Die versoeking van Thomas Maas. Chris Karsten

Die versoeking van Thomas Maas - Chris Karsten


Скачать книгу

      “Goed, maar nie nou nie, nou’s dit eers Patty se aand. Hoe lyk dit, Pats, is jy reg?”

      “Ek’s reg, Oupa.”

      Donna glimlag.

      Thomas kry maklik parkeerplek, want hulle is vroeg, ter wille van Patty wat dadelik uitspring om haar by die ensemble te gaan aansluit. Die bagatelles en klarinet-concerto duur tot die pouse, dan is sy klaar, maar hulle het besluit om te bly vir die uitvoering van Finzi se bekende Dies Natalis, oor die vreugde en wonder van ’n pasgebore baba se onskuldige eerste aanblik op die wêreld, in ’n toonsetting van mistieke sewentiende-eeuse verse.

      Donna laat haar meevoer deur die bagatelles se vyf bewegings, deur die hele omvang van die ryk tone van Patty se klarinet. Die lewendige “Prelude”, die rustiger “Romance” (wat beelde oproep van ’n verliefde wat dromerig haar romantiese emosies probeer peil), die “Carol” wat haar saamvat tot dit sag wegsterwe en niks oorbly nie, “Forlana” wat ’n gevoel van verlange na haar hart bring, asof sy alleen op ’n eensame, ver plek is, net om deur die “Fughetta” se vrolike allegro vivace terug te kom aarde toe …

      Patty laat sak haar klarinet en die applous begin. Sy glimlag en buig, en die applous hou aan terwyl die lede van die ensemble hulle by haar aansluit.

      Toe die ligte vir pouse aangaan, stap Donna en Thomas saam met Rolf en Florie uit. Antonie, wat in die paadjie gesit het, het reeds uitgerol foyer toe. Thomas gaan kry vir elkeen ’n verversing en hulle word gou omring deur vriende en kennisse met gelukwensings. En toe Patty uiteindelik haar verskyning maak, is Donna verlig dat hulle kan teruggaan vir die tweede gedeelte van die Finziprogram.

      KANTNOTA

      Ella het haar gevra, maar Donna was amper seker dat sy Amalia Rojas Daneel nie die Finzi-aand tydens pouse in die foyer gesien het nie. Sy kan verkeerd wees, het sy gesê, miskien het sy haar net nie herken nie. Want sy het haar daardie eerste Sondag net baie vlugtig by die perdryskool gesien.

      Thomas het egter erken dat hy Amalia tussen ’n groep mense raakgesien het. En sy vir hom. Sy het nog met die program vir hom gefladder, glasie in die ander hand. Hy het vir Donna gesê: “Gaan sit julle solank, ek gaan net gou ’n draai loop.”

      Sy het effens van haar groep opsy gestaan toe hy aankom en gesê: “Ek moes dit gedink het. Ek sien die klarinetspeler is Patty Maas, maar assosieer dit toe nooit met my terapeut nie. Dit was pragtig. Jy’t ’n baie talentvolle dogter.”

      “Dankie. En jy lyk … wel, sprankelend.” Nie soos ’n vrou wat besluit het om haar huwelik tot niet te maak nie, het hy nog gedink. Ook gewonder: Waar’s haar metgesel, sy sou tog nie alleen gekom het nie?

      “Ek merk die hele gesin is hier om haar te ondersteun,” het Amalia gesê en aan haar vonkelwyn geteug. “Almal saam perde toe, almal saam konsert toe.”

      “Sou nooit kon dink dat jy van Finzi hou nie.”

      “Hoekom nie, mag perdeliefhebbers nie klassieke musiek geniet nie? Ek’s gereeld hier.”

      “Niemand kan jou miskyk nie.”

      Sy het gelag. “As dit ’n kompliment is … dankie!”

      Dit was, sy het oë laat draai. “Luister, oor jou en Fred, ek veroordeel niemand nie. En ek verstaan sulke goed, dat die liefde soms, vir sekere paartjies, tog nie vir ewig is soos die sprokies dit wil hê nie. Dis altyd jammer.”

      Die trek aan haar mondhoeke toe sy antwoord, het hy onthou: “Jy verstaan dit? Uit professionele ervaring, of persoonlik?”

      Die finale klokkie lui. “Ons moet ingaan,” het hy gesê.

      Sy het haar halwe glas na hom uitgehou. “Sien jou Vrydagmiddag, meneer Maas. Vir jou professionele mening oor liefde en sprokies.”

      Donna se weergawe

      Sundowning | Donderdag 5 November

      “Ons saamtyd vanaand, Thomas,” sê Donna oor die foon, “kan ons dit by Pa gaan hou?”

