Schalkie van Wyk Keur 8. Schalkie van Wyk

Schalkie van Wyk Keur 8 - Schalkie van Wyk


Скачать книгу
daag hy haar uit.

      Sy lag sorgeloos. “Ons arbeiders skrik nie vir ’n bietjie reën nie. Kom ons hardloop.”

      “Gryp jou handsak. Ek sal jou grimeertassie en my aktetas vat.”

      Hy is eerste by die tuinhekkie, maak dit vir haar oop en klap dit agter hom toe. Sy groot hand sluk hare in en dan vlieg sy oor die kegelstene van die tuinpaadjie en bly hygend voor die toe voordeur staan. Hy skud die reëndruppels uit sy hare en lag in haar oë, en sy weet sy is bly; bly om hier te wees en bly om by hom te wees.

      Die voordeur gaan langs hulle oop en Marné kyk vas in die goedige gesig van ’n bejaarde vrou met grysswart hare, sagte, groenbruin oë en ’n glimlag wat haar sonder woorde verwelkom.

      “Skaam jou, Erik! Waarom het jy nie voor die agterdeur stilgehou nie? Die arme dogter is druipnat. Kom, liefie, kom binne. Dis heerlik warm in die kombuis voor die koolstoof en daar is sop en pannekoek vir middagete.” Die vrou plaas ’n beskermende arm om Marné se skouers en kyk verwytend op na Erik. “As die kind aan longontsteking sterf, rus dit op jou gewete, boet!”

      “Ja, Ouma. Goed, Ouma. Dag, Ouma. Dis Marné Jordaan,” sê Erik tergend en maak die voordeur agter hulle toe.

      “Asof ek nie weet nie!” reageer die vrou vies en sê gedemp aan Marné wat saam met haar in die lang gang afstap: “My kleinseun het die eienaardige geloof dat die ouderdom ’n mens dom maak. As hy Marné Jordaan in Johannesburg gaan haal het, sou hy tog nie met Susarah Peens hier opgedaag het nie.”

      “Ouma skinder,” sê Erik agter hulle. “Marné, dis my ouma Kobie. Ek sê dit nie omdat ek dink jy is dom nie, maar omdat ek goeie maniere het. Kobie de Ridder. Van maniere gepraat: het Ouma nie die kaggelvuur in die sitkamer aangesteek nie? Marné is darem ’n kuiergas.”

      “Die kombuis is warmer,” sê Kobie beslis, bedink haar en kyk vraend na Marné. “Of sal jy ongemaklik voel om in die kombuis te kuier, liefie?”

      “Ek kan nie wag om by die koolstoof te kom nie, dankie, tannie. Dis kouer as wat ek besef het.”

      “Dis altyd kouer op die eiland, veral wanneer dit reën, en daarby is jy druipnat. Toe-toe, Erik, bring vir Marné ’n handdoek. Ek skink solank vir ons koffie,” sê Kobie en maak die kombuisdeur oop.

      Die warm lug vou om Marné en laat haar ril. Sy loop vinnig na die koolstoof toe en hou haar hande daaroor uit. “A, dis nou beter!” sê sy en kyk glimlaggend om. Sy sien ’n bejaarde man orent kom langs die groot kombuistafel en haar glimlag verdwyn. “O, ekskuus … Ek het u nie raakgesien nie, meneer.”

      “Oom Lukas de Ridder, niggie,” sê hy. Hy stap hinkend om die tafel en skud haar hand. “Bly te kenne, ounooi, en welkom op Flaminke-eiland.”

      “Dankie, oom. Bly te kenne,” sê sy werktuiglik, intens bewus van die kleur van sy oë. Dis silwergrys, soos dié van Erik, dink sy. Hy is skraler as Erik, maar sy skouers is breed en sy sterk beenstruktuur maak van hom op die leeftyd van vyf en sewentig nog ’n aantreklike man.

      “Waar draai Erik met die handdoek?” vra Kobie kwasterig en dra ’n skinkbord met bekers stomende koffie nader.

      “Ek is byna droog, tant Kobie. Die koffie sal heerlik smaak,” sê Marné en tel ’n beker koffie op.

      “Jy moet Kobie se karringmelkbeskuit proe, niggie. Kobie is te maer om soos ’n goeie kok te lyk, maar sy is een, en ’n baasbakster,” sê Lukas trots.

      “Ek sal liewer vir die sop en die pannekoek wag – as tannie nie omgee nie,” sê Marné en kyk onseker na Kobie.

      “Maak so, Marné. Dis net mans wat soos sprinkane kan eet,” antwoord sy en kyk vies na Lukas wat ’n stuk beskuit in sy koffie dompel.

      “Ek eet gesond, vrou, maar Erik verorber alles wat voorkom,” sê hy onbesorg.

