Absoluut Einstein. Christien Neser
Micha se ma praat sag agter haar. “Hy’s uiters sensitief vir reuke en smake en teksture. Daarom eet hy glad nie rosyne en neute nie. Ons werk al jare met ’n hele span terapeute hieraan. Dit gaan beter, maar ai.” Sy lag effens. “Toe hy jonger was, wou hy op seker dae net sekere kleure kos eet. Maandae was wit: brood en rys. Dinsdae groen, net komkommer en broccoli. Woensdae rooi, aarbeie en rou maalvleis. Jy kan dink wat ’n slagveld my kombuis was.
“Maar ons het darem al heelwat gevorder. Die dag wanneer hy ’n rosyntjie eet, kry die perde horings.”
“Perde kan nie horings kry nie,” sê Micha bot.
“Dis ’n idioom, my kind. Jy weet mos.” Sy ma sug en glimlag verskonend. “Metafore en idiome is Micha se doodsteek.”
“Wie wil my doodsteek?” Hy hou op eet. Sy kop draai vervaard deur toe. “Wie?”
“Niemand. Net nog ’n uitdrukking wat ons vanaand kan bespreek. Reg so?” Die vrou sit haar hand op Micha se skouer en dadelik ontspan hy.
Huh? Dylicia staar oopmond na Micha.
Sy sal haar woorde moet tel. Watse projek het sy aangevat? By al sy ander streke het hy nog fabelagtige fiemies ook. Whap-whap! Twee stewige houe met ’n houtlepel sou hom uitgesorteer het. Pleks hy saam met haar op Ashton grootgeword het. Fiemies is ’n luukse wat ’n honger kind nie kan bekostig nie.
“Wat doen jy die hele dag lank?” Micha hou nie op vrae vra nie. Hy het die roomys in twee yslike happe verorber.
“Ek sit in my stoel, Micha. Hier kom elke dag ’n fisio, een keer ’n week ’n sielkundige en twee keer ’n week gaan ek vir waterterapie. Dit vat nogal baie tyd.” Ed klik met die stilus wat aan sy regterhand vas is op ’n sleutelbord. Op ’n groot skerm teen die oorkantste muur verskyn ’n klomp wiskundige bewerkings. “En dan studeer ek. Sien jy? Wiskunde. Ek doen my Honneurs in Wiskunde aanlyn.”
“Laat ek sien! Ek wil sien wat jy doen.” Hy kyk stip na die skerm. “Dis maklik. Die waarde van X is -4 en Y is 3. Gee my nog een.”
“Jy vat ’n vet kans. Jy moet die probleem nog uitwerk.”
“Ek sal, ek sál!” Micha druk Ed se hand met die stilus weg en kletter weg op die sleutelbord. Die wiskundige formules, hakies, kwadrate en vierkantwortels flits oor die skerm. En dan die antwoord.
Ja, sowaar, X is gelyk aan -4 en Y is 3.
“Indrukwekkend.” Ed lag. “Kom, ek maak dit moeiliker. My volgende module is kalkulus. Wil jy probeer?”
Dylicia kyk hoe Ed se stilus die volgende bladsy met onverstaanbare syfers en simbole optower.
Micha is vasgenael. Sy oë blink, sy wange gloei, sy hande flap langs sy ore. En Ed lag uit sy maag toe Micha keer op keer die regte antwoorde uitgil. Hoe moeiliker die probleme raak, hoe rooier raak Micha se wange en hoe vinniger flap sy hande. Maar telkens is sy antwoord in die kol.
“Jy’s ’n flippen genius, my ou!” Ed skud sy kop ongelowig. “Wat gaan hulle jou in die skool leer?”
“Ek weet nie,” sê Micha. “Nog een, toe!”
Maar mevrou Steinman stap stil na Micha en sit sy oorfone vir hom op sy ore. “Dankie, Edward. Maar as hy nie nou kalmeer nie, gaan jy nie van hom ontslae raak nie. Ons moet ry. Ek het ’n klaskamer wat ek moet gaan regmaak.”
Micha beur weg. “Ek’s nie klaar nie!”
“Gracie!” Dylicia sien hoe Micha se ma haar vingers vir die hond klap. Die hond gaan druk tussen Ed se rystoel en Micha se onwillige lyf in. Sy stamp met haar kop teen sy bobeen.
Micha laat sy flappende hand sak en begin die hond se ore vryf. En dan, sonder enige verdere protes, staan hy op, neem die hond se leiband en waai vir Ed. “Dankie. Ek moet nou gaan.”
Toe hulle by die voordeur kom, sien Dylicia haar kunsportfolio waar sy dit vanoggend neergegooi het. Die knip het oopgebars en haar sketse lê oor die vloer gesaai.
“Jammer, tannie.” Sy buk en maak haar papiere bymekaar. “Ek wou nog vanoggend my prakties gaan ingee het…”
“Gee vir my. Ek sal dit vir juffrou Dommisse neem.” Micha se ma steek haar hand uit. “Ek is juis laat vir ’n afspraak met haar.” Sy neem die sketse en kyk met ’n skewe kop en ’n ligte frons daarna. “Goeie potloodtegniek. Maar jou perspektief kan verbeter.”
“Tannie weet baie van kuns af?”
Die vrou kyk vraend na Dylicia: “Dit klink asof jy nie weet nie?”
“Wat weet nie?”
“Ek neem van môre af in juffrou Dommisse se plek waar.”
“Huh?”
“Mens sê ekskuus, Dylicia. Het jou maniere op Ashton agtergebly?” Haar ma se stem. Netnou se dun lippie het intussen verdwyn. Dylicia kan sweer haar ma lyk broeis terwyl sy Micha dophou.
O-o. Dis die verpleegster in haar wat weer die oorhand kry. Dylicia kan net simpel glimlag.
Micha se ma die nuwe kunsjuffrou in Bridezilla se plek? Mevrou Steinman gaan beslis nie op ’n besem invlieg nie. Daarvoor huil sy gans te maklik. Maar pleks van ’n swart kat en ’n punthoed het sy ’n ander vreemde wese in haar kas.
Micha.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.