      “Donna …”

      “Ek weet. Nie eens die kinders nie. Maar ek’s bekommerd oor hom. Ek dink met jou agtergrond en kennis van sulke persoonlike traumas sal dit goed wees as ons ’n slag openlik met Pa gesels.”

      “Ek dog jy sê hy wil nie daaroor praat nie.”

      “Hy’t nie ’n keuse nie,” sê sy. “Dis in ons almal se belang dat ons dit uitpraat. Hy’s deel van ons gesin, ons moet weet wat aangaan.”

      Die sitkamer lyk nog nes sy dit laas gesien het, met die vakkundige boeke en tydskrifte, die skaakbord en teleskoop, almal op dieselfde plekke. Nou ook ’n boek oor die skrywer Iris Murdoch langs sy TV-stoel.

      “Wil julle eers tee hê, of wil julle my eers ondervra?” vra Rolf.

      “Pa,” sê Donna, “ons wil net help. Moenie ons wegstoot nie.”

      “Jy’t gehoor wat die dokter sê.”

      “Ek het gehoor hy sê hulle kan nie ’n diagnose maak nie. Maar tog skryf die neuroloog inhibeerders voor om sekere simptome te behandel. Kognitiewe simptome, noem hy dit. Soos vergeetagtigheid en verwarring.”

      “Dis veronderstel om te keer dat die asetielcholien afbreek,” sê Rolf. “Die chemiese boodskapper tussen senuweeselle. Maar ek dink dis te laat, ek dink ek’t klaar plaak op die brein.”

      “Watse plaak?” vra sy. Hoekom sê die dokter niks vir haar van plaak op die brein nie?

      “Ek moes vroeër met die inhibeerders begin het. Van daardie neurosenders, die boodskappers, hulle is klaar aan mekaar vasgegom, reken die neuroloog. ’n Akkumulasie van lipofuskien, noem hy dit. Dit kom met die ouderdom. Pes van ’n ding. Soos smeltdraadjies wat vasbrand. Dan blok dit boodskappe na jou geheue, of na enige ander plek in jou brein. Verkeersknope ontstaan. Breinplaak en breinknope. Dis wat hier binne besig is om te gebeur,” sê Rolf en tik met ’n voorvinger teen sy voorkop.

      “Maar dis nie te sê dis alzheimers nie, Pa,” sê Donna driftig en hoopvol.

      “Nee, daarvoor moet hulle eers ’n gat boor, deur my kopbeen in my brein in. Om van die grysstof uit te kry vir ’n biopsie. En ’n gat in my brein, dis nie ’n goeie ding nie. ’n Breingat kan van my ’n vegetable maak. Nog voor hulle weet wat fout is. Dalk boor hulle die gat en grawe stukkies van my brein uit, toets dit en besluit my vergeetagtigheid was maar net die gevolg van hoë ouderdom. Dan’s dit te laat, dan maak dit nie meer saak nie, nè?”

      “Maar, Pa,” sê Thomas, “hoekom praat jy klaar van breinplaak en breinknope asof dit ’n gegewe is?”

      “Ek’s ’n wiskundige. Getalle en ruimte en figure is my kos. Nou begin ek daarmee vashaak. Dis ’n teken, is dit nie? Dis hoekom ek deur die internet breinnutriënte en breinboosters uit Mexiko bestel. Ek wil nie oor ’n jaar met somme sukkel as ek vir Florie moet help nie.”

      “Help dit?” vra Thomas.

      Rolf se oë is op sy groot hande, die vingers wat met die trouring speel wat hy steeds aan die dik vinger dra. Hy praat sonder opkyk. “Ek sien in boeke praat hulle van ‘sundowning’. Dis glo ’n tipiese verskynsel – aan die einde van die dag, wanneer júlle, die compos mentis, skemerkelkies skink, begin ons, die verstrooides, geestelik uitrafel. Namate die son sak, raak ons al hoe kênser. Dis seker wat met my ook aan’t gebeur is – ek beleef geïsoleerde kêns episodes van sundowning en raak dan letterlik die pad byster.” Hy staan op en gaan sit die ketel aan, sê oor die kombuistoonbank: “Daar het julle dit. Maar nou’s ek weer piekfyn. My helder oomblikke. Nog iets? Of kan ons nou maar tee drink en oor iets anders gesels, miskien oor eksoplanete?”

      “Nee, Pa,” sê Donna, “só maklik is dit nie.”

      “Geïsoleerde episodes, Pa?” vra Thomas.

      “Wat van die kar wat Pa daardie slag


Скачать книгу