      “Erik werk hard,” sê sy partydig en vervolg met opsigtelike trots terwyl sy na Marné kyk: “Hy is die wonderlikste kleinseun wat twee oumense kan hê. So ’n slim seun en so ’n harde werker. Die huise wat hy bou … Almal op die dorp praat met groot lof van hom.”

      “Huise vir ander mense,” kom dit knorrig van Lukas. “Wanneer gaan die vent vir homself ’n huis bou en vir my ’n agterkleinkind gee? Nee a, ek word nie jonger nie. Of dink hy ek moet vir altyd lewe omdat hy ’n ewigheid gaan wag voordat hy trou?”

      “Skaam jou, Lukas!” Kobie gluur hom kwaai aan en draai vertroulik na Marné. “Ons praat nie daaroor nie … nie oor Laura Viljoen nie.” Sy sug beswaard en skud haar kop. “So ’n ongelukkigheid … ’n Mens sal nooit die volle waarheid weet nie.”

      “Wil Erik met Laura trou, tannie?” vra Marné en dit voel vir haar asof sy weer oor die laagwaterbrug ry met ’n see bruin, kolkende water om haar.

      “Ons praat nie daaroor nie,” herhaal Kobie nadruklik. Sy kyk om toe die kombuisdeur oopgaan en Erik met ’n liggroen handdoek in sy hand die vertrek binnekom. “Waar draai jy so, boet? As jy inflammasie op jou bors wil hê, moet jy in nat klere voor ’n warm stoof staan.”

      “Ek het gou by oom Sebastiaan ingeloer, maar hy slaap, Ouma,” antwoord hy en knipoog vir Marné. “Voel jy asof jy inflammasie op jou bors het, Marné?”

      “Nee, gelukkig het net my skouers en hare natgereën.” Sy stoot sy hand weg toe hy die handdoek na haar toe uithou. “My hare is klaar droog. Jy het die handdoek nodiger as ek.”

      “Jig,” kla Kobie. “Ek het jig in my skouers van al die kere dat ek natgereën het.”

      “Laas was dit rumatiek, Ouma,” treiter Erik haar, vryf sy hare droog en stoot sy vingers deur sy kuif. Hy lig sy kop op en snuif. “A, groentesop! Wanneer eet ons, Ouma?”

      “Was julle hande sommer onder die kraan in die wasbak en kom sit aan. Ek sal solank opskep. Lukas, sny vir ons brood. Nee, wag, ek sal dit doen, want jy sukkel om vars brood te sny,” praat Kobie aanmekaar terwyl sy die sop in die sopborde skep.

      Dis geluk sonder einde, dink Marné terwyl sy saam met Erik haar hande onder die warm water afspoel. Hy spat water in haar gesig en glimlag met seunsagtige onnutsigheid toe sy hom aangluur. Hulle droog hul hande af en neem aan die tafel plaas. Lukas vra die seën en daarop eet en gesels hulle asof sy een van hulle is.

      Sy wil nie weggaan nie, dink Marné. ’n Mens kan die liefde tussen die drie mense om die kombuistafel aanvoel. Met ’n kyk en ’n glimlag straal elkeen ’n boodskap van liefde uit. Hulle liefde sluit haar in, laat haar koester in die warmte van hulle gasvryheid en gee aan haar die gevoel dat sy eindelik tuisgekom het.

      Maar wat van Laura Viljoen?

      Die gesiglose meisie staan skielik voor haar en maak van haar ’n indringer. Sy sal nooit werklik deel wees van die De Ridders nie, want sy is nie Laura Viljoen nie. Nee … Erik het Laura lief, maar sy verwag nie van hom om haar lief te kry nie; nie met die besondere liefde wat ’n man vir ’n vrou het nie. Sy kan nog, wil nog deel wees van die mense van Eiland-huis … as Laura haar sal toelaat.

      “Sebastiaan sien uit daarna om met jou te gesels,” dring Kobie se stem tot haar deur. “Marné, hoor jy wat ek sê? Sebastiaan was skoon opgewonde toe hy hoor jy kom hierheen.”

      Marné staar haar verward aan. “Maar … maar ek ken hom nie, tant Kobie.” Sy frons nadenkend. “Ek verbeel my ek het al sy naam gehoor, maar ek weet nie waar nie.”

      “My liewe kind, jou tant Annie het saam met Tinus en Sebastiaan Brandenberg op Twiswaters grootgeword. Jy weet tog seker dat jou oupagrootjie ’n dokter op die dorp was?”

      “Ja, tant Annie het my vertel.”

      “Nou ja? Vanselfsprekend het Annie oor Tinus en Sebastiaan gepraat.”

      Marné skud haar kop. “Nee, tant Kobie. Voordat tant Annie my vertel het van tant Renate Brandenberg se aanbod dat ek Nicolette se oppasster moet word, het sy nooit die Brandenbergs met my bespreek nie.”

      “Moenie


Скачать книгу