Die versoeking van Thomas Maas. Chris Karsten
penne, glimpenne in gelid. Voor hom die jongste uitgawes van The International Journal of Psychoanalysis, Psychotherapy Research en Psychotherapy and Psychosomatics. Op ’n knipbord skoon A4-notapapier. Liggies wys die rekenaar is aangeskakel, die outomatiese stemopnemer gereed. Wat sal hy sonder Annie doen?
Hy sluk, smak, sit die beker neer, lig die boonste lêer op. Mnr Karel & mev Hilda Lessing. Sy vingers tik en op die rekenaarskerm verskyn die getranskribeerde stemnotas van hulle vorige konsultasiegesprekke. Hy loer na die groot muurhorlosie, begin lees.
Presies negeuur kom Annie met ’n klop in, druk die deur agter haar toe. “Die Lessings is hier, en die meneer lyk knorrig.”
“Sy?”
“Senuweeagtig. Moet ek tee bring?”
“Ja, oor tien minute.”
Sy stap uit, los die deur oop. Annie het in agtien jaar geleer om pasiënte se gemoedere met ’n oogopslag te diagnoseer. En hy slaan ag op haar waarnemings, dit bepaal dikwels die manier waarop hy hulle met die intrap benader, hetsy enkelinge of paartjies, maar veral paartjies. Sy besit ’n fyn aanvoeling om die lyftaal tussen paartjies te ontleed. Dit help hom met hulle sitposisies. Jy wil hulle nie saam op die bank laat sit as jy agterkom daar was gisteraand ’n swaaiery van potte en panne nie. Dan moet jy afstand skep, hulle eers stapsgewys weer nader na mekaar toe bring, eers emosioneel, daarna liggaamlik.
Sulke gesprekke voer hy nie by ’n onpersoonlike lessenaar nie. Dáárvoor het Donna en Annie die huislike sitkamerdeel ingerig.
Hy staan op toe hulle inkom, skud hoflik blad, nooi hulle met ’n swaai van sy hand. “Mevrou, sit jy sommer daar, en meneer Lessing, jy gerieflik hier op die bank.”
En hyself gaan sit in sy leunstoel, die bruin een met die geskifte leer, plaas sy knipbord op die koffietafel, hulle gevallelêer bo-op. Vou sy bene, sit terug, sê: “So, ek hoop dit het goed gegaan sedert ons mekaar laas gesien het. Mevrou Lessing … Hilda, het julle dit toe reggekry om elke dag ’n tydjie af te knyp, vir daardie tien minute wat ek voorgestel het? Julle daaglikse private geselsie sonder steurings?”
Die volgende een is Hennie. Fynbesnaard, maar uitgesproke. Vyftig jaar oud en haarstilis van faam. “For the famous and not so famous, wat de fok maak dit saak, ek’s ’n celeb in eie reg, pluk geld van bome af en my naam is meer famous as my clients s’n, skattie, so ha-ha-ha!”
As die liefde net wou saamspeel. Dié draai sy gatkant op Hennie. I wish, sê Hennie.
Kom al vyf jaar vir terapie. Thomas vermoed Hennie kan nie meer op sy eie oorleef sonder die weeklikse fix op sy berader se Freudiaanse sofa nie.
Twaalfuur, nadat Hennie weg is, kom Annie met ’n frons in, druk die deur toe. Hy wag, die laaste afspraak voor middagete is, volgens die lêerstapel, mevrou Gericke en haar tienerseun, Jasper, op sewentien verslaaf aan vodka en Cannabis sativa. Al twee keer uit skole geskors oor sy drank en dagga. Sy ma is bang hy slaan oor na iets sterkers om sy verslawingsnood te bly bevredig. Soos tik, nog een van daardie duiwelse verwoesters van als wat goed is.
“Nuwe pasiënt,” sê Annie en sit die vars lêer voor hom neer. “Sy vat nie nee vir ’n antwoord nie en sit al ’n uur en wag. Sy dring daarop aan dat ek haar indruk, sê sy sal betaal vir die ongerief, sê dis ’n noodgeval, sy móét ’n terapeut sien … vir jou.”
Hy lees die naam op die lêer: Mev AM Daneel. Lig sy wenkbroue. Hy het haar verwag, net nie so gou al nie. “Wat van mevrou Gericke en haar seun?”
“Hulle is nog nie hier nie. Toe bel ek. Mevrou Gericke sê sy kry nie haar seun op sy sel nie, hy antwoord nie.”
“Sy wil nie alleen kom nie?”
