Kus vir die Kluisenaars. Esta Steyn
haar klavier toe gestorm en begin speel. Die besluit het soos ’n verwoesting oor haar gekom: sy moes klaarmaak en kerk toe gaan. Want hier kon sy niks doen om hulle te keer nie. Maar, as sy kerk toe gaan … miskien kon sy hulle stop. Sy het haastig onder die koel lafenis van die stort gaan staan. Sy het die geel rok oor haar halfnat liggaam aangepluk en die rits oorhaastig toegetrek. Skoene, hare kam, en af by die gang tot buite waar die hitte die koue stort onmiddellik ongedaan maak. Sy het gehardloop. Af in die stil Saterdagmiddag-strate, waar ooms met kaal bolywe sproeireën oor dor grasperke spuit en tantes op die stoepe sit en hekel. Iewers het die klanke van ’n radio ’n krieketwedstryd se hoogtepunt uitgebasuin. Links op in Joubertstraat, die bult op. Haar asem het gebrand en haar bene was moeg.
Kerkstraat, uiteindelik! Voor die kerk was ’n paar motors onder die bome geparkeer. Die bruidsmotor, haar pa se motor. Meneer De Waal. Die Du Toits. Oom Sybrandt en tant Bernice Cronjé.
Haar moed het haar begewe. Sy het in die kerktuin gaan staan met haar moeë liggaam en verwarde gedagtes.
Toe breek die geluid van die jubelende troumars die stilte van die tuin en dit weergalm binne-in die rouheid van haar gemoed.
Nou neem Pa Melissa se lang bruingebrande vingers in sy goed versorgde hande met sy kort geknipte naels. Sy kon elke woord van ou dominee Weyers se bekende stem hoor. Sy kon selfs die kuggies van die mense hoor, hulle opstaan en hulle sit. Sy het botstil bly staan en luister en geleidelik besef dat hier in die kerk se tuin waar oom Japie Kraai se netjiese blombeddings haar omring en die blare van die bome blou kolle na die hemel deurlaat, dat sy hier haar pa se troudag met veel meer ingeskerptheid beleef as wat sy dit waarskynlik binne-in die kerk saam met die bruilofsgaste sou kon doen.
Die ontsteltenis het begin losknoop. Miskien sal Melissa verander en ook soos hulle word. Miskien sal alles tog nie so erg wees nie. Miskien sal die kinders ophou saggies lag. En miskien sal Melissa ’n gewone dorpsvrou word.
“Andries Johannes van Zyl, beloof jy en is dit jou voorneme …”
Pa.
Sy het konsistorie toe gestap en hulle daar gaan inwag. Daar was ’n verf- en vernisreuk en sy het vaagweg onthou dat hulle besig was om die ou kerkgebou op te knap. Magteloos het sy die finale bevel aangehoor: “Gee nou mekaar die regterhand.”
Toe haar pa en Melissa saam met ou dominee Weyers die konsistorie binnestap, het sy skuldig opgestaan. Melissa het haar hande uitgesteek: “Cisca!” het sy saggies gesê. Dit was die eerste maal dat iemand haar só noem. In die skool was sy Fransie en haar pa noem haar op haar doopnaam, Francisca. Nou was sy Cisca …
Uit Melissa se mond het dit soos iets heel besonders geklink. Melissa was mooi. Haar swart hare was nie los nie. Dit was statig op haar kop vasgebind, sodat haar sterk profiel en hoë voorkop ontbloot was. Oomblikke lank het sy vir Fransie vasgedruk teen die wit kantvalle van haar rok. Melissa het soos rose geruik. En Andries van Zyl het bo-oor die kop van sy nuwe bruid vir sy dogter geglimlag: hy was openlik verlig.
Saam met Melissa het die roetine in die groot ou huis oorkant die skool baie verander. Etenstye is dikwels bepaal deur die vordering op ’n nuwe seildoek. Baie aande was daar net ’n haastige stukkie roosterbrood en roereiers. Dan, skielik op ’n aand, sou die lang tafel vrolik getooi wees met kerse en rose en wyn en het Melissa hulle met uitheemse disse en nostalgiese musiek betower. Sulke aande was haar donker oë vol vrede en haar bewegings rustig, tydloos. Dan kon Fransie sien hoe haar pa bewonderend na sy bruid kyk. Daar was die oggende dat die kombuis geen tekens van ontbyt getoon het nie, maar wel ’n esel met ’n halfklaar skildery en botteltjies, flessies en kwaste op die tafel. “Andries, hoe laat is dit nou? Moet julle eet?” Daar was middae dat Fransie ná skool ’n presentjie op haar bed ontdek het. ’n Boek of ’n fyn stukkie onderklere, toegedraai in handgemaakte papier. Dit was die teken dat Melissa ’n skildery verkoop het. Daar was ook die spesiale aande dat sy vir Fransie kom toemaak het en die komberse saggies agter haar rug ingedruk het soos vir ’n klein kind. Dan het sy op die bed kom sit: “Ons moet praat oor die dinge van grootword, Cisca. Want daar kom ’n tyd dat jy nóg kind nóg vrou is, en jou tyd is nou.”
