Die versoeking van Thomas Maas. Chris Karsten

Die versoeking van Thomas Maas - Chris Karsten


Скачать книгу
kolonel Sauls haar aangewys het as die ondersoekbeampte in die geval van vier voete wat in ’n Checkerssak in die Johannesburgse Botaniese Tuin gekry is. Toe snuffel sy die spoor uit van ene Atticus Kieser, ofte wel Stink Attie, ’n patetiese gewoontedief wat op parool uit was en inligting oor die sak met voete gehad het. Sy en Stallie het ontwykende Stink Attie by sy sus Breggie se huis in Albertskroon gaan voorlê.

      Op die vyfde agtereenvolgende aand straataf van Breggie se huis het sy Stallie in die donker kar gepols. “Wat’s fout met my, hè, Stallie?”

      “Oor wat? Oor jy bang is? Of oor jy nie ’n lover kan kry nie?”

      En net daar, met daai enkele sin, het hy twee dinge in haar diepste gemoed raakgevat wat nie eens die traumaberader so sekuur kon diagnoseer nie. Eerstens haar gebrek aan selfvertroue nadat sy net-net van daai reeksmoordenaar Abel Lotz ontkom het. Die ander punt waarop Stallie dadelik sy vinger kon lê, was die toestand van haar hart nadat Bam en Milo, die twee groot liefdes in haar jong lewe, so kort namekaar gewelddadig gesterf het.

      “Ek soek nie ’n lover nie,” het sy vir Stallie in die piknag gesê. “Nee, net die geselskap van ’n goeie man.” En vinnig bygevoeg: “Ek meen, jy’s ’n goeie man, rêrig, maar jy’s nie die soort wat kortasem raak oor ’n rok nie.”

      “Jy dra nie rokke nie,” het hy opgemerk.

      “Ek het probeer.”

      “Vir omtrent ’n dag lank, ja.”

      “Stallie! Rok is nie die punt nie. Die punt is onder die rok.”

      “So, jy soek ’n lover. Dis mos wat ek sê.”

      Toe wou sy weet: “Dink jy mans sien my nie raak nie? Dit voel of hulle oor my kyk, of deur my. Is ek so seksloos?”

      “Kopskuif, dis wat jy nodig het, Ellatjie. As jy nie self dink jy’s sexy nie, gaan niemand anders so dink nie. Gaan koop iets skandaligs, ’n regte dekadente onderdingetjie. Paradeer daarmee voor die spieël en verbeel jou dis Bam wat na jou kyk, of Milo.”

      En dit is presies wat sy gemaak het: ’n kopskuif. En toe stap Lou Pepler by haar lewe in!

      Donna se weergawe

      Klarinetkonsert | Woensdagaand 4 November

      Die aand op pad konsert toe sê Antonie: “Ek dink ek’s reg vir krukke!”

      Sommer so. Donna kyk om. “Krukke? Is jy nie bietjie haastig nie, sweetie?”

      “Ek’s reg, Mams!”

      “Sê Mandla so?”

      “Nee, ék sê so. Maar Mandla stem saam, hy’s baie happy met die gait training.”

      “Goed, as julle so dink. Maar ons sal natuurlik eers met dokter moet gaan praat, hy’t die finale sê.”

      “Ek’s ook happy met die gait training,” sê hy hardkoppig.

      “Dis reg, my liewe kind. En ons is almal bly vir jou onthalwe, ons wil ook sien dat jy eendag sonder die rolstoel klaarkom.”

      “Nie eendag nie, Mams!”

      Thomas besluit blykbaar dit is tyd om in te gryp. “Antonie, ek sal dokter Smith bel en vir hom sê ons dink jou rehabilitasie vorder goed en dat jou fisioterapeut baie in sy skik is. Ons kan egter niks doen sonder jou dokter se goedkeuring nie. Hy sal sekerlik ’n verslag van Mandla aanvra en sal jou dan weer wil ondersoek om te kyk hoe jou spiere op die fisio reageer. Ek weet hy’t gesê die kanse is goed dat jy eendag dalk met krukke oor die weg sal kom. Maar ons moenie oorhaastig wees en daardie kanse beduiwel nie. Stem jy saam?”

      “Ja, Pa.”

      “Wees geduldig, hierdie is ’n marathon wat ons reg moet aanpak.”

      Donna het baie begrip vir Antonie se ongeduld. Dit is vir die seun bitter swaar om so van almal afhanklik te wees. Sy en Thomas praat dikwels daaroor. Rehabilitasie help jou om soveel as moontlik self te doen, om minder op ander aangewese te wees, maar Antonie sal nooit weer soos tevore volkome selfstandig kan wees nie.

