Die versoeking van Thomas Maas. Chris Karsten

Die versoeking van Thomas Maas - Chris Karsten


Скачать книгу
in die straat voel hy eerder as sien hoe Rolf sy gesig van die venster na hom draai. Hulle oë ontmoet vlugtig in flertse ligrefleksies van verbygaande karre en lamppale.

      In sy afgemete stem is ’n moegheid, maar tog ook ’n stelligheid: “Jy maak nie weer my dogter seer nie. Hoor jy my?”

      “Pa, dis …” Hy los, en die halwe sin bons in die donker kar rond soos iets tasbaars tussen hulle. Dis so lank gelede, wou hy sê.

      So, dan hét Donna dit tog met haar ouers bespreek.

      Hulle ry in stilte huis toe.

      “Pa,” sê Donna, “wat het gebeur?”

      In hulle sitkamer met die koppie sterk, soet tee lyk dit of Rolf sy geestelike ewewig begin herwin, sommer aanvallend boonop. “Mos gesê ek’t verdwaal, finish en klaar. Het nie een van julle nog ooit ’n verkeerde afdraai gevat nie? En moenie op my afpraat nie, ek’s nie ’n kind nie. Wie gaan my huis toe vat? Thomas?”

      “Dis middernag, Pa,” sê Donna. “Ek maak vir Pa hier op die sofa bed op.”

      “Ek slaap in my eie bed.” Hy sluk die laaste tee en sit sy koppie neer, vee met die rugkant van ’n hand oor die druppels aan die stoppelken. “Thomas?” sê hy weer.

      Rolf kreun met die onsekere opstaan, en Thomas tree nader en help hom op.

      Donna kom sit haar arm om sy middel. “Ai tog, Pa.”

      “Dis die dêm knie,” brom hy. “Maar ek’s nou reg, kort net ’n goeie slaap.”

      “Het Pa nog ’n ou bril? As die kinders môre vroeg skool toe is, kom haal ek Pa om ’n nuwe lens te gaan kry,” sê Donna. Sy omhels hom. “En moenie weer sonder die sel winkels toe gaan nie. Nêrens heen nie.”

      Thomas help hom buitentoe. Hy struikel ’n slag by die voordeur se trappe en sy hand en vingers sluit soos ’n klou om Thomas se voorarm. Rolf Geyer is nie besonder lank nie, maar hy is breed en sterk met ’n dik nek en skof, was inderdaad op sy dag ’n stut met groot belofte, tot sy eerste knieoperasie. Die einste knie wat hom vroeër hierdie aand ook weer in die steek gelaat het.

      * * *

      Die volgende oggend sê Thomas met die instap: “Môre, Annie, jy lyk besonder mooi en opgeruimd vanoggend. Hoe laat is die eerste een?” Dit is hoe hy haar groet, elke oggend. Hy geniet dit om pluimpies uit te deel, sy om hulle te ontvang. Wen-wen. Buitendien, haar goeie gene is duidelik te sien, al die jare nog, vandat sy as ooglike jong vrou destyds by hom begin werk het.

      “Negeuur,” sê sy. “Jou koffie wag al, jy’s laat.” Ooglik én bekkig.

      “Bietjie van ’n huismoles gehad,” sê hy. Maar steek in sy kantoordeur vas. “Nie die soort waaraan jy dink nie. Rolf. Hy’t gisteraand verdwaal. Doen my ’n guns.” Hy draai terug na haar lessenaar en gaan skryf die name vir haar neer: Dopaquel, Coxleon, Aricept. “Bel dokter Manzi, vra hom waarvoor elkeen voorgeskryf word, en wat elkeen se newe-effekte is.”

      “Newe-effekte soos confusion?” sê sy.

      “Só erg dat Rolf kilometers ver bebloed en gedisoriënteerd aangetref word en nie sy eie naam en adres kon onthou nie. As die veiligheidswag hom nie daar gekry het nie …”

      In die oop deur vra sy: “Hoe was gisteraand se meeting?”

      “Baie goed, Florie gaan dit regtig geniet. Ek’s diep in jou skuld oor daardie perdryskool wat jy aanbeveel het. Ek hou van die plek. En van sy mense.”

      KANTNOTA

      Terug in haar kantoor – met ’n beker koffie, swart en bitter – skakel sy haar rekenaar aan, maak haar lêers oop, versprei die ingesamelde foto’s oor haar lessenaar. Beskou elkeen indagtig, nie net om elke beeld te absorbeer nie, maar om veral die konteks te oorweeg.