Haar nuwe stiefma was nie meer vir haar ’n bedreiging soos in die begin nie. By Melissa het sy haar eie vermoëns ontdek en haar eie frustrasies leer verstaan. Daar was die rustige tye in Melissa se ateljee; middae wanneer sy daar met haar huiswerk gesit het, terwyl Melissa intens aan die skilder was met swaar barokmusiek op die agtergrond. Hulle het dikwels langs die rivier gaan stap of op die rotse in die son sit en gesels. Dit het duidelik geword dat Melissa altyd bly wonder het of die mense van Kruisendal haar ooit aanvaar het. Van haar kant af het sy probeer inskakel by die vergaderings, koekverkopings en fondsinsamelings. Soos dit die vrou van die prinsipaal betaam. Haar kleredrag het minder opvallend geword. Sy het selfs meer stiptelik en ordelik probeer wees. Maar diep in haar hart het Fransie gewonder of haar stiefma tog werklik gelukkig op Kruisendal was.
Die nuus van Andries van Zyl se dood in ’n vliegramp het die dorp soos ’n bom getref.
Hy was op pad Durban toe vir ’n konferensie. Dae lank was die skool en die dorp stil van die skok.
Hoe Fransie deur daardie matriekjaar gekom het, kon sy later self nie onthou nie. Al wat sy wel onthou het, was dat Melissa daar was vir haar. Wanneer sy in die nag wakker geword het van verdriet, was Melissa wakend langs haar bed in die groot stoel opgekrul, besig om sketse te maak. Ná ’n paar maande het hulle saam besluit om die huis regoor die skool te verkoop. Melissa wou Kaap toe trek om ’n kunsskool te begin.
Fransie het by haar pa se suster-hulle gaan inwoon. Oom Sybrandt Cronjé en sy vrou, Bernice, het haar in hul kinderlose huis verwelkom en sy het by oom Sybrandt begin werk. Hy was ’n rekenmeester en op Kruisendal bekend as ’n deeglike, hardwerkende man. Om langer as ’n jaar by daardie kantoor uit te hou, was ’n vuurdoop, want so saggeaard soos wat hy tuis was, so veeleisend was hy in sy beroep. Hy het geen nalatigheid geduld nie en sy personeel met ’n streng hand beheer.
“Fransie,” het tant Bernice gesê, “oom Sybrandt sal vir jou ’n goeie grondslag in boekhouwerk gee; jy moet net uithou en aanhou. Bly eers hier by ons vir ’n jaar of wat en as jy dan Kaap toe wil trek, sal oom Sybrandt sorg dat jy die regte werk kry.” Oom Sybrandt het haar persoonlik onder sy bekwame hande geneem en opgelei. Korrespondensie, tikwerk, kasboeke, grootboeke, joernale, proefbalanse het deel van haar daaglikse roetine geword. Een jaar het gerek tot twee.
Tot op ’n dag toe hy haar na sy kantoor laat kom. Daar was ’n wasigheid op sy bril. “Francisca, jy is ’n jong mens en op Kruisendal is daar min uitdagings vir jou. Ek het vir jou geleer wat ek kon en jy was regtig ’n staatmaker. Ek en Bernice voel dat ons jou nou met vertroue kan laat gaan. Ek weet van ’n ouditeursfirma in Parow wat iemand soek en ek sal jou daar aanbeveel.” Oom Sybrandt het sy bril afgehaal en die lense sorgvuldig begin blinkvryf. Sy stem was sag: “Ek is jammer om jou te moet verloor, maar een of ander tyd moet jy op jou eie voetjies kan staan. En ons weet hoe jy vir Melissa mis.”
Die Kaap was ’n nuwe begin. ’n Nuwe woonstel, ’n nuwe werk, nuwe kollegas en toe … Henry. Dit het vir haar gevoel asof haar hele lewe rigting begin kry.
Maar nou is niks meer soos dit toe was nie. Die hele Kaap voel leeg. Henry gaan trou. Melissa is heen. En sy het agtergebly met honderde vrae.
Wie is Elias van Egeren?
Sy bêre die blou briewe weer in die boks en dwaal onrustig in die woonstel rond. Sy gaan staan by die venster en kyk uit oor die nagliggies en onthou hoedat Melissa haar gehelp het om die meubels en die matte vir die woonstel uit te soek. Nou voel dit asof die plek haar wil uitdryf.
As sy net met iemand kon praat, soos oom Sybrandt. Maar hulle is met ’n bootvaart van vier maande Europa toe. Dis hoekom sy hulle nie kon bel met die tyding van die begrafnis nie.
Weer terug na die boks met die blou briewe, al voel dit asof sy op heilige grond oortree.
Ek moet weet, dink sy, ek moet alles weet.
Dorkasbaai
Posbus 10
RUSTHALT
04.04.80
Liefste