Die versoeking van Thomas Maas. Chris Karsten

Die versoeking van Thomas Maas - Chris Karsten


Скачать книгу
ection>

      

      Human & Rousseau

      Vir Marinda en Karla

      She’s beautiful, and therefore to be woo’d;

      She is a woman, therefore to be won.

      – William Shakespeare: Suffolk in Henry VI, Part I

DEEL I

      KANTNOTA

      Die opdrag: My man se affair met daai bitch, kry die bewyse!

      Oukei, dis maklik.

      Só het sy, die nuwe private speurdertjie, kloek gereken. Fornikasie en kopulasie. In die sakkie voor brekfis – vir ’n eens befaamde moordspeurder, nou afloerder van ander se kattemaai.

      ’n Raps té kloek, blyk dit toe. Want dinge is selde soos dit lyk. Dit moes sy gewéét het, veral later met ’n kadawer in die water.

      Nou is haar ondersoek klaar. Nog net die verslag.

      Maar Ella voel ontstem. Haar vinger kan sy nie daarop lê nie, maar dit is of ’n dors ongeles is.

      Deur die Botaniese Tuin slenter sy op die slingerpaadjie terug kar toe, gedagtes talmend by vaneffe se gesprek. Konfrontasie, eintlik. En by die verslag waarmee sy al begin het. Die konfrontasie word nou deel van die verslag. Vername deel. Indien nie die heel belangrikste nie. Hang net af van die forensiese laboratorium se laaste uitslag van die weefselmonsters wat gestuur is ná die lykskouing op die slagoffer.

      Die res van die bewyse het sy reeds gekry.

      Haar man se vermeende affair was al ’n paar weke aan die gang voor Donna Maas haar eerste spesmaas gekry het. Maar is dit nie hoe dit altyd gebeur nie: die arme vrou wat heel laaste van so iets te hore kom?

      En namate die suspisie in haar posvat soos ’n wandelende nier, was Donna al hoe meer oortuig dat sy boonop weet op watter datum alles begin het: Sondagmiddag 18 Oktober. Só het sy Ella verseker. Met daardie vrolike gesinsuitstappie op hulle jongste dogter se tiende verjaardag.

      Vir bewyse van die affair moes Ella daarom terugloop tot daai spesifieke Sondag. En natuurlik lewer sulke ou spore probleme op, want owerspelers – nes reeksmoordenaars – is uitgeslape, laat min leidrade agter.

      Die chronologie van die affair. Dit is wat sy moes regkry. Die begin en verloop was deurslaggewend – datums, tye en plekke van gebeure en ontmoetings. Dit is mos wat ook in moordverhore aangebied, bevraagteken, beredeneer, betoog word. Wat dikwels die verskil beteken tussen skuld en onskuld, tussen reg en onreg, tussen vryheid en tronkstraf. Daarom het sy ook in hierdie private ondersoek ewe eksak die kleinste detail genoteer, hoe onbenullig dit ook al gelyk het.

      Nóg ’n ou gewoonte was om op ’n moordtoneel effe terug te staan vir ’n panoramiese perspektief. Om eers die geheel eerder as die besonderheid in te neem. Die vista help haar om moontlike scenario’s te verbeel oor wat daar kon gebeur het. In haar verslag aan Donna Maas wil sy op so ’n enkele scenario inzoem, op die feitelike essensie van haar man se affair, gestroop van bysake.

      Ella het min twyfel dat sy as moordspeurder nou al ’n beskuldigde sou gehad het, waarskynlik in boeie. En ’n waterdigte saak vir die hof, volledig met bewysstukke, getuieverklarings, selfs ’n bekentenis, sodat reg en geregtigheid kon geskied.

      Maar die gereg dien sy nie meer nie, sy dien haar kliënt, en vir Donna Maas kan sy net die waarheid aanbied. Nie eens die versekering dat daar geregtigheid sal wees nie, want dié is nou buite haar bestek; sy is net ’n PI, private eye, private investigator, sonder enige geregtelike gesag en status.

      Tussen blomme en struike en bome op pad na die hoofingang by die Emmarentiadam begin haar verslag in haar kop vorm aanneem. Nie ’n lang relaas nie. Donna stel in die konklusie belang, nie in die proses nie. Nie eens in ’n aanbeveling nie. Net ’n beoordeling van die feite. Met bewyse! Dié is baie belangrik: feite pleks van suspisies – aangeheg in die vorm van foto’s, tekste, e-posse, genoteerde gesprekke. Natuurlik ook ’n opsomming, in leketaal, van die staatspatoloog se wesenlike bevindings wat spruit uit sy regsgeneeskundige lykskouing.

