.
se arms. Haar vingers is kromgetrek van rumatiek, haar arms maer, die spiere slap, maar dis asof niks haar keer nie – sy knie tot die deeg vorm kry. Toe vee sy die sweet van haar voorkop af en sug asof sy haar laaste asem uitblaas. “Janine,” sê sy, “ons het na jou verlang. Wat jy ook al besluit …”
Maar skielik is haar ou oë vol trane. Sy gryp haar voorskoot se punt, druk die nattigheid op haar wange droog, glimlag dapper. “Ons kan weer koekies bak, soos in die verlede. Ek belowe jou, jy sal nie spyt wees nie.” Sy sprinkel nog meel op die deeg, raak weer aan die knie.
Pla Ouma se hande nie, het Ouma nie pyn nie? wil Janine vra, maar besef by voorbaat dat ouma Leen dit sal ontken. Sy moet buitendien keer of die reuk van melk wat kook, raak oorweldigend. Sy hou asem op, maak die vlapoeier aan en roer dit by die kookmelk. Haar ouma praat en praat, verdoesel die pyn wat hulle met mekaar deel.
“Jenny en Riekie sal in ’n veilige omgewing grootword, ons ken net godvresende mense. Bakkies Bakker het dit gelukkig getref met Tienke. Sy kan vir jou met icing werk, versier ’n koek nes ’n prentjie. Daar’s nog nie kinders nie, maar hulle is net twee jaar getroud. Herkie, onthou jy vir Herkie Calitz? Hy’t gaan trou met ’n ouer vrou, toe koop hulle die garage, glo met haar geld. Daar’s ook nie kinders nie. Tertia en Kallie woon op Lambertsbaai, daai vrou het hulle die huis uitgewerk, als na haar smaak oorgedoen. Die mense praat, hulle sê Herkie loop rond.”
Herkie was die mooiste seun in die klas, so dom soos ’n klip, maar beeldskoon en gebou soos ’n pou. Al die meisies was verlief op hom, sy ook – tot hy haar drome vernietig en Bennie sy plek ingeneem het. Herkie se sussie is dood toe sy maar sewe was. Sy ma het die mooiste truie gebrei, Fair Isle-kunswerke. Herkie en Bennie het Saterdae aan Herkie se Ford Mustang gewerk, dan gaan sy saam en sit by tannie Tersia op die stoep waar sy besig is met haar breimasjien. Die tannie het getreur oor haar oorlede dogtertjie, maar sy het haarself getroos met die hoop dat Herkie eendag kinders sou hê, verkieslik dogtertjies. Die lewe is nie regverdig nie, of is dit nou die Here wat onregverdig is? Verskriklik! Soms sit die duiwel verkeerde gedagtes in haar kop, dan moet sy diep asemhaal en aan Jesus dink, Hom sien met sy lamp wat genoeg lig uitstraal om die wêreld se donker te verlig, ook haar eie hart.
Ouma Leen kom staan langs haar, haal die waterpot se deksel af. “Mooi, dit kook.”
Sy laat sak die Kerspoeding versigtig, sit die deksel op en draai die plaat laer af. Die vla kook amper oor. Janine lig die pot en roer sodat daar nie ’n skil bo-op vorm nie.
“Nou vir ’n lekker koppie tee, ons verdien dit,” sê Ouma.
Maar eers maak sy die skottelgoed bymekaar en pak dit in die opwasbak. Plig voor plesier, dis een van ouma Leen se lewensbeginsels: Plig voor plesier, doen dit nou, spaar en jy sal altyd genoeg hê.
Ouma was en sy droog af. Hulle praat het opgeraak. Janine dink aan die aankondiging wat sy oor ’n paar dae moet doen: nog ’n mondjie wat gevoed sal moet word, doktersonkostes, klere, skoene en skoolgeld, ’n kindjie wat sonder ’n eie pappa sal grootword.
Toe sy Riekie se huilstemmetjie hoor, kan sy nie gou genoeg die vadoek neersit en haar kamer toe haas nie.
3
Vrydagoggend word die huis nog weer deeglik skoongemaak. Oupa sny gras, Ouma hang wasgoed op, Jessie skrop vir oulaas die kombuis en badkamer, Janine stoot die stofsuier oor die sitkamermat. Jenny en Riekie sit mekaar op die bank en vasklou, kastig bang vir die suigmasjien. Die Kersboom flikker aan en af. Janine werk net voorlangs. Sy skakel die stofsuier af, stoot dit gang toe en trek die boks met speelgoed vir die dogtertjies nader. Ouma Leen het Janine se Pink Panther, haar teddies en Barbie-poppe uit die kas gehaal, maar Jenny is nog te klein vir Barbie. Aunty Anny het vir haar ’n Kewpie met ’n sak vol kleertjies gebring. “Van die arm vroutjies maak popklere vir broodgeld. Dis ons nuwe predikantsvrou, sy het hulle aan die gang gekry.”
