Rooiborslaksman. Marinda van Zyl
los die toom en nael wa toe. Bo gekom, probeer sy vir Andries wegstamp. “Hoekom maak jy vir Catharina seer?”
Andries omarm haar. “Dis nie ek nie. Dis Liewe Jesus wat vir oupa en jou ma kom haal het.”
“Opskud, Andries,” jaag oom Jan aan, “jy moet die osse gaan haal. Ek is haastig huis toe.”
Andries los dadelik vir Catharina en sy gryp na Liesbet om staande te bly. Die betekenis van Andries se woorde dring geleidelik tot Liesbet deur. Dit kan tog nie wees nie. Haar ma het niks makeer toe hulle by Gobabis weg is nie. Oom Jan wou seker net vir Catharina en Andries skrikmaak oor hulle stout was. Maar Ou Pappa was baie oud. Gaan sy hom ooit weer sien?
Toe Liesbet begin huil, troos Catharina tussen haar eie snikke deur: “Ons het darem nog mekaar.”
Die wa is te stadig vir Liesbet toe die osse vyf dae later die bult na Gobabis aanpak. Sy hardloop vooruit, verby die sendeling se huis en die kerk na hulle matjieshuiswerf onder die kameeldoringbome by die raadsaal. Knip haar oë ’n paar keer voor sy glo wat sy sien. Daar is geen matjieshuise meer nie. Iemand kom uit die raadsaal en roep haar naam. Die stem en die lyf is dié van Eduard, Andries se jongste broer, maar hierdie mens se gesig is vol lelike merke.
Liesbet vlug met die voetpaadjie af na die sendeling se tuin by die onderste fontein, waar Timo altyd aan die werskaf is. Ou Pappa het gesê Timo het groen vingers, maar dis nie waar nie. Syne is ook swart soos al die ander Bergdamaras s’n. Sy hou baie van Timo. Wanneer sy tuin toe gaan, kry sy groente of lekker soetdoringboomgom, maar ander mense gooi hy met klippe as hulle dit naby meneer Weber se tuin waag. By hom sal sy veilig wees. “Timo, help!” skree sy toe sy hom in die tuin gewaar.
Hy laat val sy graaf en hardloop haar tegemoet. “Liesbet, ek het geweet jy sal terugkom.” Sy spierwit tande steek af teen sy swart gesig, wat straal van blydskap maar weer versomber. “My hart huil oor die ou kaptein, jou ma en al die ander mense wat dood is.”
Liesbet wil nie glo wat sy hoor nie. Haar ma kan nie, mag nie, dood wees nie.
Timo kom vee die trane wat oor haar wange loop met sy hand af. “Hoekom hol jy of ’n wolf jou hakskene hap?”
Liesbet ril en kyk om of ’n wolf haar nie regtig agtervolg het nie. “Ek het geskrik vir die man met die lelike gesig.”
Timo skud sy kop afkeurend. “Dis seker kaptein Lambert Lambert se seun. Die paar mense wat gesond geword het van die pokkies lyk maar almal so. Maar binnekant is hulle nog dieselfde mens, sê my ma. Hulle harte word seer as mens hulle aangaap en lelike name noem.”
Timo se teregwysing laat die trane opnuut stroom.
Hy gryp haar aan die hand. “Kom, ek het vir jou iets gebêre.” Onder ’n hoop droë gras en blare haal hy ’n waatlemoen uit. “Nou kan jy lekker eet en nie meer so baie huil nie.”
Toe stemme angstig na Liesbet roep, draf Timo met die waatlemoen bultuit met Liesbet agterna. Eduard sit op die kerk se trappies. Timo sit die waatlemoen neer en hardloop terug tuin toe.
Liesbet is verplig om Eduard te roep om te help dra. Sê dankie sonder om na hom te kyk.
Andries kom aangestorm. “Waar loop jy rond? Jy gaan ’n pak slae kry.”
Liesbet koes agter Eduard in, wat paai: “Ons het ’n waatlemoen by Timo gaan bedel. Ons het almal ’n bietjie soetigheid nodig.”
Toe die twee broers mekaar handgee, hardloop Liesbet wa toe om troos te soek by Catharina waar sy alleen op die voorkis sit.
2
Mei 1864
Die kerktoring steek spierwit soos die pendoring van ’n kameeldoringboom die lug in. Dis al wat sigbaar is van Gobabis toe Frederik Vlermuis sy perd onder die soetdoringbome op die westelike wal van die Swart-Nossob intrek. Sy pa se heiligdom, dié kerk. Saam met ou kaptein Amraal het sy pa geswoeg om dit klaar te kry. Daarna gejubel as die sendeling ’n slag sy ry kry sodat hy as hoofouderling op die preekstoel kon klim om die diens te lei. ’n Sweetdruppel wat langs Frederik se neus afgly, laat hom sy kop ergerlik skud. En wat het Paul Vlermuis en Amraal Lambert nou oor van hulle heiligheid? Net mooi niks nie, want albei lê onder die kluite.
