Die versoeking van Thomas Maas. Chris Karsten

Die versoeking van Thomas Maas - Chris Karsten


Скачать книгу
te sê, ek’s baie bevoorreg, ek het so grootgeword, met alles wat enige meisie se hart maar kan begeer. In my lewe skort net één ding: ’n persoonlike berader.”

      “Hoekom? Watse berading het jy nodig?”

      “Om my gelukkig te hou. Om my te help om weer liefde te vind. Ek het meer geld as wat ek kan uitleef. Ek kan enigiets koop wat my hart begeer. Behalwe liefde. Seks, ja. Maar nie liefde nie. Kan jý my daarmee help, Tomás?”

      Hy staar na haar, neem haar opnuut in, takseer haar. Haar hare, haar vel, gesig, oë, wangbene, lippe, ken, keel, hangertjie met silwer kruis in haar borsgleuf, bloesknope nou laer oopgespring sodat dit die fyn swart kant van ’n bra is, en die gewelf van ’n bors, wat sy oog bly lok.

      “Liefde? Kan ek jou met liefde help? Nee, jammer, dis buite my vermoëns. Ek kan ’n egpaar help om geskille te probeer oorbrug. Ek kan hulle help om mekaar beter te leer verstaan. Om hulle onmin te oorkom en om mekaar weer te respekteer, om weer te kommunikeer sonder om op die agterpoot te spring. Ek kan help om sulke struikelblokke uit hulle huwelikspad te probeer rol. Maar ek kan hulle nie help om mekaar lief te hê nie. Die liefde moet vanself weer kom. Wanneer daar nie meer hindernisse tussen hulle is nie. En as die liefde dan stééds bly wyk? Wel, dan’s ek jammer, dan’t ek my bes gedoen. Dis soos die perd, Amalia, waarvan jy meer weet as ek. Jy kan hom water toe vat, maar wat hy dan doen, is sý saak. Of hare.”

      “En dis jou verskoning – jy kan die perd nie maak drink nie?”

      “Dis die werklikheid, nie ’n verskoning nie. Bring vir Fred, dan kom sit julle hier en ek probeer die belemmerings tussen julle uit die pad kry sodat julle jul liefde kan herontdek en hervat.”

      Sy staan so skielik van die bank op dat Thomas half terugsit.

      “Fok Fred!” sê sy en gaan staan by die venster.

      Hy draai weer skuins en kyk na haar rug, sien hoe sy haar bos swart hare skud. Sy draai om, maar bly net daar staan, hygend asof sy diep na asem soek.

      Hy staan ook op, skink water uit ’n glaskraffie en vat die glas vir haar. Sy neem dit woordeloos, sluk twee, drie keer en staan met die glas in haar hand.

      Wat doen haar man aan haar wat telkens sulke heftige reaksies van haar ontlok?

      Sy druk die glas in sy hand terug, gaan diep ’n tissue uit haar handsak op die bank en dep onder haar oë en aan haar wang en ken. En glimlag. “Dankie, Tomás. Ek voel sommer baie beter. Die geselsie het baie gehelp. Jy’s ’n goeie terapeut, ek sal ’n afspraak vir ’n volgende sessie maak. Ek’s mos nou … ja, jou nuwe pasiënt.”

      En stap uit, los die deur oop.

      Hy staan steeds daar met die glas toe Annie inkom en dit uit sy hand vat. “Gaan jy uit vir middagete, of kan ek die tuna gaan kry?”

      “Het sy nog ’n afspraak gemaak?”

      “Sy moet glo eers haar dagboek raadpleeg, sy sal bel. Is jy orraait?”

      “Haar volgende afspraak, maak dit die laaste van die dag, sy put mens uit, suig al jou energie uit jou uit.”

      “’n Vamp. As jy my vra.”

      “Ek vra jou nie,” brom hy, erg verwaai in Amalia Rojas Daneel se kielstroom.

      Donna se weergawe

      Rolf se simptome | Vrydag 30 Oktober

      Doen wat jy predik. Daarom het sy en Thomas ’n ou reël: selfs al tref ’n komeet die aarde, éérs gesels hulle. Vir dertig minute. Hulle private saamtyd elke dag. Net hulle twee, g’n kind, g’n kraai, g’n niks of niemand tussenin nie. En die kinders weet: dit is evangelie. Want – en dit weet die kinders nié – om ’n huwelik op die smal weg te hou is harde werk. Maar die laaste paar weke haper dit met saamtyd. Dit is asof al hoe meer buitedinge neig om in te meng. Florie se perdrylesse, haar pilatesklasse, die kinders se eindeksamen, Thomas se vergaderings saans om besprekingspunte voor te berei vir die agenda van hulle komende konferensie.

