.
vra Donna.
“Dêm Lizzie,” brom Rolf.
“Wat van –”
Hy keer met sy hande. “Goed, goed, wat daarvan? Julle moet ou Wollie sien. Praat van vergeetagtig. Hy moet partykeer eers mooi dink oor die perd se oorhoekse skuif, maar wen steeds. Los my, ek sal julle betyds waarsku wanneer die plaak en knope erger word en Herr Alz aan my voordeur kom klop.”
Donna ken haar pa. As hy só is, gaan hulle vanaand geen verdere openbarings uit hom kry nie. Breek hulle verniet hulle koppe? Is dit tog maar net ’n geval van verstrooidheid te wyte aan ouderdom? Of is haar pa in ontkenning van sy werklike toestand? Hy is bereid om te erken dat hy soms vergeetagtig is, maar reken dit is bloot te wyte aan bietjie aanpaksel op sy ganglia, wat hy met spesiale omega-3-konkoksies uit Chihuahua of Tijuana sal opklaar. Soos vlos vir tandeplaak.
“Pa, Thomas gaan volgende week vir ’n paar dae Kaap toe, vir ’n konferensie. Sal Pa omgee om by ons te kom bly tot hy terug is? Om my te kom help met die kinders, en studies, en so aan?”
Hy oorweeg dit, vroetelend aan die trouring. “Weer in Florie se kamer?”
“Sy slaap mos in elk geval by my wanneer haar pa nie daar is nie,” sê Donna.
“Antonie is juis weer erg mismoedig,” sê Thomas. “As Pa en hy –”
“Ja, goed,” sê Rolf, begluur Thomas sydelings asof hý die oorsaak van alles is, van sy verstrooidheid, van Antonie se melancholie, van haar angstigheid, sommer ook die ellendige toestand waarin die hele land verkeer.
In die kar terug huis toe vra Donna: “Wat dink jy? Oor Pa?”
“Ek dink hy’s in denial. Hy gebruik al ses maande daardie medikasie. Hoe lank voor die tyd het hy al begin agterkom dat iets met hom skort? Jy hol nie dokter toe net omdat jy vergeet het om jogurt in jou trollie te sit nie. Hoeveel keer het hy dalk al vergeet waar hy sy kar geparkeer het? Of waar sy sleutels is?”
“As hy in denial is, hoekom daardie boek oor Iris Murdoch daar langs sy stoel? Het jy dit gesien? Daar was mos ’n fliek ook oor haar, met Judi Dench. Sy’t alzheimersiekte gehad.”
“As jou geheue met die ouderdom nie meer so goed is nie, begin jy spoke sien. Dis te verstane, dis menslik, jy dink aan die ergste. As jy ’n liggaamlike pyn het, dink jy aan kanker, as jou verstand nie altyd meer so helder is nie, dink jy aan demensie, aan iets wat besig is om jou gees te sloop, en uiteindelik ook jou liggaam. Ek dink jou pa het gedoen wat mens van hom sou verwag het: met die eerste tekens het hy nie gesit en tob en wag nie, maar besluit om proaktief op te tree en die ding te beveg.”
“Die ding?”
“Wat dit ook al is … ouderdom, verstrooiing, demensie, alzheimers.” Sy oë op die pad, op die ligte van ander karre, haar hand soekend tot sy syne vind. “Donna, selfs al is dit die ergste, daar lê nog jare van ’n goeie lewe vir hom voor. Daardie sluwe ding, dit bekruip jou stadig, neem jou lewe geleidelik oor, nie skielik soos ’n terminale siekte nie.”
“Ja, ek het ook vanoggend bietjie op die internet gaan lees. Dis hoekom ek jou gevra het om vanaand saam te kom.”
“Moenie jy ook nou begin wroeg nie.”
Sy voel hoe hy haar hand ’n druk gee en sy leun na hom oor. “Dankie dat jy gekom het. Ek weet mos jy’s my krag. Óns krag. Sonder jou …” En sy los sy hand en soek vir ’n tissue. “Sorry, ek’s sommer net emosioneel. Ma, Antonie, nou Pa. Solank jý net daar is.”
“Ek ís daar. En hier!”
KANTNOTA
Met die skryf van die verslag aan Donna Maas onthou Ella hoe sy ’n slag tydens die ondersoek gewonder het oor hoe Thomas Maas se kop nou eintlik werk. Hy, wie se vak en beroep dit is om te verstaan hoe ánder mense se koppe werk, om ánder se emosionele toestand en geestelike ewewig te peil. Want in sý kop moet iets geskuif het. Sy vyandigheid het begin plek maak vir ’n soort inskiklikheid, amper bereidwilligheid om inligting aan te bied.
