Uit die binneland. Dana Snyman
section>
Uit die binneland
Dana Snyman
Human & Rousseau
Die derde glas
Oom Apie hou met sy Zephyr op die sypaadjie stil. Punch blaf by die draad.
“Voertsek!” skree my pa van die stoep af.
Oom Apie klim uit, buk en trek iets onder die Zephyr se seat uit. Dis ’n geweer – ’n ou langloop-.303, nes Oupa s’n. Hy swaai dit oor sy skouer.
“En nou, ou Apie?” roep tant Sus van langsaan oor die draad. Oom Apie stoot die hekkie oop en kom met ’n diep frons tussen die oë in die paadjie aangestap.
Ek sit op die stoep se boonste trappie. My pa sit op ons ou Holden se agter-seat voor die sitkamervenster. Hy het net sy vest aan, my pa, want dis warm.
“Dag, ou beesblaas,” sê oom Apie en vryf my oor die kop.
Punch draf deur die hekkie en gaan ruik aan die Zephyr se tyres.
“Dag, ou Dougie.” Oom Apie kyk na my pa en lig die .303 van sy skouer af.
“Dag, ou Apie,” sê my pa. “Sit.”
Oom Apie stut die .303 teen die stoepmuurtjie en haal ’n pakkie sigarette uit sy hemp se bosak, waar sy brilhuisie ook is, en ’n sakboekie. “Ek maak daai hond vrek by my tyres!” Oom Apie skud sy vuis in die Zephyr se rigting. “Voertsek!”
Oom Apie trek ’n sigaret uit die pakkie, maak dit brand, sug die rook voor hom uit en sê: “Dis ’n bittere dag, ou Dougie – ’n bittere, bleddie dag.”
“Ja, ou wêreld,” sê my pa. “So gaan dit maar.”
Oom Apie stap tot op die punt van die stoep, draai om en stap terug; “sjiet-sjiet-sjiet” oor die rooi vloer wat Simon soggens met Sunbeam blink vryf. “’n Bittere dag.” Hy tel die .303 op, loer deur die visier en maak dit weer teen die muur staan.
“Wat’s dit met jou, hè, ou Apie?” vra my pa. “Wat’s nou so bitter?”
Oom Apie kyk ontnugter na my pa. “Wil jy vir my sê jy’t nog nie gehoor nie?”
“Wat gehoor nie?”
“Van doktor Verwoerd.”
“Wat van hom?”
“Hy’s vermoor – net ná twee vanmiddag. In die parlement. Deur ’n dêm Griek met ’n dolk.”
Opeens is my pa regop. Hy klap teen sy voorkop, gaffel sy vingers deur sy hare, stap tot by die voordeur, draai om, steek vas. Hy slaan met sy vuis na die varing in die tyre wat aan die dak hang. Hy stap die trappie af, oor die grasperk. Hy praat met tant Sus van langsaan by die draad en beduie na sy borskas.
Tant Sus gryp na haar mond. “O, liewe Heretjie, dis vreeslik!”
Oom Apie haal die Zephyr se sleutels uit sy broeksak. “Loop kyk gou in my boot, ou beesblaas.” Hy hou die sleutel na my toe uit. “Daar’s ’n hoendertjie. Bring hom gou vir my en jou pa.”
Ek gaan sluit die Zephyr se boot oop en lig die swaar klap stadig, versigtig, want netnou vlieg die hoendertjie uit. Die boot ruik soeterig binne, maar ek sien nie ’n hoendertjie nie. Ek kyk oral, agter die spaarwiel, onder die groen seiltjie. Dalk het oom Apie die hoendertjie in die toolbox gedruk? Niks nie. Onder die mat is ’n seekoeisambok, halfagter die domkrag is iets wat in bruinpapier toegedraai is. Ek wikkel die papier oop. Binne-in is ’n bottel. Brandewyn.
Oom Apie het seker die hoendertjie by die huis vergeet. Ek draf terug stoep toe.
“Waar’s die hoendertjie?” vra oom Apie.
“Ek sien hom nie, oom.”
“Nee, ou Apie,” sê my pa, “hy’t weer soos sy gat gekyk.”
Oom Apie skiet sy stompie oor die muurtjie tussen die daisies in. “Sê vir jou oom wat het jy als gesien, beesblaas.”