      Vanaand, gelukkig, kruis twee Maasplanete se wentelbane darem weer ’n slag, en oor ’n glasie wyn vra sy: “Het jy toe kans gehad om weer met dok Manzi oor Pa se voorskrifte te gesels?” Die Coxleon is maklik, dit is vir verligting van gewrigsontsteking en nie ’n chroniese medisyne nie. Die Dopaquel is meer ingewikkeld. Dit is glo ’n mood stabiliser vir buierigheid. Vir ’n pasiënt wat een oomblik so voel, dan weer sus, eers opgewek, dan neerslagtig. En alles tussenin. “Praat ons van bipolêre versteuring? Is dit wat met Pa fout is?”

      “Nee, Donna, dis nie wat dok Manzi sê nie. Hy’s nie jou pa se dokter nie, hy gee net ’n algemene tweede opinie, sodat ons nie net op dokter Google hoef staat te maak nie. Buitendien, ek het jou pa nog nóóit manies gesien nie, nie in al die jare wat ek hom ken nie. Hy kan omtrent nie eens lag nie.”

      “Thomas!”

      “Netso het ek hom ook nooit as depressief ervaar nie. Soms bietjie af, maar wie voel nie soms af nie?”

      “Hoekom sal hy dan al daardie pille drink?” vra sy.

      “Dalk as voorsorg. Dok Manzi sê sommige mense gebruik Dopaquel ook as susmiddel, veral ouer mense, dit help hulle slaap, al sal hy dit nooit as slaapmiddel aanbeveel nie. En ons kan jou pa kwalik reguit vra waarom hy dit gebruik. Dán sal jy sy bui sien! As hy hoor ons krap in sy persoonlike goed, tussen sy pille rond. Wat as daar Viagra rondlê?”

      “Jimmel, Thomas.”

      Maar Aricept, dit is die een wat haar pla. Dit plaas Dopaquel in ’n hele ander lig. En dit is hoekom sy gevra het dat Thomas weer met dok Manzi daaroor gesels. Voor sy ’n gesprek met haar pa gaan hê oor sy pille. Hoe sy dit gaan aanvoer, weet sy nog nie.

      Sy lees weer uit dok Manzi se e-pos: Cognitive symptoms worsen as brain cells die and connections among cells are lost. Cholinesterase inhibitors, like donepezil, are prescribed to treat cognitive symptoms related to confusion, memory loss, thinking, language, judgment, reasoning … thought processes, in other words.

      Sy kug en kyk na Thomas, sweer sy het weer daardie visgraat in die keel, sluk aan die wyn. “Het hy daarop uitgebrei, het hy toe gesê wat hy met al die vername mediese woorde bedoel?”

      “Dok Manzi sê hy kan niemand diagnoseer op grond van ’n pil se naam nie, veral nie ’n ander dokter se pasiënt nie. Hy beantwoord bloot ons vrae oor drie soorte medikasies. Hy sê inhibeerders soos donepezil – wat onder die handelsnaam Aricept voorgeskryf word – is bedoel om kognitiewe simptome vir ’n tyd te beperk of te stabiliseer. Maar dit kan nie … daar’s géén medisyne wat skade aan breinselle kan vertraag of stop nie. Hy reken jou pa se dokter vermoed ’n degenerasie van sy breinselle.”

      “Nee!” sê sy. “Hy’s verkeerd. Met Pa se denkprosesse is totaal niks verkeerd nie. Ook nie met sy geheue nie. Of met enige van sy verstandelike vermoëns nie. Dit weet jy tog self. Kyk hoe help hy vir Antonie en Florie met hulle wiskunde. Kyk hoe gesels hy met Patty oor Bach en Finzi en ander komponiste.” Sy sit ’n oomblik na haar vingers en kyk, sê sag: “Praat hy van demensie? Alzheimers?”

      “Verstaan tog, Donna. Hy sê sulke simptome is net vermoedens. Daar’s geen toetse wat byvoorbeeld alzheimers by ’n lewende pasiënt kan diagnoseer nie. Dit kan net gedoen word deur mikroskopiese ontledings van die breinweefsel. Nadoods. Die beste is om self ’n ernstige gesprek met jou pa te hê en te probeer vasstel wat regtig aan die gang is. Dalk selfs saam met hom na sy eie dokter toe te gaan sodat jy dit by die dokter self kan hoor. Gebruik sy episodes van vergeetagtigheid en verwarring as aanknoping. Hy sal tog verstaan dat sy dogter bekommerd is. As daar nie ernstig fout is nie, as sy verstrooiing aan ouderdom te wyte is, ander aand se verdwaaldheid net ’n eenmalige kortsluiting was, goed dan, dan klink ons ’n glasie daarop en jy’t vrede in jou gemoed.”

      “Maar wat as dit so is? Sy dokter sal mos nie sommer sulke medisyne voorskryf bloot op ’n vae vermoede nie?” Die graat bly in haar keel, ook ’n branderigheid in haar oë. Sy snuif en sluk weer, en voel sy hand vertroostend op hare.

      “Moenie


Скачать книгу