Frederik knyp sy oë toe teen die branderigheid wat in trane wil oorslaan. ’n Jaar gelede het hy sy pa afgeskryf en gesweer om nooit weer sy voete op Gobabis te sit nie. Hoe kon sy pa vir grootjie Piet in ’n kis uit die kerk laat begrawe? Dit was tog die ou man se uitdruklike wens om soos ’n Namakwa in die veld begrawe te word met die eerbewys wat ’n Namakwa-kaptein toekom.
In Windhoek het hy ’n goeie tuiste by Jan Jonker Afrikaner gevind. Maar toe kom die brief van Jonas. Pa moet huis toe kom. Oupa Paul is sleg siek. Amper almal hier is deur die pokkies platgetrek.
Terwyl hy nog gewik en weeg het, het ’n boodskapper die tweede brief gebring. Oupa Paul is dood. Kaptein Amraal ook. Sy familie is sleg getref. Net Andries en Eduard van oom Lambert Lambert leef nog. Toe het hy geweet die Vlermuise se dag het uiteindelik aangebreek en die wa gepak. Hy is te perd vooruit om sy gesag op Gobabis te vestig voor die sendeling snuf in die neus kry.
Die sonbesies skree oorverdowend op die middaguur. By die fontein oorkant die rivier spoel Frederik die sweet af wat al ’n kors onder die rand van sy hoed gevorm het. Die koel water verlig ook die branderigheid in sy oë. Rondom die fontein is die rietbos feitlik uitgeroei, so ook die doringbosse, om plek te maak vir ’n welige groentetuin. Daar is nou nie meer ’n skeidslyn tussen die sendeling en sy pa se tuine nie. Hy buk om ’n tamatie te pluk en stik aan die eerste hap toe iemand op hom skree.
“Voertsek, voertsek! Dis meneer Weber s’n!” ’n Jong Bergdamara kom klip in die hand aangehardloop.
“Voertsek jouself!” skree Frederik ná hy die tamatiepit uitgehoes het. “Ek is kaptein Frederik Vlermuis. Gobabis is mýne. Ek sal loop waar ek wil en eet wat ek wil.” Toe die seun die klip na hom slinger, hardloop Frederik na sy perd, wat nou ook lustig in die groentetuin wei, en pluk die geweer uit die skoen.
Die seun vlug skreeuend in die rigting van hulle stat teen die rant wes van die rivier. Frederik laat sak die geweer. Hy wil nie nou al aandag trek nie. Verrassing bly die beste aanvalswapen.
Hy lei sy perd met die uitgetrapte voetpad bultop, bly verbaas staan toe die verlatenheid van die eens bedrywige sendingstasie hom tref. In die area oos van die kerk is net drie waens en tien matjieshuise. Oral is swart kolle waar matjieshuise van gestorwenes met besittings en al verbrand is om die verspreiding van die pokkies te keer. Op sy pa se ou werf is ook net swart kolle oor.
Sou sy ma ook dood wees? Hoekom het Jonas dan niks van haar in sy brief gesê nie? Sy is die laaste mens wat sou verdien om só te sterf. Hy onthou haar pleitende oë, die sagte stem wanneer sy die vrede tussen sy pa en oupa Moses probeer bewaar het, en later jare tussen hom en sy pa. Hoe sy haar lyf gebruik het om hom te beskerm die kere wat sy pa nog gedink het hy kan hom hemel toe foeter. Woede teenoor sy pa wat altyd na die pype van die sendelinge gedans het, maak hom kortasem. Dit was moeilikheid soek om hier te kom saamkoek waar siektes al voorheen soos vlamme in wintergras versprei het.
Kaptein Amraal se werf is heeltemal verlate. Dit gee hom moed. Jonas se nuus was nie net bogstories nie. Sy glimlag verdwyn toe hy kaptein Amraal se wa by ’n kalkkliphuisie langs die raadsaal gewaar.
As hy ’n vyand was, sou hy die plek oor die middaguur sonder teenstand kon uitwis, want ook wes van die kerk is nêrens ’n mens of selfs ’n hond te bespeur nie. Al geluid wat in die warm lug vibreer, is die geraas van vinke in die doringbos by die fontein. Die sendeling en handelaar se huise versper toegang tot hierdie fontein. As kind was hy erg opstandig omdat hulle water moes aandra vanaf die derde fontein oos van die sendingstasie waar die veesuiping is, terwyl die sendeling twee fonteine vir homself toegeëien het.
Frederik maak sy perd onder ’n doringboom by die sendeling se huis vas voor hy aan die voordeur hamer. “Goeiedag, meneer Weber,” groet hy vriendelik toe die sendeling die deur oopruk, skynbaar oorgehaal om wie ook al sy middagslapie versteur het reguit hel toe te stuur. Frederik verlekker