Uncle Abie het sy stokperdjie aangedra: Noag se ark en al die diere, kunstig uit hout gekerf. Dis sy trots, hy maak dit gratis vir die kerkskool. Jenny, wat so ongelukkig was oor haar speelgoed wat in Londen agtergebly het, speel nou alte lekker. Janine sit op die mat met haar rug teen die bank en kyk hoe oulik sy ’n legkaart bou, groot stukke wat geduldig gemeet en gepas word vir ’n huis met ’n spitsdak, twee vensters en ’n voordeur. Riekie kou aan ’n plastiektandering, sy kwyl haar borslap papsopnat.
Ding-dong-dang, kondig die muurhorlosie die halfuur aan.
Jenny kyk op. “Ou Ding-Dong,” sê sy.
Riekie laat val haar tandering en klap handjies.
Janine glimlag. Twintig jaar gelede toe sy die klokkespel die eerste keer gehoor het, het dit haar verbeelding ook aangegryp. Die ou horlosie kondig die tyd so reëlmatig en stiptelik aan, sy stem het deel geraak van die huis en die huishouding. Minute, ure, dae, maande, jare het byna ongemerk verbygaan. Maar hy hang waar hy altyd gehang het, reg bokant die riempiesbank met die gevoude lappieskombers. Oor die tafel pryk nog dieselfde fluweellap, in die middel dieselfde vaas. Net die fotogalery lyk nie meer soos drie jaar gelede nie. ’n Vergroting van Janine in haar trourok, Ouma en Oupa deftig aan weerskante van haar, is bygevoeg. Jenny en Riekie se geraamde portretjies staan links en regs. Greg skitter in sy afwesigheid. Die tyd het tog aangestap.
Jessie loer om die deurkosyn. “Sit aan die TV, hulle wys Toy Story 2.”
“Woody!” gil Jenny en stoot die legkaart eenkant toe.
Jessie kom sit langs Janine. “Jy’s bleek. Wat makeer?”
Janine tel Riekie op haar skoot. “Hulle hou my besig, ek slaap sleg.”
“Ons kry vanaand gaste.”
“Weet ek dit nie.”
“Hulle sal nie lank kuier nie. Kerk is agtuur môreoggend.”
“Sjuut, julle!” Jenny skuif nader aan die televisie. Sy verstaan genoeg Engels om die dialoog te volg.
Riekie raak knieserig. Jessie vat haar by Janine en dra haar, al klaende die gang af. Janine kyk ’n stukkie van die speelgoedmanewales, staan dan op en loop kamer toe.
Riekie rus teen Jessie se skouer. Sy neurie haar aan die slaap, wieg haar op die maat van “Kersfees kom, Kersfees kom …”
Janine trek die bababedjie se lakens reg. As sy nie meer hier is nie, sal Jessie haar dogtertjies grootmaak. Dis ’n aaklige gedagte en dit kan gebeur, sy kan doodgaan – soos sy deesdae voel, so maklik.
Jessie sal ’n goeie ma wees. Sy lê die slapende Riekie versigtig neer, fluister: “Skatlik.”
“Sy is, veral as sy slaap.”
“Ek hoor haar snags.” Jessie staan ’n entjie weg. “Jy moet my kom roep as dit te erg raak,” sê sy saggies.
“Jy werk, ek kan jou nie van jou nagrus beroof nie.”
“My werk is nie veeleisend nie.”
“Wanneer jy hier is, help jy my heeltyd. Ek weet nie wat ek sonder jou sou doen nie.”
“In Londen het jy alleen reggekom.”
“Nie sonder Esther en ons kerk se Baby Circle nie.”
“Dis goed dat jy nie alleen was nie.”
“Daar was tye dat ek so alleen was, ek het julle briewe oor en oor gelees.”
Jessie sit haar arm om Janine. “Selfde hier.”
“Ek sien nie kans vir vanaand nie.”
“Die Kowalski’s het ons laas jaar genooi. Vanjaar is dit ons beurt.”
“Ek wil nie ’n pretbederwer wees nie, maar ek het gehoop dis net ons.”
“Jy is onseker oor Bennie, of hoe?”
“Oor hom én die res van die dorp. Ons moet môre kerk toe en almal sal my aangluur.”
“Vra my, ek moes ook daardeur. Wat my bekommer, is dat jy so bleek is.”
Janine