Skepsel. Willem Anker
heuwel van grondbedekte ys, wat gevorm word deur die interaksie van ysgrond met ’n fontein.
Argeoloë en paleontoloë is ontbied om die Beendere, as dít is wat dit is, te begin uitgrawe. Die onderkant van die Beendere is in die twee maande sedert dit ontdek is nog nie bereik nie, maar die opgrawingsproses is tydsaam en uiters versigtig. Wat sover gesê kan word, is dat daar, indien dit wel beendere is van een of ander reusedier, behalwe die vorm, formasie en veral ouderdom van die Beendere, twee ander kommerwekkende aspekte is. Eerstens is die Beendere hoegenaamd nie vergeel, soos verwag kan word van beendere wat selfs enkele dekades begrawe was nie. Die Beendere is spierwit; ja, letterlik witter as sneeu. Tweedens kon die argeoloë geen tekens van verval oplet aan die Beendere nie. Dit is asof dit afkomstig is van ’n wese wat vanoggend gebore is.
As argeoloog wat met die oudste menslike artefakte gewerk het, is Howard ontbied om enige spore van menslike aktiwiteit na te speur. Sover kon ons niks wat menslik is naby die Beendere vind nie. Verder moet daar fout wees met die datering van die paleontoloë. Volgens wat die sonar as die onderste deel van die Beendere aandui, word bereken dat die Beendere dateer uit die Kryttydperk. Volgens alles wat ons weet, moes fossiele ál gewees het wat van sulke bene kon oorbly. Dit is onmoontlik dat die Beendere so bewaar kon gebly het.
Fossiele van plantetende dinosourusse is al op Svalbard gekry. Die argipel het eens meer gematigde temperature gehad omdat dit op ’n tektoniese plaat lê en met kontinentale drywing oor millennia noord gedryf het, sommige sê vanaf moontlik so ver suid soos die ewenaar. Satelliete merk op hoe Svalbard steeds noordoos dryf, ’n paar sentimeter per jaar. Dit alles verklaar die voorkoms van oorblyfsels van groot diere op die eiland, maar nie oorblyfsels van iets groter as vier blouwalvisse nie.
In ’n onlangse toets wat nog bevestig moet word, trek die fluisteringe deur die kamp, is bevind dat die chemiese samestelling van die Beendere onbekend is, maar definitief nie dié van beendere nie.
Ons was ’n span van ag-en-sestig wetenskaplikes, joernaliste en handearbeiders, wat ’n reusagtige en onmoontlike objek, of objekte, ondersoek; nou is ons sewe-en-sestig.
Hulle sê daar word nie ’n sneeumobiel of slee vermis nie, maar dit sê niks. Die wagte by die ingang sê hulle hou rekord van almal wat die kamp inkom of verlaat. Hulle sê dit is onwaarskynlik dat hy ongesiens by die hoofingang uitgegaan het.
Hier, ag-en-sewentig grade noorderbreedte, binne die poolsirkel, is dit koud. Hierdie Desember is dit dikwels minus twintig en kouer, maar met die wind voel dit na minus dertig of vyf-en-dertig. Die mense sê die temperatuur styg elke jaar met omtrent vier grade. Hulle sê ons Suid-Afrikaners is gelukkig die ding is nie verlede jaar uitgegrawe nie, toe was dit baie kouer. Snags in die opslaanbarakke, wanneer hy ingesluip het as almal anders slaap, het hy my styf vasgehou. Sy ligte hare het begin grys word en nou is hy weg.
“Ek is hier, is ek nie?” het hy gesê: “Net hier, aan die einde van die fokken wêreld, saam met jou.”
Dit was nege dae gelede. Aandete was rendiersop, brood en swartbessiesap. Hy hou nie van die bessiesap wat hulle elke paar dae vir ons voorsit nie. Ons het nie, soos gewoonlik, by mekaar gesit in die eetsaal nie. Ons was elkeen in gesprek met iemand anders: ek met Eric James, ’n paleontoloog van Missouri (ons het oor tennis gepraat) en hy met Mariana Ricci, ’n dokumentêre filmmaker vir BBC Earth. Ek kon nie hoor waaroor hulle praat nie, maar ek het ná sy verdwyning by haar gehoor dat die onderwerp van hulle gesprek David Lynch se Twin Peaks was.
Sy vriendskap met Ricci het my gepla. Sy is nog nie dertig nie en aantreklik. Ek was vriendelik met haar, maar ons het nooit werklik gepraat nie. Hy het ná elke snedige opmerking gesê ek moet ophou met my paranoia. Ek wou vir hom sê dis nie asof hy nie al gecheat het nie.
“Ek moet hier met meer as een mens kan praat,” het hy vir my gesê. “Anders gaan ek van my kop af raak. Ek is lief vir jou, maar ek kan nie heeldag net met jou en daardie monster gesels nie.”