      Later draai sy na haar skerm en lees weer die raamwerk van haar verslag. Sy frons, onseker oor presies waar sy die pit van die flussiese gesprek in die Botaniese Tuin moet inwerk. Sy kan daarmee wegspring, die bom sommer vroeg laat ontplof. Maar gaan haar kliënt ná so ’n hartklemmende aanhef steeds emosioneel kapabel wees – of gewoon lus – om ook die res te lees, wetend dat die nuus nie beter gaan word nie? En die res is juis belangrik ten einde die hele omvang van die affair te verstaan, vernaam die infame afloop daarvan.

      Sy leun oor en trek twee foto’s nader. In ’n fliek sou Sue Greene en Themba Morena byspelers genoem word. Die instrukteur en die stalopsigter. Byspelers in haar private PI-ondersoek, maar in ’n hofsaak sou hulle getuienis beslissend wees teen ’n beskuldigde.

      Themba, eers sku, het uiteindelik later meer deure as net dié van Amalia Rojas se perdestalle vir haar oopgesluit.

      Maar Sue was die aanvanklike punt van kontak. En soos Ella voorsien het, het haar nuwe vriendskap met Sue gehelp dat sy die soms wasige aanloop van die toe nog vermeende affair tussen duideliker lyne kon begin lees. En Ella glo as sy die volgorde van gebeure verstaan, verstaan sy ook beter hoe die koppe van die karakters werk wat sy ondersoek.

      Ja, het Sue gesê. Meneer Maas het wel Maandagaand 19 Oktober daar opgedaag vir die vergadering om die reglement en kostes vir die volgende jaar te bespreek. Hy het inderdaad ook ’n paar vrae gevra. Hy was veral besorg oor die veiligheid van sy dogter. Maar haar antwoorde het hom kennelik tevrede gestel, want hy het nog ’n ruk vertoef. Selfs saam met Amalia Rojas ’n glasie wyn geniet.

      Trouens, hy was só tevrede dat hy Dinsdag gebel het om sommer vir die Woensdag nóg ’n les vir Florie te bespreek. Daar was nie ’n opening nie, maar Amalia het dadelik ingegryp en kon Florie indruk. Meneer Maas wou toe weet of Amalia die Woensdag daar sou wees sodat hy sy waardering persoonlik aan haar kon oordra. Want Florie was glo so entoesiasties dat sy elke dag sou kom ry, sou sy ’n sê gehad het.

      “En het die hele gesin toe weer Woensdag saamgekom?” wou Ella weet.

      “Nee, net pa en dogter,” het Sue gesê. Want sy kon goed onthou hoe lekker gesellig Amalia en meneer Maas weer onder die restaurant se bome gesit en kuier het toe sy Florie ná die ryles na haar pa toe gevat het.

      “En die Sondag daarna?”

      “Weer net hy en Florie.”

      “Ek raai Amalia en meneer Maas het weer oor ’n glasie wyn gekuier,” het Ella gesê, “terwyl hy vir Florie gewag het.” Die patroon nie te moeilik om op te merk nie.

      “Ja,” het Sue geantwoord. “En ’n paar dae later was hy wéér hier. Laat die middag. Maar toe sonder Florie. Gesê hy’t ’n afspraak met Amalia. Oor perde. Hy’t teen daardie tyd seker al haar persoonlike selnommer gehad, want die afspraak was nie op my boeke nie.”

      “Hoe’t jy geweet hy was hier?”

      “Die hek. Ek moes die hoofhek vir hom oopmaak.”

      “Weer onder die bome? Of was hy by haar huis?”

      “By die restaurant.”

      “Maar jy sal weet van al sy besoeke?”

      “Binne werksure, ja. Want ek moet die hek oopmaak. Na-ure, vir haar private gaste, beheer Amalia self die hek uit haar huis.”

      En Sue sou dan nie geweet het of Thomas Maas ook in die privaatheid van Amalia se huis kom perdesake gesels het nie.

      Toe Ella groet, het Sue ’n laaste opmerking sydelings laat val: “Amalia het geblom.”

      “Dit was vir jou so opvallend?”

      “O ja.” Sue het eers bietjie geaarsel: “Want ek het die indruk gehad dat sy geneig was tot neerslagtigheid.”

      “Oor die huwelik?”

      “Oor haar persoonlike lewe het sy nooit gepraat nie. Dalk met meneer Maas, hy’s mos ’n sielkundige of iets. Dalk help hy haar om weer te lag.”

      Thomas se weergawe

      Die konsultasie


Скачать книгу