Die versoeking van Thomas Maas. Chris Karsten

Die versoeking van Thomas Maas - Chris Karsten


Скачать книгу
te lánk, het hy kans om sy alibi’s en verweer gereed te kry. Of hy verdwyn bloot.

      Haar vertwyfeling was daarom net oor die regte strategie en tydsberekening, nie omdat sy skrikkerig was vir die onbekende sielkundige in wie se bedsake sy rondkrap nie. Nee, vir sulkes skrik sy lankal nie meer nie, veral nie vir kwakke van die kop nie. Van hulle het sy ’n goeie dosis weg. Ná elke onderonsie – bloedig én onbloedig – met ’n psigopatiese geweldenaar moes haar gees hard werk om die sielkundige reste in haar kop op te ruim.

      Sy het net gewonder hoe sinvol so ’n besoek sou wees. Hy, die onderwerp van haar ondersoek, hoekom sou hy hoegenaamd wou saamwerk?

      Maar, het sy ook geredeneer, persoonlike kennis van haar teiken was noodsaaklik.

      Teikens. Meervoud.

      Die eggenoot én die bitch (Donna se indelikate benaming).

      Vir haar, die teef, sou Ella ook van naderby moes gaan beskou. Maar eers Thomas Maas, het sy besluit, sommer net daar in sy kantoor. Sy sou ’n rol speel. Sy kon kwalik by hom instap en aankondig: Ek’s ’n private speurder. Jou vrou het my aangestel. Ek ondersoek jou affair.

      Beweerde affair, want Donna het vertel hoe driftig hy alles ontken.

      Ja, sy wás ietwat onkant betrap. Sy het iets anders verwag. Iémand anders. Haar verwagtinge dalk bakgetrek deur arme Donna se lot.

      En dit is óók ’n ou les: Moet jou nooit laat lei, of mislei, deur ander se suspisies, wantroue, spesmase of emosies nie. In só ’n werk, hetsy as speurder of PI, loop jy oopkop, vertrou net jou eie intuïsies, net jou eie oë en ore.

      Op die oog af was Thomas Maas allesbehalwe die stereotiepe jagter van rokke. Eintlik heel innemend, bereid om te luister, en wanneer hy gepraat het, was dit sag en rustig.

      Met ’n tissue teen die neus het sy haar storie uitgespin van die swart hond wat aan haar hakke hap oordat haar geliefde haar ingeruil het vir ’n blonde hokkiespeler met beswete dye.

      Maas het haar simpatiek aangekyk, asof sy oë sag in haar siel vroetel, sy vrae ligvoets rondom haar broosheid.

      Om die storie gelooflik te maak het sy biografiese brokkies ingeroer. Oor haar eerste werklik groot liefde: Bam, die rugbyspeler. Hom het sy inderdaad saam met ’n hokkiespeler in haar bed betrap. Maar dit was lank terug. En sy het dit alles destyds met die polisie se traumaterapeut uitgepraat. Oor Bam. Oor karma in die vorm van Abel Lotz. Daai siek, siek man wat met ’n skalpel besig was om ’n stuk van haar maagvel te oes toe Bam ingestorm kom.

      Verneuk haar eers, offer dan sy eie lewe op om hare te red. Die waarheid vreemder as fiksie.

      Maar ás sy dit dan alles so uitgepraat het, wat soek hulle dan steeds in haar kop – Bam en Abel?

      Nee, al daai grimmige besonderhede hoef Maas nie te weet nie, net van hierdie onskuldige, beklemde siel in haar liefde verraai en verlaat.

      “Gebruik jy medikasie?” het hy gevra, pen oorgehaal.

      “Medikasie vir wat?”

      “Vir enigiets. Veral chroniese medikasie?”

      “Is daar ’n pil vir swart gal? Want dis hoe ek voel, my glase bly halfleeg, pleks van halfvol.”

      “Het jy ’n geskiedenis van depressie?”

      “Nie eintlik nie. Net as ek my vasloop teen sekere soorte mans. Húlle konfoes my.”

      Hy het na haar linkerhand geknik. “Geen ring nie. Is jy geskei? Het jy ’n liefdesteleurstelling gehad?”

      Sy het hom ’n oomblik betrag. Aantreklike man, reeds ’n fyn opslag van grysheid. So ’n bietjie ouer as Lou. “As jy wil weet: ja, daar ís iemand spesiaals in my lewe. Hy’s ’n goeie man wat my goed laat voel. Nie een van daai … jy weet, van daai wat rondslaap om hulleself te probeer bewys nie.”

      Hy het sy oë laat sak na waar hy skryf, en gevra sonder om op te kyk: “So, die swart hond, of die swart gal, hoe jy dit ook al wil noem. Dis eerder terugkerend as durend? Soos ’n nagmerrie wat jou sporadies kom teister?”

