Die versoeking van Thomas Maas. Chris Karsten
afkerig van vroue word, selfs ’n aversie ontwikkel juis omdat hulle oënskynlik so buite sy seksuele bereik is. Omdat hy die persepsie het dat hulle ’n weersin in hom as patetiese parapleeg het, dat hulle hom sien as net ’n halwe man wat bejammer moet word, dat hulle hom dwing om tevrede te wees met foto’s op ’n rekenaarskerm. Dit het ook alles die potensiaal vir ongesonde gedrag.
“Antonie, jy sal met my praat as iets jou pla, nè? Jy moenie hier in jou kamer sit en opkrop nie.”
“As iets my pla? Ja, Ma, daar ís iets wat my pla. Dit pla my baie, dit maak my mal.”
“Wat’s dit? Praat met my.”
Hy swaai om, terug na sy rekenaar, druk op ’n toets, op die skerm verskyn ’n webbladsy met diagramme. Donna leun nader, haar oë op die opskrif en subhofies:
UAB Spinal Cord Injury (SCI) Model System
Understanding SCI: Part 1 – The Body Before and After Injury
Understanding SCI: Part 2 – Recovery and Rehabilitation
Adjusting to Life after SCI
Hier en daar is iets waarop sy vir ’n breukdeel huiwer. Sy en Thomas ken die meeste van hierdie SCI-modelle en inligtingsbladsye al uit die vuis.
Pain
Depression
Bladder Management Options
Bowel Function SCI
Urinary Tract Infection
Respiratory Health
Personal Care
Driving
Exercise
Adaptive Sports and Recreation
Getting the Right Wheelchair: Manual Wheelchair; Power Wheelchair; Maintenance Guide for Users of Manual and Power Wheelchairs
Employment
Aging and SCI
Ja, hier is dit:
Sexuality and Sexual Function: Written for both men and women with Spinal Cord Injury, this fact sheet discusses the impact of SCI on sexuality, dating, sexual arousal, orgasm, fertility, and relationships.
Pregnancy and Women with SCI
Caregivers
Spasticity
Gait Training
Research for a Cure in SCI
Donna sit terug.
Antonie kyk van die skerm na haar. “Dís wat my mal maak, Ma. Ek’s sewentien jaar oud, en dis wat vir my wag vir die res van my lewe. Ek pie in my bed, Ma. Is dit wat ek gaan doen tot ek eendag in ’n rolstoel van ouderdom doodgaan? My bed natmaak? ’n Doek dra soos ’n baba, Ma?”
Sy strek haar hand uit en vryf oor sy voorarm. Dit is die eerste keer dat sy haar seun so driftig hoor praat, met sulke aggressie.
“My kind –”
“Ek kan nie só leef nie, Ma.”
En dan laat sak hy sy ken op sy bors en swyende snikke ruk sy bolyf. Sy staan van die bed op en gaan buk by die rolstoel, vat haar seun om die skouers, druk haar gesig in sy nek. Watse troos het jy vir jou verlamde tienerseun? Hy wat veronderstel is om sy jong lewe daar buite saam met maats te geniet, rond te hardloop agter rugbyballe aan, met meisies te flirteer, saam op veldfietse te jaag. Pleks daarvan bekommer hy hom oor sy onbeheerbare blaas. Is dit regverdig?
Hulle sit lank so, totdat Thomas klop. “Kom, die kos is op die tafel.”
KANTNOTA
In só ’n ondersoek, kom Ella agter, leer ken jy dikwels ’n wegsteekkant van mense, die bietjie privaatheid wat hulle nog probeer koester in ’n tyd waarin alles op sosiale media uitgeblaker word. Van Donna het veral twee dinge haar opgeval: Donna se stille waardigheid, en die energie waarmee sy, in haar man se afwesigheid, ’n huis vir haar kinders volhou.
Die vrou kom nie tot ruste nie. Oorlaai haarself. Dalk aspris om haar aandag af te lei. Soggens moet sy drie kinders by die skool kry, huis aan kant maak, kombuis en skottelgoed opruim, ’n oog hou op tuin en tuinier, later vir Florie by die laerskool gaan haal, Antonie by die hoërskool (Patty het darem haar Vespa), almal kos gee, help met huiswerk, nou voorbereiding vir die eksamen, ete vir die aand regkry. Boonop is sy diep bekommerd oor haar pa se verslegtende toestand.
“Hoe hou jy dit?” vra Ella ’n slag.