“Nee, sy voel Jasper moet by wees.”
Sy is reg. Dit is belangrik dat hulle saam vir berading kom, sulke probleme moet openlik voor mekaar uitgepraat word.
“Kan ek mevrou Daneel laat inkom?”
“Ja, goed.” Hy staan op.
Annie trek die deur agter Amalia Rojas toe. Opnuut en baie subtiel bekruip haar nou bekende geur hom en hy vat die hand wat sy vir hom uithou. Dié handpalm, so warm en sag, ken hy ook al.
“Ek kon dit nie langer uitstel nie,” sê sy. “Jammer dat ek so kom indruk.”
Hy knik met sy ken. “Kom ons gaan sit daar. Enige plek. Die afgeleefde een is myne.”
Sy lyk vars en sonnig in die wye romp met moulose bloes, aan ’n bruin arm weer die rits armbande. Sy gaan sit op die bank oorkant hom, vou een knie oor die ander een, stryk die rok oor die bobeen plat, vou haar hande op haar skoot, kyk op na hom. “So, meneer Maas, hier’s ons weer.”
“Ja, en effe meer formeel as onder die bome.” Daardie sonbruin kuite onder die soom van die rok, die tekstuur van die romerige vel … hy kan dit onder sy vingers voel, sagte satyn. “Maar selfs hier is ek net Thomas. Ek probeer die sessies ontspanne hou.”
Sy troetel die kruisie om haar nek, glimlag en sê: “O, ek ís ontspanne. Kry jy dit met almal hier reg, om hulle so op hulle gemak te laat voel?”
“Ek probeer. Maar dit werk nie altyd met elkeen nie. Jy’t jou getroude van gebruik vir die afspraak. Is dit hoekom jy hier is, oor jou huwelik?”
“Miskien.”
“Jy’t nie juis na iemand gelyk wat hulp nodig het nie.” Van haar huwelik het sy weggeskram, net enkele los brokke wat onbewaak en onspesifiek oor glasies wyn uitgeglip het.
Hy sien hoe sy ’n antwoord oorweeg, dan vra: “Hoe gaan dit nou met jou skoonpa? Nog nie weer verdwaal nie?”
Vir ’n oomblik is hy van stryk. “Uh, kom ons gesels liewer oor jou. Oor hoekom jy hier is.”
Die armbande ritsel toe sy hare uit haar gesig wegkam, albei oë onpeilbaar donker, stip in syne. “Dit was gister Woensdag. Jy’t nie vir Florie gebring nie.”
“My assistent het vir Sue gebel om Florie se afspraak te kanselleer. Dis eksamentyd.”
“Maar jý kon gekom het.”
“Ons kom weer Sondag. Net nie meer in die week nie, tot ná die eksamen.” Ineens, onweerstaanbaar, het hy ’n behoefte om die vlesige ronding van daardie kuit in die palm van sy hand te voel.
“Ek’s bly dat ons mekaar eers daar in die teetuin leer ken het,” sê sy. “Anders het ek nooit die moed gehad om jou te kom sien nie. Om jou advies te kom vra nie.”
“Hoe kan ek jou help?”
Sy sit nou stil by hom en verbykyk, by die venster uit, of na een van die bosveldlandskappe. Hy merk die deining van haar bors. Sy sê sy is ontspanne, maar is sy?
“Ek’s nie seker nie. Gisteraand … Ek het net skielik ’n beklemming gehad, gevoel ek het hulp nodig. Professionele hulp.”
“Wanneer was jy laas by jou dokter, vir ’n goeie mediese ondersoek?”
“O, ek’s in topkondisie. Nes my perde.”
“So jy gebruik nie pille of ander chroniese medisynes nie?”
Sy verskuif om nou die ander been oor te vou, lig die soom nonchalant, maar dalk ’n raps té hoog vir so ’n eenvoudige maneuver. Is dit aspris so bedoel, wonder hy, om hom die glimp te gee van ’n verlokkende dy na verbode beloftes doer gunter?
Sy glimlag. Het sy sy onbetaamlike gedagtes gelees?
“Pille?” vra sy retories en haal ’n skouer op. “Dié Pil, is dit chroniese medisyne?”
Hy kug. “Jy sê jou man is in Argentinië. Is dit hoekom jy beklem voel, oor jy alleen is?”
Amper soos ’n terugkap: “Ek’s áltyd alleen!”
Maar wat dan van die Pil? wil hy vra, maar los dit. Sê eerder: “Vir huweliksberading verkies ek om ’n paartjie saam te sien. Dis baie sinvoller om openlik