      “Ja, maar ek verstaan nie hoekom nie?”

      “Is jy bang dit, daardie ou gedagtes van ’n vroeëre, onvervulde liefde, is nadelig vir jou verhouding met jou nuwe vriend?”

      “Hy’s nie meer so nuut nie. Maar ek sien jý’t ’n ring. Dink jy jou vrou sal jou weer vertrou as jý rondloop?”

      “Uh, kom ons hou die gesprek maar by jou, juffrou Neser. Het jy al vantevore berading gekry?”

      Wat sy eintlik wou geweet het, was hoe sy tweede besoek op daai Maandagaand 19 Oktober aan die Rojas-ryskool verloop het. En al die ander besoeke daarna. Wanneer hy Florie vir rylesse gevat het. Maar dit kon sy mos nie vra nie. Die gebeure rondom daardie besoeke kon sy eers later rekonstrueer uit gesprekke met ander betrokkenes wat in die loop van haar ondersoek opgeduik het. Soos Sue Greene. Vir Sue het Ella opsetlik, maar baie omsigtig, begin bearbei. Sue was haar belangrikste kontak in Amalia Rojas se binnekring. En uit haar latere gesprekke met Thomas Maas self, toe sy hom openlik gaan konfronteer het.

      Waaroor Ella nou skielik op pad Linden toe wonder, is of Pepler en Kie die uitgawe van haar sogenaamde “konsultasie” met Maas aan haar gaan terugbetaal. Dalk moet sy dit by Donna Maas se rekening insluit as lopende uitgawe. Dit is tog wat dit is. Boonop is sy absoluut oortuig dat Donna ál haar kostes vir hierdie private speurondersoek uit haar man se beursie gaan invorder. Op welke wyse ook al. En hoe pragtig gaan daardie som nie balanseer nie: vir sy vrou se PI wat sy affair ondersoek het, skud Thomas Maas sy eie sak!

      Thomas se weergawe

      2de ontmoeting met Amalia Rojas | Maandag 19 Oktober

      Maandagaand in die restaurant se tuin sit die sowat twintig besoekers in die gemoedelike skemeraand by tafeltjies onder bome, omgeef deur die aromas van koffie en blomme. Sue Greene spreek hulle toe, die bekwame, vriendelike gesig van die Rojas-perdryskool. En Thomas voel instinktief dat Florie in goeie hande gaan wees.

      Maar hy voel ook bietjie bekaf. Hoekom, weet hy nie juis nie. Want hy kry al die antwoorde.

      Hy loer rond, hoor die vrae uit die gehoor, luister na Sue. Al wat hý wil weet, is oor veiligheid: hoe veilig ’n tienjarige op die rug van so ’n perd is, hoe mak die perd is, of hy nie vir ’n koue pampoen gaan skrik en met sy kind op loop sit nie? Sue stel hom dadelik gerus, sê dit is ’n algemene kwelling onder ouers en sy is bly oor die vraag. Maar hulle kinderponies is goed en professioneel afgerig en sag van aard. Nog nooit het ’n kind afgeval nie.

      Dit verlig die onrus wat Donna geplant het, maar nie die ongedurigheid nie. Nee, teleurstelling. Dis wat dit is. Is hy teleurgesteld omdat sý nie hier is nie … Amalia Rojas? Want dis tog die indruk wat hy gister van haar gekry het, dat sy self hier sal wees om nuwe lede te verwelkom. En is hy nie ’n nuwe lid nie … wel, die pa van ’n nuwe lid nie?

      Is dit sý wat so aan hom jeuk?

      Halfnege begin die besoekers opstaan. Daar is nie meer vrae nie, alles lyk uitgepluis, almal lyk tevrede. Thomas, nou alleen by ’n tafeltjie, sluk sy koffie, reg om ook te ry.

      Dan, plotseling, is sy hier, onverwags uit die skaduwees van die lowertuin se wasige ligte. Van agter om sy stoel, haar hand ligweg oor sy skouer. “A, meneer Maas, jy’t toe gekom.”

      Hy probeer orent kom, maar die hand hou hom ferm op plek. “Nee, sit.”

      “Gedog jý gaan ons kom toespreek?”

      Sy skuif om na oorkant sy tafeltjie, in stywe T-hemp en fleurige los romp, haar hande op die rug van ’n stoel. “Dis Sue se werk, sy’s die bestuurder. Sy’s omtrent alles. Sy ken die besigheid amper beter as ek. Sy kyk na die ruiters, ek kyk na die perde.” Sy glimlag. “Jy’s alleen hier. Vroulief by die huis … Donna, nè?”

      Hy knik.

      Sy trek die stoel uit en die armbande ritsel. “Gee jy om as ek ’n oomblik sit?”

      Toe


Скачать книгу