      Maar daai enkele DNS-uitslag kort nog.

      Dokter Koster verwag dit binne dae van die lab. Dié uitslag is deurslaggewend, dis ’n kerndeel van die gevolgtrekking.

      Donna Maas se moontlike reaksie op die verslag pla Ella nie. As moordspeurder – en dus elke slagoffer se gelastigde, gewete en stem – kon sy simpatie voel en wys, en dit was háár plig om te sorg dat reg geskied. Nie meer nie. Nou fokus sy – ongeag die lewende of die dode – absoluut en onbevange op net een aspek: die waarheid.

      In die parkeerterrein klim sy in haar nuwe klein Suzuki – haar sieklike ou Golfie het oplaas ’n genadekoeël gekry – en wonder oor die gefladder wat haar onthullings gaan veroorsaak. Dalk sal ’n prosaïese afsluiting gepas wees:

      Met die oorhandiging van hierdie verslag is my ondersoek dus afgehandel. Ek hoop u vind dit in orde so en tot u tevredenheid. Vind aangeheg ook die faktuur vir uitstaande koste.

      Maar twyfel dan. Miskien nóg ’n opmerking, as naskrif? Sou haar kliënt daaroor wonder:

      LET WEL: Oor die moontlikheid dat speurders kan besluit om ’n moorddossier te open, kan en wil ek my nie uitlaat nie.

      CHRONOLOGIE VAN DIE ONDERSOEK

      Donna se weergawe

      1ste ontmoeting met Amalia Rojas | Sondag 18 Oktober

      Selfs Oupa ry saam. En Antonie, rolstoel en al. Nie Patty nie, sy is by ’n repetisie, vir die gesin se volgende uitstappie: die Finzikonsert vir klarinet en klavier, met Patty op die klarinet.

      Vandag s’n is om die jongste Masie se verjaardag te gaan vier. Aan Florie se slaapkamermure is nie plakkate van akteurs en popsangers nie. Haar neus het sproete, haar hare is die kleur van strooi en pal in ’n ponie, en naskools boer sy in T-hemde, jeans en tekkies. Teen háár mure pryk perde.

      Hulle laatlammetjie.

      Hulle is so trots wanneer sy en Thomas oor hulle kinders praat. Donna het selfs ’n slag gesê sy voel asof hulle as ouers spesiale seëninge ontvang het, asof ’n engel se vinger elke verwekking aangeraak het. Vir drie mooi, talentvolle spruite, wat eendag, so glo Donna, voetspore gaan trap wat deur ander opgemerk sal word, spore wat nie in sand toegewaai sal word nie.

      Patty met die talente vir musiek. Florie se sagte hart vir diere, spesifiek perde. Antonie die petrolkop – dirt bikes was sy ding. Tot sy ongeluk twee jaar terug. Dít het alles verander. In dieselfde jaar het hulle Donna se ma begrawe. Ook toe die begin, so blyk dit nou, van haar pa se slepende siekte.

      Nóg sy nóg Thomas is ’n perdemens, jaagduiwel of besonder musikaal – sy kan “Let It Be” en “Sweet Home Alabama” op die klawers uittokkel, hy “Hound Dog” en “La Bamba” op ’n kitaar se snare tjingel. Waar hulle kinders se liefde vir musiek, kragfietse en perde vandaan kom, slaan hulle dronk. Donna het eenkeer gelag en vir Thomas gesê: “Jý’s die sielkundige, jy behoort mos sulke goed te weet!”

      Patty het ’n Buffet Crampon-klarinet gekry, Antonie ’n Honda CRF250X. Vandag is dit Florie se beurt. Ook sý, het Donna en Thomas gereken, verdien iets spesiaals, veral op haar tiende verjaardag, groot genoeg vir ’n perd se rug. En kry sy haar sit en hou van die rug, goed, dan is perdrylesse háár geskenk. Dalk later selfs haar eie perd.

      Maar natuurlik kom Antonie se ongeluk toe ter sprake.

      “Daardie Superman,” sê Donna die aand in die bed toe hulle oor die perdrylesse praat. “Onthou jy, die Superman wat destyds van sy perd afgeval het? Wat verlam is? Ek dink hy’s intussen dood.”

      “Dit was ’n fratsongeluk, Donna.”

      “Hy was ’n ervare ruiter.”

      “Sulke goed gebeur,” sê Thomas. “Ongelukke gebeur.”

      “Soos met hom, en soos met Antonie.”


Скачать книгу