Die versoeking van Thomas Maas. Chris Karsten
hulle van bed en tafel geskei is. “So erg dat jy nie meer jou trouring wil dra nie?” Waaroor hy nie onder die bome kon uitvis nie, mag hy nou openlik vra, met volle sanksie van sy professionele status.
“Partykeer steek ek dit nog aan,” sê sy en kyk af na haar verstrengelde vingers op haar skoot. “Dan verbeel ek my alles is nog lovey-dovey en pienk en plesierig. Maar natuurlik is dit nie.”
“Is dit wat jy gisteraand gedoen het – jy’t jou trouring aangesteek en pleks van lovey-dovey raak jy depressief en treurig?”
Haar boesem styg toe sy diep adem. Dan spring sy van die bank op. “Ek hou van jou dekor, Tomás!” Sy tol dat die wye soom van die rok hoog bo haar knieë swiep. “Die huislike smaak, dit moet Donna wees. Kyk! Die matte, die plante, die prente. Die pastelkleure. Alles so gedemp. So stemmig en bedaard.”
Die ou Afgaanse mat is al uitgetrap en veronderstel om bietjie kleur te gee te midde van stil, pastorale landskappe, ou bosveldbome met groen krone, pers berge op die agtergrond. Lewende plante wat glo onrustige gemoedere kalmeer … varings en lelies, ’n delicious monster. Hy háát die goed!
Hy draai skuins in sy stoel en sy oë volg haar deur die sitkamerdeel van sy kantoor, vinger op haar geil rooi onderlip terwyl sy elke dekorelement betrag, aandagtig asof dit dalk ’n Mona Lisa kan wees.
Sy kom terug, val neer in ’n aromawasem, lê agteroor op die bank met haar bene na hom uitgestrek, die rooi tone tergend, oë op hom. “Mý styl is … uh, meer flambojant. Moet my Spaanse bloed wees, vurig soos ons perde.”
Hy kry weer, soos elke keer in mekaar se geselskap, die indruk dat sy hom takseer, sy grense toets, na ’n bres soek. Maar hoekom, wat wil sy bereik? Probeer sy peil of hy van enige nut vir haar is, om haar met nuwe insigte te help sodat sy haar flambojante smake en vurige bloed kan versoen met ’n liefdelose huwelik waarvan die nate klaarblyklik net deur rand en sent aanmekaar gehou word?
“Oor jou perde en ryskool het ons nou al dikwels gesels. Hierdie bedaarde atmosfeer is meer geskik vir ander gesprekke, emosionele gesprekke. Soos oor jou huwelik. Kom ons gesels bietjie daaroor. Agtergrond en konteks is belangrik.”
“Jy ken die agtergrond.”
“Jy kom uit Argentinië, ja. Van ’n beesplaas op die Pampas. Maar ek praat van jou en Fred se agtergrond.”
“Jy’t ’n mooi gesin,” sê sy. “Die foto daar op jou lessenaar.”
“Dankie. Uh, die konteks. Hoe raak ’n aantreklike Argentynse vrou met ’n Boertjie soos Fred Daneel deurmekaar?”
“Neem jy hierdie gesprek op? Ek hou nie daarvan dat my gesprekke afgeluister word nie.”
“Dit word nie afgeluister nie. Dis vertroulik. En dit help my agterna. Pleks van koue woorde op papier hoor ek stemtone en ritmes en emosies. Dit vertel iets van die prater.”
Sy sit regop. “Sit dit af.” ’n Skielike skerpte in haar stem.
Hy staan op en gaan skakel die opnemer af. “Jammer, ek moes natuurlik eers jou toestemming gevra het. Dit was eintlik aangeskakel vir die pasiënte in wie se plek jy hier is.”
“Pasiënte? Is dit wat jy hulle noem? Is ek ’n pasiënt? Is ek siek, geestelik siek, dalk in my kop of in my hart?”
“Nee, dis bloot ’n term. Maar as jy verkies om eerder ’n kliënt genoem te word.”
“Soos ek al gesê het. My pa is ’n baie ryk man en hy belê in Fred se ontwikkelings. Dis hoekom hy weer in Argentinië is. Om by my pa finansiering te gaan bedel vir ’n nuwe gholfontwikkeling.”
“Wat kry jou pa uit sy beleggings hier in Suid-Afrika?”
