Rooiborslaksman. Marinda van Zyl
agter hom laat toemaak. Hy knip-knip sy oë teen die skerp lig, terwyl hy sy deurmekaar hare met sy vingers kam.
Frederik bekyk die sendeling stilswyend. Sweet slaan reeds op die man se voorkop uit en binne ’n paar minute gaan sy bleek vel rooi gebrand wees. Maar dis sy verdiende loon, want hy nooi hulle mos nooit in sy huis in nie. “Ek het eer kom betoon aan my oorlede vader. Dit lyk my die pokkies het gemaai onder die Gobabissers.”
“Ja, my gemeente is byna uitgewis, maar ek moet my berus.” Meneer Weber klink aangedaan. “Dis te begrype dat die Vader die goeies vir sy hemelse woning wil vergader.”
“Is my familie …?”
“Net jou pa en ma. Die res is springlewendig aan die suip en dans op julle ou werf langs die rivier. Die duiwel sorg vir sy kinders.”
Die skoknuus van sy ma se dood en die sendeling se minagtende toon blaas die woede aan wat in Frederik sluimer. ’n Oomblik oorweeg hy dit om Weber aan die keel te gryp en hom te wurg tot hy sy krenkende woorde sluk. Maar die beeld van sy ma se sagte oë laat hom kalmeer. Hy grynslag toe hy antwoord: “Meneer praat mos nou die reine waarheid. Ek het nog nie gehoor van ’n sendeling of handelaar wat aan die pokkies dood is nie en dit klink of Meneer se familie ook nog perdfris en gesond is.”
Weber se wange vlam. “Wat soek jy hier, Frederik? Praat en kry klaar. Die son brand.”
“As Gobabis se nuwe kaptein het ek …”
“Vlermuis, ek is nie nou lus vir jou speletjies nie,” knip die sendeling hom kort. “Andries Lambert is die kaptein.”
Dis of Weber ’n beker koue water in Frederik se gesig smyt. “Wat?! Daai kortgatkuiken is nog nat agter die ore. Nie ’n dag ouer as my Jonas wat net twintig is nie. Die kaptein moet tog ’n hardebaard wees.”
“Een maal in my lewe stem ek met jou saam, Vlermuis. Ek het kaptein Amraal se ander kleinseun, Jan Lambert, gesteun. Hy is ten minste ’n volwasse en eerbare man, want hy het op kaptein Amraal se werf grootgeword ná sy pa se dood. Maar die kapteins van Berseba en Bethanië het besluit Andries is die wettige opvolger aangesien sy pa twee weke lank kaptein was. Ek moes maar berus, want julle Namakwas wil mos nooit na rede luister nie.”
“Ons is g’n Namakwas nie,” soek Frederik skoor om sy teleurstelling te verbloem. “Meneer sal nie een Oorlams hier kry wat nie in Namaland gebore is nie. Ons is die Kai/Khauasnamas.”
Weber laat hom nie uitlok om die woord te probeer uitspreek nie, buit eerder Frederik se neerlaag uit. “Waar kom jy aan die belaglike idee dat jy die kaptein kan word?”
“Vier-en-twintig jaar gelede was my grootjie, Piet Vlermuis, nog een van die sterkste kapteins in Groot-Namakwaland. Hier in Namaland het hy hom uit sy kapteinskap laat verneuk terwille van ’n rustige oudag saam met kaptein Amraal op Naosanabis. Ek was by toe oupa Moses op sy sterfbed vir kaptein Amraal beskuldig het dat hy ons kapteinskap gesteel het. Hy het dit nie ontken nie. Net na Oupa gestaar asof hy ’n spook gesien het. Nou vat ek ons kapteinskap terug met die steun van kaptein Jan Jonker Afrikaner. Waarsku vroegtydig vir Andries, anders bevuil hy dalk sy broek wanneer hy my sien.”
Weber beëindig die gesprek met ’n handbeweging asof hy ’n lastige brommer verwilder. “Ek is nie jou bode nie. Stuur vir Jonas. Hy’s mos nou die magistraat omdat hy die enigste een is wat ordentlik kan lees en skryf.”
Voor Frederik van die skoknuus van sy oudste se verraad kan herstel, klap die deur agter Weber toe. Die laaste woorde word deur die toe deur geskree: “Kry jou ry!”
“Ons sal sien wie kry eerste sy ry, Webertjie!” skree Frederik terug.
Toe daar skielik lewe by die matjieshuise is, bestyg hy sy perd en ry moedswillig deur die sendeling se blombedding voor hy koers vat na sy ou werf langs die rivier.
