Die versoeking van Thomas Maas. Chris Karsten
Sy maak plek vir die kos wat die kelner bring, en begin gesels. En dit vat nie lank voor sy by perde draai nie. Sy vertel van mestizos en gauchos, en entoesiasties van die baguales wat die conquistadores in die sestiende eeu uit Spanje in Argentinië losgelaat het en wat vir eeue daarna wild oor die Pampas van die Rio de la Plata aangeteel en rondgeswerf het en waarvan sy nou getemdes in haar perdetroppe het. Van die slim en tawwe criollos, veertien hande hoog, en die sterk en ratse poloponies met die kort bene en sterk gewrigte, en van die klein, unieke falabellas en bergmannponies.
En oor nagereg vra sy hom oor Antonie se ongeluk, so meelewend dat hy wonder: Het ek en hierdie mooi, intelligente vrou oor ’n enkele ete tog wel van kennisse tot vriende gevorder?
Dan, ná die nagereg, is albei meteens stil. Hy kyk na haar en sê, gemoedelik en effe aangetas deur haar en die wyn: “Kat jou tong gevang?”
Sy bestudeer hom eers en vra: “Gaan dit word?”
“Gaan wat word?”
“Gaan dit sonde word?”
“Jy bedoel ons ete?” vra hy.
“Ja,” sê sy, die tone terug, strelend op en af teen sy skeen. “Gaan ons etiese kodes en gebooie oortree – as ek jou koffie op my balkon aanbied?”
“H’mm, waar’s jou balkon?”
Sy draai skuins en wink die kelner nader. “Rekening, asseblief. En ’n Uber.”
“Nee,” sê hy, “ek dink ook nie dis ’n sonde om saam koffie te drink nie.”
“Maar dit kan een word.” Sy lag. “O, ons leef in gevaarlike tye, hoe opwindend!”
Hy lag saam vir haar spottery. En dink hy het dalk regtig ’n glasie of wat te veel in. Want is haar balkon so ’n goeie idee? Maar hy dink ook: balkon, bome, restaurante. Waarom nié? Watse verskil maak ’n onskuldige koppie koffie nou eintlik, ongeag wáár jy dit drink? Buitendien, dit bied ’n gulde kans, want so ’n unieke en intieme blik op ’n pasiënt se private huislike lewe kan hom tog net help in sy professionele beoordeling van haar en haar omstandighede. En is dit nie waarom alles gaan nie, om haar beter te leer verstaan ter wille van haar eie toekomstige geluk?
Solank hy betyds terug is om vir Donna nag te sê.
Toe hulle by die voordeur uitstap, haak sy by hom in.
“Het ek al gesê hoe lekker jy ruik?” sê hy.
“Dankie,” fluister sy, vee haar lippe ligkens oor sy wang, en leun haar kop teen sy skouer terwyl hulle op die Uber wag.
Sy maak die glasdeure na die balkon oop en die ruising spoel na binne. Selfs in die donkerte kan hy hom die weidse uitsig oor die see hier in Bantrybaai voorstel.
Sy kom terug en gaan staan agter hom, haar arms om sy middel. “Mooi, nè?” sê sy, haar bolyf styf teen sy rug, sodat ’n warm gloed van haar af deur hom versprei tot elke senupunt begin tintel.
“Uh, die penthouse, is dit joune, of is dit julle s’n?”
“Myne.” Hy voel hoe ’n hand ’n knoop loswoel en by sy hemp inglip, die vingers oor sy maag. “Daar by die ryskool,” fluister sy agter teen sy skouer. “Die eerste keer toe ons mekaar gesien het, onthou jy?”
“Ek onthou.”
“Jy’t dit ook gevoel, nè? Met daardie eerste oogopslag?”
So, dit was tog nie eensydig net van sy kant nie. “Amalia …”
“En daarna, saam met jou onder die bome.”
Die hand onder sy hemp kruip op na sy bors, die naels kriewel stadig oor sy vel. En in sy kop waarsku ’n stem: Wat de hel doen jy, Thomas Maas? Wat dink jy? Wat soek jy hier by hierdie vrou?
“Uh, die koffie.” Hy draai om sodat sy haar hand traag by sy hemp moet uittrek. Hy vra: “Kan ek gaan help?”
Maar sy sit haar arms om sy nek en sê: “Nou al, dis nog vroeg?” En druk haar teen hom vas en smoor sy protestering met haar lippe op syne.
Vat haar mond weg, lek oor haar lippe. “Jy wou sê?”
“Amalia … Ek weet nie of dit –”
En weer smoor sy hom, langer, meer intens.
Haar asem jaend toe sy fluister: “Ons is twee volwasse mense, ons voel aangetrokke tot mekaar, daarom soen ons, want dis ’n natuurlike uitdrukking van ons gevoelens. Gee jou hand.” En sy soek sy hand, kry dit, druk sy palm teen haar bors vas. “Kan jy dit voel, die geklop van my hart?”
“Ek voel dit.”
“Maar jy moet met jou kop ook voel, Tomás, nie net met jou hand nie. Want dis belangrik dat jy nie net my hart se klop voel nie, maar dit ervaar.” Sy vat sy hand van haar bors weg. “Kom, ek leer jou hoe,” sê sy en lei hom terug in die skemering van haar penthouse in.
In haar slaapkamer is net ’n dowwe naglig aan.
Sy draai om dat hy haar rits kan bykom. Lê haar kop met ’n sagte snak agteroor teen sy bors toe die rok om haar voete val en haar borste in sy palms lê en sy mond in haar nek, die geur van haar naakte vel in sy neus.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.