Ek noem op: die toolbox, die domkrag, die seiltjie. Oor die sambok bly ek liewer stil.
“En?” Oom Apie vat my styf met sy twee oë vas. “Wat het jy nog gesien?”
“Daar was ’n bottel ook, oom.”
Oom Apie kyk na my asof hy my jammer kry. “Dis die bleddie hoendertjie,” sê hy. “Loop haal hom. Toe, toe!”
Op pad terug met die bottel in my hand val ek amper oor Punch op die onderste trappie.
“Oppas, dêmmit!” roep my pa benoud.
Hulle stap in die gang af, my pa voor en oom Apie agterna, die .303 in sy hand. In die kombuis haal my pa ’n bottel koue water uit die yskas en drie glase uit die rak. Oom Apie maak die .303 teen die muur onder die kerkalmanak staan en gaan sit by die tafel. Ek gaan sit op die kolekas langs die stoof. ’n Flou streep sonlig val deur die venster, oor die botteltjies met die avokadopeerpitte op die vensterbank, oor die linoleum op die vloer.
Tant Sus van langsaan se stem dryf van die draad af deur die sifdeur: “Mens, het jy gehoor!”
My pa skink ’n sterk dop brandewyn in die drie glase. Een glas vat hy, die ander een skuif hy tot voor oom Apie.
Oom Apie wys na die derde glas. “En daai een? Wie s’n is dit?”
“Doktor Verwoerd s’n,” sê my pa en skuif dit tot voor een van die leë stoele.
Jimmy
Ek het Jimmy nou die dag weer gesien. Ná hoeveel jaar.
Ou Jimmy met die rooi hare en die baie sproete.
Hulle, hy en sy ma en sy pa, was eens op ’n tyd ons bure op een van die baie dorpe waar ek kind was. Hulle het ook in ’n rooibaksteenhuis gewoon maar hulle s’n was meer verwaarloos as ons s’n. Die dak het afgedop, die visdam was droog en hul foksterriër se bolle het die grasperk vol gelê.
Teen die hekkie het ’n bordjie met skewe letters gehang: Geen bedelaars of Jehova Getuies hier welkom nie.
Jimmy se pa het die bordjie geverf en daar vasgemaak. Maar Jimmy se pa was byna nooit by die huis nie want hy was ’n recce in die army. Hy was pal in Ovamboland of in Angola of plekke waarvan ons nie mag geweet het nie.
“My pa gaan vir my ’n Kubaan se oor bring.” Ek hoor nog Jimmy se stem.
“Wat hy waar kry?”
“By ’n Kubaan, natuurlik. Stupid. As hulle die Kubane in Angola skiet, sny hulle hul ore af.”
“Genuine? Hoe weet jy?”
“My pa het so ’n oor in sy wallet.”
Jimmy het graag met sy pa gespog. Hoe sy pa ’n jagmes – ons het dit ’n dagger genoem – op 20 meter in ’n boom se stam kan laat peck, nes Clive in die fliek Kaptein Caprivi. Hoe sy pa vyf minute sonder asem onder die water kan bly en hoe hy nes ’n Boesman kan spoorsny.
Partykeer het Jimmy die showcase in hul sitkamer oopgesluit en sy pa se army-medaljes vir my gewys: sulke goues met bont linte aan. In een hoek van die vertrek, langs ’n Pilot-radiogram, het ’n blinkgevryfde patroondop gestaan. Skuins bokant die patroondop het ’n foto van Jimmy se pa in sy recce-uniform gehang.
Party kinders het Jimmy gespot en gesê sy pa het hom met nat beesmis gegooi. Toe keer sy ma met die sif. Dis waarom hy so baie sproete het.
Elke middag het ons saam van die skool af huis toe gery, ek met my Chopper en Jimmy met sy gaar Hercules-dikwiel.
Een middag onthou ek beter as die ander.
“My pa het vanoggend met die Flossie van die grens af gekom. Kom ons gaan sê vir hom hallo.” Sy stem die ene trots.
“Scheme jy hy’t vir jou ’n Kubaan se oor gebring, Jimmy?”
“Kom ons gaan check.”
Eintlik onthou ek te veel van daardie middag.
Jimmy-hulle se voordeur was oop en in die sitkamer het ’n bruin army-trommel op die vloer