“Ek’s my pa se proxy. Anders gestel: ek en my pa is meerderheidsaandeelhouers in al Fred se ontwikkelings. Los hy my, sit Fred in shit street. Verskoon die woord. Maar ek’s sy melkkoei, hy melk my vir my pa se geld. En as die melk opdroog, het hy boggerôl.”
“Is dit hoekom jy voel die huwelik het ontaard in ’n blote saketransaksie?”
“Dis een van die redes.”
“Wat’s die ander? Wil jy daaroor praat?” Thomas dink nie hy sal te erg verbaas wees as daar iewers ’n ander vrou op die agtergrond is nie. Of ’n ander man nie. Die klassieke situasie wanneer die liefde wyk en ’n vakante ruimte tydelik gevul moet word.
“Ek’s seker hy’t lovers,” sê sy en hy is opnuut verbaas dat sy so reguit tot die kern deurdring, ander gooi eers draaie.
“En dit pla jou nie?”
“Nee.”
“Verneuk jy hóm?”
Dit lyk of sy eers diep oor die vraag moet dink, die oë soos nat teer, die rooi lippe sonder trek. Dan klingel die armbande, die glimlag is terug, die oë kry ’n vonkel, die bene kruis. “Nie so dat jy dit sal agterkom nie.”
“Wat beteken dit?”
“Kul jy jóú vrou … vir Donna?”
“Donna is nie ter sprake nie.”
“Jy vra intieme goed oor my, nou vra ek dieselfde vir jou: Het jý ’n lover?”
Met die knipbord op sy been skryf hy haar naam in drukletters. AMALIA MARTINA ROJAS DANEEL. Begin dan magrietjies krabbel terwyl hy sy gedagtes probeer orden, kyk op, vas in die oë, onleesbaar in hulle donker dieptes. “Hoekom bly jy getroud?” vra hy.
“Hoekom?” Sy slaan haar oë teatraal op. “Wag, ek weet: oor geld! Baie miljoene is op die spel. Dis finansieel voordelig vir my, en vir my pa. Intussen is ek vry om te doen wat ek wil.”
“Soos die perdryskool?”
“Perde was altyd een van my grootste liefdes. Perde is in ons Argentynse bloed. Perde en beeste.”
“Die perdryskool is seker ook ’n baie gerieflike belastinghawe.”
“Jy bedoel ontduiking?”
“So iets, ’n plek waar skuld afgeskryf kan word. Nie noodwendig onwettig nie. Wat van kinders?”
Sy skud haar kop.
“Wil jy nie hê nie?”
Weer is dit asof sy eers besin oor hoe sy moet antwoord. “Ek’s amper agt en dertig, my tyd raak min.”
“Julle het tog getrou omdat julle vir mekaar lief was, dit was nie toe nét ’n saketransaksie nie?”
“Ja, ons was aanvanklik gelukkig, selfs lief vir mekaar.”
“Ek moet dié soort vrae vra,” sê hy. “Om te probeer help moet ek weet van sulke persoonlike, dikwels intieme omstandighede. Sê gerus as jy ongemaklik voel met sekere vrae.”
“Goed, en dan kry ek weer kans om jou uit te vra oor jóú intieme sake,” sê sy met ’n skewe glimlag. “Tit for tat.”
“Is daar sprake van mishandeling, miskien in die verlede – verbaal of fisiek? Kon dit moontlik bygedra het tot die afkoeling van julle liefde?”
“Mishandeling?” herhaal sy sag en draai weer haar gesig by hom verby, en sit lank by die venster en uitstaar. Kyk dan na hom terug, met daardie raaiselagtige glimlag wat so maklik aan haar mond verskyn, en sê: “Nie van sy kant af nie.”
Weer die dubbelsinnige antwoord, sodat hy nie weet wat presies sy bedoel nie. Maar hy skryf tog haar antwoord neer en vra: “Hoe voel jy oor hom? Wil jy jou huwelik probeer red?”
“Dis te laat.”
“Niks is te laat nie, Amalia.”
“Hierdie een is, glo my. Hééltemal te laat!”
“So, as jy nie jou huwelik wil red nie, wat soek jy dan eintlik hier, hoe kan ek jou help? Klink of jy eerder ’n finansiële adviseur en prokureur nodig het.”
“’n