Kus vir die Kluisenaars. Esta Steyn

Kus vir die Kluisenaars - Esta Steyn


Скачать книгу
Vir ou Jakes van die Griek se kafee ook nie.

      Sy vleg haar motortjie tussen die verkeer deur om eers twee blokke verder te besef dat sy nie weet waarheen sy eintlik op pad is nie. Terug na haar woonstel in Parow? Nee, die gedagte om nou alleen daar te wees, is te erg. Tamboerskloof toe dan: Melissa se woonstel, Melissa se ateljee. Sy het vier dae by die werk afgekry om haar stiefma se persoonlike sake in orde te kry en die woonstel te ontruim. Die blote gedagte daaraan lê soos ’n berg voor haar. Selfs die feit dat Jakes beloof het om daarmee te help, maak die taak nie minder aangenaam nie. Henry! As Henry maar hier was! Maar aan Henry durf sy nie dink nie. Henry is van gister; hy is verby. Hy het Anne as ’n lewensmaat gekies. Hy was nie eens op die begrafnis nie.

      En nou onthou sy Melissa se woorde toe sy haar van Henry se skielike verlowing gaan vertel het. Dit was ’n skrale tien dae gelede en Melissa was besig met die uitstalling.

      “Cisca,” het Melissa gesê, “dis beter so. Dis beter dat hy tot ’n punt gekom het en ’n keuse gemaak het. Nou is jy vry om vorentoe te beweeg.”

      Sy het doodstil na Melissa geluister en uiteindelik gesê: “Ek het al die tyd geweet dat dit op die ou end Anne sou wees.”

      “En ek het dit gehoop, liewe Cisca. Ek het dit al die tye vir jou probeer sê, dat julle nie oor dieselfde dinge lag nie, nie eenders dink nie, miskien nie eers werklik van mekaar hou nie. Het ek nie?” En meer bedaard het Melissa voortgegaan met haar hande stil oor mekaar gevou, haar stem sag en versigtig: “Henry het wel ’n goeie toekoms. Maar is hy jou soort ou? Ek dink nie so nie, Cisca. Ek glo dat daar vir jou ’n warm, hartlike man iewers wag wat jou fynheid van gees sal snap. Iemand wat jou regtig gelukkig wil maak, sonder om jou te wil verander. Jy moet hom soek en as jy hom kry, sal jy my woorde onthou. Dan sal jy nie twyfel nie en jy sal nie hoef te sit en hoop nie. Jy sal weet.”

      Toe sy aan hierdie woorde dink, stroom die trane oor haar wange. Dit bring ’n soort verlossing, want dis die eerste trane sedert Saterdag. En toe sy voor Melissa se woonstelblok hoog teen die hellings van Tamboerskloof stilhou, het sy meer moed om binne te gaan en die lewelose plek te konfronteer.

      Sy klim met die bekende rooi sementtrap na die boonste verdieping. Wanneer sy die woonstel oopsluit, klop een refrein aanhoudend deur haar moeë brein: ek kan nie glo sy’s nie hier nie, ek kan nie glo sy’s nie hier nie. Sy loop dwalend deur die vertrek, staar na die handgeweefde matte, skilderye, plante, deurmekaar boekrakke, stapels sketse. Sy raak aan niks, bang om iets te versteur. Dit is die plek van soveel glase rooiwyn, koppies koffie, laatnaggesprekke oor Kruisendal, haar pa, die ongeluk. Hoe sal ek die plek kan opruim? wonder sy. Hoe pak mens iemand vir wie jy lief was se lewe op? Sy trek die deur saggies toe, hardloop die rooi sementtrappe vinnig af. Van onder in die straat kyk sy op na die balkon. Melissa sal nie weer op ’n Saterdagoggend daar sit met haar nat hare in ’n handdoek gerol nie.

      Sy ry ’n paar blokke straataf tot by die ateljee. Dis ’n ou gebou tussen die Griek se kafee en ’n garage. Sy parkeer die Mini in die nou poort langs die gebou. Sy klim die houttrap na bo en wanneer sy die deur oopsluit, is die skok dieselfde as by die woonstel. Die tekens van Melissa is oral denkbaar sigbaar, hier nog veel meer as netnou.

      Die een hoek van die groot vertrek is ingerig as ’n soort sithoekie met ’n divan, twee rottangstoele en plante. Daar is twee lang werktafels volgepak met houertjies verf en bottels terpentyn, kwaste, palette, kunsboeke. ’n Paar esels met werke van Melissa se kunsstudente staan orals rond. Hulle was besig met ’n stillewe: ’n ou stuk dryfhout en ’n verweerde skulp staan op ’n tafeltjie uitgestal. Alles het tot ’n einde gekom, dink Fransie. Sy tel die skulp versigtig op. Dis een van die skulpe wat Melissa in die geel kombi saamgebring het. Waarvandaan? Kluisenaarskus?

      Sy stap tot by die venster langs die hoekie waar Melissa se klein lessenaar staan. Rekenings en briewe lê besaai daarop. Melissa se administrasie was altyd in chaos en Fransie het gewoonlik twee maal ’n maand haar rekenings op datum kom bring. Sy gaan sit ingedagte. As haar pa ooit hierdie lessenaar moes sien, sou hy seker dadelik orde wou skep. Hy was altyd pynlik presies.