3
November 1864
Liesbet trek die velkombers oor haar kop om Catharina se skel stem uit te doof, net om dit weer af te gooi, want die hitte maak haar benoud. Sy hou niks van die kliphuisie waarin hulle nou bly nie. Met net die voorhuis en twee slaapkamers hoor ’n mens alles wat in die huis aangaan. Andries en Eduard het die huis gebou, want sy en Catharina weet nie hoe om matjies te vleg en matjieshuise op te slaan nie. Sy kan ook nie in die wa gaan slaap nie, want dit is nou Eduard se blyplek. Hy kom nooit in die huis nie, sit sommer teen die wawiel en eet. Sy suig verwoed aan haar duim om die knop in haar keel weg te kry. Catharina het sweerlik vergeet sy verjaar môre. Dan is sy elf. Ma Trien het altyd vir haar ’n nuwe rok vir haar verjaarsdag gemaak. Noudat haar rokke bolangs te klein raak, het sy rêrig ’n nuwe een nodig, maar Catharina doen nie meer naaldwerk nie. Te besig om oor alles te kla.
Die stemme word sagter en sy wil net insluimer toe Catharina skree: “Nooit as te nimmer! Liesbet bly net hier. Ek het my ma belowe ek sal na haar kyk. En hoe gaan ek sonder haar klaarkom? Sy’s my voete as ek nie vinnig oor die weg kan kom nie.”
Andries paai: “Sagter tog net, sy gaan wakker word. Hulle sal mos goed vir haar sorg. Dis vir ons almal se beswil.”
“Twak! Hulle soek net ’n kinderoppasser. Ek sal dit môre self vir hulle loop sê.”
“Asseblief tog nie, Catharina. Sonder meneer Weber se ondersteuning gaan oom Frederik die kapteinskap by my afvat.”
Liesbet druk haar ore toe. Sy het genoeg gehoor. Andries wil haar nie meer hier hê nie. Net môre gaan sy vir Timo vra om riete te sny sodat sy kan matjies vleg vir haar eie matjieshuis. Dan hoef sy nie meer in Andries se kliphuis te bly nie, maar kan nog altyd vir Catharina help. Tevrede met die plan om haar eie slaapplek te kry, raak sy duim in die mond aan die slaap.
Maar in die daglig is die plan nie so maklik uitvoerbaar nie. Liesbet gooi die riet moedeloos neer. Timo het vir haar ’n yslike bondel riete gebring, maar sy is moeg gesukkel om die eerste een in eweredige repe te skeur en haar vingers brand klaar soos vuur. Sy sal nooit genoeg hê om een matjie te vleg nie, wat nog te sê vir ’n hele matjieshuis.
Sy weet nie wat aangaan toe Timo die water in hardloop en tussen die riete platval nie.
“Kruip weg! Hy’t ’n roer,” roep hy benoud.
Dis oom Frederik wat fluitend naderkom. Liesbet sit roerloos en hoop hy sal haar nie gewaar nie.
“Wat maak jy hier so alleen by die fontein, Klein Liesbet?”
Hy lyk glad nie kwaai nie en Liesbet wys na die bondel riete. “Ek wil matjies vleg vir ’n matjieshuis, oom Frederik.” Sy onthou verskrik hoe hy op Andries geskree het hy is nie ’n oom nie, maar kaptein Vlermuis. “Skuus, ek bedoel, kaptein Vlermuis.”
Dit laat hom lag. “Jy’s ’n verstandige Lambert, Klein Liesbet, maar hoekom wil jy ’n matjieshuis hê as julle ’n lekker kliphuis het? My vrou kerm weer aanmekaar ek moet vir haar ’n kliphuis bou.” Hy hurk langs haar en tel die paar repies riet op. “Ek onthou nog hoe my oumagrootjie vir Oupagrootjie uitgetrap het oor hy op ’n plek kom bly het waar nie regte matjiesgoed groei nie en sy met die riete moes sukkel. Weet jy darem hoe om matjies te vleg?”
“So effentjies, ja. Tant Berta van oom Jan het vir my en Catharina bietjie touwys gemaak nog voor Andries die kliphuis gebou het, maar nou is ons kwaad vir haar oor sy sê my ma was ’n geitjie en sy het Catharina se been afgesny. Dis ’n liegstorie, want Catharina se been het mos afgeval toe die slang haar gepik het. Of hoe, Oom?”
“Ai, meisiekind, die waarheid lê anders op elkeen se tong. Weet jy wat kouevuur is?”
Liesbet kyk verbaas na hom. Hoe kan vuur koud wees? “Dis seker as die kole al koud is.”
“Dis ’n seerplek wat vrot en al groter en groter word. Niks maak dit gesond nie. Catharina se been het vrot geword van die pofadder se gif. Jou ma het maar net die dooie stuk been losgesny sodat dit kon afval, anders het Catharina doodgegaan. Jou ma was ’n baie dapper vrou wat nie met haar laat mors het nie. Dis sommer net ’n spul jaloerse vroumense wat haar ’n geitjie noem.”
Die eelte