Uit die binneland. Dana Snyman
teen die muur moet stukkend gegooi het want langs Jimmy se pa se foto was ’n klam, donker vlek.
Jimmy se ma het met rooi oë op die bank gesit.
“Waar’s Pa, hè, Ma?”
“Waar dink jy is hy?” Jimmy se ma het met ’n sakdoek oor haar wang gevryf.
Jimmy het by die voordeur uitgestap en weer op sy fiets geklim. In die moerbeiboom voor die venster het die vinke geraas en hul vlerke geklap.
Dit was simpel van my, ek weet, om daardie middag agter Jimmy aan te ry: af in Eugène Maraisstraat, regs in Voortrekker, tot by die hotel in die middeldorp.
Ons het ons fietse teen die muur gestut, onder die Bar/Kroeg-teken. Die hotel was vir ons verbode, maar een van die kroeg se vensters was oop. Jimmy het op sy tone voor die venster gaan staan, ek ’n entjie agter hom. Twee mans het pyltjies gespeel. By die toonbank het ’n ander man met ’n army-T-shirt gesit. Of nee, hy het nie gesit nie, hy het gelê, met sy kop op sy arms.
Dit was Jimmy se pa, met ’n leë glas voor hom op die toonbank.
“Pa!” het Jimmy geroep. “Pa!”
Sy pa het nie geroer nie.
“Pa-ha!”
Een van die mans by die pyltjiebord het nader gestap. “Wat’s dit met jou, boetie?”
“Sal oom nie seblief my pa vir my roep nie?”
Die man het aan Jimmy se pa se skouer gaan ruk. Maar Jimmy se pa het nie regop gekom nie. Nie dadelik nie. En toe hy eindelik sy kop oplig, was sy oë wild. Hy het die glas gelig en ’n sluk gevat, al was die glas al leeg. Toe het hy opgestaan en venster toe gestap, na ons toe, stadig, asof sy bene enige oomblik onder hom kan meegee.
“Hallo, Pa.”
Sy pa het vorentoe geleun, wiegend op sy voete. “Wie’s jou pa, hè? Ek is niemand se pa nie, oukei? Jy ken my nie. Jy en jou ma ken my nie. Loop. Skiederril. Jy’t niks hier verloor nie.” Toe het hy omgedraai.
Ek het ’n ent agter Jimmy gery. Die hele pad wou ek iets vir hom sê maar ek het nie geweet wat nie. By ons huis het ek hom gegroet en afgedraai. Maar hy het nie teruggegroet nie.
Dinge was van daardie middag af nie meer dieselfde tussen my en Jimmy nie. Hy het nie meer smiddae vir my by die fietsloods gewag nie en wanneer ek vir hom gewag het, het hy net stil langs my huis toe gery. En wanneer ek hom gevra het om by my te kom speel, het hy altyd die een of ander verskoning gehad.
Jimmy het my begin vermy. Aan die einde van daardie jaar het ons na ’n ander dorp toe getrek.
Toe, nou die dag, hou ek by ’n verkeerslig in die stad stil en daar, tussen die twee rye motors, staan Jimmy.
Ek het eers ’n bietjie getwyfel maar daardie rooikop en sproete was syne. Ek weet nie of hy my ook herken het nie want toe ek by hom verbyry, het hy omgedraai en my agternagekyk.
In die truspieëltjie kon ek duidelik die woorde op die plakkaat in sy hande lees: Geen geld. Geen werk. Help asb.
Ouma Plaas
Saterdagoggend vroeg ry ek uit die stad weg, verby Tarlton, verby Boons, die witgerypte Wes-Transvaalse vlaktes in. Na Ouma Plaas toe, wat nou al hoe lank in Huis Willie Posthumus se siekeboeg lê.
Die twee, drie keer per jaar wanneer ek by Ouma Plaas gaan kuier, is al wanneer ek nog op die dorp kom – hier waar ons ook ’n jaar of twee gewoon en waar ek altyd vakansies vir Ouma-hulle kom kuier het.
Oom Sarel Velle se negosiewinkel in die hoofstraat is deesdae ’n cash loan-plek, oom Koos se haarkapper is ’n R5-winkel, en waar ons jêmtertjies by Tuiskeur gekoop het, verkoop ’n Chinees nou eg nagemaakte Nike-tekkies. Oom Mike se kafee is darem nog daar maar oom Mike nie meer nie. Hy het glo op Margate gaan aftree.
En elke keer wanneer ek by die NG kerk verbyry, is ek verbaas oor hoe die toring sedert my kleintyd gekrimp het. En elke keer besef ek my geloof in die Kerk het oor die jare ook so gekrimp.