Hy het nooit na die Beendere as beendere verwys nie, maar as die “monster”.
’n Paar dae later het ek weer begin karring.
“Ag, god,” het hy gesê. “Jy is te oud om jaloers te wees.”
En hy was reg, ek wás jaloers. Hoe meer ek bereid was om alles op te gee vir hom, hoe meer ek in my kop reeds begin het om my lewe saam met Peter stuk vir stuk te laat vaar, hoe jaloerser het ek geword.
Ek het geweet Howard het meer as ek om te verloor (hy het twee kinders), en ook daarop was ek jaloers. Hy sou altyd kon spog dat hy meer as ek prysgegee het vir die verhouding.
“Ek is hier, is ek nie?” het hy gesê: “Net hier, aan die einde van die fokken wêreld, saam met jou.”
Net hier, ver van Judith en die kinders en sy ander lewe, en ek, ver van Peter en my vorige lewe. Dit was net ek en hy en die groot, onmoontlike Beendere in die poolnag. Ons kon elke dag saam wees, saam werk en saam eet, soms skelm saam slaap. Elke dag ek en hy, elke dag donkerder as die vorige.
Die afgelope drie dae irriteer ek almal met vrae. Ek vra Mariana meer as een keer of hulle ooit oor enigiets anders as televisiereekse gepraat het. Ek vra die verpleegster of hy dalk by die kliniek was. Ek vra elke arbeider en wetenskaplike en hondehanteerder of hulle hom gesien het. Die soldate sê hy is seker net met ’n slee weg saam met vriende. (Van die personeel speel soms toeris om van die kamp se omheinde eentonigheid te ontsnap.)
“Ons weet ook nie waar ons spanmaats elke dag is nie,” sê ’n mede-argeoloog. “Mense loop maar rond. Baie ouens loop hou bietjie vakansie as hulle opgee om sin te probeer maak van hierdie spul. Baie van ons dink ons het klaar uitgevind wat ons kon.”
Ek kan vir niemand sê dat ons in ’n ernstige verhouding is nie, dat hy sê hy is op die punt om sy vrou en kinders te los vir my; dat ek sou weet as hy planne gehad het.
Mariana dring gisteraand daarop aan om vir my ’n bier te koop. Ek begin verstaan hoekom Howard van haar hou.
Ek kan nie vir hulle sê dat ons minnaars is nie. Hy is dalk Longyearbyen toe, sê hulle. Op soek na ’n mooi kroegmeisie, sê hulle.
Twee dae lank trek almal hulle skouers op, maar vanmiddag, op hierdie derde dag, het hulle begin luister. Ja, sê my kollegas en die soldate, dit ís vreemd. Ons moet begin soek. Ek kan vir niemand sê hoe bly ek is nie.
Ek bly kalm en sê: “Dankie, waar sal ons begin?”
My kollegas kyk in die rigting van die Beendere. Hulle kyk na my en sê niks.
KRAKEN 2
Jy, Sulla Čapek, die cyborg, staan op die boeg van die Kraken en kyk na die drone wat oor die Rooi See aangevlieg kom. Vyftig meter verder hurk jou kameraman, Gunnar Arnarson, agter ’n trapleer, VR headset op en remote in die hand. Die drone hang ’n paar meter voor jou in die lug. Dit raam jou tussen die staalwerk en hyskrane, die helipad en pyplyne, terwyl jy oor die see kyk met gerepeteerde melankolie.
In die onderhoude ná die troue sê jy jy soek nie na enige menslike eienskappe in die olietenkskip nie. Jy is lief vir jou olietenker omdat dit ’n olietenker is, nie omdat dit vir jou sóós ’n olietenker is nie. In die onderhoude sê jy dat net mense volgens die sosiale kontrak met mekaar mag trou. Dit gaan hier oor niemenslike regte. Dinge is ook persone. Persone is ook dinge.
“Kraken is ’n wese, soos elkeen van ons. Ek is vlees en bloed, Kraken is olie en staal. Baie mense raak verlief op objekte wanneer hulle hulle as lewend begin sien. Dit werk soms ook andersom. Wetenskaplikes word al hoe onsekerder oor wanneer iets as lewend gesien kan word.”
Soos jy, verander olietenkskepe ook gereeld van naam. Jou naam, sê jy, was nie altyd Sulla Čapek nie, en sal ook nie meer lank dit bly nie. Die VLCC Kraken se vorige eienaars het haar VLCC Pescecane gedoop. VLCC is die akroniem vir ’n spesifieke klas olietenkskip. Dit staan vir Very Large Crude Carrier. Heel in pas met die gemiddelde mates van ’n VLCC, is die Kraken 330 m lank, 56 m breed en 28 m hoog. Vanuit ’n meer verteerbare perspektief beteken dit jou eggenoot is drie sokkervelde lank, meer as ’n halwe veld wyd en ag en ’n half verdiepings hoog.
Om