      Haar gedagtes gaan terug na sy kantoor in die skool op Kruisendal. Die lessenaar met die blink glasblad. ’n Houertjie met twee penne, die telefoon, presies in een lyn geskuif met die hoek van die glasblad. Wanneer daar boeke, registers of rapporte op die lessenaar gelê het, was dit in reguit hopies. Niks het ooit skeef gelê nie. Wanneer hy gepraat het, was sy hande op sy skoot gevou en sy skouers waterpas. Hy sou slegs sy hande onder die lessenaar uithaal om iets reg te skuif. Dit was senutergend, die manier waarop hy in die middel van ’n sin stilgebly het om die een legger eers gelyk met die ander te skuif. Dat hy vir Melissa, van alle mense, Melissa, gekies het om sy tweede vrou te word, was destyds ondenkbaar.

      Hy het nie met Miss Meiring getrou soos die hele dorp verwag het nie.

      Fransie staan besluiteloos op. Miskien moet sy nou ten minste net die inhoud van die lessenaar inpak. Dan kan sy later, wanneer daar meer tyd is, alles in haar eie woonstel gaan uitsorteer. Sy kry ’n groterige kartondoos en begin die lessenaar se laaie leegmaak. Daar is ou rekenings en foto’s, kwaste en lekkers, penne en nog penne. Onder in die derde laai kom sy af op ’n blou sjokoladeboks met ’n blou strik boop. Sy glimlag by die gedagte dat dit die soort houer is waarin ’n meisie liefdesbriewe behoort te bêre. Maar dié een sal seker maar net vol leë buisies verf en droë kwassies wees.

      Dis eers laatmiddag wanneer sy terugry Parow toe. Sy dwaal onrustig in haar woonstel rond. Dit voel asof alles rondom haar vaal en vreugdeloos geword het. Die gedagte tref haar so skielik dat sy skrik: moet sy nie weggaan nie? Met Henry verloof en Melissa weg, wat bly eintlik in die Kaap vir haar oor? Haar werk by Henning en Human het tot dusver altyd uitdagings gebied en meneer Wentzel, onder wie sy werk, was nog altyd baie goed vir haar. Maar hy is Henry se pa en sedert Henry se verlowing is niks meer dieselfde op kantoor nie. Daar is ongemaklike stiltes. Dit voel asof almal haar bejammer en dis die laaste ding wat sy nodig het.

      Sy maak toebroodjies en tee, maar is meteens ook nie meer honger nie. Sy gaan sit voor die ou klavier. Die klanke is swaar en somber soos haar gemoed. Sy onthou skielik van die doodsberiggies wat sy wil uitknip en gaan slaan die koerant oop. Daar is selfs beriggies van Melissa se studente. Sy knip dit sorgvuldig uit en haar oë dwaal verder oor die advertensiekolomme.

      Betrekkings. Sy lees die vakante betrekkings met ’n ondefinieerbare gevoel van opwinding. Sê nou hier is ’n werk vir haar? Wat verhoed haar om weg te gaan en elders ’n nuwe begin te maak? Terug Kruisendal toe? Sy dink ’n oomblik aan die klein dorpie waar sy grootgeword het. Nee, nie daarheen terug nie. Nee, wat sy nodig het, is iets heeltemal nuuts. Sy maak die koerant weer toe en sug. Mens kan nie wegvlug van die werklikheid nie. Niks sal hierdie dag ongedaan kan maak nie: Melissa is weg om weg te bly. En buitendien soek hulle net passers en draaiers, ingenieurs en manlike klerke in die koerant.

      Dis reeds tien dae later wanneer sy tyd kry om die kartondoos wat Melissa se lessenaar se inhoud bevat, deur te kyk. Intussen het sy en Jakes die woonstel ontruim en die nodige uit die ateljee weggeneem. ’n Paar kunsstudente het die ateljee gehuur met meubels en al en ou Jakes het die divan en die stoele oorgeneem.

      Toe sy die blou sjokoladeboks oopmaak, staar sy lank en verdwaas na die inhoud. Dis briewe. Blou briewe in ’n groot skuins skrif. Sy draai die boonste koevert om en soek na die adres van die afsender. Elias van Egeren, Dorkasbaai, Posbus 10, Rusthalt. Sy lees dit verward oor en oor. Sy laat die koevert op haar skoot sak. Dorkasbaai. Waar op aarde het sy dié naam vantevore gehoor? Sy wil-wil onthou, maar dit glip weg saam met ander gedagtes. Dit was nie by Melissa nie, dit weet sy. Dit was ná die begrafnis toe sy moeg en moedeloos gevoel het. Sy het die naam gelees. Sy het nog gestruikel oor die naam, en dit was nie so lank gelede nie.

      Sy haal een brief uit sy koevert en haar oë glip verwonderd oor die skrif. Haar hart klop met innerlike afwagting, want sy weet dat sy besig is om ’n blik in Melissa se lewe te kry, dié deel wat altyd geslote gebly het. Daardie deel wat sy oorsprong by haar omswerwinge in ou Jakes se geel kombi gehad het.

      Die brief is die suiwer taal van ’n liefde wat groot was. So groot, dat dit selfs nou, in vreemde hande, diep ontroer.

      Dorkasbaai Posbus 10 RUSTHALT 30.09.1979 Liefste Melissa Ek stap oor die grond van Dorkasbaai


Скачать книгу