Donna glimlag. “Eendag gaan jy seker ook trou en kinders hê, nè?”
“Kyk ek na jou, weet ek nie so lekker nie. Ek’s nogal gewoond aan my eie plek en tyd.”
“Ek ook, toe trou ek!”
“Het jy ooit private oomblikke?”
“Dis al hoe jy kan asemhaal. Ek knyp dit af, bietjies hier en daar. Ek en Thomas … ons het saans ’n ding gehad wat ons saamtyd genoem het. Ha, en kyk hoe’t dít ons huwelik gehelp! Nietemin, kom wat wil, twee of drie keer ’n week doen ek pilates, by ’n studio net hier onder, in Beyers Naudé. Die naaste een, om tyd te spaar.”
Sy vermoed dat Donna, met haar gesonde, ronde wange en ronde heupe, ’n ewigdurende oorlog teen die skaal voer. Ook, soos almal, ’n vergeefse een teen ouderdom. Want veilig in die kokon van jou huis en huwelik, stel Ella haar voor, is dit maklik om in ’n groef van gods water vas te val. Wanneer die daaglikse opsmuk nie meer so belangrik is nie, wanneer dit ondergeskik word aan die behoeftes van man en kinders. Tot een oggend. Dan merk jy skielik in die spieël, asof oornag, die grysheid aan die haarwortels, die plooitjies aan die nek, die dapper kurwes wat die stryd begin verloor. Maar jy gee nog nie moed op nie, want saans, met leesbril in die bed, hoop jy jou man sien steeds hoe sexy jy regtig is. Tot jy sy loeroog op ’n jonger pop betrap. En dis die wekroep: iéts moet gedoen word! Gim. Joga. Pilates. Moddermasker uit die Dooie See. Iets. En gou!
Natuurlik is dit haar voorland ook, besef Ella maar alte goed. Nie soseer nou al die vetjies nie, wel die plooie. Dié wat al so skelm-skelm en voortydig hulle verskyning begin maak. Aan die hoeke van die mond, die hoeke van die oë, die nek. Intussen kry sy solank op haar smuktafel die slagordes vir die verdediging in linie: die plooirome, die oogrome, die nagrome, die vogrome, die antioudwordrome … En sy is skaars dertig!
Gelukkig darem fiks, geen pilates vir haar nie. Op die Karibiese plesiervaarte het sy soggens vir passasiers om die beurt klasse in aërobiese oefeninge en joga aangebied. Nou, terug in haar huisie in Westdene, draf sy weer. Nie meer alleen nie, saam met Bozo. Hy pas haar ook snags op. Lou het hom vir haar gegee, pragtige swart-en-wit skaaphond van agtien maande wat hy uit ’n teelprogram vir polisiehonde afgerokkel het. Spesiaal vir haar.
’n Kollie pas haar op, ’n gemmerkat pas hóm op. Soms pas almal mekaar snags op, sy en Lou en Bozo en Kandas. Dit is vir haar lekker by hom, om in sy arm te lê en na musiek te luister en sommer net te ginnegaap. Later miskien bietjie te vroetel en te kafoefel. Want hulle het baie om in te haal, dit was ’n lang skeiding, hy hier in Johannesburg en sy daar in Barbados, wanneer sy nie op ’n skip was nie. Hy het darem een keer vir haar gaan kuier. Toe hy besluit het hy verlang darem te veel en dat niks sal ondergaan as hy vir ’n week van sy werk wegbreek nie. En sy het gedink sy doen hom ’n groot guns, reël om hom op ’n rondvaart van Grenada na Dominica te trakteer. Groot fout. Arme man het omtrent nie uit die kajuit gekom nie, siek soos ’n hond. Nee, ’n skip is nie vir hom en sy brose maag nie.
Nou kuier hulle oor en weer en haal in. Maar hy verstaan dat sy soms alleen in haar eie bed in haar eie huis wil wakker word. En dat sy Saterdagoggende saam op Alberts Farm die parkrun wil gaan draf. Die eerste twee keer was dié parkrun nogal vir haar effe surrealisties, veral op die terugroete daar langs die dam verby. Daar waar haar vuurdoop as jong moordspeurdertjie amper tien jaar gelede begin het. Toe hulle mooi Mia Vermooten op die grasoewer onder die wilgers gekry het, verwurg maar netjies op haar rug asof sy net slaap. Tot dok Koster haar omdraai. En dit was lank vir almal, ook vir dok, ’n raaisel