Huis Willie Posthumus het nie juis verander nie.
Ek hou onder die kareeboom in die straat stil, klim uit en lig die Woolworths-vrugteruiker van die agtersitplek af – my soenoffer aan Ouma omdat ek so min kom kuier. Die plek se dak is steeds rooi en die mure net so wit as die inwoners. Matrone-hulle het wel ’n traliedeur in die portaal laat aanbring nadat twee gewapende mans nou die dag daar ingestorm en die oumense beroof het.
En in daardie lang, blink gange ruik dit steeds na medisyne. En kookvleis. En talcum powder. En Cobra-politoer.
Ek beweeg so suutjies as moontlik, bang die ooms en tantes wat stil langs hul aluminium-walkers in hul kamers sit, gewaar my, keer my voor en begin my vertel hoe hulle in ’34 soggens kaalvoet deur die ryp skool toe gestap het.
Elke keer wanneer ek hier afstap, sien ek goed uit my verlore verlede wat ek al gedink het ek het vergeet: Goodyear-asbakkies met motorbandjies om, cameo-borsspelde, piepiepotte, Pilot-radio’s, waskomme en lampetbekers, afdrukke van ’n seuntjie met trane op sy wange.
Die rowers was nie by Ouma Plaas in die siekeboeg nie. Maar al was hulle hier, sou hulle nie veel kon vat nie. Op die kassie langs haar bed is net ’n glas water, ’n bottel Oros-aanmaakkoeldrank, ’n Zobo-wekkertjie, ’n potjie Vicks en ’n ou Bybel, oorgetrek met dieselfde plakpapier as dié waarmee die gang in haar dorpshuis uitgeplak was.
Ouma Plaas lê op haar sy op die bed, haar gesig venster toe gedraai. Teen die muur hang ’n gehekelde Onse Vader, skeef geraam.
“Hallo, Ouma.” Ek gaan staan by haar.
Haar oë is oop, maar dit lyk nie of sy my gewaar nie. Haar nagrok het fyn, pienk blommetjies op.
Fyn, pienk blommetjies pas nie heeltemal by Ouma Plaas nie, dink ek, sit die ruiker op die kassie neer en gaan sit op die bankie langs die bed. Ek verkyk my altyd aan Ouma Plaas se hande: die blou are onder die dun oumensvel, die kneukelrige vingers. Hande wat eens op ’n tyd tertjies gevou en tamaties gepluk het, vuur in koolstowe gemaak het en besorg aan koorsige voorkoppe gevat het.
Hande wat nou stil op ’n wit laken lê.
“Slaap Ouma?” vra ek.
Maar Ouma reageer nie. Êrens gangaf speel musiek. Dit klink na Mantovani se weergawe van die “Elizabeth Serenade”.
Ek staan weer van die bankie af op, onseker of ek my hand moet uitsteek en aan Ouma raak. Ek gaan staan by die wasbak voor die venster en probeer om nie die valstande in die blikbeker op die rakkie raak te sien nie. Buite onder die afdak staan Huis Willie Posthumus se kombi. In die koelte van ’n seringboom sit ’n vrou aandete se aartappels en skil.
Ek gaan staan weer by Ouma. Wie is dit wat altyd bottels Oros-aanmaakkoeldrank vir siek oumense gee? wonder ek, en gaan sit weer op die bankie. Die Zobo se wysers hink in die rondte. Vier minute gaan verby. Vyf. Ses. Ek tel die Vicks-potjie van die kassie af op, draai dit oop en ruik daaraan. Dit is ook ’n reuk wat ek al vergeet het.
Net toe ek weer opstaan, lig Ouma haar kop en kyk na my.
“Hallo, Ouma. Hoe gaan dit?” Ek vat na haar hand. Dit is koud.
“Wie’s jy?” vra sy en trek haar hand stadig onder my vingers uit.
Trurat
Dink ek aan die Kalahari noord van Upington, dink ek nie aan doringbome, rooi sandduine en leeus nie. Ek dink aan die dag toe Oupa se Ranchero-bakkie se ratkas ingegee het.
Eintlik is dit ’n te mak woord. Die Ranchero se ratkas het nie ingegee nie. Die Ranchero se ratkas het daardie dag soos ’n dier in pyn gesterf.
Die Kgalagadi Oorgrenspark was toe nog die Kalahari Gemsbokpark. Ek was so ses jaar oud en soos gewoonlik vir die vakansie saam met Oupa en Ouma. Dit was deel van my opvoeding, elke vakansie het dié twee my ’n plek in die land gaan wys wat volgens hulle onontbeerlik was vir my geestelike en morele