Maar namate haar ondersoek gevorder het, hoe meer skepties het sy geword oor die kamtige simpatieke luisteraar en sagte prater van daai eerste ontmoeting in sy kantoor. Dit het haar gepla dat haar aanvoeling haar só in die steek kon laat. Gewoonlik kan sy iemand met ’n oogopslag reg opsom. Daarom het sy regtig hard gaan sit en dink oor Thomas Maas en sy gladde bek, haarself gedwing om met al haar vrae oor hom in haar laaste gedagtes aan die slaap te raak.
Toe kry sy ’n antwoord. Wel nie ’n plotse openbaring met ’n dramatiese afval van oogskille nie. Bloot die slotsom: Thomas Maas is ’n slim man met baie geleerdheid en mensekennis en soos sy hom probeer peil het, het hy háár gelyke tyd getakseer, geweeg en lig bevind, en besluit hy gaan haar manipuleer en misbruik – om sy eie agterent te probeer red!
Eenvoudig, sinies, en slu. Gebruik sy vrou se PI om sy eie onskuld te bewys. Word die lydende party, betoog hoe daai listige flirt hom in die soetheid van haar heuningkoek probeer verstrik het. Maar uiters belangrik: die sogenaamde spontane en eerlike inligting wat hy aan daai dun PI uitlap, dit moet fyn gesif, geselekteerd, genuanseerd wees.
Thomas se weergawe
La Pampa | Vrydag 6 November
Laat Vrydagmiddag, tydens Amalia Rojas Daneel se tweede konsultasie, vra sy: “So, meneer Maas, wat wil jy alles van my weet?” Op haar gemak, seker van haarself.
“Eers vir die rekord,” sê hy. “Jy sê jou man kom volgende week terug uit Argentinië. Via Londen. Kom hy dan saam, vir ’n egpaarkonsultasie?”
“Néé, hy kom nie saam nie. Ek dink ek het reeds so gesê.”
“Ek maak net seker of julle nie intussen anders besluit het nie. Weet hy van jou planne?”
“Om hom te los? Nee, ons moet dit nog bespreek. En dis nie iets wat vinnig gaan gebeur nie, ons huwelik is erg kompleks. Dis mos ’n soort saketransaksie, het ek gesê. Dit gaan lank vat om alles ontknoop te kry.”
Hulle sit weer in die sitkamerdeel, sy op die bank waar hy die vorige keer haar mooi kuite bewonder het. Vandag het sy jeans aan. Hulle oë ontmoet en dit voel vir hom of hulle mekaar in ’n oomblik van digte stilte opweeg, asof elkeen moet besluit hoeveel die ander een te vertrou is, hoeveel waarde hulle aan mekaar se woorde kan heg. Dit is anders as die Woensdae en Sondae daar onder die bome wanneer Florie perdry. Daar is hulle losser, gemakliker in mekaar se geselskap. Die vier mure van die kantoor bring iets formeels aan hulle omgang.
“Vertel my meer van jou agtergrond,” sê hy.
“Ek het mos al van my lewe in Argentinië vertel.”
“Ja, maar dis sosiale geselsies. In die konsultasie soek ek bietjie meer besonderhede, spesifieke detail.”
“Wat van die opnemer?”
“Ook jou keuse. Ek het jou gesê hoekom ek dit graag gebruik.”
“Oukei.”
Hy is verras. “Is jy seker?”
“Ja, en luister weer mooi, daar moenie misverstande wees nie.”
Hy skakel dit met die afstandbeheerder aan, sy knipbord en haar lêer op sy skoot. “Goed, kom ons begin.”
“So, jy wil alles van mý weet,” sê sy. “Maar ek weet niks van jou nie.”
“Ek’s nie die pasiënt nie.”
“Ons praat tog van wedersydse vertroue, Tomás. Hoe kan ek jou vertrou as ek niks van jou weet nie?”
“Wat wil jy weet?”
Haar armbande klingel sag toe sy swart hare wegdruk. Sy kom orent en gaan staan weer by die venster skuins agter hom. Hy wonder of sy dit aspris doen om sy gemaklike liggaamshouding te versteur, hom uit sy gemaksone te dwing, sodat hy telkens half moet omdraai om haar te sien en met haar te praat.
Met haar arms voor haar bors