      Thomas sê: “Antonie, natuurlik verstaan ons jou frustrasies en jou behoefte om weer vry te wees van jou rolstoel en gebrek. Dit breek ook my hart en jou ma se hart om jou so te sien. Ook jou susters s’n, jou oupa … jou hele familie.”

      En Donna sê: “Dis ’n verskriklike ding wat gebeur het en ons almal dink elke oomblik aan jou en voel saam met jou.”

      Weer Thomas: “Al wat ons van jou vra, is dat jy aan twee vrae dink wanneer jy haastig begin word, of gefrustreerd is omdat jy so op ander se hulp moet staatmaak.”

      “Is dit hoe Pa met Pa se pasiënte ook praat? Natuurlik verstaan ek jou frustrasies … Hoe kan Pa my frustrasies verstaan as Pa nooit self in ’n rolstoel was nie? Hoe kan enige able-bodied mens so iets verstaan?”

      “Antonie, luister eers wat ek wil sê. Ek weet niemand kan hom in jou situasie indink nie. Ek probeer nie voorgee dat ek hoegenaamd weet hoe jy voel nie. Ek probeer net help dat jy al die kante mooi beskou voor jy te haastig word om jouself van ander se hulp te probeer losmaak. Jy wil onafhanklik wees. Maar dink mooi – voor jou ongeluk, was jy nie toe ook van ander afhanklik nie? Van my wat sakgeld moes gee vir jou fiets se brandstof, van werktuigkundiges wat die fiets moes herstel en fine-tune, van Ma wat jou en die fiets motocross toe moes rondkarwei, van Oupa en jou susters wat jou gaan ondersteun en water en kos aangedra het? Geen mens is ooit vry van ander se ondersteuning nie.”

      En Donna voeg by: “Selfstandigheid het ná jou ongeluk net ’n ander betekenis gekry, sweetie. Dit beteken jy moet selfstandig genoeg wees om beheer te neem van jou nuwe lewe met sy gebreke en al. Jy moet selfstandige besluite neem oor jouself, oor jou versorging, oor jou rehabilitasieproses, oor jou verhouding met ander mense, veral oor jou familie wat soveel vir jou omgee.”

      “Mams is reg,” sê Thomas. “Ek weet, ek sien dit elke dag in my werk, dat mense geneig is om te dink hulle is ’n las vir ander, veral vir dié wat hulle probeer help, wat die fisieke take vir jou doen wat jy vroeër self kon gedoen het. Maar jy’t intussen geleer om self in en uit jou stoel te kom, dit self op die Kombi se dak te sit. Jy’t geleer om dinge in jou rolstoel te doen wat ander nie kan doen nie.”

      “Ja,” sê Donna, “watter gestremde kan by jou in ’n swembad kers vashou? Die ding is, moenie sit en opkrop nie. Oopheid was nog altyd belangrik in ons huis. Moenie in ’n hoekie gaan sit nie. Praat met ons, met my of Pa of Oupa, praat met jou susters. Moenie ons wegstoot omdat ons jou wil help nie, moenie sê jy soek nie ons bejammering nie. Ons is lief vir jou, en omdat ons lief is vir jou, wil ons jou help sodat jy weer meer beheer van jou eie lewe kan oorneem. En jy hoef nie met krukke te loop om in beheer te wees nie. Krukke het niks met selfstandigheid te doen nie.”

      Tot in Braamfontein is almal stil. Dan sê Florie: “Antonie … ék weet!”

      Thomas loer in die spieël, maar die binnekant is donker.

      Rolf praat die eerste keer. “Hier kom dit, Antonie, maak jou reg.”

      “Wat weet jy, Florie?” vra Antonie.

      “Jy kan saam met my gaan perdry!”

      Antonie druk ’n laggie uit. “Dankie, Florie, ek sal graag wou, maar ek sal van die perd afval. Hoe kan ek vasknyp as my spiere nie wil saamwerk nie?”

      “O,” sê sy. En ná ’n sekonde of drie: “Hulle kan jou op die perd se saal vasmaak.”

      “Dankie, Florie, maar ek dink nie dit gaan werk nie. Ek bly eerder op die grond.”

      “Jy kan by my kom bly, Antonie,” sê Rolf. “Ek sal jou leer van gait training. Dit het alles met die fisika te doen. Om te stap is ’n totaal abnormale ding vir ’n tweebenige. Stap is ’n onnatuurlike en ongebalanseerde beweging. Al wat gebeur is, jy skuif bloot een voet voor die ander om jou balans te herwin. Om regop en doodstil te staan, dis die volmaakste balans waarin ’n mens homself kan bevind. Enige afwyking daarvan is ’n versteuring van die


Скачать книгу