmeek dat sy hond vandag moet saamkom. Maar jy wou nie.”
“Genugtig, Celia. Ek wou nie dat die seun soos ’n spektakel hier opdaag nie. Hy moes ongemerk inskakel. ’n Hond sou almal net op loop gejaag het. Die graadneges is ’n wilde spul …”
“Die hond kon vanoggend se klein drama verhoed het. Sy is opgelei om Micha se uitbarstings te hanteer. Micha gryp sy hond vas wanneer hy sensories oorlaai word. En dis presies wat hier gebeur het. Die skrillende klok het hom oorweldig. Gracie, dis nou sy hond, sou begin blaf het om die klok se geraas te verdoof. En dan sou Micha kans gehad het om sy oorfone in sy ore te kry. Bach se musiek kalmeer hom.”
Haar stem raak smekend. “Ek vra jou mooi. Gee hom net ’n week of wat kans. Ek werk al sewe jaar met Micha. Ek weet waartoe hy in staat is.
“Hy is waarskynlik die naaste wat ons land sal kom aan ’n akademiese Nobelprys. ’n Jong Stephen Hawking, die nuwe Albert Einstein.”
Paap se stoel kraak. Hy staan op. “Nou reël dan dat die hond môre saamkom. Ons gee hom nog ’n week kans. Dis deksels sensitief terwyl sy ma juis môre ook hier inval.” Hy hoes ’n aaklige rokershoes.
Dylicia gril vir die slymerigheid wat sy tot in die gang op sy stembande kan hoor ratel. “En lig die meisiekind volledig in. Ek dag jy sê sy weet hoe om met gestremdes te werk?”
“Edward Nel is ’n kwadrupleeg, nie outisties nie. En ja, sy het ’n lieflike verhouding met Edward. Maar dis haar ma wat die versorging doen. Sy is beslis die beste kandidaat om Micha te help. Maar jy sal dit vir haar die moeite werd moet maak. ’n Beurs, dalk?”
“Die Esselenbeurs?” Dylicia hoor hom nader kom. “Jy weet seker dat Micha se broer destyds die beurs gewen het?”
“Natuurlik. Leonard is vandag ’n elektroniese ingenieur. Hy is pas terug van Amerika. Dis ’n beurs wat deure vir die ontvanger oopmaak.” Koekoes kug: “Die Mentoors het dit nie breed nie. Wat is die beurs op die oomblik werd?”
Wat?
Dylicia voel hoe die bloed agter haar oë klop. Dink hulle sy is te koop? Dink hulle sy het enigiemand se bedelbrood nodig? Ha! Hulle weet niks van haar en haar familie af nie. Die Mentoors is trotse mense. Hulle is planmakers.
Haar ma was bereid om ’n duisend kilometer ver te trek agter ’n goeie werk aan. En dis nie haar pa se skuld dat die fabriek op die dorp gesluit het nie. Dis hierdie land se simpel ekonomie. En die suikerbeheptes wat skielik nie meer konfyt en ingemaakte vrugte wil koop nie. Haar pa sit ook nie hande gevou in die son nie. Hy sorg vir hul huis en hul honde. Hy maak dakke en geute en grassnyers en enige stukkende ding op Ashton reg. Die Mentoors kom reg, dankie!
Sy trek haar skouers terug en stap by die kantoor in. “Dis nie nodig om my te probeer omkoop nie, doktor Papenfus.” Sy sien hoe die man se kop ruk, hoe Koekoes bloos. “Ek het klaar besluit.”
⋅ 6 ⋅
Bees: “Wat gaan aan met Delicious? Sy sit elke naweek by daai paralytic ou in die huis. Wil nie fliek nie, wil nie kuier nie. Ek is seker sy’t ’n ding oor hom.”
“Dankie, Delish! Dis presies waarvoor ek al heelweek lus is,” Edward Nel glimlag breed en knipoog. “Mmm. Delicious. Nes jy.”
“Nie jý ook nie. Die Vuilhonde is erg genoeg.” Dylicia hou ’n roomyshorinkie na Ed uit. Sy hou dit op presies die regte afstand sodat sy tong dit moeiteloos kan bykom.
Hy lek waarderend. “Jy lees my soos ’n boek.” Skielik skreef hy sy oë. “Maar vertel nou maar vir oom Ed die waarheid, toe? Wat maak jy so vroeg by die huis?”
Dylicia sug. Waar begin sy?
“Jy’s nie my oom nie. Kan nie wees nie, want ek is Pretzel en jy is seker iets soos Milky Bar. Dis nou as ons Micha se kleurkodes gebruik. Micha is die rede dat ek nou met jou kan sit en roomys eet. Hy’t soort van uitgehaak en my amper verwurg.” Sy draai haar kop sodat hy die rooi merke aan haar keel kan sien.
“Micha? Is hy een van die Vuilhonde?” Edward se wange begin gloei.
“Nee. Dis die nuwe ou. My projek, onthou?”
“Dylicia.” Haar ma staan skielik agter haar. “Hier is mense by die voordeur. Hulle soek jou.” Sy beduie met haar kop. “Sal ek vir Edward met sy roomys help, dan gaan praat jy met hulle?”
“Wie’s dit?”
“Die seun, Micha.” Felicia Mentoor se lippe is ’n dun strepie van afkeer. “En sy ma. En ’n hond.”
“Nee. Ek en Ed eet eers klaar.” Dylicia voel hoe haar keel dik raak. Sy het nie nou krag vir Micha en ’n sorrie ekskuus nie.
“Bring hulle in, Felicia. Ek wil die klein wetter graag sien. Hy kan so bly wees dat ek nie my vuiste kan gebruik nie.” Ed vat nog ’n lek roomys, maar ’n spiertjie spring in sy wang.
En toe staan hulle in die oop deur, Micha en